| |
| |
| |
Hoofstuk II.
Op Vlakplaas.
Ampie se bandelose lewe is 'n aaneenskakeling van die onmaatskappelikste gebeurtenisse, omdat geen tuisplek in werklikheid as sodanig syne is nie. - Vir sy pa is hy bang. Van die kinders neem hy, as die oudste, weinig notiesie en hulle, behalwe sy kleinboet, is vir Ampie bang, omdat hy hulle afknou en boelie; meesal somar verniet. Van sy kleinboet hou hy ordentlik baie, omdat hy sy enigste boetie is, en vir sy simpele moeder voel hy soms 'n geneentheid, wat haar buitensporige aanhanklikheid, met vlae en grille aan hom gewijs, teweeggebring het. Sy vind plesier daarin om vir hom skrik te maak, met hom te stoei, hom agterna te sit met klippe, of enigiets in haar bereik. Dis al wat hom na sy tuiste kon laat verlang het - sy simpele moeder en sy klein boetie. Ouerlike leiding was daar nooit nie, ouerlike raad selde, rusie altoos; omdat sy raadgewers self leiding en raad kort gekom het, en 'n behoefte om te raas in eie kring, die maklikste openbaring was van hulle verkropte ellende. 'n Gedurige stamp en stoot onder mekaar, met woord en daad, het die onderlinge omgang van die Nortjees in en om hulle pondok, gekenmerk. Liefde het daar nooit geskyn nie, of vir Ampie, waar hy verkeerd was, reggehelp. - Wel het veelal die angs vir 'n halfdoodmaak kastyding, alle redelike weerstand laat verwrok en die fyner gevoelens van billikheid en reg diep ver- | |
| |
dring en versmoor in sy binnenste om plek te maak vir lafhartigheid en lis.
Die wrede krag van die vader het hom geknelter in die perke van die vaderlike gesag, waar hy gehoorsaam en gedwee gelyk het; dog in werklikheid het sy vlak harsings planne verwerk, om sy vader te uitoorlê, en amper gedurig heers daar 'n vals verhouding tussen hulle. Selde sal ou-David Nortjé en sy seun persíes mooi langs mekaar stap; wel wanneer eenselfde doel hulle laat koers vat; anders slenter Ampie altoos 'n entjie agter sy pa, sku en skelm.
Maar onder die invloed van sy vader uit, het hy gedagteloos vir die gevolge deurgedruk, luisterend na die drang van sy impulsiewe temperament. - Die ondervindig het hom geslepener gemaak om die moontlike kwaai gevolge van sy dade te ontduik. Dis vir hom amper 'n noodsaaklikheid om te lieg, ook al bestaan daar weinig rede om 'n leuen te vertel. Tog, as die knelter losgemaak is, die vryheid buite hom ophef, is hy tienmaal beter mens. Die drang van verkropte gevoelens kan uitbars, al is dit deur verwensing in die lug of deur doellose drifvlae. Teenoor homself sal sy handel eerlik bly; ook kan 'n liefde as vir ou-Jakob hom teer maak.
In die skemerte, toe hy so baldadig oor die miershope en graspolle wegspring na Vlakplaas toe, deurdring al wat goed in Ampie is sy hele persoon. Dis of die wêreld vir hom oopgaan, waar pure liefde hom lok. O, dis 'n uitbars hierdie wat die kettings van 'n slaafse lewe van vrees en bedrog sal breek ... Die son is al onder; maar hy hardloop nog na die lig van vrye lewe, soos sy gees dit daar gunter aan die horison nog sien, bokant Vlakplaas - met Annekie.
Die seun het al meermale uitbarste gehad. Vir die Nortjees was dit niks ongewoons nie, as hy kort-kort
| |
| |
skielik wegraak om na 'n dag of twee, drie weer tussen die ongeërgde huisgenote te verskyn met die boodskap: ‘Oom Tys en tant Annie het groetnis laat weet!’ ook al het hy nooit by daardie famielie van hom gekuier nie. 'n Leuen het hom nog nooit direk seergemaak nie, die waarheid wel, veral toe hy nog op skool was en eerlik vir die meester gesê het, dat hy nie sy les geleer het nie.
