West-Vlaanderen. Jaargang 5
(1956)– [tijdschrift] Vlaanderen. Kunsttijdschrift– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 77]
| |
Die Afrikaanse heimatprosaWanneer die letterkundige lewe nà die Tweede Vryheidsoorlog (Anglo-Boere-Oorlog 1899-1902) hervat word met die begin van die sogenoemde Tweede Afrikaanse Beweging, is dit aanvanklik die volksleed om verlore vryheid, gelede onreg en deurstane smart wat in die Afrikaanse poësie en prosa oorheers. Eers in die tweede dekade nà die oorlog sou die heimatletterkunde begin waar die kunstenaar hom bewus wend tot die volkslewe en die volksaard en waar sy kuns 'n openbaring word van die volk in wisselwerking met die natuur. Aanvanklik tree hierdie nuwe bestanddele skugter te voorskyn in enkele kortverhale en sketse van Léon Marè, veral die twee verhale Nuwejaarsfees op Palmietfontein en Die PutgrawerGa naar eind1, maar die onmiskenbaarste is dit te sien in die novelle Bywoners van Jochem van Bruggen (1918)Ga naar eind2. In menige opsig het ons in hierdie novelle die werklike aanvangspunt van die Afrikaanse prosakuns. Hierin word die lewe geskets van 'n groep bywoners, d.w.s. mense wat geen grond meer besit nie en wat 'n samelewing sonder nywerhede verplig was om as deelsaaiers of as arbeiders in diens te tree van ander grondbesitters. Hier staan ons meteens vol in die lewe van die volk, waar 'n verskynsel vir ons uitgebeeld word wat ongemerk aan die groei was in die samelewing en wat vanaf de eerste wêreldoorlog 'n krisisomvang bereik het. Ons het hier te doen met die sogenoemde armblankes en teen 1920 sou die groep sowat twee-vyfdes van die hele Afrikaans-sprekende bevolking omsluit. Reeds in Bywoners staan Neelsie Sitman, die meeldiaken, lewensgroot geteken as verpersoonliking van 'n groep mense wat arm is aan gees en wat om die rede nooit selfstandige persone kan word in 'n samelewing waar die swaar handearbeid tradisioneel verrig is deur 'n anderstalige, primitiewer ras met 'n verskillende kultuur. Eintlik is dit die verskynsel van ontworteling in 'n samelewing waar die besit van grond en die geestelike vermoë van selfstandig boer te wees die stempel van waardigheid en volwaardigheid op die enkeling afdruk. Die persoon of groep wat die eienskappe mis, moes reddeloos ondergaan. Van Bruggen word by uitstek die uitbeelder van die mindere mens in die Afrikaanse samelewing, uitbeelder van die verstoteling en uitgesakte wat nie oor genoeg wilskrag en geestesvermoë beskik om hom omhoog te beur uit die toestand van stoflike en geestelike verval waarin hy verkeer nie. In sy lang reeks romans laat Van Bruggen egter die nadruk eerder val op die karakters se geestelike armoede en nie op huile stoflike verval nie. Jochem van Bruggen se naam bly egter veral gekoppel aan die Ampie-trilogie (Die
C.M. van den Heever
Barbican Studio, Johannesburg Natuurkind, 1924; Die Meisiekind, 1928; Die Kind, 1942), waarin die verhaal vertel word van die ontwikkelingsgang van 'n seun uit een van die mees vervalle armblanke gesinne. Sy liefde vir sy ou esel, Jakob, en vir sy nooi, Annekie, en veral die liefdevolle beskerming van die plaasboer Booysen wat probeer red omdat hy begryp, loop eindelik daarop uit dat hierdie verwaarloosde seun 'n eie staanplek in die lewe vind as boer onder toesig van Booysen. Dit is dan ook die boodskap van die hele trilogie: die armblankevraagstuk kan deur die volk slegs opgelos word in begrypende liefde en met die nodige leiding. Die eerste deel van die trilogie het so aangegryp en die oë van ons kunstenaars is vir die eerste keer so oopgemaak vir die Afrikaanse werklikheid wat huile omring, dat dit uitloop op die eerste werklike opbloei in die Afrikaanse prosakuns, met die armblankevraagstuk as kernstof. 