De Nieuwe Taalgids. Jaargang 46
(1953)– [tijdschrift] Nieuwe Taalgids, De– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd
[pagina 314]
| |
Stilistiek en vergelykingGa naar voetnoot1).Met hierdie proefskrif, die eerste vanuit die Afrikaanse Departement van die Gemeentelijke Universiteit van Amsterdam en voltooi onder leiding van prof. dr. N.P. van Wyk Louw, het ons die derde toevoeging tot die klein literatuur van ‘stilistiese’ werke wat daar na die oorlog in Afrikaans verskyn het - die vrug van studie van Afrikaanse studente aan Nederlandse universiteite. Daar was eers die breed-aangevoorde studie van dr. F.J. Snijman: ‘Literêre Styl, met die oog op Stylondersoek’ (Assen, 1945), waarin 'n groot hoeveelheid ‘stylbepalende elemente’ geÏsoleer en in toepassing getoon word, maar waarin die ondersoeker een van sy fundamentele stellinge verloën, nl.: ‘Stylondersoek is 'n ondersoek van gehele’ - hy rig immers die oog op enkele fragmente van 'n hele aantal werke, verontagsaam hul totaliteitskarakter. Daarna verskyn die Amsterdamse dissertasie van dr. H.v.d.M. Scholtz: ‘Sistematiese Verslag van 'n Stilistiese Analise: Die Towenares: Eugène Marais’ (Amsterdam, 1949), wat in 'n sekere sin 'n implisiete, maar dan skerp, reaksie op Snijman se werkmetode is en waarin hy stelling inneem op die ander ekstreem van die skaal: hy analiseer 'n betreklik eenvoudige gediggie van 11 reëls ‘volledig’: laag vir laag en tot in sy uiterste bereike. Met die proefskrif van dr. Cloete het ons 'n terugswaai van die pendule: hierdie keer in 'n poging om die sintetiese midde te tref: twee lang epiese werke in Afrikaans, ‘Trekkerswee’ van Totius en ‘Joernaal van Jorik’ van D.J. Opperman, word met mekaar gekonfronteer en aan 'n volledigeGa naar voetnoot2) ondersoek onderwerp. Die metode van die strukturele analise wil hier sy twee ekstreme vermy en sy deugdelikheid vir die literatuurkunde bewys. Die opset heet dan ook welbewus in die openingsin: ‘In hierdie studie word twee letterkundige werke met mekaar vergelyk’ (p. 1).
Die twee werke wat hier vergelyk word, moet 'n breër opset bevredig as wat uit die titel mag blyk. Hulle stam nl. albei uit twee belangrike tydperke van die Afrikaanse (epiese) poësie; ‘Trekkerswee’ (1915) uit die periode van ± 1911-1921 toe daar 'n kein konsentrasie van epiese digwerke ontstaan wat almal ‘'n perspektief op en interpretasie van die Afrikaner se geskiedenis’ wil gee (p. 2), en waarin o.a. ook ‘Martjie’ van Jan Celliers en ‘Rachel’ van Totius hulle ontstaan vind; ‘Joernaal van Jorik’ uit die tweede tydperk, ná 'n onderbreking waarin die ‘nasionale epos’ verdwyn het, waarin daar opnuut 'n besinning grosso modo is op ‘die Afrikanerwerklikheid’: die periode 1938-1949, toe die Groot Trek van die Voortrekkers en die stigting van Suid-Afrika deur Jan van Riebeeck herdenk is - die tyd waarin o.a. ‘Die Dieper Reg’ van Van Wyk Louw die lig sien. Die twee werke is sodoende twee ‘gevoelige reageerpunte’ van die Afrikaanse poësie (p. 13). Die beskouing nou van hierdie twee ‘gelykgesitueerde’ werke sou 'n belangrike newe-doel kon dien: om 'n ontwikkeling van die Afrikaanse poësie in hulle na te tas, en as verdere uitvloeisel: om die ontwikkeling in die begrip ‘die Afrikaner’ in een punt te betrap. Hierdie ondersoek word moontlik gemaak deur die ontmoeting van die twee werke op 'n gemeenskaplike terrein: albei is histories-nasionaal, albei | |
[pagina 315]
| |
