| |
| |
| |
Hoofstuk I.
Ou-Jakob.
Dis weer die maandelikse vendusie in Kasper Booysen se groot beeskraal, waar in die rondte grootvee wei en 'n seun op sy esel kom aangalop tot by die kraalhek. Op 'n onverskillige rolmanier gly hy van die donkie af en kom op sy voete te lande by Kasper Booysen, sy bywoner oom Flip Staander, die afslaer en 'n paar Jode.
Dis 'n seun van twintig jaar, agterlik vir die leeftyd en sy dom gesig kyk oorbluf vir die mense. - 'n Verwaarloosde vuil hand kom nou reguit eers na oom Kasper, en toe na oom Flip om te groet, en daarna nog reguiter na die afslaer toe, wat hom effens aanraak en yskoud sê:
‘Kom jy beeste koop?’
Die seun antwoord met 'n breë dom lag, wat twee pragtige rye tande oopstoot, en verklaar heserig met 'n tikkie verwondering in sy stem:
‘Ek het mos nie geld nie! Ek wil vir ou-Jakob verkoop.’
Die omstanders, opgewek, begin belangstel, nou Ampie weer verleë verder wil groet, en sy hand weifelend tot voor 'n kort Joodjie skuif, wat hom speel-speel skraps verbyslaan met 'n karwatsie, toe hy kastig verskrik terugdeins tot vermaak van die omstanders, en iemand gee die plan om vir 'n skrobborsel te kollekteer.
Skigtig loer die seun van die een na die ander, wat hy gegroet het, of nog sou groet, want hy voel die harteloosheid, wat so plesierig lyk, en baie ontuis daar, dring
| |
| |
hy terug na sy esel, as 'n voorwerp van sarkasme, afkeer en medelyde.
Ampie se oë word kwaai van ergernis, toe hy ru die esel die kraal binneruk ... Daardie Joodjie moet in sy passoppers bly! As hy hom op 'n stil plek kan bykom, sowaar hy sal hom somar goedsmoeds half verwurg! ... Dit hoort mos so om te groet as mense by mekaar kom ... hy is so groot gebring! Hoekom groet oom Kasper en oom Flip dan behoorlik?... Daardie Joodjie is ongeaard! Hy het g'n opvoeding gehad nie!
Booysen is een van die weinige uit die omstanders, wat jammerte voel vir die verwaarloosde seun uit die ellendigste huisgesin, wat hy ken. Hy kan gerus die opveil vir die donkie netnou opjaag... die Jode sal vir die dier g'n vyftien sielings oorhê nie. ‘Neef Flip dit lyk vir my ons sal ou-Jakob kan gebruik nie waar nie?’
Staander lig sy swaar moestas-wysbroue op: ‘Neef Kasper, ons kan gaan kyk’.
Hulle drentel na die somber kombinasie van donkie, seun en kraalmuurklippe, wat 'n wonderlike harmonie daaragter in die kraal vertoon, en terwyl Booysen ernstig die seun opneem, sê hy belangstellend:
‘En jy 't vandag gekom om ou-Jakob te laat opveil? Hy lyk 'n gawerige donkie, Ampie.’
Ampie voel gelukkig, hoewel hy bedees na die simpatieke oë van Booysen opkyk.
‘Ja oom!’ en hy klop sy maat liefkosend op die dik stowwerige hare.
Flip Staander het as 'n kenner die donkie in die bek gekyk, en 'n paar slae in die rondte om die dier geloop, en toe met 'n geweldige knipoog niks gesê nie, maar tog daardeur enkele goeie punte van ou-Jakob, vir Booysen meegedeel, terwyl Ampie vrypostiger en gaandeweg opgewondener sy hart 'n weinig lug:
‘Ek is baie jammer omie, om die donkie te verkoop.
| |
| |
Maar wat kan ek doen as pa my order? - Dit was vanmôre amper rooidag, toe sê pa so ewe skielik vir my: “Loop bring vir ou-Jakob vendusie toe!” en wat kon ek toe maak? Ek moes maar mooi vir ou-Jakob hiernatoe bring ...’ Hy streel die ruie nek van sy maat en herhaal soetjieser vol hartseer: ‘Ek is jammer omie!’
