| |
| |
| |
Hoofstuk III.
Weelde.
Die vroeë môre hang swaar oor die dorp. Huise en bome is verwaas in newels, waardeur enkele lui rookwolkies bo die wonings van baie vroeë mense, breed uitwarrel.
Ampie staan ontroer as hy op die hoogte uitkom en die dowwe dorp in 'n mistige verborgenheid hier voor hom sien. Hy huiwer; en staar oor die skouspel, bevange deur die geheimsinnigheid.
Naby, onder die hoogte, lig 'n voordorpie hom uit die newels uit. - Verpotte sinkkamertjies en met blik toegelapte huisies, langs mekaar gepak, is 'n broeiplek van ons arme blanke. Die hartlose welvaart het hulle uitgedruk, eers na die beter huisies aan die ingang van die voordorp. Hoogmoed het nog vir so'n ruk die skyn van vernaamheid blinkende gehou. Maar werkeloosheid kan geen huisgesin lank uithou nie. En die armeblankedom filter deur smal strate en benoude jaardjies na die sink en blik huisies. En wat in blikkiesdorp nie meer kan lewe nie, soek uitkoms op die plase, vanwaar hul vroeër na die dorp toe getrek het. Die harde eise van die maatskappy kwel hulle buite nie, al bly daar baie dae honger in die huis.
Een van hulle staan nou op die hoogte en aikyk na 'n dunnerige rokie, wat bo een van die blik huisies optrek. Tant Fyta woon daar, 'n niggie van sy vader. Dikwels het hy met sy pa saam daar vertoef as hulle dorp-toe
| |
| |
moes. En sy het altoos 'n pinkiebeker koffie met 'n bokwagter sny brood vir hulle gegee, en baie gesels oor hulle armoede en die verkeerde wette van die land. - Ampie het lus vir koffie; maar hy oorweeg die moontlikheid, dat sy pa, as hy sy spoor vat, daar by tant Fytahulle eers sal informeer ...
‘Soe, dis vir jou geniepsig hier op die bultjie!’ Sy hande diep in die broeksakke, stap Ampie dapper oor die skotige afdraende, wat van blikkiesdorp af padgee, en oorgaan in die hoofstraat van die dorp. - Hy sal maar eers kyk of hy nie 'n ring vir Annekie kan koop nie. Ou-Moosa se winkel sal seker nou al oop wees. Dan sal hy perbeer om 'n stukkie kos raak te loop; daarna kan hy dan so op sy tyd na die slagpale toestap, en as hy eers daar is, sal hy wel verder oor die bult kom. Hy ken vir ou-Moosa, dikwels het hy gemmerbier daar gekoop. Ou-Moosa sal hom seker nie te veel vir 'n ring vra nie. Hy sal maar maak of hy kastig baie arm is.
Die deur is nog toe; maar die venster wys darem baie, wat vir Ampie mooi is. Daar lê of hang agter die klein vuil raampies 'n wavrag amper van alles, wat sy hart begeer; maar daardie leer belt, waarin 'n mens baie geld kan bêre, is vir hom vèr die aantreklikste. Hy hang so lokkend met sy skrefie bo, net klaar om die ponde daardeur weg te sluk, in sy donkergeel derm. - En jy kan maar vir hulle instoot, so een agter die ander; omtrent vyfentwintig agter mekaar - en jy kan hulle altoos vas om jou lyf voel, sonder dat 'n ander dit sal agterkom. - As jy hom goed vas gèspe, is die geld so veilig as in die geldkis. - Hy 't Annekie se ring vergeet.
Instinkmatig druk hy die hande dieper in sy broeksakke en skuif sy skouers boontoe, en sy twee voete plak soos dik plat ysters op die leiklipstoep; maar vol begere droom sy oë deur die dowwe ruitjies op die belt.
| |
| |
'n Deur piep en knars, hardhandig oopgestoot, met sy skuifgrendel rammelend oor die vloer.