gee 'n interpretasie van die Afrikaner se geskiedenis, albei bevat mekaar ‘dekkende’ temas (b.v. die ‘grootstad’). Dit is hierdie omstandigheid wat tot 'n belangrike mate die deurslag gee in die vergelyking: in bepaalde punte ‘konvergeer’ die twee werke. Deurdat hulle soveel ooreenstemmende momente bevat in hul ‘historiese situasie’ en in hul tematiese materiaal, word die vrees by mens gewek dat die beskouing van die twee werke noodwendig ‘onvolledig’ sal moet wees: dat die aandag opgeneem sal word deur die ‘snypunte’, met verwaarlosing van die breë streke waarin die twee werke van mekaar wegswenk. Hierdie vrees word egter besweer (p. 10): die ondersoek gaan verder as hierdie ‘armlike’ aanpak. Ook die verskille tussen die twee werke is vir die ondersoek van groot belang. Want: die vergelyking in enger sin (die konfronteer van ooreenstemminge) is vir die ondersoek maar 'n stap op 'n pad wat verder voer: die vergelyking van gehele, ook wat hul nie-ooreenstemmende momente betref: ‘Al gaan ons gedeeltelik uit van gemeenskaplike trekke in die twee gedigte, word die verskille nie alleen as 'n noodwendige gevolg van die eiesoortigheid van elke gedig beskou nie; hierdie verskille is ook vir die vergelyldng, wat slegs 'n stap verder is na die interne ondersoek van elke afsonderlike gedig, van eweveel waarde as die gemeenskaplike trekke’ (p. 11). Die ondersoek het as uiteindelike doelwit: die deurligting van twee totaliteite, die interne ondersoek van gehele. - 'n Besondere groot taak (dink aan dr. Scholtz se gedig van 11 reëls), veral as mens sy by-oogmerke ook in gedagte hou, o.a. 'n ontwikkeling van die Afrikaanse poësie tussen die twee werke, iets waarin hy nogal telkens slaag, veral wat betref die aantoon van die ‘verteenwoordigende’ van ‘Trekkerswee’ (vgl. b.v. pp. 31 en 107 vir gelukkige formuleringe betreffende die geaardheid van die ouer Afrikaanse poësie); die verteenwoordigende van ‘Joernaal van Jorik’ vir die nuwere Afrikaanse poësie is miskien minder sterk staande te hou (en word dan ook minder sterk opgeëis - die ‘lam vleuel’ van die vergelykingspaar), by name sy metries-ritmiese struktuur het nie die ‘lojale verset’ teen die metrum van bv. Van Wyk Louw se ‘Raka’ nie. Die oogmerk met die ‘interne ondersoek na twee gehele’ is om die beperking van die vergelyking-in-enger-sin (sy geboei-wees deur ‘snypunte’) te deurbreek. Metodologies sou mens kon sê dat die vergelyking hier nie doel is nie, maar middel: dis die noodsaaklike aanvangspas vir iets verder: die deurbraak na die geheel van die twee werke. Wat beteken dit in concreto: dat twee werke as gehele vergelyk word? Hiervoor moet mens eintlik 'n nog vroeër vraag stel: Wie is die ‘geestelike vader(s)’ van hierdie metode? Sy geestelike klimaat is belangrik vir 'n verstaan van sy hele wyse van aanpak, die wyse waarop daar vergelyk word. Ons releveer alleen twee ‘dampkringe’. (a) Daar is eers Roman Ingarden met sy grondliggende werk uit 1931, ‘Das Literarische Kunstwerk’, 'n werk wat vanaf 1948 opnuut en klemmend onder die aandag kom met daardie ‘Novum Organum’ van die moderne literatuurstudie: ‘A Theory of Literature’ van René Wellek en Austin Warren. Ingarden onderskêi vyf strata in die literêre werk: ‘1. die Schicht der Wortlaute und der auf ihnen sich konstituierenden Lautgebilde höherer Stufe; 2. die Schicht der Bedeutungseinheiten verschiedener Stufe; 3. die Schicht der mannigfaltigen schematisierten Ansichten und Ansicht-Kontinuen und -Reihen und endlich 4. die Schicht der dargestellten Gegenständlichkeiten und ihre Schicksale’; waarby hy nog voeg: ‘5. die sogenannte “Idee” des Werkes’ of ‘metaphysische Qualitäten (Wesenheiten’) (Aangehaal op p. 15 | |
[pagina 316]
| |
van proefskrif). Wellek en Warren trek hierdie vyf strata nog enger: tot drie saam: ‘there is, first, the sound-stratum... This pattern is indispensable, as only on the basis of sound can the second stratum arise: the units of meaning. Every single word will have its meaning, will combine into units in the context, into syntagmas and sentence patterns. Out of this syntactic structure arises a third stratum, that of the objects represented, the “world” of a novelist, the characters, the setting’. (Aangehaal op p. 15). Die kunswerk is dus 'n polifone struktuur waarin verskillende ‘lae’ onderken kan word, dis ‘a system which is made up of several strata, each implying its own subordinate group’ (Wellek en Warren, p. 152). (b) Die tweede dampkring is alreeds in bogenoemde