De Stem. Jaargang 19(1939)– [tijdschrift] Stem, De– Gedeeltelijk auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 574] [p. 574] Verzen Door W.E.G. Louw Vergeefse vlug Langs alle weë het ek heen gevlug om aan dié Liefde te ontkom: oor berge en bosse wat opspring teen die wolke en lug, deur klowe waar die weerklank roep en terge... en langs verlatenhede van son en sand, waar eindeloos, in sware branding sing die onrus van die see oor steen en strand, ag, àlle stemme was herinnering! In alle winde was dié ene Stem wat roep, dringend, nie meer te ontkom; Sy liefde het my in die slaap beklem, Sy Oë was in elke ster en blom: ek staan verslae, ek kan vooruit nòg t'rug, en weet dat ek Hom volg terwyl ek vlug! [pagina 575] [p. 575] Gebed Deur kettings aan die aarde vas geklink, en weerloos teen die drif van ongebonde, blinde luste, arm, naak, vermink, en in my diepste suiwerheid geskonde, roep ek tot U, my God, in angs en nood: U ken dié drang en drif, wat Self, verkneg, as mens, met honger, bittere dors en dood voor God die stryd op aarde moes besleg. Verstoot my nie, laat my nooit weer alleen, laat my vertrou en in geloof U dien opdat ek eenmaal, eind'lik en vergoed, die duisternis sien skeur in goue reën, en in die rooie mantel van U bloed van aangesig tot Aangesig mag sien. [pagina 576] [p. 576] Getuienis My hande sal ek ophef en getuig voor God en mens van hierdie wonderlewe: sal dan in hierdie Skepping ek alleen gevind word wat Sy Wil durf wederstrewe? Uit die voorste kranse van die ewigheid het Hy Sy hoë Woord tot my gespreek, en kyk: Sy sterre vlam getuienis, Sy Wet is dit waarteen my wil hom breek! Wyding Laat my nou eindelik sterke woorde spreek, van nou af aan totdat die stille dood dié lewe in sy hand sal vat en breek, soos eenmaal Hy, gewyd, die offerbrood. Blomme Ek spreek verward uit blinde stof en rig my hande tot die leë hemele op, of daar nie met verblindend-pure lig Gods liefde uit sal breek in knop op knop: die witte lelies van Sy tederheid, die rooie rose van Sy kosbaar bloed, windkelkies van Sy nederigheid en sonneblomme van Sy goue moed. [pagina 577] [p. 577] Stadsgesig Hier voor my venster strek die kalm blou in klare koepeling oor die huise uit; strakke gewels en dakke ry aan ry tot waar in vlakke wei die lyn vergrou. So stil strek hierdie lewe voor my uit, so onomstootlik lê die dae voor, die dade wat my hand nog sal verrig totdat my hart in volle vlug sal stuit... Vorige Volgende