‘Hoe laat so'n vervlakste koelie my skrik!’ Met 'n oorblufte blik bespie hy die langbaard, dikbuik koelie, wat nou sy uitstalling buitebring, sonder om van Ampie notiesie te neem. Nou gewaar Ampie ook dat dit koud is.
‘My voete wil verkluim; dis van die stilstaan ou-Moosa, ek wag al heel môre dat jou winkel moet oopgaan.’
‘Ja? En wat wil jy dan hê?’
‘Gee laat ek daardie belt sien! Ek is haastig en wil my geld bêre!’
Die towerwoord van geld ruk vir ou-Moosa uit die staanspoor warm, en hy nooi vir Ampie baie vrindlik binne.
‘Kom kyk maar binnekant meneer!’
Ou-Moosa gooi sy taal die winkel in, waar, nugter weet vanwaar twee drie koelietjies gedienstig al om Ampie drentel, met belte wat hulle prys en verheerlik of dit relekieë is.
Toe Ampie sy tabaksakkie loshaak, om vir die belt te betaal, presenteer een van hulle vir hom 'n stoel, wyl die ander vra of hy dan nie koud kry nie, en aanbeveel:
‘Ons het baie sterk warm baadjies meneer!’
Toe hy die geld uithaal, merk hy die voorslagriempie. Hy het so wrentig waar glad Annekie se ring vergeet. - As hy nou maar genog geld sal oorhê! Maar hy sal perbeer om die klein koelietjies onderdeur te spring. - Hy hou die riempie, by elke knoop 'n duim en wysvinger, duidlik op, en sê dat dit persies die maat is van die ring, wat hy wil hê.
‘Dit moet 'n blinke wees, met baie steentjies op die geaardheid van 'n gernaat.’
‘O ja meneer! Ons het baie ringe en goedkoop meneer.’ Die koelies gooi mekaar met hulle taal, asof hulle net praat oor gewone sake, en ou-Moosa kom self
| |
| |
met 'n kaart vol ringe, wat blink en steentjies opmekaar hou so na Ampie se hart. - Almal koper gemors, saam geen vyf sielings werd nie.
‘Hulle blink dat dit so klap,’ sê Ampie. ‘Akkuraat so op 'n haar!’ toe hy een van hulle met die riempie gemeet het.
‘Hulle is almal nommer pas meneer, en ek sal dit goedkoop maak.’ Hier maak ou-Moosa 'n geheimsinnige gebaar, terwyl hy fluisterend geheel Ampie se aandag wen. ‘Jy moet dit nie vir ander mense vertel nie; want dis maar net vir meneer wat ek die prys sal laat. - Toe maar! vat maar! Een pond tien sielings, goedkoop! goedkoop!’
Ampie is verslae. - Wat sal hy oorhou vir homself? Maar gou-gou het sy skelm kop 'n plan verwerk. Hy sal vir ou-Moosa onderdeurspring.
‘Nee, ou-Moosa, ek het nog net tien sielings, jy vra glad te veel. Die ring sal maar moet bly of jy moet afkom.’
Weer is die dikbuik koelie vol geheimsinnigheid en hoogs vertroulik.
‘Kyk meneer, jy sal vir niemand dit vertel nie. Toe maar! vat! dê vir een pond!’ wyl hy die ring toegedraai in Ampie se hand wil stop; maar Ampie voel nou of hy vir ou-Moosa klein kry.
‘Ek sê mos vir jou dat ek net tien sielings het en ek wil ook nog 'n mondfluitjie koop.’
Die koelietaal is weer die winkel vol, en 'n klein koelietjie grabbel in 'n rak na mondfluitjies. Ou-Moosa laat die ring so spoggerig blink.
‘Vat maar vir vyftien sielings meneer! dê!’
‘Olraait ou-Moosa!’ roep Ampie bly omdat sy koop nou deur is.
‘Moet ek hom toedraai, of sal meneer hom somar nou om die vinger sit?’
| |
| |
‘Is jy dan reg ou-Moosa? Dis mos die nooi se ring hierdie!’