Maar hierdie uitbars was gedryf deur die laaste krag van sy liggaam en gees, na die begin van 'n nuwe heerlike lewe, na sy pasgebore en sterk groeiende eerste liefde - die ander uitbarste was mos somar spulletjies. Dis nou 'n wolkbreuk, wat vol riviere uitstoot oor alle hindernisse.
Die donker sak toe, wat sy vaart strem, tot hy rustiger aangaan en ook beheer oor sy gedagtes begin kry. - Vlakplaas is 'n ompad dorp toe; maar wat sal hy op die dorp by die slagpale gaan soek, as hy nie eers oor alles met Annekie gesels het nie? Hy moet haar positief duidlik maak hoe hy nou wil gaan werk vir hulle twee saam, en hoe volop hulle lewe sal word, daar by die vlees en karweijoppies. Maar sy sal dit moet dighou as die geheim van haar lewe, tot hy haar die dag kom haal met sy eie rygoed - self 'n man. - Hulle twee kan vanaand nog 'n ruk lekker gesels. Hy sal haar ook positief vra om na haar te vry, want dit hoort so.
'n Helder sterrehemel welf oor die donker wêreld, koud en groot, weerskante die eensame voetpad, waar net die klap van Ampie se kaal voete in die stilte opklink. Klein en verlore lyk die wesentjie in die onpeilbare duisternis rondom. Groot is die siel, wat net die sterre daarbo sien en vol blyheid die kille duister trotseer, gelukkig met sy kinderverstand vol heerlike verbeelding, omdat hy geen kennis van die groot wêreld
| |
| |
besit nie. Moedig stap hy die kou van hom af. Die winter is geen vyand van Ampie nie. 'n Streepsak hou hom warm genoeg om aan die slaap te raak, en as hy eenmaal soos 'n opgekrimpte ystervarkie lê en slaap, dan voel hy mos g'n kou nie! 'n Ietsie stywerig mag sy litte in die môre wees - nes 'n bees se litte in die winter-môre ook maar stywerig is, maar so'n paar draaie in die son, en hulle is weer heeltemal geskik. Vanaand hou die drang om by Annekie te wees hom warm. Aits! hoe verlang hy na Annekie vanaand! Nooit het daardie meisiekind hom soos nou geja nie. Dis of sy asem kort word toe hy die liggie van oom Tys se huis gewaar.
Net toe hy die deur se klink lig, en sy oogopslag die verrigtinge in die woning sien, word Ampie plotseling homselwe in die afgeslotenheid, waar mense besig is, en hy voel of iets hom oorweldig en bang maak. - Die vrye gees van die heel-aand-al wyk en sy gevoelens, wat heerlik los gewerskaf het, word laf en slu. Die vier mure het hom vasgevang, en die swaar atmosfeer daarbinne druk hom klein; want oom Tys hou boeke.
Niemand van al die mense het geroer nie - die oomblik eis hul algehele aandag. Tog het sy onrustige oë ook daadlik vir Annekie gewaar, en skielik het hy skamerig op sy kaal sterk tone gesluip na die horrelpoot bankie, daar langs die oorkantste lang muur, en in die halfdonker sit hy nou penrègop, solank as die boekevat duur. Roer hy hom effens, dan raas die horrelpoot bankie en dan skyn dit hom of die hele boekevat so'n oomblik stilstaan, en hy dwing sy houding krampagtig in eenselfde posiesie, almaardeur. Sy oë staar net na die groep daar in die ligstreep, in die middel van die vertrek.
