verheerlikend; daar is in voordragte en redevoerings 'n gespog op die Nederlandse aard en geskiedenis wat vir kom stuitend is; die predikant prys die koningin en die hele Oranjehuis, nie met mate nie, soos dit hoort, maar uitbundig, die perke van waaragtigheid te buiten gaande. Maar tog geniet hy die fees. Daar is 'n gees van saamhorigheid by die mense, daar is vrolikheid en daar is christelike erns.
'n Liedjie uit sy jeug kom in sy kop. ‘Adêle’. Dis 'n liedjie van 'n meisie wat kermis hou, 'n lelike meisie. Sy het 'n boggel en sy is skeel, sy het 'n horrelvoet. Maar daar is niemand wat dit raaksien nie; elkeen het plesier op die kermis. Die mense is so vriendelik bymekaar, so vasbeslote om vrolik te wees en goed vir elkeen wat saam feesvier dat hulle mekaar se gebreke nie eens sien nie; dat hulle nie wil sien hoe lelik Adêle is nie, nie wil sien dat sy 'n boggel het nie, dat sy skeel is en met 'n horrelvoet, en hulle sing haar toe om dit alles self te vergeet en plesierig te wees, want daar is niemand wat dit vanaand oplet nie.
Vir die eerste maal besef hy hoe vol mensliewendheid daardie ou straatliedjie is. Hierdie gedagte ontroer hom.
Almal hou van die meisie. Almal is bly dat sy daar is, want sy is een van hulle, een van die wat saam kermis vier.
Hy maak ook 'n vergelyking. Hierdie aand is soos Adêle. Daar is veel aan te merk op die feesviering. Daar is die geswollenheid in die patriottiese toesprake; die spoggerigheid, die selfverheerliking in die nasionale liedere, die buitensporige ophemeling van die Oranjehuis. Maar daar is een ding wat alles vergoed, dit is die gevoel van saamhorigheid in hul liefde vir Nederland en in die duidelik waarneembare christelike gees. De fees is soos sy, met baie gebreke, maar tog mooi deur die innerlike blydskap n verhewe erns.
Nou weet hy wat hy net-nou sal sê. Hy sal die feesviering van vanaand vergelyk met Adêle van die Hollandse kermis.
Maar hy besef hoe moeilik dit sal gaan om dit so te doen dat jy nie onaangenaam kritiserend word nie, en om dit so te doen dat die vergelyking ook nie belaglik word nie. Hy word bang vir die toespraak wat hy sit en uitwerk; hy sweet van angs. Tog wil hy dit doen, en dan weer twyfel hy. Maar hy is nou so diep in daardie gedagte vasgeraak dat hy nou nie meer aan iets beters kan dink nie.
Eindelik het sy beurt gekom. Die voorsitter kondig aan dat meneer De Meer, oom Gilles, 'n Hollander wat al meer as veertig jaar lief en leed met die Boere nasie gedeel het, hulle sal toespreek.
Langsaam staan oom Gilles van sy stoel op. Vir 'n oomblik is hy so bang dat hy lus voel om homself te verontskuldig en te vra om van die toespraak vrygestel te word. Hy wat nooit bang is om te praat nie, hy is nou bang. Want hy voel dat hierdie vergelyking te moeilik is vir hom; dat hy onbekwaam is om dit so voor te dra dat dit tegelyk goed begryplik en tegelyk aangenaam en besielend is.
Vir 'n oomblik sien hy niks nie, sien hy niks as vaag en swewend die tafel voor hom, die wit tafellaken met die bordjies, die tertjies, die lekkergoed en die glase wyn. Daar staan hy elke bordjie 'n groot glas rooi wyn. Party glase is vol