15. ‘Mama, 'k wil 'n man hê!’
Hierdie welbekende en populêre Afrikaanse minneliedjie is die teenhanger van die net so bekende en gevierde liedjie van die Afrikaanse pop, (vgl. No. 14 onder hierdie rubriek: Die Afrikaanse Pop’). Dit is hier dan ook van die vierde versreëltjie af duidelik dat by die Afrikaanse pop die ‘Franse man’, die ‘Hollander’ en die ‘Duitserman’ net so min kans het teenoor die ‘Boereman’ as by laasgenoemde die ‘Fräulein’, die ‘lassie’ en die ‘miss’ in die voorgaande liedjie.
Terwyl die liedjie van ‘Die Afrikaanse Pop’ die vorm het van 'n sangmonoloog, het ‘Mama, 'k wil 'n man hê!’ die van 'n sangdialoog tussen die ‘mama’ en die dogter, 'n Afrikaanse pop.
Nes die voorgaande liedjie dra hierdie een die spore van die werk van een of ander digter te wees..... dit is te selfbewus en subjektief om 'n suiwer produk van volkskuns te wees, maar dit is beide deur inhoud en gees, deur die onbekendheid van