'n Hele aantal skrywers wend die stof aan, waarvan ons slegs die volgende noem: C.M. van den Heever - Droogte (1929), Abr. H. Jonker - Die Plaasverdeling (1932), J. van Melle - Dawid Booysen (1933), Dawid Coetsee - Armoede en Hartkwaal (1933), Holmer Johanssen - Die Onterfdes (1944). Die soort stof het so sterk oorheers in ons letterkunde dat ons romankuns deur onvriendelikes bestempel is as armblankies. Onder bogenoemde skrywers moet ons die werk van C.M. van den Heever en Holmer Johanssen nader beskou. Van den Heever, wat thans ons veelsydigste, vrugbaarste en mees vooraanstaande romanskrywer is, trek van die begin af die aandag in die opsig dat hy die skrille teenstelling tussen die werklikheid en die ideale benadruk en dat hy stof uit die lewe van die alledaagse mens aanwend om gestalte te gee aan sy soektog na die skone. Vanaf sy eersteling, 'n novelle Op Die Plaas (1927), groei die beeld van die Afrikaanse mens teen die agtergrond van die Afrikaanse natuur en landelijke omstandighede aan. In Droogte (1929) word 'n duidelike verband gelê tussen die uiterlike droogte op 'n Karoo-plaas en die innerlike geestesdroogte van die armblanke waarop dit uitloop. Maar die wisselwerking tussen mens en omgewing neem die duidelikste vorm aan in Somer (1935), waar ons hierdie beeld kry van die ploeterende mens: ‘Deur hul liggame, hul siele werk die natuur, werk dit in | |
[pagina 78]
| |
jaargetye, voel hulle die sagte ontwaking as die lente kom, die rypwording van die leuwe op die lande, die huiwering van die najaar deur die lug, en die skerpe koms van die winter wat alles verstol en die lewe laat slaap in rustige onwetendheid. So gaan hulle voort, telkens gehul in die steeds geheimsinnige wysigende atmosfeer van jaargety na jaargety en in hulle oë dra hulle die weemoed van lewe wat kom en sterf, want hulle weet dat dit ook met hulle so gaan en dat ook hulle netnou na die donker aarde toe sal buig, en hul kinders weer sal saai en oes - en oor dit alles gaan die dae, die ligdraende dae in ewige reeks, voort in die oneindige van die tyd... en oor die doel van dit alles beskik God, tot wie hulle gereeld bid, die een geslag na die ander, om te bewaar en te seën... want ken hulle nie die grillige noodlotsnag van die aarde onder hulle nie?’ So behandel Van den Heever telkens die een of ander aspek van die volkslewe: plaasverlating, verstedeliking, verval van godsdienstige lewe, die nodelose smarte wat ons mekaar aandoen, die tydelike aard van ons onregte en smarte, die verganklikheid en nietigheid van die mens teenoor die ewigheid en die ewige aardes. Uit sy lang reeks romans moet ons hier noem: Laat Vrugte (1939), Anderkant die Berge (1944), Die Held (1948). By Van den Heever komt uiteindelik die lewenshouding tot openbaring dat die goeie en die skone die hoogste geluk bring, en vir hom is die goeie en die skone die natuurlike verloop van sake, soos met die jaargetye. Dit is die hoogste sedelikheid, want in wetmatige heid, in die vastgestelde daarin skuil God, en dit is ook in elke mens. Die skepsel kan hom slegs vergryp aan die natuurlike gang, d.i. die hoogste sedelikheid, deur alle persoonlike geluk in te boet; veilig, geborge, een met die ganse heelal kan mens net wees deur jou te onderwerp aan die wetmatige gang van die skepping, en daarin alleen lê geluk. Die een roman na die ander van hierdie veelsydige kunstenaar beskryf hoe groepe van sy volk hulle telkens aan die hoogste sedelikheid vergryp, juis omdat hulle mense is, daarvoor boet, en dan tot berusting kom. Jochem van Bruggen se geesgenote in Nederland vind mens terug by die skrywers van Boefje en Merijntje Gijzen; Van den Heever se geesgenote is Gezelle, Streuvels, Van de Woestijne en Timmermans. Intussen kom daar 'n hele omwenteling in die uiterlike omstandighede in Suid-Afrika. Nywerheidsontwikkeling vind plaas, wat uitloop op verstedeliking en 'n ganse massa mense wat op die plase hulle bestaan verloor het, verskuif na die nywerheidstede om in vervalle buurte, armsalige wonings en bedompige lug 'n nuwe staanplek te probeer vind en 'n nuwe lewenswyse aan te durf, met die lewenswaardes van vroeër nog as tydelike ankers. Dis die lewe van hierdie hele groep mense wat in 1944 uitgebeeld word deur Holmer Johanssen in Die Onterfdes. Intussen is ook ander aspekte van ons volkslewe kunsvol aangewend in die Afrikaanse prosa. Die arbeider in die Boland is die sogenoemde Kaapse Kleurling, nasate van slawe, verloopte soldate en