| |
| |
| |
Twee eseltjies
Door W.J. du P. Erlank
Jaffie, die kleinste van die twee eseltjies, voel nog moeg na die wilde vaart. Sy neusgate spalk nog wyd, sodat die binneste haartjies elke keer op die rand van die uitgang kom en weer vinnig terugspring. ‘Kom nou, kom nou...’ Sy oom Vaaltyn, 'n heelwat ouer esel, mens kan dit sien aan sy gebarste hoewe en aan die swart kaalkolle op sy blad en sy knieë, - sy oom Vaaltyn probeer die oudjie tot bedaring bring deur hom te kieliebyt op sy skof. Maar Jaffie bly nog skrikkerig, en as daar net 'n droë blaartjie vóór hom ritsel, of 'n donsveertjie verbywaai, skiet sy ore vinnig vorentoe.
Hulle staan onder 'n groepie jong kameeldoringbome, 'n paar honderd tree van die skoolgebou af. Die klok het alweer gelui en die kinders is alweer in die skool, sodat 'n eseldier nou tog sonder ergernis kan skuil in die skaduwee. Onder die lekker gekriewel op sy kruis het Jaffie ook weer tot bedaring gekom, en sy Oom Vaaltyn dink dis nou die geskikte geleentheid om vir hom die Levitikus voor te lees.
‘Dit betaam nie 'n esel van jou afkoms nie, Jaffie, dit betaam jou nie om die wêreld so onfatsoenlik te skeur nie, ou seun. Dink aan jou mama, oorlie Nig Mamra, wat voorverlede botterblomtyd aan die papies dood is. Dit was vir jou 'n eselsvrou, so bedaard, soos hier nie nog een op Vlakplaas loop nie. Al die sambokke en rosyntjieboslatte van die ganse wêreld kon haar nooit haar fatsoen laat verloor nie. Onder al die geslaan en gesteek en geskreeu van Rooi Martiens Coertze se kinders - en jy weet die Coertzes hèt groot bekke, en hulle kan venynig slaan met 'n horssweep, - maar onder al hulle aanjaery het oorlie Nig Mamra eenselfde stil draffie gehou, smorens skooltoe en smiddags huistoe. Sy het haar nooit eers verwerdig om 'n stert te swaai of 'n oor te trek nie. Ai, Jaffie, dit was vir jou 'n eselsvrou met 'n geaardheid daardie. Net daardie tydjie toe jy gebore is, het daar so'n
| |
| |
ietsie van 'n onegaligheidjie in haar lewe gekom. Hulle het jou mos smorens by die huis gehou, en dan het jou mama so'n bietjie vas-stekerig getrek, sodat ek haar 'n paar keer moes vermaan: “Toe dan, Nig Mamra, ek kry swaar so alleen!” Ek sou dit ook nie eers gedoen het nie, maar Rooi Martiens Coertze se pokkels van meisiekinders het nog skoolgegaan, en die ou karretjie was te swaar vir my alleen. En smiddags, met die huistoe gaan, het dit weer gelyk of jou oorlie mama die karretjie met Rooi Martiens se swetterjoel Maailand-toe toe wil trek. Om haar nie weer te vermaan nie, want dit lyk so rusie-soekerig, het ek dan maar altyd bietjie op die disselboom geleun. Ek noem die dingetjies nie om oorlie Nig Mamra by jou swart te smeer nie, maar net om te wys hoe uitsonderlik dit was, want sy was vir jou, soos ek gesê het, 'n eselsvrou met fatsoen.’
Toe Oom Vaaltyn sy mama se naam noem, het 'n lang traan in die uitloop van Jaffie se oog afgedrup en 'n klompie vlieë verwilder, wat daar gesit en brak het. Van pure skaamte het hy sy kop laat sak na die koelte van sy oom Vaaltyn se lies. Dit het net een oomblik gelyk of hy weer opstandig wil word: hy het met die hoef van sy regtervoorbeen gestamp op die grond, en sy stertjie het 'n paar vinnige swaaie gegee, hoewel daar nie 'n perdevlieg in die hele buurt was nie, en hy het deur die eenkant van sy mond gesê: ‘Ja, maar Oom Vaaltyn, daardie blik wat die kinders vanmore aan my stert gebind het...’
