ingesien dat die twee dinge in Raka saamgaan: dat hy sterk is maar ‘vir denke... onseker’.
As die natuurlike mag en krag diametraal teenoor die redelikheid staan, staan dit vanselfsprekend ook lynreg teenoor die taal. Die taal is immers die sterkste uiting en bewys van die mens se redelikheid en 'n redelike instrument. Waar die krag en mag in absolute vorm aanwesig is, soos in Raka, ontbreek die taal selfs geheel en al, dermate sluit dié twee mekaar uit. Koki noem dit vir sy mense dat Raka nie die taal (en die poësie) ken nie: ‘Ken Raka, hy,/ die sterk dier, ons fyn, fyn net/ van die woord...?’, en soos dit telkemale die geval is in Raka, noem ook Koki hier Raka se sterkte en afasie in een asem.
In plaas van die taal gebruik Raka die liggaam, sy organe en ledemate as simboliserings-, kommunikasie- en ekspressiemiddele: die spier, die oog, die tong, die tand, die voet en hand, die ‘klou en bek’. Toe die vroue Raka vir die eerste keer gesien het, het hy opgestaan ‘met 'n kabbeling in sy spiere’ en sy krag gedemonstreer: hy het die jong bok se keel uitgeskeur, vrugte afgebeur en plante uitgeruk. Deur dié liggaamlike gebare het hy hulle iets meegedeel, en hy het ‘met oog en tand/ en rooi tong’ 'n verstandhouding met hulle probeer skep. Al dié dinge staan in die plek van die taal, want onmiddellik daarna word daaraan toegevoeg: ‘maar woorde het hy geen enkele gesê’. Hy het die tong maar nie die redelikheid om dit tot taal te inspireer nie. Dit val mens ook op hoe Raka as uitdrukkings- of kommunikasiemiddele van verskeie klanke gebruik maak, soos die snork, die lag, die brul en die tjank, maar hy kan nie soos die taalvermoënde mens die klank met begrip vul nie. Voorts ken hy die ‘pantomime’ en mimiek, verskillende vorme daarvan: die dans, die buiteling en baljaar voor die vroue, voor die kinders en voor Koki. Deur die liggaamlike gebaar, die aanskuur ‘op sy en rug, - soos 'n teefhondjie nederig is -’, het hy Koki genooi om saam te eet. Ook weer deur dieselfde liggaamlike en biologiese dinge, die ‘snork en voete’, ‘die swart lip’ en die ‘wit tande’ het hy sy woede te kenne gegee toe Koki weier om sy uitnodiging aan te neem.
Die verraderlike in Raka is juis dat dieselfde liggaamlike ‘poot en tand’ wat die taal vervang het en waarmee hy 'n verstandhouding tussen hom en die mense geskep het, ten slotte die instrumente geword het van die mag en geweld waarmee hy die kraal verover het. Die wapens van die mag sélf het dus die taal vervang!
Die hand waaragter daar geen brein en geen woord sit nie, is ‘bot’, soos Koki die hand van Raka noem, dit is ‘'n dooi stuk... vleis’ in die taal van die Inkwisiteur (Die hond van God). Maar woorde kan, soos in die Klein gebed: van die hande wat verag word (Die halwe kring), die biologiese hand inspireer tot teennatuurlijke, geestelike vermoëns. Daar is talryke voorbeelde in die werk van Van Wyk Louw van hoe die woord of ander geestelike vermoëns, soos bv. die wil, die denke of die illogiese drif gesag het oor die liggaam en materie (vgl. Ons wil moet blink wees, Die halwe kring). Maar ook die omgekeerde sien mens in Raka gebeur: hoe die liggaam die gees gaan beïnvloed, hoe die liggaam en sy krag selfs die woord gaan betower en aantas.
Dit gaan in Raka nie alleen om die aap-mens se eie gebrek aan taal en sy eie woordeloosheid nie, dit gaan ook om die invloed wat hy op die mense se taal en poësie het. Daar is drie onderskeibare invloede.
Ten eerste praat Raka, sonder dat hy self die taal ken, as 't ware ‘saam’ in die woorde van Koki se mense. Van die bose self het mens die uitdrukking in Ballade van die bose dat hy ‘saampraat’ met die gees. (Let wel dat dit elke keer Raka se liggaamlike krág is wat die mense se woorde beïnvloed.) Die