beslote, maar ons signaleer dit tog as aparte omrede sy sterk selfstandige opkoms in die laaste halfeeu: die ‘linguïstiese stilistiek’, die beweging vanaf Karl Vossler om nie te skroom om ook ‘linguïsties’ oor die woordkunswerk te praat nie. Hoe sou hierdie noodwendigheid kon uitbly? Die woord is immers die hoeksteen aan die woordkunsgebou - en elke steen verder in die struktuur. Om oor die woordkunswerk te praat is om noodwendig ‘linguïsties’ oor hom te praat - 'n ‘insig’ wat tot op die oomblik sy mees konsekwente en gevoeligste uiting gevind het in die ‘skool van Hellinga’ aan die Amsterdamse Universiteit. Wanneer nou gesê word dat die doelstelling is om twee gehele te vergelyk, beteken dit dat twee totaliteite in hul ooreenstemmende strata teenoor mekaar gehou word, 'n polifoniese beskou wat moontlik is deur die bestaan van die werk in die woord, daardie unieke eenheid van klankvorm en betekenis waarin verskillende momente in ‘onderskeibare gelyktydigheid’ hul bestaan voer en 'n gelede struktuur moontlik maak. Om al hierdie lae te besoek: dis die uiteindelike doel van hierdie vergelykende studie. En daarmee meen die ondersoeker dan ook dat hy die probleem van die volledige beskouing met dié van die geheel-beskouing versoen het: ‘As ons sê dat ons die twee gedigte in hulle geheel ondersoek, hou dit alleen in dat ons probeer om die ondersoek só ver deur te voer, dat dit elkeen in al sy strata raak’ (p. 15). Om saam te vat: Enersyds is daar by mens die vrees van eksklusiwiteit (twee tematies-verwante werke wat op die punt van hul ooreenstemminge aangeblik word); andersyds word dié vrees besweer deur die versekering van die ‘volledigheid’ (die twee werke in al hul geledinge aangeraak). Die interne ondersoek van gehele word bereik oor die brug van die tematiese vergelykbaarheid - op 'n aantal punte - van twee werke. Ons keer weer terug tot hierdie rigtinggewende aanspraak. Eers kyk ons egter na hoe die materiaal van die ondersoek georden is. 'n Kort eerste hoofstuk bespreek die vergelykbaarheid van die twee werke, veral onder die twee aspekte wat ons reeds genoem het: hul tematiese verwantskap en hul ‘representatiewe’ karakter. Die tematiese ooreenkomste keer vanselfsprekend telkens in die latere hoofstukke terug: hulle is die punte waaraan die vergelyking ‘die verste deurgevoer kan word’ (p. 11). Maar ook die representatiewe word nie enkel tot hierdie hoofstuk verskans nie: telkens word die besproke werk t.o.v. 'n bepaalde aspek binne die Afrikaanse poësie gehou wat daarvoor ‘kontemporêr’ was. Veral in die geval van ‘Trekkerswee’ geskied dit telkens, en, soos ons gesê het, met goeie reg: representatief is die werk t.o.v. sy swaar lading ‘Hoog-Afrikaans’ (verhelderende term!) (pp. 52 vgg.), sy aanwending van die ‘tale Kanaäns’ (pp. 59 vgg.), sy prosodiese kommer, sy strewe om aan die ‘harmoniese | |
[pagina 317]
| |
ideaal’ van die vroeë poësie te beantwoord (p. 31), en t.o.v. 'n aspek wat die skrywer so formuleer: ‘Nie in die fyner vesels van die klank, die ritme, die verstempo lê die onrus in die gedig nie, maar in die kontoere. Trekkerswee openbaar hier 'n onvermoë wat kenmerkend is van die ouer Afrikaanse poësie waarin dit literêr-histories tuishoort: dit kan rustig en breed-verhalend wees, maar nie aktief in sy klanklaag en aangehoue dinamies nie’ (p. 138). Wat die werk van Opperman egter betref, het die ondersoek miskien alleen die waarde van die trek van 'n lyn tussen die ouer Afrikaanse poësie en 'n ekstreem van die jonger Afrikaanse poësie, nie tussen twee gesentraliseerde tydperke nie. Die daaropvolgende twee hoofstukke (II en III) neem die grootste gedeelte van die ‘gestratifiseerde vergelyking’ vir hul rekening. Die vyf strata van Ingarden, en die herleide drie van Wellek en Warren, word hier tot 'n nog digter konsentraat saamgetrek, nl. twee: Al die klankmomente van die woord, in hul deuraar-wees deur die sintaksis, in so ver hulle die prosodiese skemas struktureer (‘Prosodiese skemas en die gesentreerdheid van die klanklaag’), en al die betekenismomente van die woord wat die tydruimtelike wêreld van die gedig stel (‘Isolasie en Sirkulasie’). Wat tot nog fyner ontveseling aanleiding kon gegee het, tot suiwerder isolering van ‘lae’, word hier (veral in die geval van die klankmomente) tot 'n digte enkelkompleks saamgetrek. Hierdeur is die gevaar enersyds vermy van die beskou van ‘rein lae’ binne die klankgeheel, wat die neiging het om tot outonome groothede uit te groei en in die finale oormekaarlê van ‘vlakke’ weier om te ‘sinchroniseer’; maar andersyds bring dit omtrent noodwendig mee dat die verskillende Gestaltstrukturerende momente (veral in die klanklaag) 'n vlugtige beroering ontvang - iets waarop ons verderaan terugkom. Wat 'n metodiese wins is: die betrap van momente in hul onmiddellike samespel, is terselfdertyd 'n verlies: die verarming van verskillende van dié momente. Die metode waardeur tot 'n beskouing van die klankbundel in sy struktureer van die prosodiese skema gekom word, is dié van die neem van proef-snitte op enkele plekke in die gedig. Die hand word gesluit rondom bepaalde plekke in die gedig en vervolgens nader toegekyk op wat in die handgreep beslote lê: hoe die Gestalt-are deur dié smal gewrig loop. Die metode van die steekproef is haas onontkoombaar in die ondersoek na die lang gedigGa naar voetnoot1). Dit is onmoontlik om bv. die ritmies-melodiese struktuur van gedigte van dié omvange volledig te analiseer. Die proefsnit-metode is die onontkoombare oplossing vir die volledigheidsprobleem. Die neem van steekproewe moet egter aan sekere vereistes voldoen. So ver moontlik moet die ‘organiese’ karakter van die vers gerespekteer word. Die steekproeve moet waarlik ‘kerne’, nog meer: ‘kerngehele’ wees. Die gevaar wat hierdie metode bedreig, is dié van die meganistiese: die neem van willekeurige snitte. Die neem van die eerste 16 reëls uit ‘Trekkerswee’ (en 'n gevolglike ooreenstemmende 16 reëls uit ‘Joernaal van Jorik’) het al die trekke van die meganistiese. Waarom die eerste vier strofes geneem vir 'n ondersoek (in die geval van ‘Trekkerswee’) en nie die volle sewe strofes waaruit die eerste onderafdeling bestaan | |
[pagina 318]
| |
nie (dit sou min of meer 'n ooreenstemmende getal gegee het vir 'n klein ‘kerngeheel’ uit die ‘Joernaal’)? Op dié plekke gee die verse ‘gewrigte’, nié na vier strofes nie. Die hele organiese awontuur van die ontwikkeling van bv. die metries-ritmiese struktuur: sy opkoms, komplikasies, sy bedding vind, uitloop, e.d.m. word hierdeur verloën. Die ‘ademhaling van die gedig’ word deur die meganistiese proefsnit afgesper. En wat ‘Trekkerswee’ betref, het hierdie onderbreking by die vierde strofe die nadeel dat daar 'n paar belangrike klanktendense is wat hulle teen hierdie tyd nog nie gerealiseer het nie. Was die volle sewe strofes geanaliseer, dan het die beeld van die tendense op metries-ritmiese gebied van die eerste versreeks (‘Silwer Strale’) daar heelwat anders moes uitsien as wat hoofstuk II skets. Na die eerste 16 reëls kom daar bv. 'n aantal inisiale heffings na vore, heffingsreekse binne die versreël breek hulle baan, terwyl die beslotenheid van die versreël op plekke deur die enjambemant en die middepouse deurbreek word. Die kontras van hierdie aanvangsgeleding met die inset van ‘Joernaal van Jorik’ sou hierdeur minder skerp profiel gehad het, maar (veronderstel dat dit die geval wás) dit was verkiesliker as die metodologiese knoop waarvoor mens tans staan. Die hele opset van hierdie toetas na die klankbundel (waarvan die metriesritmiese die binnedraad uitmaak, byna die binddraad, vgl. die ruimte daaraan afgestaan) is om te sien hoe die klank hom verhou tot die ‘betekenis’, die ‘wêreld’ wat dit dra, en om aan die hand van hierdie verhouding vas te stel hoe die twee gedigte hulle ten opsigte van mekaar individueer. Die ondersoek wys uit (wat trouens te verwagte was) dat die klankmoment