Tirade. Jaargang 54 (nrs. 432-436)(2010)– [tijdschrift] Tirade– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 85] [p. 85] Charl-Pierre Naudé Gedichten True north In maanlig wat voorwêrelds skyn kry ek slingerend koers oor duine met lang gras na 'n afgeleë strand aan die Noordsee. Hier strek die oseaan glad en doodstil al die pad Noordpool toe. True north, hoor ek op Engels. Mens kan die stroom síén trek: bot, en sterk, en onderlangs - styf onder die rimpeling soos 'n oerou spier. En níks kan dit keer nie, dié inkering van die wêreld na sy keerkant; die veraf ruspunt se blinde gerem. Ek loop uit op houtplanke en staan op die water omring van 'n vreemde spieëlbeeld van iets vaagweg bekends waarin alles ontvanklik en sag en gekoester in die poeierlig was, maar ook koud en onsydig en afgewentel tot droesem. Ongelid. [pagina 86] [p. 86] Wat 'n eindelose, glansende oppervlak - 'n enkel, terugstarende blik. En ek sien dit skielik soos 'n vis dit sien. [pagina 87] [p. 87] Skelet van 'n lente, met glastafaltjie Sylt-eiland, Noord-Duitsland Daar lê 'n geraamte onder die glasblad in my woonvertrek. En die teekoppies wat silwerig skud aan die ander kant van dié gesmede gewrigte (nooit sal bo en onder raak nie), dryf skynbaar in die lug. Die membraan van glas is tussenin. In die uur van die halflig. Blertse groen marsjeer glinsterend soos 'n kinderweermag oor die valerige duineveld; die wind onthou die bossies hare. 'n Straler vlieg 'n landskap binne wat volledig net gedroom is - maar hou áán met vlieg. [pagina 88] [p. 88] Visvywers spikkel met hul klippe die water in en só word die wêreld gepak; alles eers bakterieë, dan die patrone van voëls, en onsigbare aanloopbane wat gesing word in die fynste stippels kwantumlig. 'n Handvol breinaalde pryk verlate in 'n mandjiehawe en die oseaan kruip plat tot aan die horison soos deeg in 'n pan; dit vloei gereeld oor 'n eiland hier naby tot net die hoogtetjie met huisies in die middel oorbly, 'n Sions top waar die water in gordyne van weggly, die vergane dag onder en 'n hiernamaals bo die verdeelstreep deur Mies van der Rohe. [pagina 89] [p. 89] Op die sneltrein na Hamburg Eens was ons intiem maar nou lyk dit klaar. My hart sak en styg soos 'n volgmissiel wat oor die deinings galop. En die landskap glip ylings verby, maar tog bly dit daar. Dit reën treinvensters, die wind van seëls weerskant van my geplak ontplof soos 'n possak by 'n tonnel uit; dan hou die storm skielik op in 'n stasiegebou voor die groen weer die wyk vat na links en na regs, en iewers ver, die blou lug soos altyd. Nou bly net die leë hulsels oor. En selfs dit bly mooi, veral dít. (Soos wat nou net verbygeflits het tussen) [pagina 90] [p. 90] verstrooide bale hooi weikampe pure weerlig was dit in enamel gebalsem vir ewig liefling twee wit baddens in 'n verlate groen veld. Vorige Volgende