Ou-Moosa lag met Ampie saam oor hy so dom was, en Ampie se hart gaan oop vir alles, wat hy sien. Hy 't vir die koelie lekker toegetrap, en hy 't nog geld genog om baie goed te koop. 'n Mondfluitjie skuif al tussen sy lippe deur, en een van die klein koelietjies maak ook of hy vrolik wil word, toe Ampie van die stoel afklim en askoek trap. - Die mondfluitjie is syne.
‘Laat ek julle knipmesse sien!’
Die kooplus tintel in sy are en ook 'n knipmes behoor aan hom. Hy kyk onbeslis die winkel rond.
‘Wil meneer nog iets gehad het? Sigrets, dadels, pype.’
Ampie voel of hy die hele winkel sal kan leegkoop. Hoe heerlik is dit om geld te besit, dit smaak hom of hy magtig as 'n koning is, en maar kan order.
‘Gee vir my 'n pakkie sigrets! Gee maar twee! Maak gou, want ek wil loop!’
‘Hoekom nie drie nie meneer!’
‘Gee maar jong, en ook 'n trippens se vuurhoutjies. Haai jong! terwyl jy loop bring somar vir my 'n hopbrood saam, en ook 'n blikkie sardiens! Ou-Moosa jy kan vir my 'n bottel gemmerbier gee nê, jy weet van daardie groot bottels wat ek almelewe koop ...’
Toe Ampie buite kom, waar die dag se bedrywigheid in volle gang is, besit hy geen pennie meer nie. - Hy stap met die gemmerbier in sy hand, en die hopbrood onder sy arm na blikkiesdorp se kant. Altyd sku, vermy hy die gewoel, maar stuit tog telkens weer op nuuskierige persone, wat maak of hulle nog nooit van te vore 'n mens gesien het nie. - Die goed is orig hier, vir wat neem hulle dan so danig notiesie van hom? Hy moet 'n plekkie opsoek, waar hy stil allenig sy stukkie kos kan eet, en ongehinder sit en rook. As hy net 'n leë jaard
| |
| |
kan raakloop, agter 'n huisie waar die mense uitgetrek het. - Hy skuif verleë deur die mense wat hom met hulle oë volg, en hy gril eintlik, toe hy verby 'n poliesman stap. Hy voel dat daardie poliesman hom agterna kyk, maar hy is mos g'n skelm nie, en wat kan hulle met hom maak? Hy 't tog geen mens gemolesteer nie! Hoe hy ook redeneer en dink, die onrus kruip sy liggaam deur. - Hy wil allenig wees, hy haat die vreemde mensdom in die toe strate. Hy vind so'n verlate woninkie met 'n oop jaard daaragter, waar hy insluip en hy voel hom daadlik rustiger, toe hy op die agterstoepie sit ... Nou wonder hy hoekom die huisie leeg is, en hoe hy binnekant lyk. Altemit kan hy hier slaap vannag. Hy perbeer om die deur oop te maak toe eensklaps, as 'n ontploffing die poliesman se stem hier by hom om die hoek bulder: ‘Wat soek jy hier?’
Maar Ampie het geen mag om selfs die woord te uiter nie, so het die vrees hom verlam.
‘Trap! Jy het hier niks verloor nie!’ Ampie kry hom maar weer buite in die strate, en onwillekeurig stap hy na die veld toe. Hy sien die bult daar oop lê in die son, of hy vir Ampie uitnooi.
Die dorp se afloopwater kruip langs 'n vetterige spoortjie deur 'n diep sloot, wat die vloedwaters in die aarde gesny het. Die walle is uitgekalwe en gekerwe en oopgebars op honderde plekke, en een van hulle lok vir Ampie as 'n uitsoek wegkruipplek. Daar sal hy kan versuim so lank as hy verkies, en woon ook as dit al is. Hier loop g'n mense nie, en 'n poliesman kan hom hier ook nie hinder nie. - In die winter is daar g'n hoog-water nie, en teen die somer sal hy self sy huis hê. En as hy dan vir hom so'n skuilinkie maak, kan hy tot solank eersteklas hier klaar kom. - Orals lê stukke ou sink in blikkiesdorp, wat hy vanaand sal bymekaar soek. Sy gedagtes kom soos blitse, en hulle pas mooi agter- | |
| |
mekaar tot een komplete plan. Hy glorie in die heerlike gevoel van onbeperkte vryheid. En dronk van weelde gooi hy hom lankuit op sy rug, teen die skuins wal van die gerieflike skeur, waar die sagte sonnestrale onbelemmerd al hul warmte vir hom gee.
