| |
| |
| |
Die toneel in Suid-Afrika
AFRIKANERS is lief vir die toneel, maar omdat ons in 'n dunbevolkte land woon - oor 'n uitgestrekte gebied van 472, 494 vierkante myle - met die stede as kultuursentra, is daar vir die plattelandse bevolking weinig geleentheid om goeie opvoerings by te woon. Die volk kan die toneel moeilik bereik, derhalve moet die toneel na die volk geneem word. So het dit gekom dat reisende geselskappe in die afgelope dertig jaar die land kruis en dwars deurreis het om die toneel aan ons mense te bring. Elke geselskap het gedoen wat hy kon, gereis so ver as wat sy voertuig gehou het, volhard of uitgesak na mate sy opvoerings 'n sukses of 'n mislukking was en oplaas uitgeput tuisgekom om 'n rukkie later weer moedig in die stofpaaie te val.
| |
N.T.O. Die moederliggaam
Die werk van die baanbrekersgeselskappe sal altyd in ere gehou word. Ten spyte van hul ywer en deursettingsvermoë kon hulle van die lang, vermoeiende reise geen finansiële sukses maak nie. Hulle het bewys dat die toneel deur die staat gesubsidieër moet word om gereelde in plaas van sporadiese
Vier van die spelers in So praat die ou Rivier. Van links na regs Deon Vosloo (Egbert en Adam), Gerrit Wessels (Karel), Morné Coetzer (Koopman Wolfram) en Johann Nell (meester Anton, die hoofkarakter).
besoeke aan die platteland moontlik te maak en om 'n bloeiende toneel in Suid-Afrika op te bou. Na baie pleidooie en met saamgesnoerde kragte het die Nasionale Toneelorganisasie in 1947 tot stand gekom. De beroepstoneel het deur middel van 'n staatstoelaag eindelik sy finale beslag gekryg. Vandag is die N.T.O. met mnr. P.P. Breytenbach as direkteur die moederliggaam van alle toneelaktiwiteite in die land.
| |
Prestasies na sewe jaar
In die sewe jaar wat verby is, het die N.T.O. agt-en-twintig toneelstukke opgevoer, 1520 plekke besoek, 3.052 opvoerings gehou, 181, 808 myl gereis en voor een miljoen volwassenes en kinders opgetree. Maar die organisasie se werk is nie net tot opvoerings beperk nie. Die N.T.O. adviseer munisipaliteite, kerke, skole en toneelverenigings oor opvoerings, kostuums en toneeldecor. Wenke vir die verbetering van sale en die aanbou van klein teaters word gedurig aan die hand gedoen, hulp met die keuse van toneelstukke, vertalings en opvoerregte verstrek en moderne beligtingsapparaat voorsien. Die N.T.O. het ontwikkel in 'n gratis inligtingsburo oor alle toneelaangeleenthede. By geleentheid van groot volksfeeste neem die N.T.O. deel aan die verrigtinge. So is daar by die inwyding van die Voortrekkersmonument in 1949 gesorg vir die luisterlyke geskiedkundige voorstellings. Deur bemiddeling van die N.T.O. het die Departement van Wetenskap, Onderwys en Kuns in 1951 'n dramawedstryd uitgeskryf met die doel om geskikte dramas te vind wat tydens die van Riebeeckfees opgevoer kon word. Vier prysdramas is deur die N.T.O. ingestudeer en drie daarvan op landsreise geneem. Verlede jaar toe die volk hom weer om die Voortrekkersmoment geskaar het om Dingaansfees te vier, is Langs die Steiltes van dr. Gerhard Beukes een aand in die opelug voor 'n gehoor van duisende Afrikaners op die terrein van die amfiteater onder leiding van die N.T.O. opgevoer. Dis 'n stuk wat die geleentheid bied om deur middel van tablo's roerende hoogtepunte in die geskiedenis voor te stel.
Die beleid van die organisasie is om elke jaar minstens een oorspronklike Afrikaanse drama op te voer. 'n Aantreklike outeursfooi word betaal om ons eie dramaturge aan te spoor. Met al sy beskikbare kragte en middele strewe die N.T.O. daarna om opvoerings van 'n hoë gehalt te lewer en die toneelsmaak van die volk te verfyn.
| |
Oorspronklike stukke gewild
Wanneer 'n N.T.O.-geselskap optree. verwag en glo die publiek dat 'n goeie opvoering aangebied word en gee sy
| |
| |
gulle ondersteuning. Klassieke dramas, moderne stukke, vertalings van die beste in die wêreldletterkunde en oorspronklike Afrikaanse stukke is reeds opgevoer. Die repertorium sluit o.a. in Shakespeare (Macbeth en Twelfth Night), Molière (L'Avare en Le Malade Imaginaire, in Afrikaans vertaal), George Bernard Shaw (Candida en You Never Can Tell), T.S. Eliot (The Cocktail Party), Christopher Fry (The Firstborn) en Jean Anouilh (Antigone). Oorspronklike Afrikaanse dramas soos die van W.A. de Klerk, Gerhard Beukes en Uys Krige wat reeds opgevoer is, word ten seerste geniet. Op die oomblik is 'n geselskap op reis met 'n nuwe drama van Eitemal, So praat die ou Rivier. Die reis het in Julie begin en sal tot middel Desember voortgesit word. Nog 'n geselskap met Ek onthou vir Mamma (John van Druten) wat o.a. ook Suidwes-Afrika besoek het, trek reeds van Januari af aand na aand stampvolle sale. Saam met die twee Afrikaanse geselskappe is ook nog 'n Engelse groep op reis met She Stoops to Conquer (O. Goldsmith).
