Taal en Tongval. Jaargang 48
(1996)– [tijdschrift] Taal en Tongval– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 76]
| |||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||||
Ernst Kotzé
|
- | faktore te identifiseer wat gemeenskaplik is aan die sosio-ekonomiese opkoms van beide taalvorme tot 'n hoogkonjunktuursvlak; en |
- | die ondergang van Middelnederduits te ontleed met die oog op 'n potensieel vergelykbare situasie van statusvermindering in die geval van Afrikaans. |
Soos gebruiklik, moet moontlike misverstande m.b.t. die veronderstelde betekenis van bepaalde terme uit die weg geruim word. Met ‘Nederduits’ word hier bedoel (a) die versameling spreektaaldialekte (‘Mundarten’) wat, hoewel op streeks- en lokale grondslag vormlik onderskeibaar, hedendaags oorkoepelend onder die naam Platduits (of onder Germaniste Nederduits) saamgegroepeer word teenoor Middel- en Opperduitse dialekte; en (b) die gemeenskaplike skryftaal bekend as Middelnederduits wat tydens die Hansebloeitydperk in die 14de en 15de eene tot stand gekom het as die resultaat van die konsolidering van 'n verskeidenheid dialekte wat vroeër uit Oudsaksies ontwikkel het.Ga naar voetnoot1 Ná die ondergang van Middelnederduits as prestigetaal
het die voormalige spreektaaldialekte in die vorm van die Nieunederduitse dialekte in wisselende omvang bly voortbestaan.
Die sosio-ekonomiese en taalsosiologiese omstandighede wat aanleiding gegee het tot die totstandkoming van Middelnederduits as eenheidstaal, en, vergelykbaar daarmee, die informeel gestandaardiseerde vorm van Afrikaans, word in Kotzé (1994a) uiteengesit en word nie hier in toto herhaal nie, behalwe dat twee relevante ooreenkomste kortliks uitgelig word. Ten opsigte van beide situasies geld naamlik die feit dat 'n relatief gestandaardiseerde taalvorm ontstaan het as gevolg van (in sosiolinguistiese sin) druk en verandering van onder: in die geval van Middelnederduits deur 'n statusverhoging van die spreektaal en verdringing van die tradisionele hoëfunksieskryftaal (Latyn), aan die Kaap deur die ontwikkeling van 'n gemeenskaplike spreektaal en die uiteindelike verdringing van Nederlands as skryftaal (in 1925) kragtens 'n politieke besluit. Die tweede ooreenkoms is dat kolonisering in beide gevalle onder 'n inheemse bevolking wat tot onverwante taalgroepe behoort het, plaasgevind het. Dit het daartoe gelei dat die inheemse bevolking, ná 'n tydperk van tweetaligheid, 'n nuwe taal as moedertaal aanvaar het wat op dié van die koloniseerders gebaseer was en sigself reeds vroeg in verskillende plaaslike variëteite gemanifesteer het. Ter aanvulling kan ook gemeld word dat die vorm van die bogewestelike taal wat uiteindelik ontwikkel het, in beide gevalle grootliks die resultaat was van 'n koineïseringsproses (soos in Kotzé 1994a aangevoer) tussen onderling verstaanbare dialekte, dan wel dialekte wat heteronoom is ten opsigte van 'n oorkoepelende taal. Aan die Kaap die Goeie Hoop sou onderling verstaanbare dialekte spreektaaldialekte vanuit beide die Nederlandse en die Nederduitse taalgebiede insluit (m.a.w. langs die Saksies-Nederfrankiese dialekkontinuüm), terwyl die kolonisering van die Oossee-Slawiese gebied ten ooste van die Elbe en Saale vanaf die 12de tot die 14de eene, waardeur die bakermat van Middelnederduits gevestig is, gesamentlik deur Nederlandse en Nederduitse boere onderneem is. (Peters 1983: 67)
Die sosio-politieke agtergrond by die totstandkoming van die Middelnederduitse ‘ryk’
Volgens Peters (1983: 73) het drie prosesse die oorgang van Latyn na (Middel-)Nederduits as dokumentasietaal veroorsaak, nl.