‘Is hy 'n flukse donkie, Ampie?’
Lewendig word nou Ampie se wese, en in sy donker oë lig 'n glimp van verstand. Ou-Jakob is sy liefling en dis met warmte, toe hy beduie en opsom:
‘Omie hy is so fluks as 'n perd en baie beter, want hy het g'n end nie! Dis virniet om te perbeer om vir ou-Jakob flou te kry ... Omie kan maar perbeer! - Laas het hy heeldag dwarsdeur gehardloop, dorptoe en terug, en toe weer heeldag agter ander donkies aan, en daarvandaan weer Vlakplaas toe en terug - en hy was nie eers moeg nie! ... en as dit nog maar al is! ... Waar is nog die bakleislag? Hy stof die laaste donkie uit in die hard-hardloop en gee die laaste een 'n pak ... Oom Kasper, oom sal nie vir my glo nie, maar nou die ander dag ...’
‘Dan moet hy goed wees,’ val Booysen hom in die rede. ‘Neef Flip dit lyk vir my ek sal 'n plan maak as ou-Jakob aan die beurt kom.’
‘Ja-nee neef Kasper!’ en Staander drentel weer met Booysen na die afslaer toe.
Liefkosend streel Ampie weer die nek van sy maat, en klop hom dat die stof so uitwolk. Ampie is uit die gedagte van almal wat gekom het om te spekuleer, en sy maat is onbegeerlik.
Dit word woelig om en in die kraal.
‘As ons nou nie begin nie, kan ons maar gerus ophou!’ sê die afslaer, toe hy op die kraalmuur klouter om die publiek bymekaar te roep. ‘Vrinde, dit moet vandag beter gaan as laas maand. Toe het ek nie eers die on- | |
| |
koste vir my rookgoed gedek nie. Julle weet almal hoe ons die vendusie hou, nê? Vandag vir kontant en môre vir “cash”!’
'n Afslaer moet altyd 'n grappie kan maak, en as hy nie 'n gros grappies in voorraad het nie, wat beteken so'n afslaer dan? Daar is genoeg mense vandag vir 'n ordentlike vendusie, dog die boere, wat op die kraalmure sit, het iets gebring om te laat opveil. Slegs 'n paar Jode en twee, drie ander, wat koopplanne het, stap onverskillig deur die beeste in die kraal.
Eenkant, sku in 'n hoek, leun Ampie teen sy esel - 'n toonbeeld van geduld en ellende. Vaal van die stof is die vodde om sy lyf, en die groot, ou, keps, wat tot sy ore ook toemaak, nes die aan-die-slaap ou esel hier langs hom. Met die linkerarm oor die skof van sy maat geslaan, hang hy dooie-rust teen die geduldige ou-Jakob. Sy skurwe swart voete, met hulle groot weglêtone sak onder die kraalmis; maar Ampie self hou net die afslaer dop met bang, bruin oë, wat hy amper nooit knip nie... Daardie groot man sal vandag oor die lot van sy ou-maat beslis, en hy gevoel 'n geweldige drang om te soebat ... Op die oomblik is sy sielsbegeerte om weg te sluip, en die wêreld in te ry met ou-Jakob alleen. Maar die gewoel is vòòr en die mure is toe van die mense, wat dalk vir hom sal spot.
