Tirade. Jaargang 3 (nrs. 25-36)(1959)– [tijdschrift] Tirade– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende Elisabeth Eybers Leeftijd Sóveel jare vertroud met alles wat men kan hé, met alles wat mens moet mis: hoe oud hulle werklik is kan hulle self nie sê - Onberekenbaar oud, onberekenbaar ryk aan littekens wat hulle nou met 'n ligte glimlag beskou, met sagte vingers yk? Of kleuters in die woud - bang aan mekaar verbind met styfgestrengelde vuis - wat al vèrder dool van huis om 'n blarebed te vind? Pygmalion Geen vakman was so kundig of so snel in die hanteer van beitel en lanset om bloot te lê, te suiwer, te herstel wat God in brute rots gekerker het. In redelose eensaamheid bemerk hy hoe die vrou onder sy vuis ontplooi, en streel en streel die koue handewerk totdat sy langsaam sidder en ontdooi. Asiel Van saamheid nog asemloos was hul gesteld om skugter en plegtige dinge te waag wat die sout op hul lippe tot ouel laat smelt, soos reën hulle warm gelaatshuid behaag; om torings en skoorstene nader te haal tot dugtige stutwalle rondom te pak, in die donker nog dieper dan seevlak te daal eer die aardbol in oorryp granaathelftes knak. Vorige Volgende