met, ek meen, ‘plek’. Maar vra jy daarna deur die woord in Engels uit te spreek, deel die tabakhandelaar jou mee dat hy dié ‘brênd’ nie ken nie. Toe ek eenkeer daarop wys dat ek die woord op sy wettige Engelse manier uitgespreek het, word my meegedeel dat ek gerus maar kan sé ‘sjek’, ‘want, ziet u, dan verstaan wij mekaar tog, meneer?’
'n Mens moet die woorde uitgespreek hoor, eers dàn staan jy verbaas. Dis 'n duiweltjie wat jou aanpor om iemand te laat praat van die grootste hawe in Engeland: ‘Saussempton’. Stap jy'n winkel binne en kom met jou beste Nederlands voor die dag, word jy tien teen een tegemoet kom met iets wat met Engels slegs die woordeskat gemeen het, en jy verlaat die ‘showroom’ met ‘senks, werrie mots’ vergesel van 'n hoflike buiging.
Jy ry nie deur 'n duikweg nie maar 'n ‘tunnel’; jy eet ‘pudding’ (nes in die vorige voorbeeld kom elke klank met die Hollands ooreen) en op jou brood smeer jy ‘jam’ (sjem). En deur niks word jy ‘gehandicap’ nie.
Dit val egter gou op dat sekere Engelse woorde in 'n ongewone verband gebruik word, by voorbeeld die selfstandige naamwoord ‘Dancing’ vir die plek waar gedans word; ‘Smoking’ vir 'n aandpak; en 'n ‘City bag’ vir 'n spoggerige handsak wat in Engels nog nooit só genoem is nie. Dis egter hoofsaaklik op handelsgebied en op die sportterrein waar sekere begrippe tegelijk met die benaminge daarvoor oorgeneem is. Stap gerus maar in enige Hollandse straat af en hou jou oë op vir reklametekens. Die ‘accountant- en 'n exportkantoor’ staan tussen 'n ‘flowershop’, 'n ‘showroom’, en 'n ‘coiffeur’.
In een van die vensters is daar 'n plakkaat van 'n ‘match’ teen vastgestelde ‘entré-prijzen’; en in 'n raamadvertensie word daar gevra na 'n assistent met ‘commerciële feeling’.
'n Voetbalspeler praat van sy seer ‘body’, terwyl jy in die koerant 'n ‘reportage’ van die ‘match’ kan lees onder die opskrif: ‘Sterke finish van X’: ‘Toe is er drie kwartier vrij aardig gevoetbald. De Haarlemcrack Y had het trucje gevonden om Z te passeren... Geen supervoetbal, geen geraffineerde tikjes en het scoringbord bleef alleen maar ongewijzigd’.
Dan word 'n mens nog getref deur die voorliefde vir benaminge aan Grieks en Latyn ontleen.
Wanneer 'n Hollander oor welke onderwerp ookal praat of skryf, val dit op dat die vreemde woord in 'n mindere of meerdere mate aanwesig is, en veel algemener voorkom as in Vlaams of in Afrikaans. Ek wou bloot 'n paar gevalle aanstip in plaas van regverdigings of verklarings aan te bied. Een rede vir hierdie taalhouding is dat talle begrippe saam met die vreemde woorde bekend geraak het, soos ons veral op handels- en sportgebied opgemerk het. In teenstelling met Vlaams of Afrikaans is die Nederlander oortuig van die voortbestaan van sy taal waarin buitengewone kultuurskatte bewaar word, sodat daar by hom geen behoefte of noodsaak bestaan om hom toe te spits op taalsuiwering nie.
Dikwels gaan met die vreemde woord iets deftigs of uitsonderliks gepaard sodat so 'n woord om reklame- of ander oorweginge voorkeur geniet: gewoonlik kan 'n ‘flowershop’ en 'n ‘coiffeur’ op groter winste reken as die aangrenzende blommewinkel en haarkapperswinkel, en 'n ‘Dancing’ beloof meer as wat 'n mens kan besin.
Die regverdiging wat daar aangevoer word vir die vreemde woord wanneer estetiese of wetenskaplike begrippe benader word, is dat sulke woorde wat op internasionale opvattinge betrekking het, bruikbaarder is, veral wanneer jou werke in verskillende tale geskryf is. Die vreemde woord raak dus skerper omlyn en kry 'n meer besondere betekenis.
En tog twyfel 'n mens darem maar sterk wanneer daar geredekawel word oor by voorbeeld die ‘interpretabiliteit’ van 'n Nederlandse gedig.
Terwyl daar aan die eenkant voorkeur gegee word aan ‘rijwiel’ bo ‘fiets’, wek ons ‘duikweg, skemerkelkie en vonkprop’ (nes die Vlaamse ‘eethuis’ vir 'n restaurant en ‘stilstand’ vir 'n bushalte) nog steeds -n' glimlaggie, vergesel van die opmerking ‘Wat leuk!’
Daar is nog diegene wat reken dat ons met ons taalsuiwering op taalverarming afstuur, terwyl die Afrikaanse uitgangspunt is om jou met die vreemde te verryk, maar niet ten koste van jou eie en dikwels sprekender woordvoorraad nie. Opvallend Nederlands is die taalgebruik van die blad ‘Zuid-Afrika’ van die Nederlandsch Zuid-Afrikaansche Vereniging wat streef na 'n goeie verhouding tussen Suid-Afrika en Nederland. Hieruit blyk dus aan die anderkant 'n strewe om die taaleie tot sy reg te laat kom.