matrose en Kaapse inboorlinge. Wanneer daar in 1926 van D.F. Malherbe 'n roman Die Meulenaar verskyn, tref dit dadelik dat ons hier te doen het met 'n herinneringsbeeld uit dei skrywer se jeugdlewe. Hy bied aan ons 'n beeld van die lewe op 'n Bolandse wynplaas naby 'n dorpie, waarin ons vir die eerste keer kennis maak met die Kleurling as mens. In hierdie rigting gaan Malherbe voort met sy roman Hans-Die-Skipper (1928), waarin nou wel die hoofsaaklik die kleurling uitgebeeld word nie, maar tog die lewe van 'n groep vissers in 'n Bolandse kusdorpie. Daarna ontwikkel Malherbe in die rigting van die neoromantiek en hy verlaat die gebied van die heimatkuns om eintlik meer die wéreld van die fiktiewe of romantiese verbeelding te betree - al geskied dit dan ook met sy volk sie geschiedenis as agtergrond. Die geniaalste uitbeelder van Kleurlinge as groep en as enkelinge in die Afrikaanse samelewing is egter Mikro (C.H. Kühn). Mikro se naamword blywend gekoppel aan die van sy vernaamste skepping: ToiingsGa naar eind3 (1934). Die verhaal word in drie bundels vertel: Toiings (1934), Pelgrims (1935), en Vreemdeling (1944). Ons leer Toiings ken als 'n wese met 'n tweeslagtige aard: enersyds 'n drang na die ewewigtige lewe van die godsdienstige enkeling, andersyds die drang van die primitiewe mens na die groepslewe en die teuellose bevrediging van die sinne en drifte. Deur die hele trilogie dobber Toiings hulpeloos tussen die primitiewe en die beskaafde - die twee geestesbestanddele wat hy erf van sy twee soort voorouers. Gaandeweg sien ons die primitiewe drange tot rus kom, om eindelik heeltemal bedwing te word deur die godsdienstige en 'n verlange na die dood. Die trilogie is egter nie bloot 'n beeld van die Kleurling nie, maar deur die menslikheid van die skrywer word dit 'n strakgespanne beeld van die mens wat sy lewe lank 'n vreemdeling op aarde bly, en sodoende word hierdie kunswerk bevry van sy toevalligheid en dit styg uit tot die universele. Nog een keer sou Mikro 'n aangrypende beeld van die Kleurlinglewe gee in Huisies Teen die Heuwel (1942), maar sy rypste kuns vind ons waarskynlik in Klaradyn-straat (1946), waarin hy vertel oor die bestaan van 'n groep mense wat stoflik agteruitgegaan het en wat nou in krotjies in 'n vergete agterbuurt na geluk strewe. Die een mens soek dit in stoflike besit, die ander in oordrewe sektariese godsdiens, 'n derde in sinlike botviering, 'n vierde in drank, 'n vyfde in deugsaamheid en harde werk. So word Klaradynstraat 'n beeld wat bo-oor die volle lewe troon en die ganse mensdom omspan. So stuwe die lewe in Klaradynstraat uit buitekant die sypaadjies van die benouende straat en dit word sinnebeeld van die lewe daarbuite, en Mikro voer ons weg van die agterbuurt, terug na ons eie diepste wese, want slegs binne in jou gees sal jy ooit geluk ontdek. Hierdie wysheid word eers aan jou openbaar as jy die smart van die lewe ervaar het. | |
[pagina 79]
| |
En sodoende sluit Mikro ten slotte ook aan by die uitbeelders van die armblankevraagstuk, maar nou op dieselfde vlak as die latere skrywers in hierdie rigting, o.a. Holmer Johanssen, nl. op die vlak waar agter die uiterlike van elke sukkelaar vir ons 'n mens van ons eie vlees en bloed openbaar word. Dit beteken eintlik dat die heimatkuns uitloop op 'n reeks romans waarin die tydelike of toevallige vir ons openbaar word as die beliggaming van die ewige waarhede. Die ewige word openbaar in die gedaante van die eie-volkse. Die volkslewe word 'n openbaring van die ewige dinge. Die nasionale mond uit in die bo- en internasionale of ewig menslike. Daarom dat hierdie soort romans van alle volke en van alle tye is. Dit is ook vir my die enigste grondslag waarop ons 'n sogenoemde internasionale letterkunde kan kry - die weg na die internasionale loop deur die nasionale, nooit andersom nie. By hierdie stroming sluit aan die volgende werke. G.H. Franz - Moloisie die wyse (1942), en Moeder Poulin (1946) (Bantoelewe en verhouding tot die blankes); Kootjie en Giel van den Heever - Meule van die dae (1940), en Kootjie van den Heever - Wat baat dit die