| |
| |
| |
Hoofstuk IV.
In die Hande.
Die rokie dwarrel almar deur bo die sloot uit. - Die poliesman wat vir Ampie vroeg die môre, met baie agterdog nagestaar het, het die geval aan sy opvolger meegedeel en die het 'n seun met sinkplate op sy kop in die sloot sien verdwyn. Die rokie is sy baken. - Terwyl Ampie hard hom roer om sy plekkie gerieflik te kry, in sy heerlike alleenheid, voel hy skielik dat sy tuiste donker word, en angstig oopgesper kyk sy oë so reguit in die gevreesde man se wese. Slegs 'n hees klag kan hy uitbring.
‘Ag toggie asseblief tog!’
Sy oë is vasgeanker aan die poliesman s'n, willoos deur die skrik. - En skielik klaar in die dienaar van die wet 'n voorval, toe hy as Afrikaner seun, 'n bobbejaan bekruip het in die berge, met sy roer perdomps so bo die klip uit teen ou-ta. Ampie se starre angsblik en sy hees gehyg is nes die bobbejaan gemaak het, en onder geen omstandigheid kon hy sy lag bedwing het nie, vernaam toe daardie bogseun perbeer om saam te lag, hoewel sy oë doodsbenoud bly staar. - Die beste wat hy kan doen om sy gesig normaal te kry is, skop die vuurtjie uitmekaar. - Die half geroosterde lewer rol in die vetterige spoortjie van die afloopwater.
Maar toe blits die plan in Ampie se kop om uit te spring, en soos 'n ribbok oor die vlakte uit te sny voor. - Hy raap ineens sy lyf teen die wal op, hy staan al bo
| |
| |
en wil laat spat, toe hy op die grond neerslaan, soos die os wat hy vandag sien val het, sonder krag. - Die wakker Afrikaner seun hier by hom was ratser nog as Ampie en het intyds sy fris gespierde hand om daardie skurwe enkels vasgeklou. - Nou is by Ampie selfs die gedagte aan weerstand weg. Hy voel hom uiters weerloos en sy oë skiet vol trane, wyl hy jammerhartig soebat:
‘Asseblief my omie! as jou duisendste asseblief tog! Ek het niks gemaak nie; sowaar my omie! die Here hoor my! Ag ek sal dit nooit weer doen nie!’ Maar Ampie moet saam, en gou-gou ook.
‘Ek skiet jou as jy weghardloop! Verstaan!’ Die poliesman is nou net haastig. Hy ruk vir Ampie soos 'n perd wat wegspring onder hom. ‘Kom!’ Geen krag besit Ampie meer nie, uiters ellendig sluip hy langs die moedswillige man, wat somar goedsmoeds 'n mens wil skiet, en aan hom ruk en pluk asof hy jarelang bandiet was. Wat vir kwaad het hy dan tog gedoen? Hy weet nie; maar voel heeltemal verlore, want hy gaan tronk toe. - Net soos die os vandag verniet gespook het, weet hy dat sy teëspartel niks sal help nie. Dis vreeslik om onskuldig weggesleep te word. Hy voel 'n oppervlakkige berou oor wat hy uitgerig het. Nie 'n hartseer oor die beestemarteling nie, maar omdat hy begin dink dat hy daaroor gevang is. Toe hulle die hoofstraat ingaan volg 'n tou van opgeskote kaffertjies hulle en seuns wat leef van rondloop. Hy voel of hy daar binnekant die poliesman kan wegkruip van skaamte. Vernaam toe hy ou-Moosa sien, met 'n duisternis van koelies om hom voor sy winkel, toe borrel stil verwensings uit sy hart by al sy skaamgevoel. Nooit koop hy weer 'n trippens se goed daar by ou-Moosa nie! Hy loop gevoelloos en verbyster; die ondervinding is te skielik vir sy argelose veldgeaardheid. Hy is as lewend-dood. Dit gaan alles dof langs sy sinne verby en hy kan hom geen rekenskap
| |
| |