- | die politieke opkoms van die (‘ongeleerde’) laere adel, deur wie se onbekendheid met 'n Hoogduitse voorbeeld as model die noodsaaklikheid van Nederduitse dokumentering ontstaan het, |
- | die versterking van die streeksvorstedomme ná die ineenstorting van die |
Hohenstaufenryk, waardeur die Nederduitssprekende bevolking deur die nuwe staatsvorm geakkommodeer moes word; en | |
- | die opkoms van die stedelike burgerstand, wat hulle medium van kommunikasie met die adel en streeksvorste by die voorkeure van die hoëre instansies moes aanpas, en sodoende na Nederduits moes oorslaan. |
Samevattend sou 'n mens dus kon sê dat die status van 'n spreektaalvariëteit (of -variëteite) verhoog is deurdat die sosiale posisie van die sprekers daarvan verhoog is en daar hoëre funksies aan dié taalvorm toegeken is, waarvan skriftelike kommunikasie in die Middeleeue uiteraard 'n kernaspek was. As gevolg daarvan het daar 'n onderling verstaanbare skryftaalvorm tot stand gekom. Hierdie skryftaal het 'n vorige lingua franca (wat geeneen van die gebruikers se moedertaal was nie) verdring.Ga naar voetnoot2
Die behoefte aan 'n lingua franca was 'n ekonomiese feit in die geval van die Hansestede, en die keuse van Latyn as 'n reeds beskikbare kommunikasiemedium met buitelandse vennote was voor die hand liggend. Daarom is daar moeilik afgesien van Latyn, selfs in die verkeer met Nederlandse vennote (wat tot in 1380 nog in Latyn bedryf is). Die politieke druk van die kant van die adel en die vorste, iets wat uiteraard ook ekonomiese implikasies gehad het, en die ontwikkeling van 'n gemeenskaplike skryftaal tussen die Hansestede onderling het egter uiteindelik aanleiding gegee tot die aanvaarding van Nederduits as nuwe kommunikasiemedium.
Bloot oppervlakkig sou 'n mens reeds hier parallelle kon aantoon met die opkoms van Afrikaans as versameling spreektaalvariëteite, ondergeskik aan Nederlands asook Engels (wat 'n kompliserende faktor verteenwoordig), wat deur die verhoging in die sosiale status van sy gebruikers en ná 'n proses van verskrifteliking tot eenheidsvorm ontwikkel het en uiteindelik as gevolg van politieke druk die status van standaardtaal ontvang het. 'n Meer omvattende vergelyking word getref in Kotzé (1994a: 134-137). Wat vir die doeleindes van die artikel van belang is, is 'n beskrywing van die gebruiksfunksies van Middelnederduits, en, in aansluiting daarby, van die faktore wat gelei het tot sy ondergang.
Funksies en status - 'n vergelyking
Sodmann (1983) gee 'n goed gedokumenteerde uiteensetting van Middelnederduits as administratiewe taal, as universiteits- en skooltaal, as taal van
publikasie en van die kerk. Ook Gabrielson (1983: 119) verwys opsommend na die taal as ‘hansische Verkehrs- und Schreibsprache’ en dui die funksionele en territoriale status daarvan aan deur dit te bestempel as ‘nordeuropäische Großverkehrssprache von Brügge bis Riga und von Bergen bis Nowgorod’. Sonder om voor die hand liggende bewysmateriaal aan te voer, kan 'n mens konstateer dat Afrikaans, hoewel geografies en temporeel wêrelde verwyder van Middelnederduits, binne die taalgemeenskap van sy sprekers vergelykbare funksies verwerf het as wat hierbo t.o.v. die Hansetaal vermeld is. Vanaf die moment dat Afrikaans as ampstaal erken is tot die begin van die nuwe bedeling in Suid-Afrika in 1994, het hy algaande die volle spektrum van funksies vervul, as taal van wetgewing, administrasie, regspleging, onderwys en die kerk, en ook van die wetenskap en die letterkunde.