in die geval van ‘Trekkerswee’ veel losser opgeneem is in die liggaam van die gedig as in die geval van ‘Joernaal van Jorik’, waarin die klanklaag intiem gesentreerd staan op die betekenis, 'n Belangwekkende deel van hierdie ondersoek (pp. 31 vgg.) betref 'n aspek van die poësie van Totius (en mét hom: van dié van sy ander generasienote): die rol van die ‘skema’ daarin. Die skrywer toon aan hoedat die skema by hom/hulle ‘oogprosodies’ is: dit nimeer veranderinge in die bewegingsverloop aan die buitekant van die vers (bv. in die strofevorm), nie aan die binnekant nie; die prosodie het 'n ‘ekstrafunksie’. Veranderinge in die bewegingsverloop word nie in die klank en in die metrum geregistreer nie, maar in die ‘kontoere’ van die vers. Ten spyte van 'n groot verskeidenheid en wisseling van prosodiese skemas gaan bv. die ritme in ‘Trekkerswee’ plooiloos sy gang: dominerend jambies. ‘Die prosodie (is) in “Trekkerswee” alleen gedeeltelik intern gerig; vir 'n groot deel is dit so te sê na “buite”, ekstern gerig, ingestel op die skelet van die strofevorm, wat 'n ekstra-funksie het’ (p. 50). In ‘Joernaal van Jorik’ heers net die teenoorgestelde toedrag: by handhawing van 'n betreklik gelykvormige prosodiese skema is daar 'n uiters pril reageer van die klank en die metrum op die geringste wisseling van die verloop. - As hierdie onderskeiding sou moes beteken dat die versvorm by Opperman nie ook 'n ‘oogprosodiese funksie’ het nie, dan sou dit te wyte wees aan die wil tot kontrastering in die vergelykingsondersoek. Want in Opperman se vers gebeur fundamenteel dieselfde ding, net onopsigteliker. Dis die verskil tussen hom en Totius: die verskil in opsigtelikheid. Vergelyk hoe in die volgende geval daar (‘oogprosodies’) nie alleen 'n invaar is in 'n nuwe see nie, maar ook in 'n nuwe strofe: (Jorik dink aan die vroeë ontdekkingsreisigers en sien dan) | |
[pagina 319]
| |
‘as geen geloof en geld hul verder por
maar seemis en die stof van die woestyn
meng in die storms by Kaap Bojador
en grys die valle van die groot gordyn
oor allereinders van die aarde hang
en bose voëls en engele van ons skei,
Gil Eannes, bot en bruin, sonder 'n bang
haar op sy kop, 'n ent met sy gallei
nog verder vaar...’
(‘Joernaal van Jorik’, pp. 7/8).
Miskien is na aanleiding van hierdie hele saak (die gesentreerdheid van die klanklaag op die woordbetekenis - in die geval van Totius: die ‘eksterne’ gehoorsaming aan die bewegingsverloop, in die geval van Opperman, die ‘interne’ gehoorsaming daaraan) dié twee fundamentele vrae nie volledig deurdink nie: (1) Is daar in die vers nie altyd 'n gerigtheid op 'n ‘prosodiese skema’ nie - omdat hy vers is?, en (2) Hoe ver kan hierdie gerigtheid ‘gelenig word’ en die vers nog vers bly - m.a.w. wat is die limiet van die ‘realisme’ wat die ritme en die klank hulle in 'n vers kan veroorloof? Hierdie vraagstelling word, in die geval van Totius, esteties beslis: dat die klanklaag ‘nie intiem op die woordbetekenis gesentreerd is nie’ (p. 51, my kursivering). Sou dit, korresponderend, in die geval van Opperman moet lui: dat die klanklaag (insonderheid die ritme) ‘te intiem op die woordbetekenis gesentreerd is’? Die tweede groot opsig waarin die twee wêrelde van ‘Trekkerswee’ en ‘Joernaal van Jorik’ met mekaar gekonfronteer word, is in die struktuur van hul tydruimtelike wêrelde (Hoofstuk III). Die wêreld van ‘Trekkerswee’ word onder die aspek gesien van ‘Isolasie’, ‘Joernaal van Jorik’ onder dié van ‘Sirkulasie’. Waar in e.g. bv. historiese tydvakke (drie wel-onderskeie periodes in die geskiedenis van die Transvaalse Afrikaner) as ‘teengesteldhede’ teenoor mekaar opgestel word, hulle in isolerende teëstelling teenoor mekaar besonder, daar staan die ruimte en tyd van l.g. onder hiérdie sentraalaspek: ‘Hy weet met die weerkaatsings in die ruit
vlakke van beelde skuif deur alles heen
en niks is in sy tyd en stof gesluit
maar alles stroom deur grens en een aaneen’
(‘Joernaal’, p. 15).