gee van wat hy daar in die kantoor gesê het nie. In die groot kamer het hulle vir hom hot en haar gestamp, telkens as hy gevra het ‘hoe sê omie?’ En toe het hy maar stil gebly. So'n growwe poliesman het aan sy baadjie geruk-en-pluk en lelik gevloek toe hy in sy broeksakke gevroetel het. - Daarna het hulle hom weggelei na 'n groot kamer met klein venstertjies agter tralies, hoog in die mure. Hy het toe platgeval op 'n strooisak, daar op die sement vloer. En toe het hy eers geware dat hulle alles van hom afgevat het. Sy belt, knipmes, fluitjie, Annekie se ring, tot die koper hakspeld toe. Hy 't niks, niks meer nie! Sy gedagtes is weggeslaan, of iemand hom met 'n knopkierie gemoker het. - Hy druk sy kop vas in sy arms op die strooisak. Dit smaak hom dat hy liewerste wil sterwe, want hy besit tog niks meer nie en Annekie sal hy nooit weer sien nie ... al die mense is sy vyande en almal konkel onder mekaar om sy end te kry. - 'n Vreemde smart verteer sy binnenste, gewysig deur 'n gevoel van verset teen alles op die wêreld. Hy is geketting aan die onmag, wat hom kanker en vanwaar hy weg wil breek om die wêreld te verniel.
Dit help hom niks nie, al sou hy al die mure stukkend skop, die deure aan splinters moker en al die tralies middeldeur breek, al voel hy dat hy nou die hele dorp kan platdruk - dit help hom niks nie. Die mensdom lê hom voor en inwag en die haatlike mensdom het g'n tyd vir Ampie nie, en daarom hou hulle hom binnekant die tronk somar so verniet. - Wat het hy tog gemaak dat hulle hom so moor? Hy het die goedjies, wat hulle van hom afgevat het nie gesteel nie. En hy voel onbekwaam om hulle duidlik te maak dat hy onskuldig is. Hulle sê mos almal uit die staanspoor dat hy lieg.
'n Gees van opstand raak die vreemde smart nou baas. As hy maar eers hier uit is. Hulle sal hom nooit
| |
| |
weer sien nie. Hy sal die wêreld uittrek na die bosveld toe, diep in die digte bosse. Hoekom het hy tog maar nie liewerste soontoe koers gevat nie, pleks van na die vervlakste dorp? Wat sal Annekie vir hom sê as hy haar weer eendag op die lyf loop? Sy sal mos nooit vir hom glo nie as hy vertel dat hulle haar ring gevat het. - Sy sal hom uitkoggel en bespot en sleg sê. Maar dan sal hy haar gorrel vir haar toedruk, so wragtig waar! Laat sy net vir hom spot, ja net 'n speld se dikte. - Ag, hoekom kan hy nie die ring vir Annekie bring nie? Virwat hou hulle hom hier vas? Hy voel gebreek en uiters hulpeloos hulpverlangend. - 'n Diepe drang na iets of iemand wat sy siel verstaan vervul sy hart. En na die hemel klim sy klagte op. - ‘Ag Here, help my tog in my ellend!’
Toe bly hy dooierig daar op die strooisak lê.
Daar is meer mense in die verdrietige tronkkamer, en Ampie word bewus dat twee persone fluister. Hy let nou fyner op en hoor duidlik, hoe daardie twee in Afrikaans gesels. - Die een, wat amper alleen praat, spog hoe dikwels hy die loer-oë van die speurdiens blind gemaak het. Lewendiger as flus en goed hoorbaar vertel hy: ‘Ou matie, en dit so direk onder 'n detektief se oë, dag vir dag, vir drie volle maande lank! Dit was maar net van die sikspense hopbroodjies. Nou ja, die kaffer het mos graag so'n hopbrood, en hulle was net danig gewillig om tien tot vyftien sielings vir een te betaal; want elkeen het so'n baba binnekant gehad. 'n Kaapse jong het die ‘game’ weggegee. Dit kos my ses maande. - Maar matie! daardie tyd het ek iedere aand 'n beurs vol geld gehad!’ Dit klink vir Ampie soos 'n wonderlike storie; hy luister baie aandagtig toe die verteller een van sy ander kordaatstukke meedeel.
