Die natuur en die mens vir Streuvels
HIER die volk het nie sy verband verloor met sy broers wat Nederlands en Vlaams praat nie, en beide die Nederlandse en die Vlaamse letterkunde is in Suid-Afrika goed bekend en word daar gelees en bestudeer.
So kom dit dan dat Stijn Streuvels vir die Afrikaanse leser 'n bekende is en daar groot bewondering gevoel word vir sy besondere gawes as kunstenaar. Dit is wel waar dat die taalband veel hiermee te doen het, maar ook die aard van sy kunstenaarskap en sy stofbehandeling maak hom 'n skrywer met wie die Afrikaner hom besonder innig verwant voel. Streuvels het gedaan wat alle groot skrywers doen. Hy het hom bepaal by stof wat hy deur ervaring deur-en-deur ken. Instede van romantiese verbeeldingsvlugte te maak na mense en wêrelde wat hy niet ken nie, maar wat vir menige leser sensasioneel en aantreklik lyk, het hy hem gehou by wat hy self waargeneem het en wat innerlike besit geword het deur sy liefde. Hy het daardeur 'n bewys gelewer van die eenvoudige stelling dat ons die wêreld alleen kan verower deur ons liefde, en dat geen stof te gering is vir die kunstenaar as hy dit maar net innerlik duerleef het nie.
Streuvels kom uit 'n tradisie van mense wat hulle nie van hulle bodem vervreemd het nie of wat nog nie so verstedelik geraak het dat hulle met minagting op die boer en die landelike lewe neerkyk nie. By die susterskind van die groot Gezelle het ons ook die gevoel van nietigheid, van die eindige binne die oneindige, van die mens in sy beperktheid binne die groot gang van die jaargetye. Die mens is nietig, maar God is oneindig. Die mens lyk na 'n klein stippeltjie teen die oneindige, en tog dra hy die goddelike in hom, en dit gee aan hom sy waarde. Dit bring sin en diepte in die lewe, wat deel bly van 'n groter mag. Van die aardse reik ons na die hemelse, en by Vlaandere se twee grootste digters, Gezelle en Van de Woestijne, word dit op twee verskillende wyses geuit: die aardse is veel en die aardse is skoon, maar dit is niet voldoende nie. Dit moet verdiep en deurlig word deur ons geestelike ervaring, deur geloof.
By Streuvels het ons, naas die uitbeelding van die natuurkrag, tog ook sterk die drang na ongereptheid, kinderlike onskuld, lieflikheid en skoonheid. Streuvels se krag moet egter nie net gesoek word in 'n geestelike ontwikkelingsgang nie, maar in sy ryk mensskeppende vermoë. Als romanskrywer het hy 'n groot aantal karakters vir ons tot die voete uit geteken. Ons sien die mens in sy hoogheid en sy laagheid, sy medemenslikheid en kleingeestigheid, sy agterlikheid en sy taaie handhawingskrag, sy domheid en geslepenheid, maar ook met sy beste kwaliteite van durf en moed. Hy gee die grofheid van die verbeestelikte mens, maar ook die fynheid van die kindersiel.
Streuvels het 'n oog vir die besondere. Met 'n skerpheid van blik neem hy die karakteristieke kenmerke waar, en daarom maak sy prosa die indruk van frisheid en jeugdigheid en is sy beeldspraak van die werklikheid self ontleen. In sy geestelike gang as kunstenaar het hy juis van die besondere af na die universele beweeg en ons merk dat hy van fyn tipering en die detailleskildering uitstyg na 'n prosa wat 'n breeë ritmiese gedraenheid openbaar en waarin die wye golwing van die natuurgebeure self opgeneem is.
Die natuur, die mens deur sy instinktiewe kragte verbind aan die natuur, dit is veral Streuvels se gebied; die taal hou gevoelig verband met die strakke gedagte. Dit is deur hierdie prosa met sy innerlike deining, dat Streuvels sy plek onder die beste prosaskrywers in die Nederlandse taalgebied verower het. Inderdaad is hy wat die uitbeelding van die menselewe binne die natuurgebeure betref, 'n meester en sy skouing het dikwels 'n visionêre diepte wat vir ons die inwendige krag van die dinge openbaar. Daarom het sy werk, hoe intens Vlaams ook, internasionale waarde. As Streuvels in 'n internasionale taal geskrywe het, dan sou hy veel meer bekend gewees het en sou sy werk deur skrywers van internasionale letterkundige handboeke naas die geplaas moes word van oorbekende uitbeelders van die landelike lewe en van die ewige boer. Maar ons treur nie daaroor dat sy werk nie in 'n internasionaal bekende taal geskrywe is nie, want almal wat die Vlaamse taal ken, weet dat geen geringe mate van Streuvels se roem te danke is nie aan die wyse waarop hy die Vlaamse taal in al sy fynheid en ryke geskakeerdheid, in al sy soepelheid en volksaardigheid, aangewend het om sy geritmeerde prosa te smee. Telkens en telkens weer is dit die persoonlike en universele wat, in teer verbinding, die grootse golwing aan sy taalbeelding gee.
PROF. C.M. VANDEN HEEVER
(Witwatersrand)
Voorzitter van de Vereniging der Zuid-Afrikaanse schrijvers.