sitaat van C.F. Hockett in ‘A Course in Modern Linguistics’ (New York 1958) toelig: ‘... in English, the past tense morpheme is represented by a suffixed /d/ in paid, but by a combination of infixed /ow/ and suffixed /d/ in sold, and in various other ways in bought, went, sang. Sell is represented by /sél/ in most contexts, but by /s. .l/ when aecompanied by the past-tense morpheme, /s. .l/ plus /. .ow. .d/ yields /sowld/); sing is usually /siŋ/, but is also represented by /s. .ŋ)/ into which fit infixed representations of certain mflectional morphemes, to yield sang, sung.’ (t.a.p. pp. 271-2). M.i. sal die gewone Engelse sprekers beslis verwantskap tussen sell en sold konstateer maar ek glo nie dat hulle /s. .l/ of /ow/ as eenhede sal herken nie. Vir die gewone spreker lê die tekenkarakter van alle taaleenhede in die onverbreeklike eenheid tussen vaste begriplike eenheid enersyds en vaste lineêre klankmateriaal andersyds - al is lg. inderdaad fonologies gefilter.
In billikheid teenoor die Amerikaanse linguiste moet erken word dat sommige die morfeem nie heeltemal los wil maak van die gewone sprekers se ervaring nie. D.L. Bolinger sê bv. ‘Every speaker must know something of the morphemes of his language before he can speak it’ (Word, Vol. 6 p. 125) en elders: ‘if we entirely rule out such naive reactions we open the door to fantastic “discoveries”’ (t.a.p. p. 126).
Om my eie standpunt toe te lig hoe veel die fonologiese vorm van 'n morfeem mag varieer sonder om sy identiteit te verloor, word hier die belangrikste tipes van wisseling in Afrikaans genoem, soos gegroepeer in my ‘Afrikaanse Klankleer’2 (Kaapstad 1962, pp. 104-106):
Auslautwisseling van /d-t/ soos in /rɔnd-rɔnt/ bv. in ronder, ronding- rond, rondste, rondheid.
Auslautwisseling van /v-f/ soos in /skev-skef/ bv. in skewer, skewigheid- skeef, skeefste.
Auslautwisseling van /pt-p, kt-k, ft-f, fd-f, xt-x, xd-x, st-s, sd-s/ soos in stipt-stip, naakt-naak, skrift-skrif, beleefd-beleef, slegt-sleg, deugd-deug, kunst-kuns, bedeesd-bedees in woorde soos stiptelik-stip, naaktheid-naak, skrifte-skrif, slegter-slegste, deugde-deugsaam, kunstig-kuns, bedeesde-bedees.
Auslautwisseling van /rm-rǝm/ en /lm-lǝm/ soos in /warm-warǝm/ en /kalm-kalǝm/ in woorde soos /warmǝr-varǝm/ en /kalmerǝnt-kalǝm/.
By bostaande groepe kan telkens die eersgenoemde van die paar as die verteenwoordigende allomorf van die betrokke morfeem beskou word omdat sy teenhanger-allomorf daaruit voorspel kan word. Morfeme met stemhebbende /d, v/ of /t/ na /p, k, f, x, s/ kan in Afrikaans nie in die sillabe-auslaut staan nie, maar in morfeemverbindings waar die morfeemgrens van die sillabegrens verskil, kan hulle wel voorkom, bv. /rɔn-dǝr, ske-vǝ, skrǝf-tǝlǝk, koens- tǝx/ ens. Hier het ons dus 'n wisseling van allomorfe wat in Hockett se terminologie ‘automatic and regular’ genoem kan word.
Waar betekenisverwante morfeme egter klankverskille deur ablaut en sinkopee of apokopee toon wat nie deur algemene fonologiese wette verklaar kan word nie, word hulle, nie geïdentifiseer nie maar as verskillend en apart beskou. Tot sover my eie opvattinge.
2. Die bewys van die bewustheid van morfeme by gewone sprekers is veral te vind in die vermoë om analogies nuwe kombinasies van morfeme tot woorde te vorm en in die ontsyfering van onbekende woorde op grond van die morfeme wat binne hulle herken word.