Insiggewend word hierdie verskillende ordening o.a. geïllustreer aan die hand van die gebruik van eiename deur die twee gedigte: in ‘Trekkerswee’ word name ‘absoluut’ gebruik, in ‘Joernaal’ ‘betreklik’. In Opperman se werk word name, ‘om dit so te noem, nie individualiserend gebruik nie, dit wil sê: hul noem die persone en plekke nie in afsonderlikheid, geÏsoleerdheid nie, dus: nie as groot en vernaam nie (wat hul kán wees as hul afsonderlik of op een vlak soos in Trekkerswee gebruik word); uit hul gelokaliseerdheid, uit hul milieu en tyd word hul losgemaak en bymekaargebring as kleinhede in die groot verband wat daar tussen hede en verlede, die nabye en verre bestaan’ (p. 114). Die wêreld van ‘Joernaal van Jorik’ is dan ook veel groter as dié van ‘Trekkerswee’. Die twee slothoofstukke (‘Samehang’ en ‘Omvang’) tree nader op hierdie spek in: die omvang en samehang van die wêrelde van die twee gedigte. | |
[pagina 320]
| |
Uitgangspunt vir 'n vergelyking in hierdie twee opsigte is die kriterium wat Wellek en Warren aan die kunswerk stel, nl. ‘inclusiveness’, en wat in hom beslote hou: ‘“imaginative integration” and amount (and diversity) of material integrated... Provided a real “amalgamation” takes place, the value of the poem rises in direct ratio to the diversity of its materials’ (‘Theory of Literature’, p. 254). Eers (Hoofstuk IV) word die twee gedigte op die stuk van hul samehang beskou (dié is primêr, ‘grootte’ is 'n ‘ekstra genade’), en word die grotere digtheid van ‘Joernaal van Jorik’ aangetoon. Hierdie hoofstuk gee aanleiding tot 'n skitterende analise, veral van die inhoudsbetrokkenhede in genoemde werk, - die hoogtepunt van die boek. Die metode wat gevolg word, is dié van 'n ver deurgevoerde woord-analise. Sekere simbole en hul lotgevalle word noukeurig deur die gedig agtervolg. Die ‘Joernaal’ leen hom natuurlik op besonder gelukkige wyse tot hierdie manier van betragting. Daar is in hierdie werk, soos die skrywer dit stel, sekere woorde en begrippe wat soos bloedselle deur die organisme van die gedig beweeg en al die geledinge daarvan besoek: ‘skepe’, ‘vaderland’, ‘kaart’, ‘kryg’, ‘weerlig’, e.a. - 'n stel organies bewegende woorde wat as 't ware ‘die voetspore (is) van die gang van Jorik se lewe’ en wat 'n sterk sintetiese funksie het in die gedig (p. 142). Met hierdie woordbetragting is 'n metode gevind waardeur wydverbreide gebiede van die lang gedig in enkele sentra saamgetrek word en waardeur 'n oorsigtelike blik oor 'n groot geheel moontlik word. Die poging om ‘Trekkerswee’ ook onder enkele ‘motiefsterre’ saam te trek (bv. onder die aspek van die ‘fees’) lyk my minder verantwoord; gee in elk geval die skrywer geleentheid om sy materiale hier en daar te dwing, om signaleringe met te grote nadruklikheid te maak (soos hier en daar ook in die ‘Joernaal’; sou ‘brood en bier’ wèrklik ook op die Bybelse ‘brood en wyn’ terugspeel?). Maar mens gee jou gerus gewonne aan so'n knap-gevoerde analise. - In die slothoofstuk (V) word dan gedemonstreer hoe die verskil in ‘grootte’ tussen twee tydruimtelike strukture vasgestel kan word. Beide na ‘tyd’ en na ‘ruimte’ oortref die ‘Joernaal’ ‘Trekkerswee’ in ‘omvang’: Waar in l.g. ‘die Afrikaner’ sinoniem is met die Transvaalse burger van ongeveer die periode 1881 tot 1910 en sy geskiedenis begin by Jan van Riebeeck, begin die ‘Afrikaner Jorik’ se geskiedenis by die seevaarders wat ‘namens Necho na die onbekende gevaar het’ en is Suid-Afrika maar sy ‘oneintlike vaderland’, 'n ‘eiland in die ewigheid’. Die wêreld van ‘Trekkerswee’ is as 't ware in ‘Joernaal van Jorik’ opgeneem, is daarin as klein onderdeel beslote (in die vorm van die Wiesa-verhaal). Op grond van sy reeds bewese grotere hegtheid (in hoofdstuk IV) is ‘Joernaal van Jorik’ 'n ryker gelede struktuur as ‘Trekkerswee’ - 'n estetiese oordeel gebaseer op strukturele analise wat dr. Scholtz se metode hom prinsipieel me toegelaat het nie. Ons