Sy brood, sardiens en gemmerbier lê eenkant op 'n plat klip. - Hoe rustig werk die wete in sy hart - dis syne daardie, en hy kan eet en drink wanneer hy wil en soos hy lus het. Hy skep behae in die moedwillige onthou van daardie lekkernye, asof hulle mensies is, wat hy wil vermaak of aan 'n lyntjie hou, tot wanneer dit hom gelief, om sy aandag aan hulle te gee. So lê hy roerloos vir 'n ruk, versinkend in die ongekende genot. Die lug lyk innig en naby, of vir hom alleen die hemel welf. Hy kry die son se strale lief, wat hom daar vertroetel, met hul sagte warmte in die stille nessie. Geen geluidjie steur die soete wegsink na volkome voldoening nie.
Eindlik besluit Ampie om te brekfis. Hy beur sy bolyf orent, en toe hy die lekkernye gryp, word hy meteens haastig. Sy oë so passies nog gevang deur droomland, skerp skielik van begeerte. Sy liggaam heers nou weer en wil versadig word. Hy sukkel die prop van sy gemmerbierbottel met sy knipmes uit, en daadlik kloeng-kloeng hy tamaai slukke weg. Met stote breek sy opgehoue asem uit, terwyl hy gretig met 'n volhand 'n stuk uit die hopbrood uitknyp. Hy prop sy mond so vol, dat sy wange bak bly as hy kou. Die sardiensblikkie het hy oopgesny en 'n vissie uit die olie gegryp met sy vuil vingers, en dit langs die brood in sy begeervolle mond geprop, dat die olie langs sy mondhoeke afkwyl. Sy wegkruipplek weerklink van die gesmak. Hy verswelg die lekkerste brood, wat hy nog ooit geëet het. Dit smelt eintlik in sy mond, so gulsig verwerk hy dit na binne. Hy grou en gryp en sluk en smul, deur lang
| |
| |
gespeende eetlus vraterig, soos 'n losgebreekte vark, wat in 'n groentetuin verjaar. - Die weinige wat oorbly, bêre hy in 'n skeurtjie, wat hy toemaak met die plat klip. Die skuins wal vang hom op in onbelemmerde rus, en nou rook hy sigrets!. Lui volg sy oë die dwarreling wat hy uitblaas breed en yl. - 'n Rustige gevoel van voldaanheid sus hom stadigies na droomland toe. Die son se sterker gloed maak hom ook loom en lui. Hy lê so roerloos as 'n akkedis op 'n klipmuur en bak. Die dampies rook alleen bewys dat Ampie wakker droom en fantaseer.
Hy 't vir ou-Moosa darem fyn gekul. Annekie sal lekker lag as sy dit hoor. Hy wonder of sy sal tevrede wees. Daardie meisiekind het partykeer baie fronsies. Hy sal haar gouer haal, as eers sy plan was. Hier op die dorp is kos en drank volop ... geld sal hy maak, dis nie altemit nie. Geld sal hy verdien ... en donkies ... trollie ... ag donkies ... Annekie.
Die veldseun slaap lekker in dié stil wegkruipplek, langs die stink afloopwater van die dorp.
Die son geware nie meer vir Ampie nie, toe hy ontwaak, starend in die vreemde, kille noute. Die ganse wete daag in sy harsings, toe hy die pakkie, half met sigrets sien lê, en daadlik skiet sy hand uil soos 'n klou; ook glinster weer sy slaapbevange oë. Die rookdampe borrel uit neus en mond en krul al dwalend boontoe weg. Hy suig gretig die ligte rolletjie kort, maar sy gedagte dommel weer. Hy 't geen bekommernis nie, hy is volmaak tevrede.