Beeste word die kraal binne gedryf en beeste gaan skrikkerig uit; party word wild in daardie voorgekeerde noute, hulle draai en storm en bondel op mekaar en die mense moet bontstaan om hulle te keer, en die Jode moet wegspring voor. Hulle koets almelewe so wonderlik lomp, of hulle lywe te min litte het; kyk daardie kort Joodjie wat hom flus nie wou gegroet het nie en hom so astrant hou, hoe lekker het die os hom so nerf-nerf gegaffel met sy horings ... hy is somar asvaal!... Het die os hom tog maar liewerste goed seer gemaak!
| |
| |
Nou bedaar die beeste, en dit word weer rustig. Net die groot man op die muur roer hom vir al wat hy werd is, en die mense lag kort-kort vir sy grappe, maar Ampie verstaan skaars wat hy vir hulle vertel. Hy verwonder hom oor die afslaer se vinnige gepraat, nes die gekekkel van 'n hen wat nes soek; dis maar net ponde-ponde en sielings met 'n trop woorde soos rympies agter mekaar ...
Aits! Nou lag Ampie soos hy lank laas gelag het, vir die skielike manewales van dieselfde groot man. Die eenkantste ronde klip het onder die afslaer se voet uitgeglip, en daardie pareer met altwee sy arms, en die gewerskaf met sy bolyf om op die muur te bly staan - dis tog te komieklik. Hy moet hom seker amper dood-geskrik het. Nou staan die afslaer weer reg. Sy asem is eintlik kort en hy praat bewerig, maar netnou is dit weer ponde-ponde en die vreemde rympies so agter-mekaar en maklik. Maar die slag roer die ou hom virniet. Hoe meer hy nou opveil, hoe onverskilliger die Jode van hom af wegstap, en glad geen notiesie van die beeste meer neem nie ... Hulle is darem ongeaarde mense, om daardie man so verniet te laat soebat!... Die kort Joodjie kom al glad na hom toe, en begin nou kastig notiesie van ou-Jakob te neem; maar hy sal nooit vir hom kry nie, die vuilgoed! Hy is glad te ongeaard en het mos geen opvoeding gehad nie! Kyk hoe moedswillig! Vir wat gee hy ou-Jakob 'n hou oor die kruis met sy handsambok? Hy is mos orig met die ding! Ampie se voorkop trek groot regop plooie tussen sy oë, en hy staan los van die esel af, terwyl hy brom: ‘Ek wens hy skop jou in jou ribbe!’ ‘Hy kan mos nie skop nie! Sy pit is uit! Hy is klaar dood!’ sê die Jood, en hy gee die aan-die-slaap-ou-esel nog 'n raps op dieselfde plek, dat die haal so lê; maar ou-Jakob skop skielik uit, en vang so skramps die kort Joodjie se broek.
| |
| |
Ampie lag weer net so lekker. Aaits vir ou-Jakob! Dit het die Joodjie nooit kon dink nie, - so ewe skielik! ... hy is spierwit verbleek ... So'n vendusie het darem baie grappe!
Flip Staander kom ook weer na Ampie toe wat nog geniet van ou-Jakob se geniepsigheid. ‘Hy het so ewe ongeërg die Joodjie gesteel, oom Flip; hy is nog asvaal soos hy geskrik het,’ vertel Ampie tussen die lagbuie deur.
‘Jong, kom nader met jou esel, nê!’ is die order wat Staander bring, en op die plek breek sy pret af, en 'n benoude gevoel klim na sy keel toe. Dis nou ou-Jakob se beurt, en almal kyk vir Ampie, wat omring van al die mense vlak voor die afslaer, vas teen sy maat bly staan, of hy hom wil behou, vir altyd. Sy oë dwaal sonder om te sien oor alles voor hom, en dowwerig gewaar hy dat Booysen en oom Flip met mekaar gesels, en dat party van die kopers om en om ou-Jakob loop; maar eindlik hang sy blik weer vas aan die afslaer op die muur, toe hy roep:
‘En nou wil ek vir julle daardie eersteklas donkie verkoop! Goed geteel en so fluks as 'n resiesperd!’
Ampie word hoogmoedig by al sy hartseer.