kan op hierdie stadium terugkeer na dr. Cloete se oorspronklike doelstelling: om twee werke sowel te ‘vergelyk’ (met die ‘eksklusiewe’ kant wat daaraan vassit) as om hulle ‘intern te deurlig’ (gehele te vergelyk). Sy metode in hierdie verband is duidelik 'n reaksie op dr. Scholtz se eis van 'n volledige ondersoek en verslag vir die analise, soos blyk uit een van sy stellinge: ‘Die stilistiek op linguïstiese grondslag kan vir die literatuurkunde die belangrikste hulpwetenskap wees, maar dan alleen as dit 'n metode ontdek waardeur die sogenaamde volledige analise van 'n taalsituasie oorbodig word’ (Stelling VIII). Maar hiermee het die ondersoek, altans wat sommige strata betref, 'n ongeoorloofde verbreding ondergaan. Dit blyk al uit sy opvatting | |
[pagina 321]
| |
van ‘geheel-beskouing’: om met die ondersoek elke werk (minstens) ‘in al sy strata (te) raak’ (p. 15). Sy metode van die betrap van verskillende Gestaltmomente in hul gelyktydige samespel lyk my die korrekte en soiets van 'n vonds; maar daarmee is sommige strata inderdaad alleen maar ‘aangeraak’. Hieruit spruit voort die skraal aanblik van selfs belangrike lae. Ons releveer alleen die skraal klankanalise. Die klank word alleen maar op een segment aangevat: sy verband met die betekenis en hoe dit in hierdie opsig in 'n samespel met die ritme betrokke is. Maar hierdeur ontstaan nie 'n beeld van die versmusiek van Opperman se gedig nie: die ‘georkestreerde’ daarvan, en nog nader: die byna Wagneriaanse orkestrasie, waardeur handelingslede en belangrike objekte deur middel van klanktemas aangekondig, geïndividueer word. Die gebruik en skerpte van die alliterasie is hiervan o.a. simptomaties. Die belangrike funksie van die rym in hierdie ‘betekenis-gesentreerde musiek’ word ook verwaarloos, o.a. sy kontrasterende en korresponderende betrek van handelingslede in die rymwoordpaar (veral e.g.). Ook die atomistiese in die klankbehandeling spruit uit hierdie skraal aanblik van die klanklaag voort (i.v.m. die. reël: ‘Waar warrelwinde uit naghemels maal’: ‘let op die herhaling van die w's en die r's’ - sonder om die oorkoepelende herhaling van die a's raak te sien of die digwewende van die patroon hierin), sowel as die ‘klanksubtilisme’ (hierin deur dr. Scholtz voorgegaan) op veel plekke (bv. pp. 67, 77/78 ens.). Die pendulum kan nie só ver weg van die (onmoontlike? ‘volledigheids’-ekstreem swaai dat dit die triviale ekstreem (in sekere aspekte van die klanklaag altans) benader nie. Die juiste oplossing van hierdie probleem vir die strukturele analise is hier nog nie getref nie. Die ander kwesbaarhede aan hierdie ondersoek hou nie so direk verband met dié metodologiese doelstelling nie, maar betref nietemin strategiese kante aan die aanpak. So maak 'n linguïsties wankel fondament hom deurgaans kenbaar. Die linguïstiese ondersoek in enger sin (die gramaties-sintaktiese verbande waarin die woord staan en die strukture wat hierop tot stand kom) behoort nie tot die sterktepunte van hierdie ondersoek nie. So word die lang sinsomspanning by Opperman (strofes en strofes in een sinstruktuur gevat) mede-verantwoordelik gehou vir iets wat ook op die betekenislaag gebeur: 'n spannende in verwagting stel van iets wat op 'n einde eers plaasvind. Dis 'n diens wat die sintaksis prinsipieel nie by magte is om te lewer nie, altans: die ‘simboliserende’ van die sintaktiese struktuur word hier oor sy grense gedryf. Oor die algemeen heers daar 'n (verstandige) linguïstiese timiditeit: die ondersoeker waag hom nie aan te veel nie. Tog moet hy hom hier en daar aan 'n foutiewe linguïstiese teorie, soos die volgende van Wellek en Warren, oprig: ‘The meaning of poetry is contextual: a word carries with it not only its dictionary meaning but an aura of synonyms and homonyms. Words not only have a meaning but evoke the meanings of words related either in sound, or in sense, or derivation - or even words which are contrasted or excluded’ angehaal op p. 124 na aanleiding van ‘veelduidigheid’) - iets wat ná Reichling tog seker nie meer moontlik moes gewees het nie? Die ernstigste ut in hierdie verband heers na aanleiding van sy ‘fraseringsanalise’. 