29. ‘My hartjie, my liefie!’
Die inhoud van hierdie minneliedjie is tiepies vir 'n Afrikaanse vryery.
Van die minnaar, wat te perd gaan vry, sê Schonken: ‘Wanneer hij des Zaterdagsavonds te paard dikwels een bepaald huis bezoekt en hij daar zijn “rolplek” maakt, dan gaat de boze faam weldra van mond tot mond en aan de plagerijen komt geen einde.’ (O.K.-H.V. bl. 121). Miskien behoort die woorde in ons liedjie ‘en die perd van tien pond doodgery’ tot een van die plagerye aan die adres van die jonkman, wat na die nonnie wil gaan vry, en wat moontlik op 'n vorige keer reeds 'n ryperd doodgery het om teen sononder by die noointjie te kom.... die ‘nonnie’, wat daar vèr by die ‘blouberg’ woon, waaragter die son ondergaan.