‘Ek het hom self in die “handicap” op Turffontein gesien!’ sê die kort Joodjie.
‘Die hoogste bod vat hom! Wie sê vyf pond? Hy is toe-oë vyf pond werd! Wie sê vier? ... drie? ... twee? ... My liewe mense julle moet my goed verstaan, ek meen daardie esel op vier pote wil ek verkoop!’
Almaardeur bly Ampie se pragtige rye tande oop. Hy voel opgetoë omdat ou-Jakob so opgeprys word. - Sy pa het gesê dat hy vyf pond huistoe moet bring, en die afslaer het reguit en duidlik gesê dat sy esel eerlik vyf pond werd is. - En nou is dit of Ampie se begrip verduister deur die stroom van ponde en agtermekaar
| |
| |
rympies, wat deur sy kop kekkel soos 'n trop henne se gekekkel in die lêtyd. Hy 't glad geen besef meer van wat aangaan nie en toe die afslaer so kortaf vra: ‘Moet ek verkoop?’ sê hy werktuiglik ‘Ja!’ En die hoogste bod van twee pond, wat Booysen self gemaak het, word toegeslaan.
Die vendusie is verby. Die boere wat nie wou verkoop het nie, dryf hulle beeste terug huistoe, die Jode keer hulle s'n eenkant, en Kasper Booysen vat vir ou-Jakob somarso sonder 'n pennie. ‘Neef Flip sal jy hom aanja kamp toe, asseblief?’ vra Booysen vir sy bywoner.
Staander raps ou-Jakob los van Ampie af. ‘Nou is dit my donkie Ampie,’ sê Booysen. ‘Ja oom Kasper!’ klink dit dof uit die wesenlose seun. Dis vir hom of 'n stuk van sy lewe van hom afgeskeur word, en die smart oorweldig hom so dat alles soos 'n warrel hier deur-mekaar bondel. Dit dryf en raas, en slaan en vloek, maar duidlik stap ou-Jakob van hom af weg voor oom Flip Staander uit, so ewe geduldig en hy swaai sy groot kop so effens op daar by die kraalhek, en toe hy buite is, wil hy vinniger die lang vaal bult vat, waaroor hy die môre met Ampie gekom het, oom Flip gee hom 'n harde raps en dryf hom hot-af. Nou kan hy hulle ook nie meer sien nie ... die kraalhek is leeg.
Die bewuste kom soos 'n trapsoetjies in sy kop gekruip. Die deurmekaar gedwarrel word al minder. Maar Ampie is totaal oorbluf toe die kraal leeg is en hy nog allenig in die hoek staan. Oom Kasper het seker in die haastigheid en gedrang vergeet om vir hom die vyf pond te gee.
Hy het baie lank daar in die hoek gebly, sukkelend om sy posiesie te verstaan. Eindlik roep die afslaer hom en presenteer hom somar botweg:
‘Dê, hier is een pond agtien sielings vir jou donkie!’ terwyl hy die geld in Ampie se verwaarloosde vuil hand laat klink.
| |
| |
‘Omie pa sal my voeter! Ek moet vyf pond huistoe bring!’ bars Ampie uit in bange durf. Die afslaer het hom nie gehoor nie, so skyn dit, want haastig stap hy na sy motor toe, en in drie telle snor die ding padlangs, dat die stofstreep so bly hang ...
Oor 'n lang, vaal bult, stap Ampie allenig huistoe, somar dwars deur die veld. Dit raak hom nie waar hy loop nie, want hy kan uitbars van droefnis; maar sy oë brand of die trane opdam in sy kop. Hy voel deurmekaar van al die gedagtes, en hy gewaar nie eers die klein-haakdorinkies nie, wat vaal strepe krap oor sy skurwe voete.
