De Stem. Jaargang 19(1939)– [tijdschrift] Stem, De– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 691] [p. 691] Verzen Door W.E.G. Louw Maria Deur daardie tuintjie het sy stil gegaan, haar hande need'rig oor haar bors gevou, toe hy, verblindend soos die son, daar staan... Drie witte lelies het hy in sy hand gehou. Half-skaam, verleë, het sy opgekyk en is opeens met grote vrees bevang: sy oë het van haar nie afgewyk, sy vleuels het oor heel die tuin gehang. ‘Geseën is jy onder die vroue’ - sy woorde - of was dit winde? - verruis nog in haar oor, toe hy teen die son in goue vlug verdwyn... Sy het haar neergebuig en half-versmoorde klein snikkies in haar hart gehoor, van verlossing reeds die vreugde en die pyn. [pagina 692] [p. 692] Thomas In sy verlate hart was daar alleen die diepe pyn wat stilte ken nog vrede; vrees en jammer wat nie meer kan ween, twyfel en wanhoop klaag in sy gebede... Die sware deure was teen Hom gesluit - hoe kon hul weet dat in die hoogste nood Hy sou verskyn, deur graf nog steen gestuit, verheerlik in herrysenis uit die dood? Die seën word stil gegee: hy sien die Hande, twee vlamme, wat rooi soos bloeisels bot: hy voel hoe al die swakheid, al die bande breek, en roep: ‘My Here en my God!’ Uit bo die haelwit engtes van die tyd die kreet, die erkentenis en dié verwyt... [pagina 693] [p. 693] Paulus Deur haat en ywer voortgedryf, het hy, met sendbrief en die priesterlike seën, gegaan om in Damaskus te bely die Wet van Moses teen die Nasareen, toe voor die hoë poorte van die stad, soos neteldoek die hemel opeskeur in vlamme... Ruggelings val hy op die pad en hoor 'n Stem wat roep die duisternisse deur: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My’ - Dit was dieselfde Stem... In blinde vrees reik hy dan bewende die hande uit en weet die stryd teen Hom is uitgestry: hy voel hoe in sy hart die Heilige Gees die krag en taal van engele ontsluit... [pagina 694] [p. 694] Die liefde van god Hoe anders het ek my alles voorgestel! Met hoeveel vrees die grote dag verwag dat U my in U sterke greep sou knel, en alles van my afval, trots en krag! Maar U het in geen storm tot my gekom, geen grote wind, geen witte hael wat sny in steile vlae oor die boom in blom - daar was geen stryd wat ek teen U moes stry: U het alleen die meulsteen afgerol van hierdie hart, dat weer die helder bron, soos vroeër, stralend-blink en vreugdevol kon opstoot en verwaai in wind en son. Ek weet dat in die grond van my gemoed U liefde weer die springaar vul en voed. Vorige Volgende