‘Maar een aand was dit nerf-nerf, of oom-kool het my gevang. Dit was nog voor ons met die hopbroodplan
| |
| |
begin het. Ek was toe nog onnosel en te hout-gerus. Die brandewyn het ek daardie tyd onder my musiek in die voorhuis gebêre. En daardie aand kom ‘serts’ hulle my huis, want een ou-maat van my kon mos sy bek nie hou nie. Hy en die Kaapse jong was ook van eenderse vere. Van daardie tyd af het ek nooit weer 'n maat van my vertrou nie. Hy 't darem nie geweet wààr ek die drank gebêre het nie. - My liewe ou-vrou het my intyds gewaarsku; want sy het lont geruik. Sy is so vinnig as 'n valk om enig iets te ontdek. - Ek sê toe vir my dogter dat sy maar kinder-harpliede moet speel, en haar nie steur aan hulle nie. Ou matie! en sy het vir hulle propper in en uit gespeel, want wie sou ooit gedink het dat daar onder daardie trappers brandewyn gebêre was?’
Ampie hoor hom soetjies lag; maar nie die ander nie, wat nou begin te praat. Sy stem klink harder. 'n Harde klank vol bitterheid.
‘Neef en vir wat het hul die drankwet so gemaak? Dis om ons nasie uit te roei. Wat op die aarde moet ons arm mense uitrig, as daar nie werk vir hulle is nie? En smokkel is die maklikste geldmaak. Dis 'n verleiding, wat min, wat honger ly kan staan. Vernaam as vrou en kinders, of 'n moeder kos vra, aanhou kos vra. - En ek sien glad g'n kwaad daarin nie. - Hoekom mag 'n witmens soveel drank koop as hy begeer, terwyl as ek 'n kaffer net 'n sopie gee, ek agter die tralies kom? Die swartgoed word hier mos direk beskerm en vir die blanke 'n val gestel. - Virwat is al die kerke, sendingstasies, skole en opvoedingsinrigtings daar, as hulle die kaffer nie die nadeel van suip kan inprent nie? Ek sê, wil hy homself tog uitroei, laat hom suip! - Juis deur die drank belet is, wil hy dit eerder hê en gee g'n flenter om, wat hy vir kafferbier betaal nie, juis omdat die wet daar is. Dis net 'n agterstevoor affêre hierdie. - Straf die swartgoed as hulle dronk is en ander mense mole- | |
| |
steer; maar laat hom vry, en ek sê die wêreld sal hom beter gedra ...
Hier sit ek vanaand binnekant die vier mure. Getrep! Ja, wragtig neef, getrep! Omdat ek vir my ou-moeder gesorg het. - Ek was drie maande pal sonder verdienste en toe het ek daardie besigheid beginne. Veertien dae lank het ons goed gelewe ... God weet wat nou van my arme moeder gaan word. Ses maande harde pad is my voorland!’
Hy 't uitgesels, en 'n gees van bedruktheid maak die ou bandiet ook stil. - Maar Ampie het sy hartseer en wrok vergeet. 'n Nuwe moontlikheid dring in sy vlakke harsings deur, wat baie ontvanklik, die sopas gehoorde opgeneem het. Hy sal ook eendag perbeer om drank in die hande te kry, en dit in erdvarkgate wegsteek. Daar buite is mos niemand, wat sal weet nie en hy is nie so dom as daardie ou bandiet nie. Teen middernag en donkermaan sal hy dit uithaal en skelm verkoop. - Hy sal ook nie daarmee aanhou soos hierdie twee, en hom, laat vang nie. - Dis somar slegtigheid om jou te laat betrap; virwat het 'n mens dan oë en verstand gekry? En wie sal in 'n erdvarkgat soek na bottels brandewyn? - Nes hy genog geld bymekaar het om ses donkies en 'n trollie te koop, sal hy met Annekie na die bosveld wegry. Hy wil maar liewerste baie ver van mense af woon. Sy pa weet seker nie van daardie ding nie, anders sou hulle nie so arm lewe nie. - Maar hy sal dit baie dighou vir sy pa. Dit sal daarmee net so gaan as met ou-Jakob, as hy sy pa die ding vertel. Sy pa sal tog maar weer sy brandewyn vat en dit verkwansel vir 'n vark ...