Oom Vaaltyn het hom nie laat uitpraat nie. ‘Jaffie!’ - sy byt op Jaffie se rug was bietjie harder as kielie - jy moenie vir my kwaad maak nie, ou seun. Jou oorlie mama en ek het saam getrek, behalve... nou, jy weet dit al, daardie een keertjie... en ek voel die plig van 'n vader teenoor jou, al is Ribbok van Maans Scholtz jou eintlike vader. Maar hy steur hom nie aan jou nie, soos jy self sien. Kyk, daar by die beeskraal, kyk hoe manhaftig ja hy die ander esels uitmekaar. Nee, steek maar weer jou kop onder jou oom se lies in, dis nie dinge vir 'n seun nie. Wat ek wou gesê het, jy het meer die sedige aard van jou moeder, en jy moet haar waardig bly. En nou daardie gedoente van vanmore, die dol hardlopery, en die skoppery na die blik, en dan daardie skrikskote in die lug, hoe sal ek sê... jy het 'n harde skrik, Jaffie, en dit
| |
| |
voor die esels van Driefontein. Het jy gesien hoe Ribbok gerol het van die lag, en die skoolkinders? Ek kon die dikkopsiekte kry van woede.
‘Ribbok het ook maar noudiedag hardop geskrik, Oom Vaaltyn.’
‘Reg, ou seun,’ - oom Vaaltyn gee Jaffie 'n ordentelike hap op sy nek - maar wie's Ribbok altemits, wat is die hele klomp esels van Driefontein? Het een van hulle 'n mama gehad soos oorlie Nig Mamra? Jou pa was nou wel sommer so, maar dis niks, dis 'n esel se ma wat tel, want 'n ma maak nooit 'n baster nie. En wat is die Driefontein-spul? Basters, almal, sommer hierjy se optelgoed. Kyk hier op my skof. Ja, byt sommer bietjie, noudat jou mond tog daar is, bietjie hoër, nog bietjie hoër, maar byt, kêrel, byt, dis nie perdevel wat ek op my skof het nie... so, sò ja, sò, dis nou genoeg. Wat ek wou gesê het, sien jy die swart kruis wat ek op my skof het? Die een streep loop dáár van my stuitjie af en dood in my maanhaar; en die dwarsstreep lê soos 'n saalband oor my skouerblaaie. Kan jy sien, dis 'n kruis, so duidelik of jy hom met houtskool getrek het. Van houtskool gepraat, ons kan netnou bietjie daar op die ashoop gaan rol, dis goed vir die jeuk.’
‘Wat se kruis is dit, Oom Vaaltyn?’
‘Ha-ha-ha! Verbeel jou, hy vra wat se kruis is dit, die seun van oorlie Mamra, en hy weet dit nie! Dis die kruis van adel, Jaffie, die kruis van my adel. Jy het ook so'n kruis, nie so duidelik nie, dis waar, jou vader... maar dis nie jou skuld nie... as hulle my nie alte vroegtydig... maar laat ons dit nou maar vergeet. Jou moeder was tenminste opreg, met 'n kruis, so suiwer getrek soos jy maar kan kry, dáár van die puntjie van haar pragtige stert af. Ai, sy was 'n vrou honderd! Maar sy is dood voor sy die eer kon hê van die groot dinge wat nog moet gebeur.’
‘Wat se groot dinge moet nog gebeur, Oom Vaaltyn?’
Jaffie staan nou met sy kop onder Oom Vaaltyn se ken, want sy oom kan so lekker vertel uit die voorgeskiedenisse van die esels, veral die esels van hulle geslag.
