Tirade. Jaargang 1 (nrs. 1-12)(1957)– [tijdschrift] Tirade– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 89] [p. 89] Elisabeth Eybers Sterwende Nou knal die walle van die tyd voor aantog van die ewigheid en styg die gistende gety die laaste bakenpen verby. Sy neusvleuels swoeg, nog ongewend aan hierdie strawwe element, sy oordrom dreun van die rumoer wat fondamente ruk en roer, sy netvlies krimp, deur slierte lig geklief. Sy vleeslose gesig is blink gebeitel en geskaaf tot sidderende seismograaf. Jong seun Why were we crucified into sex? Why were we not left rounded off, and finished in ourselves? D.H. Lawrence Die seun klim druipend uit die bad; sy hele lyf is gaaf en glad en heel, tot in die holte van die nael waaroor 'n seepbel span. Strak ledemate, ribbekas hoekig en hard soos 'n kuras, handdoek in hand staan hij bereid, gerig en toegerus tot stryd. Tog, onvolkome afgerond, hoe sal die lewe hom nog wond: In sy Achilleskern vind hy geen beskutting - man of kind: Geheg aan die benedebuik waar blink haarrankies reeds ontluik, deuraar, teer soos 'n ooglid, sag soos murg, hang weerloos die geslag. Verwyt Woorde wil àl wat uit die duister wel in hul spitsvondige patroon saamknel. Die flikkering van aksiomas dring soos angs-oë deur die nag wat ons omring. Woorde wil die Verborgenheid laat swig voor hul misleidende moerasgaslig. ‘Hier is die Wondermiddel wat nooit faal! Hier is die Waarheid, binne perk en paal!’ Kwaksalwerkrete en kermismusiek laat jou terugkrimp, eensaam en twyfelsiek. Maar ná 'n week in die woestyn - wat bly nog oor van jou onkreukbaarheid, as jy dit opgesom en vereenvoudig het tot 'n klein, selfgenoegsame sonnet? Vorige Volgende