mens (1946); Abel Coetzee - Waar die Waterbul brom (1946), en Die dans van die dwarrelwinde (1950). Daarmee is die einde van die verhaal nog nie bereik nie. Intussen het ons in die Afrikaanse letterkunde verwikkelinge gehad van verval, wat saamhang met die verskyning van die hiper-individualisme en van die dieptesielkunde in die Afrikaanse letterkunde, wat weer op sy beurt saamhang met die verskyning van die verstedelikte mens in Suid-Afrika.Ga naar eind4 Daar verskyn 'n geslag mense wat die rus en die rustigheid van die plaaslewe nie geken het nie, en die geroesemoes van die grootstadsbestaan is vir hulle 'n natuurlike agtergrond. Hierdie slag mens word onder dwang van die magtige Engelse kultuur in die nywerheidstad genoodsaak om die ou Afrikaanse kultuur met al sy waardes, sy skoonheid wat vasgelê is in die klank van die woord, te gaan afweeg teen die Engelse en die sogenoemde internasionale. By die vergelyking het die Afrikaanse kultuur min ontsag meer ingeboesem, en by die jongeres (d.w.s. van nà sowat 1940) het ons 'n minagting gekry wat gebore is uit die onbegrip. En daaruit is gebore 'n gevoel van verydeling wat enersyds uitloop op 'n futlose verlange na heroïese dinge, en andersyds
Abel Coetzee
op 'n opskeppery met vreemde ideologieë. Uit hierdie gees is gebore 'n lewenshouding wat die beste getipeer word deur die titel van die betreffende roman van wyle Willem van der Berg: Reisigers na nêrens (1946)Ga naar eind5. Op die stofband van die roman staan die volgende merkwaardige beeld van die geslag mens wat in die boek uitgebeeld word: ‘...'n verhaal van 'n groep Afrikaners in 'n moderne stad, tipiese verteenwoordigers van 'n geslag wat die tradisie verwerp het, vir wie die ou orde vir eens en vir altyd afgehandeld is enwat nou op soek is na nuwe waardes en nuwe dinge om aan te glo - sonder om huile te vind. Hulle is mense wat losgeraak het van die instellings en opvattings van die verlede, wat eerlik op soek is na rigtinggewende gedagtes tussen die talle ideologieë en lewensbeskouings van hulle tyd, en uiteindelik hulle toevlug neem tot skeptisisme - hulle lewens sonder inhoud of betekenis met uitsondering van die geluk of ongeluk van die oomblik - elkeen 'n medereisiger op 'n pad wat nêrens heen lei nie...’ Hierdie gees in die Afrikaanse volkslewe en in die Afrikaanse letterkunde loop uit op hewige botsings wat bykans twee dekades in beslag neem - 'n tydperk waarvan ons pas die afloop begin sien. En die gees van Reisigers na nêrens is die volslae antitese van die heimatkuns! Die laatste skrywer van die jonger geslag wat in hierdie verband ons aandag verg, is H. van Blerk. Van hom verskyn vier romans van betekenis: Dit blom tussen die bantoms (1949), Los donkies (1950), Daarom is die winddreun diep (1951), en Reën van erbarming (1952). Van Blerk, wat self 'n yslike lydensweg deur die lewe moes aflê, verwyl by voorkeur by die moeggeswoegdes en die verstotelinge in die samelewing. Van sy kuns sê B. Kok: (Dit is) ‘'n ware verkwikking om met die egte, spontane en ongeremde persoon in aanraking te kom, die ongekunstelde natuurmens wat nog niet geleer het om sy drange en drifte agter 'n masker van kwasi-gewigtige grootdoenery te verberg nie. Vir daardie persoon vir wie dit 'n sielsbehoefte is om wild weg te breek van die valsheid en skyn wat meer en meer opval in die verhoudinge van die sogenaamde beskaafde mense, werk dit soos 'n geestelike bevryding om 'n keer in aanraking te kom met die opregte eenvoudiges, om te luister na hulle naïewe gesprekke, om hulle die vermoë tot gemaklike selfopenbaring te beny.’Ga naar eind6 Nog onlangs weer is van Engelssprekende kant met groot gebaar betoog dat die Afrikaanse prosakuns sorgvuldig die vraagstukke van ons tyd vermy. So 'n opvatting openbaar slegs één ding: die gebrekkige kennis van die persoon van wie die beskuldiging uitgaan, want wie die bestanddele en aard van die Afrikaanse kultuur ken, sal telkens weer ontdek dat die spannings en vraagstukke wat daardie kultuur oplewer lewenswaar weerspieël word in die Afrikaanse romankuns.
prof. dr abel coetzee, Johannesburg. |