Net daardie een lang vertrek doen diens vir al die kamers wat 'n witmenshuis behoort te hê. Die armoede duister weg weerskante die groep, wat om 'n walmende
| |
| |
lampoliepitjie op die tafel sit en luister na die eentonige basgeluid van die vader se woorde uit die bybel. - Dit vorder maar gebrekkig; oom Tys het slegs drie maande in sy lewe skoolgehad. Tog is die stemming hoogs ernstig. Vol eerbied luister almal, hoewel niemand verstaan nie. Almal voel dat dit 'n oomblik is van oorgawe aan 'n misterie van ewige Almag, wat kan verpletter en versorg en deur 'n pal gewoonte is die oomblik vir hulle heilig; niks mag hulle aandag aflei nie. - Dis die enigste band wat hulle aan 'n beter verlede koppel, en dit plaas oom Tys se huisgesin 'n trappie hoër as die huisgesin waar Ampie aan behoort; want Ampie weet net van boekevat hier by oom Tys. - Die gees van bange eerbied het hom daadlik in hoë mate gepak. Pal staar sy groot oë na die gebukte kop van sy oom, waaruit die onbegryplike woorde as magspreuke so eentonig dreun, en 'n bromstem so onverstaanbaar uit die grootboek lees, wat almal Gods woord noem. Vrees bekruip hom; hy huiwer as hy in so'n diensie die vreeslike God moet nader, wat net gereed is om die mensdom te straf; want liefde het sy lewe nimmer opgeluister nie. Hy voel homselwe magteloos, nes hy teenoor sy vader voel, as die hom wil kasty; maar veel intenser hier, waar die onsigbre oral binnekant die vier mure is, en in die diepste duister tog vir Ampie so helder geware. - Hier help sy sluheid niks nie, nog sy uitoorlê planne; hy is vasgekeer. Dis alles 'n geweldige geheimsinnigheid. Ampie is benoud vir die onverwagte strafmaniere van die Almag. - Dit verklaar sy vrees vir onweer. As die openbaring van die Godheid se toorn bo hom in die lugte saampak, dan wil hy wegkruip in die digste skuilplek vir die blitse en donderslae.
Hy moet maar penregop daar op die raserige privaat bankie sit en pal vir oom Tys dophou tot hy amen gesê het.
| |
| |
In die skemerte glim Ampie se oë soos sterre, wat klein in die winterhemel roerloos na die wêreld staar.
Maar oom Tys lees baie stadig en vanaand is die hoofstuk lank, of liewer Ampie se oë word deur die godsdienstigheid afgelei, en sy gedagtes swaai onwillekeurig 'n weinig weg vanwaar die dreunklank opklink ... Daardie donker los hare, wat vèr oor die rug hang, en die vyftienjarige vaste lyfie van Annekie hiervoor, trek hom en dit maak sy gemoed saf sodat die somber klanke van oom Tys sy siel ontroer. - Hy luister, luister onverpoos. Die warboel van godsdienstige klanke gloei in sy ernstige oë, wat klou aan daardie donker haardos en o, hy het Annekie nou so lief, dat sy liefde die boekevat sal uitoorlê.
En toe Annekie en almal opstaan om te sing, word Ampie nader gedryf na die middel van die vertrek, en hy kry hom langs Annekie, sodat hy met die Tys-famielie moet opgaan in hulle laaste lied. - Sy stem groei in volume as hulle die slotpsalm, deur die laaste singkragte van die huisgesin uitgestoot, aanhef. - Die eerste paar klanke van ‘Uit diepten van ellende’ druk oom Tys alleen deur, en toe val die moeder in met 'n stem so skerp soos 'n skeermes. Haar uitsing is baie deurdringender as al die ander se uitsing saam, en as almal die liederwys van die boetpsalm gevat het, lyk dit of die geluidsgolwe die lang kamer wil uitduie. - As die liederwys reg gesing word, gaan dit asof hy met al die ellende van die boetpsalm weghuppel; maar hier, ongeskool en ru, met lang uithalers en vol koraalnote, word nog iets van die ellende weergegee, wat die sieltreffende psalmboekwys so innig laat voel. - Dis duidlik dat die boekevat hier vrugbaar is. Nou is daar 'n werkendheid, omdat almal aan die diens werklik kan deelneem, en geesdrif omdat die boekevat hier lewe
| |
| |
het, en dit die godsdienstigste openbaring van die oomblik is.
Nouliks het oom Tys se amen die dankgebed afgesluit, of die huisgenote behoor weer aan die wêreld en neem notiesie van Ampie.