Van sy kindsdae af was die besit van 'n esel die toppunt van sy begeertes. Twee jaar gelede het hy vir ou Swartjie verdien, maar sy was te vol nukke, en ook gou-gou was hy uit haar uit. Sy pa het haar amper verniet weggegee aan 'n bondeldraerkoelie vir 'n broek en 'n baadjie, wat sy pa nou nog dra. Swartjie sou by die tyd al twee keer gevul het. - Nou het hy niks van haar nie! - Verlede jaar, ook in Juliemaand, het hy vir ou-Jakob gekry, as sy loon na 'n jaar se werk op 'n plaas. En daarvandaan was die wêreld syne en ou-Jakob s'n; want ou-Jakob was geskik vir enige onderneming. - Hy kon maar net sy kar vol droë miskoeke laai, smid toe ry - en hy het sy sieling. 'n Esel win 'n perd darem ver! - Vernaam ou-Jakob! - Hiervandaan sal hy streepsakke vol droë miskoeke self moet aandra smid toe. Nou sal hy moet stap na die wippe, wat hy orals in die veld gestel het vir hase. - Ou-Jakob weet waar die laaste een is. En Vlakplaas toe sal hy van hierdie heden af moet voetslaan. Ou-Jakob het geweet dat Annekie daar bly; want al sy geheime het hy so ry-ry vir hom vertel ... Vanmôre was ou-Jakob nog oor hierdie selfde bult met hom saam. Nou het sy maat daar- | |
| |
onder agtergebly ... Hy begin seker ook al te verlang ...
Dis die hoogste punt van die bult, waar hy langs 'n doringboom staan, wat net so eensaam as Ampie is. Hy kyk met groot verlangste terug na die leegte, waarin Kasper Booysen se plaas lê, en die begeerte laat hom lewe, dat ou-Jakob dalk sal wegloop na hom toe ... So seker as die son skyn sal hy kom, as hy net 'n kans kry! Ou-Jakob sal wegspring daarvandaan, oor hierdie selfde bult na hom toe! ...
Die bult bly eensaam tot onderuit. Oom Kasper het seker vir ou-Jakob deëlik vasgesluit in die kamp ... Ag! hy sal hom nooit weer sien nie, sy ou maat ... Dis of sy hart stukkend breek en hy voel of sy klein boetie gesterwe het ... En dis alles net sy pa se skuld; want sy pa wil net die geld hê om 'n vark te koop ... 'n Gevoel van bitterheid groei in sy binnenste. En in die vlaag van bitterheid draai hy hom en kyk nou af, na sy tuiste onder die lang, vaal bult en daar trek regop rimpels oor sy voorkop tussen sy oë, wat wild rondskuiwe in hul kasse, of hulle iets soek om seer te maak, en hy bars uit in 'n vloed van verwensinge en klagte:
‘Nie 'n tree verder nie! Pa wil my uitroei, want pa is te sleg om te werk! Ek moet almelewe uitspring en pa vat somar vir ou-Jakob en sê ek moet hom vendusie toe bring, want pa het die geld nodig om die vark te koop ... Pa wil mal word oor 'n vark! ... Wat is 'n vark? ... 'n Mens vreet hom op en dis uit en gedaan; maar 'n esel hou solank as hy lewe. 'n Esel is die geskikste en taaiste dier wat die Here gemaak het, en so verstandig ... Kyk vir ou-Jakob!’
'n Dromerige glans het die kwaaie gloed van sy oë verdring, en hy peins vol weedom oor die vervloë tyd met sy ou-maat saam. In die donkerste nag sou ou-Jakob vir hom huistoe bring, dwars deur die veld, waar
| |
| |
glad g'n pad eers is nie ... en as hy 'n pad eenmaal geloop het, kan jy die twede slag maar die leisel los - hy sal g'n uitdraaipad vat nie! ...
‘Ek kon al 'n trop esels gehad het! Vandag het ek nie eers 'n vulletjie nie!’