Op die oomblik glips uit die donkerte 'n lig, so in die midde van die tronkkamer. Sy oë raak dom, dit gaan soos goëlery. Die deur klingel van baie sleutels en kraak op.
| |
| |
Hulle kos word gebring.
Hy ontvang 'n groot kors uitgedroogde hopbrood en 'n beker flou tee. Hy sop die harde brood en suig dit gulsig weg. Dit smaak hom heerlik en hy verwonder hom, dat daardie twee so triesterig sit en peusel aan die kos. Hulle kyk maar meeste na hom, met wonderlike oë - ook verspot nes al die ander mense.
‘Wanneer hè-jy laas geëet?’ vra die een wat flus van sy kordaatstukke vertel het.
Daadlik sluk Ampie sy mondvol leeg. Baie agterdogtig en onwillig om met mense te gesels sê hy ‘Omie?’ Die ou bandiet beskou Ampie baie aandagtig en hy wonder of die seun nie dalk 'n pakkie rookgoed in die baie bêreplekke van sy handige ou baadjie weggesteek het nie.
‘Jy het seker baie honger nê? - Wat hè-jy dan gemaak dat hulle vir jou gevang het?’
‘Niksnie Omie!’ sê Ampie botweg.
Die ou bandiet lag ongelowig. Die ander een lyk baie bedruk en sê: ‘Dê seun, vat myne ook maar; ek kan tog nie eet nie en ek sien daardie bietjie sal jou net lus maak.’
Ampie staan op en vat gretig die rantsoen. Die ou bandiet het toe vinnig sy skerp oë oor Ampie se vertoning gegooi. In daardie baadjie sal hy rookgoed vir 'n week kan wegsteek. Hulle ‘serts’ 'n mens maar oppervlakkig hier in die kantoor; vernaam vir so'n wilde oorblufte bog as daardie seun. ‘Hè-jy nie dalk 'n pakkie sigrets aan jou nie?’
‘Nee Omie hulle het die laaste ding van my gevat,’ sê Ampie lewendiger en hy voel minder sku.
‘Voel agter in jou baadjie se voering jong, ek sweer daar hè-jy vir die poliesman gekul.’
Ampie voel. Sowaar dis net soos daardie kêrel sê. Sy stem bewe van verrassing.
| |
| |
‘My mapstiks omie, hulle het die pakkie sigrets nie agter gekom nie!’ Die ou bandiet lag baie vrindlik.
‘Jy sal 'n uitsoek smokkelaar uitmaak ou-seun. En jy sê jy 't niks gemaak nie?’ hy lag weer ongelowig. ‘Kom sit hier by ons ou-kind. Dê vat my kos ook maar. Ek is net honger vir 'n sigret. Gee, laat ons rook jong!’
Daar op die ou bandiet se strooisak, groep die drie nou bymekaar om vir 'n ruk die kwelling van gevangenskap te vergeet. - Ampie hoogs gelukkig met sy drie rantsoene kos, wat hy baie gulsig minder maak, om netnou ook te deel in die begeerlike gerook.