Terwyl oom Tys met fyn gefrommelde vrot tabaksblare sy pyp stop, vra hy vir Ampie na die welstand tuis; waarop Ampie sonder enige bedenking maar weglieg: ‘Pa en ma het groetnis laat weet. Pa sit 'n bylsteel in; ma pas kind op.’
Op die oomblik egter laat sy liggaam hom gelde. Sy grootste kwelling is dat hy honger het en hy vra reguit vir Annekie kos.
Ampie neffens die tafel vorm nou 'n middelpunt van doellose vrae; maar Annekie weet dat Ampie honger is, en sy roer haar, terwyl sy opgeruimd trag om te vertel:
‘Ek het my gister amper doodgeskrik,’ sê sy lag-lag, terwyl sy 'n hoekie regmaak op die tafel. - Effens grimlag hy terug, maar sê niksnie, want hy moet inspeksie hou van haar ouboet se selfgefabriseerde ghitaar, soos Boet die ding noem, inmekaar gesit van 'n eengellingse lampolieblik, 'n drieduims breë kasplank, binddraad en koperdraad en houtpenne, wat die snare moet styf hou. - Bart is die musikant van die Tys-famielie. Hy laat al hoor wat die instrument kan doen, en Ampie voel hom nou weer eie en vrypostig.
‘Gee, laat ek sien!’
Hy ruk die nuwerwetse ghitaar uit die eienaar se hand, sodat die skerp blik 'n rooi streep oor Bart se duim trek.
‘Jy is moedswillig, nê?’ brom Bart.
Hy is swakker as Ampie, en moet met kwaai oë sit en aankyk hoe Ampie hardhandig oor die snare stryk. - Oom Tys lag oor sy oudste seun se verleentheid, en die ander lag oor Ampie so toonloos snel agtermekaar 'n rympie onder die onmoontlikste snareklank afratel:
| |
| |
En hy breek hom in stuk ...’
Die groot diep erdebord vol stywe mieliepap en koue boontjiessop daaroor, breek die rympie. Haastig gee Ampie sy neef se instrument terug. ‘Dê vat jou gemors!’ en hy sak weg in die bordvol met groot gulsige stukke, dat sy kop so meegee met elke sluk. Net Annekie wil te graag iets vir Ampie vertel. Sy gaan teenoor hom sit en skuif haar ellemboë oor die tafel, sodat haar oop gesig vol in die lig is en haar groot oë Ampie se lepelsvol mondtoe volg. - En waarlik in die langkamer is Annekie die aantreklikste van al die huisgenote, waarvan niemand mooi is nie. Almal lyk taai, niemand intelligent nie. Behalve oom Tys en Bart, wat baie na sy pa trek, dra almal 'n besondere kenmerk, van die moeder se kant, op die kinders oorgestempel. Hulle oë gee te ver pad van die neus af, onder breë plat voorkoppe, wat die gesigte dom maak. Dog hoewel Annekie haar oë 'n ietsie wyd staan, is hulle mooi blou kykers, wat meesal vrindlik rondkyk, en haar gesig lyk fris as van 'n gesonde dogter van die veld.
Die lepelsvol trek haar aandag effens af van wat sy wil vertel. ‘Ek het my gister amper dood geskrik,’ herhaal sy te koel vir so'n vreeslike saak, dog vervolg lewendiger: ‘Haai jongie! Waar was jy?’
Ampie vra kou-kou vir haar hoe sy dan gemaak het.
‘Ek het die heel môre geloop en soek na ... jy weet Ampie, die tarentaal wat so vreeslik kan skree?’
| |
| |
‘Daardie een wat ek laas met die voolrek katswink geskiet het?’ vra hy onder kou en sluk deur. ‘Dit was te komieklik - op en onderste bo, en toe beginne hy so triesterig te tsjier! tsjier! En toe word hy skielik reg en draf of die duiwel hom ry!’
‘Nou ja Ampie dis daardie tarentaal, wat so vreeslik kan skree.’
Ampie knik instemmend, wyl hy haastig 'n mondvol leegsluk om gou nog boontjiesop en pap te vra, voor Annekie verder wil vertel. ‘Asseblief as daar nog te spare is.’