'n Goeie vonds word hierdeur weer in die steek gelaat. Nadat die ondersoeker nl. die metriese substraat van ‘Trekkerswee’ vasgestel het (pp. 18-22), gaan hy, op 'n wenk van Wolfgang Kayser (‘Das sprachliche Kunstwerk’, pp. 105 en 110) daartoe oor om ‘'n ritmiese frasering van enkele versreëls te gee’ (p. 22). Dis 'n belangrike stap, iets wat tot dusver skromelik verwaarloos in vrywel alle metries-ritmiese analises: die spel van die ritme binne die streng | |
[pagina 322]
| |
kader van die metrum. Die fraseringsaangifte self is egter in hoë mate onbevredigend - omrede die gebrekkige linguïstiese wapenrusting. Daar is geen konsekwent gehandhaafde opvatting van wat 'n ‘frase’ is nie, met die gevolg dat wat op 'n sekere plek sintakties ‘onderkoepel’ is, op 'n ander plek weer as 'n geïsoleerde eenheid, as 'n aparte ‘frase’ opduik. (voorbeelde lê vir die gryp). Die gevolg is dat hieruit veel geleentheidsinterpretasies voortkom (talle voorbeelde van bevestiging van hoe Opperman ‘geagiteerd’ fraseer en Totius ‘gelykmatig’). Toegegee: daar is nog maar bitter min bekend op die gebied van die sintaktiese liëring, maar 'n konsekwenter handhawing van 'n bepaalde frase-begrip kon die ondersoek heelwat ontsporinge bespaar het. Hierdie foutiewe frasering is ook verantwoordelik vir die mees onbevredigende deel van die ondersoek: dié i.v.m. die verhouding tussen metrum en ritme (Hoofstuk II). Dit wil soms lyk asof die metrum en die ritme twee byna onafhanklike, outonome groothede is - anders, hoe kon 'n uitspraak soos hierdie voorkom (wat telkens gevarieerd herhaal word): ‘Die metriese en ritmiese dalings respektiewelik heffings val hier noukeurig saam’ (p. 26)? Waar kom die ritme in 'n vers vandaan? Uit die laag van die woorde? En waar kom die metrum dan vandaan? Ook tog daarvandaan? Een ding is in hierdie verband seker: metrum en ritme groei aan mekaar op, ‘teel mekaar voort’; die ritme ontvang, as ritme, sy aansyn van die metrum, d.w.s. van die metries-geordende woordereeks. Daar word ongelooflik atomisties geredeneer oor die plek van die woord, veral van die meersillabige woord, met sy woordgrens, in die metriese linie. Hoe dit moontlik is vir woorde met hul skerp pousegrense om in 'n metriese stroom opgeneem te word, bly na hierdie ondersoek so iets van 'n raaisel. Waarom bv. die metrum van ‘Trekkerswee’ nie netsowel trogeïes kan wees as jambies nie omrede die verbreide voorkoms van die tweesilabige woord met inisiale heffing en die grens wat hy daarmee om hom trek in veral die eerste reeks (‘Silwer Strale’), moet byna 'n inkonsekwensie heet (vgl. pp. 26/27). Hoe ‘stoer’ is die opvatting oor die ‘onomatopeïese’ van die ritme ook nie: die verwagting dat in 'n danspassaat alleen die woorde wat die dansbeweging sê, ‘dansende reliëf’ moet hê (pp. 38/39 en weer 76-78). Alle mistastinge op metries-ritmiese gebied kan teruggevoer word op 'n kernfout: die uiterste woordatomisme (waarin weer 'n juiste moment: die bestaan van 'n ‘pousesnit’ as gevolg van die woordgrens, ver bo sy kragte uitgehef word), en uiteindelik op nog 'n laaste bron: die onvoldoende inagneem van die sintagmatiese liëring, en die onsekerheid wat daar hieromtrent bestaan. Ten spyte egter van hierdie kwesbaarhede (veral Hoofstuk II) is daar veel wat ruimskoots hiervoor vergoed, veral die skitterende (woord-)analise van Hoofstuk IV en die vergelyking van ‘groottes’ in Hoofstuk V. Samevattend kan ons dan ook sê: 'n Markante-verskyning in die geledere van die geleidelik groeiende literatuur oor die strukturele analise, wat in 'n paar belangrike opsigte 'n wesenlike bydrae lewer in die soektog na die juiste metode vir die ‘immanente Deutung von Texten’.
F.I.J. van Rensburg. |
|