| |
Besoek van Vlaamse geselskappe
In 1950 het die N.T.O. besoek ontvang van 'n geselskap Vlaamse spelers van die Nationaal Toneel in België. Twee jaar later het daar weer 'n geselskap gekom en verlede jaar het die N.T.O. vir die derde keer 'n geselskap op die vlieghawe buitekant Johannesburg gaan ontmoet. Die reise van hierdie geselskappe deur die land is deur die N.T.O. georganiseer en die opvoerings het onder beskerming van die N.T.O. plaasgevind. Baie toneelliefhebbers wat die voorreg geniet het om hierdie kunstenaars van die Koninklijke Nederlandse Schouwburg te sien optree, koester aangename herinneringe van die heerlike toneelspel wat gelewer is in stukke soos Leontientje (Felix Timmermans), Antigone, Medea en Cecile (Jean Anouilh), De gecroonde Leersse (Michiel de Swaen), Leent je uit het Hemelrijk (Gaston Martens), Candida (B. Shaw), Glazen Speelgoed (Tennessee Williams) e.a. Die N.T.O. het met graagte hierdie geselskappe wat die Belgiese Kongo uit die Vaderland besoek het ook in die stamverwante Suid-Afrika ontvang. Sulke reise dien tot wedersydse bevrugting en verryking van die toneelkuns en is 'n kragtige middel tot versterking van die stam- taal- en kultuurbande tussen Suid-Afrika en België en tussen Suid-Afrika en die Belgiese Kongo.
| |
Akteurs en spelleiers
Die akteurs van wie N.T.O.-opvoerings se sukses afhang, is toegewyde, besielde mense. Lang, vermoeiende reise demp nie hul geesdrif nie. Verlede jaar het een van die spelers in Die Ryk Weduwee (Uys Krige) nadat hy ses-en-veertig weke op reis was en daar nog vyf weke voorgelêhet, als volg aan die N.T.O. direkteur geskryf. ‘Ek doen vanaand my dertien-honderd- vyf-en-dertigste huweliksaansoek op die verhoog en kry ook dieselfde neewoord. Kan u 'n mens kwalik neem as hy dan wil tou opgooi? Ek wil nog iemand sien wat soveel teëslae in die lewe kry en tog vars en lewenslustig anderkant uitkom.’ Op hierdie skerts het die volgende woorde gevolg: ‘Nou ja, die einde van hierdie maand sal dit presies een-en vyftig weke wees dat ons met hierdie stuk besig is. Die stuk het egter nuwe lewe gekry. Ons doen deurgaans goed. Miskien speel ons beter - ons is soos die langasem-atlete wat die laaste honderd tree alles uithaal’. Hierdie woorde weerspieël die wonderlike gees van moed en uithouvermoë wat die N.T.O.- akteurs en aktrises besiel. Hulle is kunstenaars met ideale en verdien die hoogste lof vir hul getroue dienste.
| |
'n Ontwikkelingsfonds
Om tred te hou met die geweldige uitbreiding het die N.T.O.- Beheerraad onlangs onder die beskerming van die Goewerneur- generaal, dr. E.G. Jansen, 'n Ontwikkelingsfonds in die lewe geroep. Hierdie fonds moet opgebou word om die staatsubsidie aan te vul. Die stigting van vyf streekgroepe vir die Vrystaat, Transvaal, Westelike Provinsie, Oos-Kaapland en Natal word veral beoog. Vanaf elke streeksentrum sal die omliggende plekke dan meer dikwels met 'n groter verskeidenheid van stukke besoek kan word. Die fonds sal verder gebruik word om groter geleenthede te skep vir die ontwikkeling van spelers
Agter staan drie moeders - Wena Naudé. Elsa Fouché, en Mathilde Hanekom. ... die land is.
se talente, om oorspronklike toneelstukke in Afrikaans, Engels en naturelle-tale aan te moedig, om spesiale vakansie-kursusse te reël, 'n toneelskool op 'n voltydse professionele basis in die lewe te roep en om die N.T.O. se gratis inligtingsdiens in
| |
| |
Mnr. P.P. Breytenbach, direkteur van die Nasionale Toneelorganisasie wat die moederliggaam van alle toneelaktiwiteite in Suid-Afrika is. In 1938 by die stigting van die Federasie van Amateur-toneel- verenigings van Suidelike Afrika (Fatsa) is hy as voorsitter van die Federasie gekies. In 1947 toe die Nasionale Toneelorganisasie onder sy bekwame leiding in die lewe geroep is, is hy ook as voorsitter van die N.T.O.-Beheerraad gekies. Later is hy aangestel as voltydse direkteur en dien tans nog in die hoedanigheid. In toneelkringe is hy 'n beminde en alombekende figuur. Die vooruitgang van die toneel in die afgelope jare is in die eerste plek die vrug van sy toewyding.