Annekie bring weer net so'n vol bord as flus, en ewe gulsig sak hy weg in die heerlike ete.
In haar beste humeur gaan Annekie verder: ‘Nou ja, Ampie, daardie tarentaal is broeis, en ek kon haar nes nie kry nie. Ek het gesoek en gesoek, maar verniet.’
‘Dis nie daardie een wat so vreeslik skree nie!’ dreun die ma botweg tussenin.
‘Ons het mos 'n hele paar van hulle wat so goddeloos kan skree,’ sê oom Tys, ‘hulle versondig jou siel!’
‘Pa maar die een wat ek bedoel is almal se moses. Hy skree op 'n akkoord, dit sny so dwarsdeur jou kop - ek bedoel hom pa ... Nou ja, Ampie, ek soek toe al heel môre; maar ek kon maar nie die nes kry nie; en net toe ek wou opgee, spring die tarentaal uit die ruigte met 'n vreeslike gedruis en ek ...’
‘Waar was ek met die rek?’ val Ampie in, klaar geeet en vol windmaak. ‘Ek sou hom gekwint het dat sy gorrel nooit weer sou geskree het nie!’
‘Jy hou jou verniet so danig, Ampie; jy sou ook maar net so lelik geskrik het; want dit was te skielik, en die tarentaal sou skoonveld gewees het,’ sê Annekie.
Die slaap het al die bewoners van die eenkamer- | |
| |
woning bekruip; behalwe vir Ampie en Annekie, wat opsit; tenminste Ampie voel dat dit 'n regtige opsit is, nie 'n speel-speel opsit soos hulle gewend was nie. - Die onplesierige geel vlammetjie van die lampoliepitjie, stoot sy ongesonde walm deur die vertrek. 'n Verskeidenheid van snork- en verwurggeluide vul die kamer, asof toorn en doodsbenoudheid mekaar uitkoggel. Dis vir hulle twee geen stoornis nie; maar wat wel hinder is 'n onnatuurlike stroefheid, wat hulle vanaand so wonderlik uitmekaar uit hou. Ampie voel die gewigtigheid, wat 'n keerpunt in sy lewe beteken, en die groot stap en die nuwe koers is so moeilik, nou hulle houding so vreemd lyk. Annekie is so eenkant en stil nou, en sy kyk maar teensinnig op of sy haar vererg.
Maar Annekie is bewus dat daar iets besonders deur Ampie se kop dwaal. Hoekom bly hy dan so sedig en dooierig? ... Of wil hy dalk perbeer om haar been te trek ...? Hy lyk 'n mooi een vanaand. Hy moenie dink dat sy vermaak se kind is nie, sy sal somar reguit kooi toe gaan. - Ontevrede trek sy uit 'n stapeltjie boeke op die tafel - psalmboeke, bybel en kategisasieboeke - haar vraeboek ... sy sal maar solank aanneemlesse leer ...
Hulle twee het al baie keer opgesit saam, soos kinders, wat meesal rusie maak en kwaad uitmekaar gaan, of partykeer saam hulle vrae leer en mekaar oorhoor. By 'n vorige geleentheid het hy haar, na 'n stryery met ‘jou flenterjas!’ beduie, en sy het vir hom toe ‘jou bobbejaan gevreet!’ genoem, wat Ampie woes gemaak het, omdat hy oortuig was dat sy hom slegter gesê het, as hy vir haar; en sy moes slaapplek toe wegkoes vir sy vuiste.
Vanaand is sake glad gedraai. Annekie is vir hom geen speelmaat meer nie. Toe die huisgesin nog om die tafel gesit het, was hy 'n groot man, feitelik het hy toe
| |
| |
sy ambiesie en planne tydelik vergeet. Nou dwing sy hartslag om die bewerasie te kry en hy moet net sluk. Hy voel dat hy regtig vir Annekie liefhet. Sy oë dwaal begerig oor die donker lang hare, wyl sy daar so gebukkend sit, skuins van hom af weg, en oor die eenkant van die gevulde gesig en rooi wang ... Sy stem bewe as hy eindlik vra:
‘Voel jy sleg Annekie?’ Hy vra dit om tog maar iets te sê en sonder om dit te meen.