Maar vir Nederduits het die pendulum geswaai, en nie net het die taal sy hoë funksies verloor nie, maar ook die taalgemeenskap sy (relatiewe) eenheidskarakter, en het lokale heterogeniteit weer die oorheersende kenmerk van die konsep ‘Nederduits’ geword. Die faktore wat hierdie ommeswaai teweeggebring het, is deur verskeie navorsers gedokumenteer en sou mutatis mutandis 'n bepaalde voorspellingswaarde kon hê.
Oorsake van die ondergang
Die ondergang van Nederduits as taal van wyer kommunikasie kan aan sowel eksterne as interne oorsake toegeskryf word. Onder die eksterne oorsake tel faktore wat die lewensruimte vir die taal beïnvloed, terwyl sosio- en psigolinguistiese faktore t.o.v. die sprekers qua taalgebruikers as interne oorsake geag kan word.Ga naar voetnoot3 Middelnederduits het natuurlik nie bloot oornag sy funksies en sodoende sy bestaansreg as Hansetaal verloor nie. Omvattende politieke en ekonomiese veranderings in Noord-Europa wat die Hanseverbond ten nouste geraak het was 'n hoofoorsaak, wat in tandem met bepaalde houdingsveranderings en besluite deur die sprekers gelei het tot 'n nuwe oriëntering van die burgerlike kultuur van Nederduitssprekendes.
Met die totstandkoming van die Unie van Kalmar in 1397, waardeur die drie Skandinawiese koninkryke verenig is, het 'n tydperk van vriendskaplike betrekkinge (veral van die kant van Denemarke) met die Hanseverbond aangebreek (vgl. Von Brandt in Gabrielson 1983: 120). Dit was egter ná die Bloedbad van Stockholm in 1520 dat die nuwe heersers, Gustav Wasa van
Swede en Frederik I van Denemarke-Noorweë, begin het om die ekonomiese voorregte van die Hanse in Skandinawië in te kort. Die Hollandse konkurrensie, wat hieruit voortgevloei het, het op die welvaart van Lübeck en die susterstede in Noord-Duitsland 'n vernietigende uitwerking gehad (in 1565 het Holland bv. 92% van alle skeepsverkeer met Emden bedryf), en ná 'n gewapende konfrontasie met Denemarke (die sg. Grafenfehde vanaf 1534-1536) het die Hanse hulle dominansie in die Oossee finaal prysgegee. Die optrede van Tsaar Ivan III, wat reeds in 1494 die Handelskantoor in Nowgorod gesluit het, sowel as dié van Koning Edward VI, wat ong. 'n halfeeu later die voorregte van die Hanse in Engeland opgeskort het nadat Engelse seevaarders 'n noordelike toegang tot die monding van die Dwina ontdek en direk met Rusland begin handel dryf het, het verder bygedra tot die ineenstorting van die ekonomiese mag van die Verbond.
Deurdat die nuwe nasionale state in Wes-, Noord- en Oos-Europa toenemend gekonsolideer geraak en na hulle eie (veral handels-) belange begin omsien het, het daar 'n nuwe burgerstand ontstaan, wat die voormalige (monopolistiese) rol van die Hansekoopman begin oorneem het. Maar ook die Suid-Duitse stede, veral Nürnberg en Leipzig, tree tot die Europese mark toe, sodat die eens geslote Hanse-handelsgebied, draer van die Nederduitse skryftaal, nou wyd oopgemaak is na die suide en suidooste. Daardeur is die Hansegebied dan ook aan die kulturele, en spesifiek die talige, invloed van die Suide blootgestel.
As laaste eksterne oorsaak kan ook die verbrokkeling van solidariteit tussen die Hansestede onderling genoem word. Eie handelsbelange het toenemend voorrang geniet, sodat Lübeck, die laaste Hansestad wat in die tweede helfte van die 16de een nog as sodanig sy handelsbelange in die Oossee wou beskerm, by 'n Hansekonferensie in 1566 in die steek gelaat is nadat sy handelsvloot in 'n storm langs die Gotlandse kus feitlik totaal uitgewis is en hy vergeefs by die ander Hansestede om hulp gevra het.
