Nederlandse Publikasies en Afrikaans
Die vlag dek al lank nie meer die lading nie. Hierdie segswyse kan o.a. toegepas word op De nieuwe taalgids wat in die afgelope jare al meer en meer 'n literatuurgids geword het en die benaming De nieuwe literatuurgids tans beter verdien, want wat daar, in die kader van die geheel gesien, oor linguistiese vraagstukke verskyn, is maar skraps en dunnetjies. Dit geld ook publikasies wat Afrikaans raak of kan raak.
Ek noem as voorbeelde Van Haeringen se kort resensie van Valkhoff se Studies in Portuguese and Creole/With special reference to South Africa (NT, 60, afl. 3, bl. 199-200) en twee kort bydraes oor die woord pompelmoes, onderskeidelik van Van Puffelen (NT, 59, afl. 6, bl. 391-2) en van Van Woudenberg (NT, 60, afl. 3, bl. 203).
Ek begin met Van Haeringen se slotsinne aan te haal: ‘En de mening van Hesseling, dat die biezondere factor gelegen is in de “botsing” of, om met Valkhoff te spreken, de “linguistic encounter” van het Nederlands met een aan de Kaap gesproken lingua franca, heeft door het kundig pleidooi van Valkhoff steun gekregen. Maar tegenspraak van zuidafrikaanse zijde zal stellig niet uitblijven’.
Van Heringen het gelyk gehad dat teëspraak nie sou uitbly nie, want skrywer hiervan het reeds daarop gereageer in Die Vaderland (18 Aug. 1966), met Nienaber in die Inleiding tot ons Afrikaanse Etimologieë en deur Van der Merwe in 'n uitvoerige resensie (in Tydskrif vir Geesteswetenskappe, 1966 en 1967, 6 No. 4 en 7 No. 1, bl. 377-394).
Ek moet egter dadelik byvoeg dat Afrikaans linguiste hulle nie meer soos 'n kwart eeu gelede so druk maak oor die beweerde invloed van die lingua franca aan die Kaap nie, maar dit tans as 'n soort taalsport beskou, 'n jag met haelgeweer op wildemakoue, d.w.s. wilde watervoëls wat gou van streek raak. Dit het reeds ontwikkel tot 'n sportiewe skietery op ‘albosentrisme’ enersyds en op ‘negrosentrisme’ andersyds.
Hesseling cum suis (en onder hulle Valkhoff) het die invloed van die lingua franca op Nederlands histories so plousibel gemaak (die beste deel van Valkhoff se werk in Hfst. v), dat dit blykbaar onnodig geag is om taalkundige bewysmateriaal aan te voer. Hoe meer taalkundige navorsing daar egter hier te lande gedoen word op die gebied van die etimologie (Boshoff en Nienaber), van die wyse van woordvorming en funksiewisseling (Kempen), van die klankleer (De Villiers) en van die morfologie (Raidt), hoe minder bly daar van die lingua franca oor. Selfs die histories plousibele argumente kom in die gedrang in die lig van die eksterne feite dat vryburgers aan die Kaap bereid