De Stem. Jaargang 19(1939)– [tijdschrift] Stem, De– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 953] [p. 953] Verzen Door C.M. van den Heever Die draad Jy soek die stilte waar die praat van mense net 'n preweling is en ligte vingers met 'n draad die lig verbind aan duisternis. En in jou brand 'n helder sin om vas verweef te word met God, maar steeds moet jy die sonde min en in jou sterflikheid verrot. Van nag tot nag 'n blink verglye, 'n helder, sondeurglansde draad, en dan die vreemde, verre swye waaroor die mense fluisterend praat. [pagina 954] [p. 954] Die wording Aan die see waaruit lewe en wording gekom het, het 'n mens toe veskyn, gesmee uit die eeue, aan sy voet was die laere waaruit hy geklom het en om sy hoof die gekrys van die meeue. Uit die chaos het hy tot 'n wese geryp met die aarde se stem in sy bloed en sy gees het opeens met 'n skreeu gegryp na God en Sy vreeslike gloed. En die skeuring was diep, want verblind en swaar van die hartstog het hy oor die heuwels gevlug, om opeens te gaan staan en dan droef te bedaar met die pyl van die smart in sy rug. In sy geheue is die verre opskemering van lewe, uit die lyding vergroei tot 'n vastheid van bou, maar die bloed wat nog rooi aan sy hande bly klewe, vul hom diep met 'n skuwe berou. En sy hoof weeg nou swaar in sy hande; sou God ooit gedink het deur wenteling van eeue, en eeue? Want hy is nou eensaam, verbind met die lot, en om sy hoof is gekrys van die meeue. [pagina 955] [p. 955] Die ewenaar Die dae is lank en wit die son daarbo, die hemel diep deurbrand met gloed, en om my is die staal-blou kabbeling waaroor 'n enkel seemeeu spoed. Op skuimende brander-kruine spring 'n ry goud-glansende seevarke plonsend neer, en stadig vlam die dag in gladde vertes weg en selfs die boot se skuim sien ek nie meer. Ek dink aan daardie meeu bo eensaam seë, ek, hier by die ewenaar, op weg na huis, ek sien die see van lug geskei en bo die kim daar glans opeens - O wonder! - die Suiderkruis! Vorige Volgende