Die kulturele agteruitgang by die Nederduitse taalgemeenskap word in besonderhede deur Gabrielson (1983: 123-125) beskryf, en as aanleidende oorsaak word die houding van die Hanse-burgerstand teenoor hulle politieke en ekonomiese agteruitgang, wat hy as 'n ‘Rentnergesinnung’ (pensioenarisgesindheid) beskryf, aangevoer. Vroeg ná die begin van die 16de een (volgend op die dood van die Lübeckse skilder en beeldhouer Bernt Notke) word ingevoerde kunswerke, waarby ook letterkunde en argitektuur gereken word, toenemend as normbepalend geag. Hoewel daar op letterkundige gebied met die draai van die een 'n opflikkering merkbaar is, bv. deur die werke van Hermann Bote (uit Braunschweig), lewer die res van die een niks meer van hoogstaande gehalte op nie.
Hierdie gesindheid van apatie by die burgers teenoor hulle eie kultuur lei uiteindelik tot 'n negatiewe houding teenoor Nederduits en 'n nuwe oriëntering teenoor nie net die waarde van Hoogduits vir die handelspraktyk en die regsweseGa naar voetnoot4 nie, maar teenoor alles wat ‘van elders’ is. Gabrielson praat van 'n ‘größere Aufnahmebereitschaft’ teenoor intellektuele strominge uit Suiden Middel-Duitsland, waarby veral die Humanisme bedoel word. Dit het ook 'n nuwe instelling tot opvoeding in den brede meegebring, 'n breër wêreldbeskouing, sodat toekomstige regsgeleerdes, teoloë en sakemanne na Hoogduitse universiteite gestuur is, iets wat benewens die praktiese voordele wat vaardigheid in Hoogduits ingehou het, ook bygedra het tot die status van sulke studente.Ga naar voetnoot5 Vir sakemanne uit Hamburg was dit bv. teen die begin van die 17de een gebruiklik om hulle seuns reeds op skoolgaande ouderdom vir 'n tydlank na Leipzig te stuur ter wille van ‘die taal’.
Die verandering in taalhouding is wel nie deur alle burgers gelate aanvaar nie. Daar was sterk vermanings deur geleerdes soos Nathan Chytraeus en die digter Johann Lauremberg, wat egter nie daarin kon slaag om die Nederduitsers se veragting van hulle eie taalGa naar voetnoot6 of die ‘modische Sprachmengerei’ (Sodmann 1983: 127) op te hef nie. Deur taalkontak het daar naamlik ook 'n groot mate van leksikale en strukturele wysiging van Nederduits in die rigting of op die patroon van Hoogduits plaasgevind. Die Hamburgse geskiedskrywer Albert Krantz stel dit bv. so:
Es heben itzt auch an die unsrigen sich zu befleißigen den oberen Deutschen ihr Kirren nachzureden. (Sodmann 1983: 126)
Die abdikasieproses self en die oorgang na Hoogduits het gemiddeld 20 tot 30 jaar geduur vir enige gegewe stadsadministrasie, hoewel Nederduits vir bepaalde teikengroepe egter nog tot 1700 (bv. in die geval van die sg. Hamburger Bürgereid) 'n amptelike taal gebly het.
Die talige resultaat
Met die statusverlies van Middelnederduits as skryftaal het Nederduits wel as algemene omgangstaal bly voortbestaan, maar omdat die bogewestelike skryfstandaard verval het, het daar nou slegs 'n konglomeraat van spreektaaldialekte oorgebly, wat die omgekeerde waarde van die spreekwoord ex unitate vires onderstreep het. Volgens Sodmann het daar by elke streeksvariëteit twee vorme van Nederduits voorgekom, nl. Plattdeutsch (of gewoon Platt) en Missingsch. Platt was onmiskenbaar Nederduits,Ga naar voetnoot7 terwyl Missingsch (ook soms Messingsch genoem) 'n onvolkome nabootsing van die Oosmiddelduitse skryftaal, Meißnisch (Nederduits Missnisch) verteenwoordig het - dus 'n niestandaardvorm van Nederduits wat 'n duidelike neerslag van taalvermenging verteenwoordig en sy eie variëteite opgelewer het. Die funksie van Missingsch in literêre konteks was uitsluitlik satiries-humoristies, soos bv. in die verhale van Fritz Reuter uitgebeeld, en die skryftaalfunksie is vir die hoë funksies deur Hoogduits vervul.