Wonderlik hoe swak die groot haltplek van sy swerftog hom nou trek. Die sloot is vir hom nou die ideaalste plek. Maar eindlik sê hy vadsig: ‘Ek moet glo nou laat spat, slagpale toe!’ Aarselend rig hy hom orent. Op die walle merk hy eers hoe lank hy geslaap het. Die son staan middaghoogte en skiet lewe in sy gees en
| |
| |
litte. - ‘Dis wrentig naby twaalf uur se kant! Ek moet my roer!’
By die slagpale het die dag al baie bloed geloop. 'n Span kaffers werskaf elk so op sy plek, met 'n lomp massa vlees, nog warm van die pas ontvlugle lewe. Dit gaan so ongeërg en handig, of die doodmaak, afslag, oopsny, kaartspeel vir hulle is. - Daar wag nog, rusloos in die benoude ruimte van die kraal, bang mekaar verbydwalend, vol uitgegroeide beeste in stoere lewenskrag, op die duister sekerheid wat hulle instinkmatig voel. Skrikkerig passeer hulle heen en weer die vasgeboude hek, en staar met oopgespalkte oë, wild van angs die ruimte in, waaruit die wrede vangstok moet kom met sy gevaarlike lus, wat kort-kort een van hulle wegsleep.
Ampie se oë vlieg van mes tot mes, wat gly deur die juiste plekke, akkuraat en skoon. Hy loer na die opgekatrolde karkasse, wat hulle so netjies staan en vierendeel. Toe vra die kaffervoorman hom parmantig, wat hy daar verloor het.
‘Nee niks nie outa, ek het niks verloor nie; ek soek werk hier by die slagpale!’ sê Ampie openhartig en gemoedelik. Maar toe hy die wrede oë van die voorman ontmoet, sak sy hart.
‘Outa? ek is nie jou outa nie!’ en hy lyk moordlustig met sy yslike slagtersmes.
‘Ek sal vir jou werk gee netnou!’
Ampie slink onderdanig aglerloe. Die voorman stap met 'n tamaai vangstok na die kraal toe. 'n Groot lus sal netnou een van daardie beeste om die horings vang, dan sal die riem hom nadertrek, tot leen die ring, wat vasgeanker in die aarde is. Ampie moet ook saamtrek anderkant die ring, en as beloning 'n stuk lewer kry.
Uit die bang opmekaar gebondelde beeste, stuif 'n reus van 'n afrikaner. Sy praglige lyf dril soos hy daar
| |
| |
dwarsweg verby skiet, en met vervaarde springe wegdwing van die riem se pal getrek, en telkens maar weer wegsteier, waardeur sy springkans telkens kleiner word. Toe die os hom magteloos gespook het, is dit of daar gedagte in sy weerstand kom. Met al sy krag beur hy nou reguit teen die sterkgespanne riem. Die plomp pote viervoet vasgeplant, swel soos die spiere rem om nie te buig nie, vir die ongenadige gewig, wat die horings wil afbrand teen sy kop. Die taai seningklompe wil haas breek, en 'n angsbrul klink wreed in die lug, as hy opspring in dom verset teen die gedurige geweld, wat hom weer naderpalm, telkens nader.
Dan skater Ampie dit ook telkens uit, oor die verspotte gebokspring van so'n onwillige bees, en die benoude gebrul.
‘Jy brul verniet! Jy kan maar spring ou-bees! Dit sal jou tog niks help nie! Netnou maar sal ek jou plat kry op die aarde!’
Dis vir Ampie of hy allenig spook met daardie bees. Met stote kom die koggelwoorde uit, kort as sy asem is van die heftige kraginspanning. Hy trek heel voor. 'n Tiergenot gloei in sy dierlike blik, en wellus klink in sy gelag.
