Gedicht
Grillig
Die perlemoer skildjies wat die gevoelige vlees
van vingertoppe moet vrywaar teen letselvrees
maak aanspraak op iets wat na onsterflikheid geur:
hulle groei, as die res van jou stop, nog 'n paar dae deur.
Wanneer ek die nodige snoeiwerk voltooi het dan tel
ek die skerp mika sekelmaantjies en laat hulle snel
in die onaansienlike vullisemmer verdwyn
vóór iemand of iets die kans kry om my pyn
of leed toe te dien. Wat deel van die liggaam was
kom, in verkeerde hande, by uitstek te pas
as fatale toorgoed, het ek vroegtydig verneem
van my geliefde swart oppasser. Sonder 'n sweem
van skepsis kon ek haar duistere kennis aanvaar,
wat help om my grillige lewenslot te verklaar.
Uit de bundel Rymdwang, die in september bij uitgeverij Querido verschijnt, regel 11: toorgoed = tovergoed