die gebied van die letterkunde was daar 'n geraffineerde, objektiewe oordeel, 'n kil afsydigheid; die gestrenge monnik in sekere opsigte - in homself die angs om teenstrydighede saam te vat. Jan Greshoff het swaar gedra aan die digotomie in sy samestelling, maar dit het hom 'n alchemistiese insig besorg wat alleen sy toegewydes kan begryp.
Wat Greshoff my geleer het, is my eie geheim wat ek jaloers bewaak. Op 'n sekere stadium het hy my uit die nes uit geskop en my te kenne gegee dat dit tyd is dat ek moet leer om te vlieg. Daarom sluit ek my deel van die In Memoriam af met Jan Greshoff op Janee, Koffiefontein, en Jan Greshoff op De Grashof, Kaapstad.
Hy en Aty het dikwels gedurende die somermaande op Janee kom kuier. Ek het hulle op Modderrivierstasie gaan haal, in die woestyn van die Noord-Kaap, in 'n ‘voorwêreldlike landskap’, soos hy dit genoem het. Hy groet my skaars terwyl hy angstig toekyk hoe 'n slapgat kruier sekerlik sewentien tasse uit die bagasiewa haal. Helfte van die tasse is vol boeke. Op pad na Janee, dertig myl oor 'n grondpad, kyk hy strak voor hom. Die sonsondergang is onbeskryflik, maar hy kyk nie daarna nie. In 'n sekere sin het hy 'n bietjie van 'n minagting vir die natuur: alle manifestasies van natuurskoon is 'n soort collage. Tuis in my huis, pak hy sy boeke op 'n rak in sy kamer, rangskik hy sy eiland tot sy bevrediging, en na 'n bad verskyn hy vir aandete, keurig uitgevat, 'n fynproewer van wyn en kos en die beskaafde gesprek.
Daarna gaan ons na my studeerkamer, met sy pype wat hy later langsaam rook, omring deur boeke, volkome ontspanne om ‘te kletse’. Die formidabele man word sag en rustig en hy vertel my van Vestdijk, Achterberg, Slauerhoff, Bloem, die koninklike familie in Nederland, digters en skrywers in Amerika, Frankryk, Italië, Engeland en Duitsland. Die Almanach de Gotha ken hy uit sy kop uit. Hy vertel my van dae in Parys, die skilders wat hy geken het, en die volgende oomblik noem hy skrywers en boeke wat so ‘with it’ is dat ons plaaslike literatore eers jare daarna daarvan kennis geneem het. Met sy bekende vrygewigheid was daar altyd 'n boek vir my uit die skatkis van sy bagasie. Later in die aand word by vaak ná 'n slaapmiddel wat sy dokter vir hom voorgeskryf het en dan gaan hy en Aty na die slaapkamer waar die deur en die ven-