Ampie, so oppervlakkig beskou lyk ver die meeste op 'n tronkvoël van die drie. Maar 'n eerlike natuurlikheid lê oor die veldseun se wese, wat oneerlik en vol agterdog is in elke sosiale kring, waarvan hy àl te lig 'n slagoffer kan word. Die uiters ongebonde lewe is syne, met al sy verwaarlosing en degenerasie, soos dit is. - Die ou bandiet pas beter in die wêreld, sy voorkoms, los maniere en persoonlikheid kan maklik die maatskappy verblind, omdat hy vals is teenoor homself. Was hy natuurlik, volgend die onbelemmerde luste van sy hart alleen, hy sou geen staanplek in die maatskappy behou nie. Maar soos dit is, kan hy gevier bly, - tot hy uitgevind, as 'n misdadiger gebrandmerk word, nes Ampie wat deur pure onnoselheid en eerlikverkeerd doen, 'n bandiet kan word. Die ander is een van die baie, wat eerlik deur die lewe perbeer het om vorentoe te beur. Deur werkeloosheid het die lewe hom geknyp en met 'n groot verleiding hom tot 'n gevangene verlaag. In 'n gesonde maatskaplike lewe sou, redelik beskou, alleen die ou bandiet waarskynlik 'n tronkbewoner word.
Terwyl hy die brood sop vir hom, spring 'n oorblufte verwondering in Ampie se oë, toe die ou bandiet 'n vuurhoutjie uit sy baadjie se soom toor en ook 'n stukkie van 'n vuurhoutboksie. Hy knipoog vertroulik teen Am- | |
| |
pie en die ander. En nou kry Ampie 'n snaakse eerbied vir die slim kêrel, wat so speel-speel die poliese kan kul. Hy voel hom groot meneer daar op die strooisak van die ou bandiet. Hulle rook saam so gesellig om Ampie se laaste sigret uit die pad te kry, as lang gespeende rokers.
Die ernstige man sê selde iets, hy luister maar die meeste van die tyd in die begin. Die ou bandiet praat amper gedurig en prys vir Ampie as 'n bruikbare kêreltjie in die onwettige drankhandel. Hy rook darem nie minder as die ander nie; hy ken die kuns om te gesels met borrels rook om sy hele gesig en rook in sy longe. Net kort-kort gee hy so 'n kraglose hoes. - ‘En jou naam is Ampie Nortjé nê? Ek het ook 'n Nortjé geken. Ou-skelm Piet Nortjé het ons hom genoem. Dit was verniet om te perbeer om vir ou-skelm Piet te trep. Hy was te uitgeslape vir die beste detektief, en altoos so ewe houtpop ongeërg. Hy 't mees 'n boesmanmeid gehad, wat die bottels onder haar rokke rondom haar weggesteek het. 'n Boesmanmeid is maar gewoonlik baie gesit om haar stêre, sodat g'n mens suspiesie kon gekry het nie. - Hy 't duisend planne uitgedink om dit veilig reg te kry, so half onnosel as die ou gelyk het en dis die wat ek sê Ampie, jy sal 'n uitsoek smokkelaar uitmaak.’
Die ou bandiet het Ampie se aandag heeltemal gewen, so luister hy met 'n dom gesig, wat kort-kort deur 'n idiote lag verbree word. Die ou bandiet rook drie sigrets teen Ampie se een daardeur. Hy rook verstandig ook. Die vuur moet geen kans kry om dood te gaan nie Vuurhoutjies is 'n grote weelde in die tronk en met die paartjies, wat hy nog besit sal hy ses maande op sy genadigste moet uitkom.
‘Kyk, Ampie, hou jou vroom. Jy moet baie eerlik met die Jode wees wat vir jou die drank lewer. Hulle maak
| |
| |
die meeste geld, en dis baie selde dai hulle in 'n moeilikheid kom. - Dis seker omdat hulle eenmaal die uitverkore volk was en nou beskerm die duiwel hulle! Daar is nie so'n ding as arm Jode in ons land nie. Arm Afrikaners, ja, by duisende! - Maar dis nou minder. Elkeen moet vir homself sorg en sy eie potjie krap! Dit was my slegtigheid dat hulle my gevang het. Ek moes die Kaapse jong nooit vertrou het nie. Maar ek het baie geleer, en sal in die ses maande wat ek sal moet sit, 'n ekspert word soos ou-skelm Piet Nortjé. Dieselfde dag dat ek weer los is verkoop ek brandewyn dat dit so bars! Hulle sal my nie weer vang nie. Dis maar 'n uitsondering as hulle iemand vang soos nou die geval met my was. Die goewernement spandeer duisende van ponde aan die speurdiens en aan trepstelsels, en kry tog maar 'n enkele in die hande. Vir èèn wat hulle vang, loop vyftig ongehinderd los. - En die, wat hulle vang is mees die nuwe hande, wat nog ongeleer is in die vak, soos hierdie maat van ons!’