Afrikaans en Middelnederduits - taalpolitieke raakpunte
In die nuwe politieke bedeling waarin Afrikaans hom tans bevind, tree daar interessante parallelle én kontraste met die lotgevalle van Nederduits na vore wat moontlik lig kan werp op universele tendense by die groei en kwyn van tale (of ‘taalryke’). Net soos in die geval van Middelnederduits, word hier ook gekyk na eksterne en interne faktore, m.a.w. faktore wat die lewensruimte vir die taal beïnvloed, sowel as sosio- en psigolinguistiese reaksies by die taalgebruikers self.
In die komplekse talesituasie waarin Suid-Afrika reeds voor die inwerkingtreding van die nuwe tussentydse grondwet verkeer het, het Afrikaans en Engels onderskeidelik as tale van wyer kommunikasie vir nasionale en internasionale kommunikasie opgetree, terwyl die ander inheemse tale (d.w.s. Ndebele, Sepedi, Suid-Sotho, Swazi, Tsonga, Tswana, Venda, Xhosa en Zulu), hoewel gestandaardiseer en as ‘amptelik’ beskou binne die grense van die etnies afgebakende gebiede, hoofsaaklik regionaal beperk was. Met die nuwe staatkundige bedeling is nie slegs politieke poste deur voormalige uitgewekenes (wat in die meeste gevalle 'n Engels-geöriënteerde opleiding in die buiteland ondergaan het) gevul nie, maar ook die administratiewe topstruktuur van die Staatsdiens, sodat Engels binne 'n kort tyd ook die rol van taal van wyer kommunikasie op nasionale vlak begin speel het. Hoewel
die elf hooftale van die land konstitusioneel as gelykwaardig geag word, het Engels die voormalige posisie van Afrikaans geüsurpeer (bykomende tot sy eie voormalige posisie) en geniet Afrikaans steeds minder van die lewensruimte wat hy voorheen gehad het as voertaal in die Staatsdiens, die openbare uitsaaier, die vervoerwese, die onderwys en in wetgewende liggame.
Saam met die politieke veranderings het daar ook dramatiese ekonomiese veranderings gekom, wat op taalvlak onder andere meegebring het dat die personeel van maatskappye deur ‘regstellende aksie’ gediversifiseer is, aangesien die bestaan van oorwegend Afrikaanse firmas as anachronistiese enklawes gebrandmerk is. Die gebruik van Engels as enigste medium oor 'n wye spektrum, vanaf die verslagtaal in die jaarverslae van maatskappye tot enigste etikettaal op die produkte van sommige vervaardigers (waar Afrikaans ook voorheen gefigureer het), is verdere tekens dat, in teenstelling tot die politieke voorneme om alle inheemse tale te bemagtig, daar 'n voortstuwende neiging is tot eentaligheid om die kompleksiteit van die Suid-Afrikaanse taleopset te vereenvoudig.
Op die vlak van eksterne oorsake skyn dit dus asof daar sterk ooreenkomste bestaan tussen die vernouing van die leefruimte vir Afrikaans hedendaags en dié van Middelnederduits in 'n ander tydsgewrig, in beide gevalle ten gunste van tale van wyer kommunikasie waarmee hulle in konkurrensie was en op 'n stadium selfs in 'n voordelige verhouding gestaan het.
Meer deurslaggewend, egter, vir die finale abdikasie van Nederduits as ‘standaardtaal’ was die houding en handeling van die gebruikers self - eerstens t.o.v. die agteruitgang in ekonomiese welvaart van die taalgemeenskap, en tweedens t.o.v. die verlaging van die status van die taal waarmee hulle hul geïdentifiseer het. Hierbo is melding gemaak van 'n ‘pensioenarisgesindheid’ en apatie teenoor die eie kultuur, wat uiteindelik gelei het tot 'n negatiewe houding teenoor Nederduits en 'n nuwe benadering teenoor Hoogduits en die praktiese voordele wat identifikasie met dié taal inhou.