Die kaffers het vroeër ook gelag. Nou is die wrede dagwerk vir hulle net soos padmaak of klippebreek.
Maar Ampie voel hoe heerlik dit sal wees, om aldag hier te werk; hy sal hier nooit moeg word nie. - Die osse kan maar brul en snuif en spring en steier, hy sal vir hulle bring. Sy vaal keps het hy weggesmyt. Die 't hom gepla om oor sy oë te hang. Nou glim sy swart boskasie met nat punte oral om sy kop, en die sweet het oor sy lanklaas gewaste gesig, skoon spoortjies getrek.
En al intenser lewe sy moordlus hoe nader die bees hier voor hom brul en blaas. Hy sien hoe die kloue in
| |
| |
die aarde sny. Hy sien die magtelose gebeur. Hy word bewuster ook, want die woeste afrikaner os is gevaarlik naby. Effens voel hy vrees. As die riem nou breek? Hy gee 'n weinig skiet, toe die angs hom baas wil raak. En of die bees dit merk? 'n Lang smartklagende gebrul rol oor die veld. Hy ruik die bloed van al sy maats; hy ruik die dood hier by hom. Een wanhoopspring, geweldig vorentoe om daardie vyand in te vlieë ... en Ampie los verskrik die riem om weg te hol. - Die kaffers lag. - Dit was die bees se laatste kraginspanning.
Met 'n stuk lewer keer hy na sy wegkruipplek terug. Onderwyl soek hy vuurmaakgoedjies bymekaar, en stukkies ysterdraad om 'n rooster van te maak. Dis agtermiddag, met nog 'n uur se son, toe hy in sy nuwe tuisplek afspring. - Dorstig gryp hy die restant gemmerbier en slaan die laatste druppel weg. Hy sukkel toe 'n vuurtjie reg, en vervorm sy stukkies ysterdraad waarop die lewer moet rooster. Toe 'n dik rooksuil breed optrek, en 'n skemerte in die donga druk, gooi hy hom weer teen die skuins wal en blaas die rook van sy sigret in die digte misvuur wolke. Daar kom orde in sy gees, 'n bedaarde oorweging van moontlikhede, wat sy toestand raak ... Môre moet hy vroeërig by die slagpale wees om die baas te sien. Hy kan tog nie gedurig vir 'n stukkie lewer alleen werk nie.
Die gevoel van voldaanheid, oor wat die dag met hom gebeur het, stem hom dankbaar. Hy is gelukkig omdat Annekie se ring hier in sy baadjiesak veilig is. - Hoe verlang hy skielik na die meisiekind. Wanneer sy tuisplek hier behoorlik reggemaak is, kan hy haar amper hiernatoe bring. - 'n Paar sinkplate dwars hier bo oor hom, en dis so te sê 'n kamer klaar. En buitekant die kamer kan sy kos gaar maak. En skelmpies kan hy hulle drinkwater in die hande kry uit blikkiesdorp. - Hy
| |
| |
kan gerus sy bottel daar nou vol maak. - Toe kruip hy versigtig na 'n verlate huisie en in die stille agterplaas tap hy sy bottel vol. - Die slag het die poliesman hom nie geware nie. Die mense loop mos net die strate vol. - 'n Mens kan maar sê hy het die jaard bekruip. - Ampie sien toe tot sy blydskap ook 'n paar sinkplate los daar lê. - Dis wat hy bitter nodig het; dan kan hy somar nou die skermpie opsit, terwyl dit nog lig is. Hy neem twee plate saam terug sonder enige bedenking, 'n Mens kan maar sê hy het hul opgetel. Dit lê mos sonder 'n baas op die vlakte, somarso. - Bly daal hy in die diep sloot af en volg die loop na sy verblyfplek toe, wat hy beginne liefkry. - Daar lê g'n stuk beswaar meer voor nie. Die hele wêreld sal aan hom en Annekie behoort, hier waar geen mens hom hinder nie en Ampie is die gelukkigste mens op aarde, toe hy die plate reg sit voor sy kamer.
|
|