Die ernstigste van die groepie daar op die strooisak, het hier hom reggeskud met 'n driftige gebaar. - ‘Ek sê ou-neef, jy print die kind verkeerde dinge in sy kop. Dat ek vanaand hier in die godvergete plek sit, is deur my lompheid om te smokkel. Ek was soos 'n vaalpenskaffer wat baar is in die kombuis se werk ... Reg genog ek was dom, maar ek moes lewe om vir my moeder te sorg. As ek my stukkie kos op enig ander behoorlike manier kon verdien het, sou die onwettigheid my nooit gevang het nie. - Ek moes my toevlug daartoe neem; maar sal g'n mens dit aanraai nie. - Dis sonde ouneef! Laat staan vir hierdie kind! Ons is op die afdraende pad, moenie vir hom daarop lei nie!’ - Ergerlik het hy toe opgestaan na sy strooisak, waarop hy gaan lê.
Die ou bandiet knipoog weer teen Ampie en Ampie
| |
| |
kyk oonosel soos iemand wat die ernstige ou nie verstaan het nie. Die stories van sy maat hier by hom het hom meer geboei. Hy het 'n stil konklusie oor die awontuurlike dranksmokkellewe gevorm. Daar is nog drie sigrets oor in die pakkie. - Die ou bandiet se toon is nou intiemer soos dit skyn. - ‘Môre sal hulle vir jou los Ampie, ek ken hulle maniere hierso en ek sal eendag vir julle kom kuier op die plaas.’
‘Dan sal omie mos nie meer vir my daar kry nie, as omie kom kuier oor ses maande eers.’
Daar klink 'n triomfklank in sy stem.
‘So gou as ek daar grondvat, sukkel ek om 'n ryding agtermekaar te kry en dan skraap ek vir Annekie en ons twee trek na die bosveld toe.’
‘En wie is Annekie dan?’ vra die ou vol gekskeer.
‘Kyk hoe kan omie dan vir my so'n strikvraag vra?’ sê Ampie dat die skaamlag hoorbaar omdraai in sy gorrel; en hy vertel nou openhartig die geheime van sy hart, terwijl sy oë straal van blyheid.
‘Jy sal môre Annekie se ring terugkry,’ troos die ou hom en vervolg as of hy vir Ampie order: ‘Jong nou moet jy loop slaap! ons het genog gesels.’
Die sigrets is klaar en Ampie voel toe skielik of hy in die pad is daar langs die geselserige ou, wat nou so suur lyk. - Hy kruip na sy eie strooisak.
'n Rukkie later maak 'n poliesman die deur oop om te sien of alles reg is.
‘Julle het gerook nê? Gee die rookgoed op die plek!’
‘Kom serts ons!’ sê die ou bandiet.
Ampie trek sy kop toe met die kakiekombers, en slaap die nag dwars deur.
Hulle het goed gedink om Ampie 'n kwaai dreigement te gee met 'n order dat hy oombliklik na sy huis moet gaan. - Hulle het toe al sy goed weer vir hom teruggegee. Alles gaan vir hom soos drome. Hy voel wesen- | |
| |
loos daar in die magtige kantoor vol geweldige poliesmanne. - En toe hy in die buitelug van die hoofstraat hom bevind, voel hy die lewe terugstroom in sy lyf. Net een gedagte druk hom vorentoe. Hy moet huis toe, anders skraap hulle hom netnou weer.
Hy vat sy koers deur blikkiesdorp.
|
|