Die interne faktore wat in die geval van Afrikaanstaliges kan lei tot 'n verandering in die funksies en status van die taal toon, benewens opmerklike verskille, ook treffende ooreenkomste. Twee houdingsfaktore kan hier 'n rol speel: Waarskynlik as gevolg van 'n diepliggende skuldgevoel oor die bevoorregte posisie wat Afrikaans vroeër teenoor die ander inheemse tale geniet het, word daar by 'n groot deel van die taalgemeenskap weens pragmatiese oorwegings veel toegeeflikheid ten gunste van die gebruik van Engels geopenbaar wanneer sprekers van dié tale deel van die geselskap uitmaak. Nog 'n rede is 'n persepsie van hoër taalstatus by Engels en 'n houding van minderwaardigheid teenoor Afrikaans. Die praktiese voordeel van vaardigheid in Engels dien by vele ouers as genoeg motivering om hulle kinders na skole te
stuur waar die enigste voertaal Engels is. In dié opsig is daar duidelike ooreenkomste met die Nederduitse situasie. Dit geld ook die patroon van taalverandering in Afrikaans wat daar a.g.v. taalkontak met Engels merkbaar is, nl. die leksikale en strukturele wysiging in die rigting van of op die patroon van Engels (vgl. Donaldson 1991).
Uit die openbare debat rondom die verlaging van die funksionele status van Afrikaans (o.a. in perspolemieke) is dit duidelik dat daar 'n bewuswording, of selfs 'n ontwaking, van taalidentiteit by Afrikaanstaliges is. Net soos in die geval van Nederduits, is daar 'n opflikkering op letterkundige gebied in die aangesig van die gevoelde bedreiging. Die Afrikaanse boekemark beleef 'n opbloei, en die ondersteuning van die Klein Karoo-Kunstefees, 'n jaarlikse saamtrek van Afrikaanstalige kunstenaars op Oudtshoorn, kan vergelyk word met 'n soortgelyke fees vir Engelstaliges op Grahamstad. Die Nederduitse situasie dien hier egter wel as 'n caveat dat 'n literêre opbloei nie noodwendig as teenvoeter dien vir funksionele aftakeling nie.
Die vernaamste en mees opmerklike verskil tussen die interne oorsake van die Nederduitse ondergang en die huidige situasie van Afrikaans is die mate van solidariteit, wat in aansluiting by 'n nuwe gees van massa-aksie wat in Suid-Afrika vaardig is, rondom Afrikaans aan die opbou is. Terwyl die pleidooie van Chytraeus en Lauremberg grootliks op dowe ore geval het, word oproepe tot bewuswording in die Afrikaanstalige gemeenskap nie slegs deur enkele individue gerig nie, maar is daar 'n toenemende aanvaarding by taalgebruikers uit alle lae van die taalgemeenskap dat daar inderdaad 'n krisissituasie bestaan. 'n Laaste balanserende feit is die konstitusionele erkenning van Afrikaans saam met die ander inheemse tale wat in 'n soortgelyke benadeelde posisie ten opsigte van Engels verkeer. Hierdie konstitusionele erkenning het o.a. neerslag gevind in die skepping van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad, wat, indien dit effektief sou blyk, instrumenteel kan wees in sowel die behoud van reeds verworwe funksies vir Afrikaans as die bemagtiging van die ander inheemse tale van Suid-Afrika.