‘Nee! Waaroor sal ek dan slegvoel?’ Sy kyk op, want Ampie se stem klink ook vreemd, nie meer soos flus nie. - ‘Ek kry vaak!’ Sy moet haar oë afdraai vir Ampie se gloeiend verliefde blik. Maar die spanning is gebreek. Baie rustiger hervat hy:
‘Jy lyk nes jou ma as jy so gebukkend sit.’
‘En jy nes jou pa voor hy hom gewas het!’ is haar skalke antwoord, vergesel van 'n spotlag, en geestig glinster haar oë. - Sy hou haar gereed om weg te spring; want Ampie kan haar dalk 'n klap gee. Hy 't skielik kwaai gekyk en die regop rimpel trek oor sy voorkop.
‘Jy begin weer nes die ander aand nê? Ek sal vir jou takel!’ dreig hy.
‘Jy is al te kontant met jou slae aanpresenteer!’
‘Wag Annekie, laat staan nou die rusiemaak! Kom ons gesels liewerste.’
‘Jy sit dan nes 'n gompop, wat geen a-b-jab kan sê nie - gesels! Ek sal luister!’
‘Ek het groot sake om met jou oor te praat - kom sit nader!’ Hy voel nou kalm en beslis. Dit begin ook stadig tyd word, dat hy moet verder gaan. ‘Kom sit nader Annekie!’
Sy kom nie naderby nie, maar sê simpatiek:
‘Jy is vanaand so vreemd en stemmig ... wat makeer?’
| |
| |
Toe blits sy oë van toorn en sy skrik vir sy driftige stem:
‘Pa wil my mos uitroei! Vandag moes ek vir ou-Jakob laat opveil! Maar dis laaste sien!’ en bedaarder, met 'n teer klank. ‘En wat sal jy daarvan dink, Annekie, as ek so ewe skielik weg raak?’ sê hy opstaande, wat haar verwondering laat klim. Hy is glad anderste vanaand as al die ander aande, sy voel bangerig vir hom, en dis of iets haar dwing om te gehoorsaam, as hy vir haar wink en sê: ‘Ek wil jou 'n bietjie sien asseblief!’
Dit word nou vir haar 'n snaakse grap, wat haar nuuskierigheid prikkel.
‘Maar jy sien my dan die heel aand al,’ terwyl sy opstaan en tog 'n tree naderkom. ‘Praat! praat! Ek wil gaan slaap! Onkruid vergaan nie! Wat wou jy wegraak voor?’
‘Gee jou hand!’ is sy order kort en beslis.
Nog 'n tree kom sy nader en hy vat haar hand, en meet met 'n voorslagriempie die dikte van haar ringvinger. Sy is stom en voel verbaas, nuuskierig. Wat wil Ampie dan nou maak? Versigtig en persies maak hy twee knope in die voorslagriempie en bêre dit in die tabaksakkie, waarin sy een pond agtien sielings ook is. Deeglik steek hy die baadjiesak met die hakspeld toe en sê saaklik:
‘Ek wil vir jou 'n ring koop Annekie.’
Soos 'n koorsrilling skud die verrassing deur haar liggaam. Ampie het haar heeltemal gewen. Toe hy weer haar hand vat, dwing sy digter na hom toe. Dis haar nou heerlik duidlik, Ampie wil vir haar 'n ring koop. En terwyl Ampie so gelukkig haar vaster teen hom druk, en sy hand oor haar dik bos hare stryk en stryk, stu haar begeerte visioene voor haar gees. In die oomblik skitter heel die toekoms. Sy wil 'n ring hê, wat fonkel en almelewe 'n mens se oë vang, 'n ring om mee te spog
| |
| |
en haar maats te laat verwonder, 'n ring net soos die ‘tietsier’ hare. Ampie het baie geld. Sy het die tabaksakkie hoor klink en hy was oor die helfte vol, soos dit vir haar gelyk het. Tal van heerlikhede vul haar gedagtes en sy hou haar oë smagtend op na Ampie s'n. Hy soen haar hartstogielik.