belang van die beroepstoneel toneel as die amateurtoneel in die Unie en ons buurstate uit te bou.
| |
Die amateurtoneel
Die amateurtoneel is 'n belangrike faktor in die toneellewe van Suid-Afrika. Daar bestaan sowat honderd-en-vyftig toneelverenigings oor die hele land. Hulle is saamgesnoer in 'n sentrale liggaam gestig in 1938 en genoem die Federasie van Amateurtoneelverenigings van Suidelike Afrika. Suidwes-Afrika sowel as die twee Rhodesiës is in Fatsa verteenwoordig. Jaarliks reël Fatsa 'n Uniale toneelfees. By die eerste fees in 1939 was daar slegs vyf inskrywings. Later het die inskrywings se vermeerder dat streekfeeste georganiseer moes word. Die winnende groepe van verskillende streke hou dan provinsiale feeste en slegs die winners daarvan word na die uniale feeste gestuur. In die afgelope paar jaar het oor die honderd groepe by die toneelfeeste gewedywer. Om praktiese rede kan alleen eenakters ingeskrywe
André Huguenet as Argan in Iepekonders (Le Malade Imaginaire deur Molière). Hy is besig om sy aptekersrekening van die maand na te sien! André Huguenet is een van die leidende kragte op die Toneel in Suid- Afrika. Iepekonders is verlede jaar op 'n landreis deur die hele Unie aangetred.
word. In hul eie omgewing voer die verenigings egter vollengte-dramas op en 'n vereniging wat sy pligte en werksaamhede gedurende die jaar versuim, mag nie aan feeste deelneem nie. Bevoegde beoordelaars word na die toneelfeeste uitgenooi, bespreek al die opvoernigs en gee leiding by wyse van opbouende kritiek.
Tussen Fatsa en die N.T.O. bestaan daar die gesindheid van mekaar help en aanvul. Die N.T.O. is Fatsa behulpsaam met die keuse van stukke, décor, kostuums, beligting, grimering e.a. tegniese werksaamhede. Fatsa staan weer wag dat geen dorp waar 'n amateurvereniging funksioneer deur die N.T.O. op sy landsreise oorgeslaan word nie. N.T.O.-besoeke word hartlik gesteun en bekend gemaak. Dikwels doen geestdriftige en talentvolle spelers aansoek om rolle by N.T.O. en kry dit, want die N.T.O. wat nog 'n jong organisasie sonder sy eie toneelskool is, moet soms put uit amateurkragte. Ook beklemtoon amateurgroepe gedurig die behoefte aan klein teaters en goeie sale. Soms tree hulle aktief op die voorgrond om ou en geskikte sale te laat verbreek en verbou sodat dit met welslae vir toneelopvoerings gebruik kan word.
| |
Die jeug
Dat die jeug in toenemende mate belang stel in die toneel, voorspel vir Suid-Afrika 'n hoopvolle toekoms op die gebied. Dit is grotendeels die vrug van die N.T.O. se werk. Op die mees afgeleë plekke sowel as in die stede word kinders aangemoedig om opvoerings by te woon deur aan skole praatjies te lewer oor die inhoud van stukke, oor spelers, skrywers, regisseurs, décor, die verhoogpersoneel en alle vertakkinge van toneelwerk. Op dié wyse word by die jeug van die land 'n liefde vir die lewende toneel gekweek. Mnr. P.P. Breytenbach, direkteur van die N.T.O., laat hom as volg hieroor uit:
‘Gedurende die afgelope vier jaar het 'n verbasende ontwikkeling plaasgevind. As u tydens een van ons seisoene elke aand saam met my in die voorportaal kon staan, sou u aangenaam verras wees om te sien hoeveel jongemense ons opvoerings bywoon. Hulle is die jeug met wie ons 'n paar jaar gelede in die hoër skole kennis gemaak het. Hierdie prestasie is te danke aan die samewerking van onderwysowerhede, skoolhoofde en onderwysers. Ons ontvang dikwels briewe van waardering vir die geriewe wat ons aan kinders bied om van kleins af kennis en liefde vir die toneel by hulle aan te kweek. Trouens os het nou die stadium bereik waarin ons nie meer genoeg spesiale opvoerings vir kinders kan reël sonder bykomende geselskappe nie’.
Hoewel Suid-Afrika nog n jong land is, is hy die enigste lid van die Statebond wat 'n gevestigde Nasionale Toneel besit. Die N.T.O. het in 'n kort tyd groot vooruitgang gemaak en hoë prestasies gelewer, maar nietemin baie sterk bewus van die feit dat sy taak maar pas begin het.
NELLIE KRUGER
|
|