Literatuur
Donaldson, B.C. | ||
1991 | The influence of English on Afrikaans: A case study of linguistic change in a language contact situation. Pretoria: Academica. | |
Gabrielson, Artur | ||
1983 | Die Verdrängung der mittelniederdeutschen durch die neuhochdeutschen Schriftsprache. In Cordes, Gerhard en Dieter Möhn, Handbuch zur neiderdeutschen Sprach- und Literaturwissenschaft. Berlyn: Erich Schmidt, pp. 119-153. |
Kotzé, E.F. | ||
1991 | Kreolisierung oder ‘normaler’ Sprachwandel? - Afrikaans und Mittelniederdeutsch im Vergleich. In Iwasaki & Shichiji, Begegnung mit dem ‘Fremden’, Grenzen - Traditionen - Vergleiche, Band 11. München: Iudicium Verlag. | |
1994a | Afsonderlik ontwikkel deur verbastering? - Afrikaans en Middelnederduits in die kreoolse konteks. In Olivier, Gerrit & Anna Coetzee (reds.), Nuwe perspektiewe op die geskiedenis van Afrikaans (opgedra aan Edith H. Raidt). Halfweghuis: Southern Uitgewers, pp. 130-138. | |
1994b | 'n Fonologiese verkenning van die Nederduitse dialekte - 'n Afrikaanse perspektief. In Van der Merwe, Chris et al (reds.), Rondom Roy - Studies opgedra aan Roy H. Pheiffer. Universiteit van Kaapstad, pp. 142-150. | |
Peters, Robert | ||
1983 | Mittelniederdeutsche Sprache. In Goossens, Jan, Niederdeutsch - Sprache und Literatur - eine Einführung, Band I: Sprache.. Neumünster: Karl Wachholtz. | |
Plooy, F.D. du | ||
1981 | Moontlike raakpunte tussen Platduits en Afrikaans. Potchefstroomse Universiteit vir CHO: Wetenskaplike Bydraes van die PU vir CHO - Reeks A: Geesteswetenskappe, nr. 41. | |
Rensburg, M.C.J. van | ||
1968 | Ooglopende raakpunte tussen Afrikaans en Platduits. In: Taalfasette 7: 46-47. | |
Sanders, Willy | ||
1983 | Die Sprache der Hanse. In Dialektologie: Ein Handbuch zur deutschen und allgemeinen Dialektforschung. Berlin: De Gruyter, pp. 991-1002. | |
Siegling, Eva-Marie J. | ||
1957 | Die Verwandtschaft zwischen Afrikaans und den niederdeutschen Dialekten Norddeutschlands. DLitt-tesis: Univ van Pretoria. | |
Sodmann, Timothy | ||
1983 | Der Untergang des Mittelniederdeutschen als Schriftsprache. In Goossens, Jan, Niederdeutsch - Sprache und Literatur - eine Einführung, Band I: Sprache. Neumünster: Karl Wachholtz. |
- voetnoot1
- Sanders (1983: 991) beskryf hierdie ‘überregionale Einheitlichkeit anstrebende Sprache’ dan ook vanuit 'n funksionele oogpunt as Hansetaal (‘Hansesprache’).
- voetnoot2
- Die benaming ‘skryftaal’ moet nie hier in die moderne sin, naamlik as 'n streng genormeerde en gekodifiseerde standaardtaal verstaan word nie. Duidelik onderskeibare skryftaaldialekte was ook 'n kenmerk van wat uit 'n moderne perspektief met die benaming Middelnederduits bedoel word.
- voetnoot3
- Vgl. Dollinger (1976: 344) se opmerking in dié verband: ‘Es ist merkwürdig, wie die Größe und der Niedergang der Hanse sich genau in der Ausbreitung und im Verfall des Niederdeutschen spiegeln.’ (Aangehaal in Sanders 1983: 991)
- voetnoot4
- Die Romeinse reg is in 1495 in Noord-Duitsland ingevoer, en daarvoor moes daar voortdurend met die Rykskamerhof in Speyer (waar Nederduits nie verstaan is nie) skriftelik gekommunikeer word.
- voetnoot5
- Gabrielson beskryf hierdie instelling in ekstreme terme: ‘... denn je mehr in einer Gemeinschaft das Bewußtsein einer eigenen, bodenständigen Kultur abnimmt, desto bereitwilliger ergreift sie die Kultur einer anderen, ihr geistig überlegenen Gemeinschaft, findet sie auch die Sprache dieser Gemeinschaft nachahmenswert’.
- voetnoot6
- 'n Duitse vertaling van Anneliese Bretschneider uit Georgius Torquatus, Annales XII, lui so: ‘Auf diese Weise machen wir seit den ersten Anfängen des Lebens und des Sprechens in Schule und Kirche jene fremdländische Sprache uns fast zur einheimischen, während unsre Muttersprache inzwischen verschmäht wird und allmählich in Ungewohnheit versinkt’ (Sodmann 1983: 116).
- voetnoot7
- Hoewel die Ripuariese en Nederfrankiese dialekte eweneens deur hulle sprekers ‘Platt’ genoem is, bv. Öcher Platt (Aaken) en Mölmsch Platt (Mülheim).