Toe is dit of sy plotseling ontwaak, effens wring sy haar los. - So het Ampie nog nooit met haar gewerk nie.
‘En toe? Wat gaan nou aan? Nee jongie! Jy is darem àl te eie en astrant vanaand!’ Sy staan nou los van hom af.
‘Ek is my eie baas Annekie. Ek sal jou kom haal met my eie trollie en ag donkies. Dan trek ons slagpale toe by die dorp. Daar sal ons vlees eet dag vir dag en lekker saam lewe. Sal jy dan saamkom Annekie?’
Sy voel ietsie teleurgestel. Daardie vooruitsig is nie so aantreklik as om 'n ring te kry nie ... ‘Ek weet nie. Ek kan mos nie van ma-hulle af pad gee somarso nie!’
‘Maar ek wil vir jou kom vat as my vrou, en dis die dat ek vir jou 'n ring sal saambring, want waarna lyk dit as 'n mens trou sonder 'n ring?’
Hulle redeneer nou soos twee ouderlinge oor 'n kerkkwessie. Sy maak vir Ampie duidlik met 'n teregwysing, as van 'n moeder.
‘Maar jy is stuitig om so ewe skielik te wil trou! 'n jongetjie moet mos eers die jawoord kry, en as hy die jawoord gekry het, dan koop hy die ring, en dan vra hy ouers en dan word hy aangeneem en ... dan ... dan eers trou hulle ... Jy is glad te haastig Ampie!’
Hy word terneergedruk deur die mag van waarheid wat hy nog moet oorweldig, en daar kom weerstand in sy gees.
Sy voel bewus dat sy vir hom alles mooi beduie het, en tog is sy effens ontevrede oor haarself ... As Ampie
| |
| |
tog nou maar die jawoord vra! Hoekom het sy maar liewerste nie eers van 'n ring gepraat nie? Sy bly hom moedig in die oë kyk; maar gou-gou voel sy hoe sy ingee; want daardie oë van hom het woes geword. Sy blik skiet vonke oor die vaste lyfie van wat hy die liefste het en hy gryp haar heftig aan haar skouers toe hy dreigend fluister:
‘Ek sal vir jou laat toor! Sowaar! Jy sal moet saamkom as ek vir jou die dag kom haal ... Ek sal die toorgoed koop daar by die slamse in die dorp. Jy sal moet saamkom! of hoe sê jy Annekie? Sal jy tevrede wees om saam te kom?’
Verskrik deur die heftigheid verdwyn haar speelse weerstand. Sy is bang vir die slamse toorgoed, wat 'n mens somar goedsmoeds vang en ongelukkig maak. Dit sal haar tog niks help om teen 'n goëlery te stry nie. Dit bekruip jou orals waar jy loop.
‘Ek moet maar tevrede wees; wat kan ek maak as jy vir my wil toor?’
Nou vat hy haar weer teer, en trek vir Annekie weer lossies aan haar skouers nader.
‘Ek vat van hierdie heden af my eie koers. Ek het mos nou jou jawoord nê my liefste Annekie?’
Bangerig gee sy die jawoord, nouliks hoorbaar. - Sy sal hom volg, al was dit nou. Sy voel of sy so tussen waak en droom in handel. - Lank hou hy haar so innig in sy arms, en soen haar lippe, wat sy willoos na hom ophef.
‘Ek moet nou loop,’ sug hy eindlik, dronk van geluk ... Toe stap hy stadig na die deur en maak hom oop. Die koue naglug dring in die bedompige woning, en 'n frisheid deurtrek daadlik hulle gedagtes.
‘Ek wil nou trap! Jy moet dit dighou hoor!’
‘Ja, Ampie, sekerlik! ... Jy moenie my ring vergeet nie nê? So'n blinke met baie steentjies soos klein ger- | |
| |
naatpitte ... een wat jou oë seermaak as jy daarna kyk.’
Die duister van die winternag het vir hom al aan haar blik onttrek; maar lank nog het Annekie in die koers geslaar, waarin die eensame Ampie verdwyn het ... en sy voel nou regtig hartseer oor hy weg is.
|
|