Uiters moedeloos en vol bitterheid, tog so onmagtig voelend, gooi hy hom op sy maag neer onder die soet-doringboom, sy kop in die koelte en sy arms gekruis onder sy voorkop. - En nou snik Ampie dat sy lyf so skud - tot die slaap sy droefnis wegneem. - So bly hy daar ure lank lê.
Gewend aan ontbering in elke vorm, onverskillig vir hitte of kou, ru grootgebring in die onmaatskappelikste bandeloosheid, is die rus vir daardie Afrikanerkind 'n verlossing uit die groot hartseer van sy klein lewe. - Sy oupa was ook een van hulle, wat die pad hier oopgemaak het vir die beskawing. Maar die beskawing, wat wissel na die luim van volksbegrippe, het Ampie se vader soos duisende van sy lotgenote, oorweldig en gebreek. Vreemde toestande het hom en sy huisgesin afgestoot langs die hange wat opklim uit die moerasse van ons arme-blankedom. Die opbou van die huisgesin, deur 'n minderwaardige man en 'n simpele vrou, het die afgly soontoe verhaas. En gebore in die gestadige verslegting van sy ouers, het hy die vryheid van 'n dierlike lewe liefgekry, en die dwang van beskawing gehaat, wat hom op die skoolbanke geforseer het. Jarelang het Ampie daar die grootste kwelling van sy lewe deurstaan. Onvatbaar en onmagtig om te begryp, wat die klein kindertjies so maklik kon verstaan het, tot dat sy leeftyd die vryheid weer vir hom teruggebring het. Nou is hy die produk van wat sy liggaam en sy sinne wil. Bang vir wat sterker, en wreed teen wat swakker is as hy; en lief vir sy maat, sku vir alles wat vreemd is, gulsig as hy eet of drink, en tevrede met die hardste bed as hy wil slaap.
| |
| |
Stadig kruip die skaduwee van die soetdoringboom oor die slegtoegewerkte ou skeure en rafels van die toiings op sy rug, die winkelhake van sy plunje, wat Ampie self met ru garing toegetrek het om tog ordentlik te lyk as hy na Vlakplaas toe ry, waar Annekie woon; en hy besit maar net hierdie ou baadjie.
Soetjies gly die koelte oor die flenterbroek, wat geen vierkante duim van sy eerste stoffasie meer kan wys nie. Alles is net vaal van die stof, wat daarop maande reeds geplak het. En die son skuif skelmpies die skaduwee van die eensame soetdoringboom oor twee swart, skurwe hakskeensenings van daardie Afrikanerkind. - Dit word kil onder die doringboom. Ampie rek hom uit en kom stadig by sy positiewe, soos 'n bees wat opstaan, hom uitrek en bly staan tot die instink begin te werk en koers vat. Sonder gedagte, loom van die lekker uitrus, stut hy hom stadig op tot hy reg sit met sy rug teen die stam, sy bene hoog opgetrek en sy hande om die kniekoppe gevou. Die groot sakkerige keps, tydens die slaap dwars geskuif op sy swart wolhaar kop, vermeerder die slordige onverskilligheid, wat die hele vertoning daar uitdruk. Sy oë staan dom en geesloos, en dis duidlik dat niks hom op die oomblik hinder nie, want onbeweeglik bly hy lank so sit in die lewenlose houding ... 'n Grillige opskudding van sy lyf veroorsaak deur die kilheid in die koelte, bring eindlik 'n kering. Ampie knyp sy oë toe en rek sy arms en bolyf lui en lekker uit, en gaap 'n lang, groot gaap, terwyl hy so gaperig sê:
‘Die son is sowaar amper onder,’ en met vaster stem: ‘Soe, maar ek het nou regtig honger!’ Hy begin rond te kyk, en daar kom ook meer lewe in sy blik. En toe die blik bly rus op 'n ou-steen murasie, daar vèr onder die bult, wat gedeeltelik bedek met 'n ruie dak, so duidlik voor hom staan, spring hy skielik orent, en
