Dit het dus 'n bepaalde doel en strekking, en is dikwels tot opgeblasenheid toe geswel van nasionale trots, selfverheffing en selfoorskatting, waaraan die volk in die reël self geen direkte skuld het nie, want dit was nie self die maker van sij eie Nasionale Hymne nie, maar wel 'n individuele digter, wat in 'n oomblik van hooggestemde besieling 'n volkslied gesmeed het op die aambeeld van 'n vurige gevoel van vaderlandsliefde. Maar juis daarom is 'n volk se Nasionale Hymne, na inhoud en toon beoordeel, gewoonlik allesbehalwe die suiwerste soort volkslied, wanneer aan die woord ‘volkslied’ 'n breëre betekenis toegeken word.
So'n breëre betekenis het die benaming ‘volkslied’, wanneer daarmee bedoel word sekere liedere, wat deur volksdigters gemaak is, en wat die volksideale en die volksgevoel so eenvoudig en verstaanbaar, so raak en populair, vertolk, dat die liedere leef in die volksmond en net so welbekend raak as die Nasionale Hymne self. 'n Digter wat sulke volksliedere maak, wat so'n vonk van volksgevoel opvang, moet self lewe met sij vinger op die polsaar van sij volk! Dit is die geaardheid van 'n groot deel van die Geuseliedjies uit die sestiende eeuw, soos Arent Dirckz. Vos se alombekende Geuseliedjie: -
‘Slaet opten trommele van dirredomdeyne,
Vive le Geus is nu de leus!
Slaet opten trommele van dirredomdoes,
Vive le Geus is nu de loes!’
So leef in die engelse volksmond, as 'n sprank van die engelse volksgees van maritinisme, Thomsons ‘Rule, Britannia!’ So'n soort volkslied is ook Jannie se afrikaanse liedjie:
‘Die wêreld, die is baje groot;
Dit weet die aap se stert.’