| |
| |
die gebeurde rys voor sy gees, net so duidlik. Daar is sy tuiste, en daar wag sy pa nou seker, baie verkeerd en haastig vir die vyf pond, wat hy moet saambring van die vendusie. En wat kan hy vir sy pa lewer? Sy pa sal mos glad mal word van kwaadheid. So'n skelm afslaer! Hy het daardie gladde bek van hom nie verniet nie. So duidlik het die vabond, vyf pond ... vyf pond gesê ... Mistroostig sit hy weer plat op die grond teen die stam... Onrustig vat hy nou 'n smerige tabaksakkie met die geld uit sy binnebaadjiesak, wat hy met 'n hakspeld toegehaak het. Sy swart boskasie van hare buig vooroor, terwyl hy die geld voor hom tussen sy bene in sy keps uitskud. Langsaam, onseker, tel en tel hy daardie muntstukke oor en oor, en hy sug diep omdat die som nie eers twee pond haal nie. Mismoedig haak hy sy baadjie se binnesak weer vas, en in sy oë begin 'n siel te lewe, wat beangs word. Hy spring orent; maar kan nie besluit om koers te vat nie. Dit groei, die bangheid in sy donkerbruin oë, wat nou wild rondkyk of hulle 'n skuiling soek vir Ampie. Die bult af vorentoe durf hy nie; dis of 'n monster daar opklim om vir hom te verniel. - Sy pa sal hom nou mishandel - sy pa is mos nes 'n mal bees as hy kwaad word; hy sal hom verwurg ... en dit oor sy eie goed! ... sy eie goed! ...
Maar sy angs maak hom ook slu, en vinnig skiet daar nou skelm planne deur sy kop. Hy sal mos nie naby sy pa kom nie en sorg om langs die deur te bly. Hy sal reguit sê, dat die afslaer hom verneuk het - en as sy pa hom dan wil gryp ... hy sal mos uitspring of die duiwel agter hom is, en dan lyk sy pa 'n mooi een om vir hom te vang, en sy asem is ook baie langer as sy pa s'n. En dan pyl hy somar reguit Vlakplaas toe, en daar sal hy vir Annekie van sy swaar vertel ... van die ongeregtigheid en verneukslag met ou-Jakob. Dan sal hulle opsit tot oor middernag en lekker gesels en
| |
| |
saam planne maak. En dit verhelder soos 'n blits sy sinne. Nee-wat, hy sal glad nie huis toe gaan nie, nooit weer nie! Wat traak dit hom met sy pa? Was ou-Jakob dan nie regtig syne nie? En die geld is mos sy geld ... hy kan tog met sy geld maak wat hy wil!
Sy angs het heeltemal verdwyn. In sy harsings swel die heerlikheid van 'n toekoms met baie geld, volop lekker kos en Annekie ... In die dorp by die slagpale kan hy somar maklik geld verdien, en baie vlees eet verniet boonop ... Een dag sal hy dan vir Annekie kom haal, wanneer hy sy eie span esels agtermekaar het, en die een met die anderdag sy ses sielings kan uitslaan, met karweiwerk en ander joppies by die slagpale. En hulle twee kan heeldag braaivlees eet sonder om 'n pennie te betaal.
Die geluk blink hom toe in die strale van die son, wat wil wegduik agter Vlakplaas. Dit juig in sy hart, wat groot word in die wêreld so klein om hom nou, en groot van geluk dwaal sy bruin oë in daardie rigting, waar Annekie woon - kinderoë; wat nuwe speelgoed geware.
Daar skiet deur sy bloed 'n nuwe lewenskrag, wat hom opja. Hy gee so'n skree van uitbundige geluk, en sny somar dwars deur die veld in vinnige draf - springend oor miershope van pure vermaldheid, reguit na die son, wat wegduik agter Vlakplaas se rante.
|
|