‘Ek kom nóu daarby. Sê my eers, het jy by een van die Driefonteiners so'n kruis gesien soos die wat ons het, veral myne? Nie? Nou jy sál dit ook nooit sien nie. Dis mos almal
| |
| |
van die ou swart eseltjies, onstigtelike goed - nee, Jaffie, moenie daarheen kyk nie, my seun - en die kruis op hulle skofte is mos dofswart, asof dit 'n fout was wat weer uitgevee is. Dit wás ook 'n fout, want nie een van hulle het reg op 'n kruis nie; dit kom net ons geslagte toe, ons vaallyf-esels. En dit sal die hele wêrels eendag weet, as die groot dag eers daar is, maar ek loop te vinnig vooruit... Kyk, jou oorlie mama en ek, en déur ons - mens kan maar sê deur my ook, want jou mama en ek het tenminste darem saam getrék - déur ons het jy ook die adelkruis van die vaallyf-esels. Dis 'n ereteken wat ons geslagte oorgehou het uit die jaar ginter. Ons het dit gekry in 'n baie vèr land, og, baie verder as die plaas waar ons noudiedag die sak broodmielies gaan haal het. En jy sal onthou, ons was toé al nat van die sweet. As ons nou nóg 'n maal so vèr gery het, tot ons wáternat was van die sweet, dan, kan jy maar sê, sou ons nog nie eers oor die eerste bult na daardie vèr land-toe gewees het nie. Dis sommer baie vèr. Nou goed, van daardie vèr land kom ons famielie. Rooi Martiens Coertse se dogter, daardie dik Marja, het eendag die naam genoem; maar die mense weet niks en dit weet hulle nog verkeerd. In die vér land het dit gebeur, wat ek nou van praat. Ons ou oergrootjie - haar naam was anders, maar in die taal van daardie land het dit ook beteken Mamra, soos die naam van jou oorlie mama was - in ieder geval, ons ou oergrootjie het 'n vulletjie gehad, sommer nog 'n papperige ou dingetjie, want sy was nog maar 'n paar rusdae oud. Haar vaal haartjies het klammerig gekrul op haar lyfie. 'n Mooi ou dingetjie, en opreg, ook van vaderskant, maar nog sonder 'n kruis; dit kom eers later. Hulle het behoort aan 'n sekere Lewinog, 'n Jood uit daardie vèr land - want die Jode is ook van 'n ou geslag, nes ons vallyf-esels; jy onthou mos die Jood in
die dorp, waar ons noudiedag was, ons het nog 'n oop sak mielies in sy agterplaas gekry. - En die Jood Lewinog was hard op ou Oergrootjie, want hy het op haar heen en weer gery na Jerusalem.
Soe! daar het ek nou ingedagte die naam genoem, maar jy is oud genoeg om dit te weet, Jaffie. Net jou mond dig hou voor die Driefonteiners, want hulle sal dink dis 'n dorpie sommer hier-hier oorkant die vaalbosbulte, en dit sal 'n skande wees vir ons geslagte. Die mens wat groot dinge weet,
| |
| |
praat nie. Daarom was jou oorlie mama so stil van natuur. Luister hoe hiehaau so'n raasbek van 'n Ribbok. - Nee, luister maar hier, my seun, dis sommer 'n niks van 'n esel. - Soos ek gesê het, die Jood was hard op ou Oergrootjie, maar sy was 'n esel van geduld, wonderbaarlik, net of sy 'n voorgevoelte gehad het dat dit nog sou gebeur. Dit was die dag 'n groot gewoel in die strate van Jerusalem, nagmaal of soiets, en Lewinog het daarheen gery. Hy het nooit 'n byeenkomste gemis nie. Voor een van die winkels het hy afgeklim en ou Oergrootjie aan 'n paal vasgemaak, nie eers in die koelte van 'n boom nie, sommer so in die warm son. 'n Mens sou sê hy kon haar tog liewers gekniehalter het in die winkel se agterplaas, waar sy hier en daar tussen die sakke nog 'n ietsie kon uitsnuffel. Maar dit sou jammer gewees het, soos jy netnou sal hoor. Die ou lewe is baie ouer as ons esels, en hy weet partykeer baie beter wat goed is vir ons en ons nageslagte. Daarom het Lewinog vir ou Oergrootjie sommer aan die paal vasgemaak, in die bloedige son. En haar dogtertjie het hy langs haar vasgemaak, asof so'n ou melkdingetjie nou alleen die pad sou kies huistoe. Tog snaaks hoe verkeerd 'n ding partykeer moet loop om reg uit te kom!
Maar toe gebeur die groot ding: Uit die poort se kant kom twee vreemde Jode aangestap, sommer gewone Jode, met eenvoudige klere aan, maar met iets aan hulle - dit was nie hulle klere nie - dit was sommer iets, wat gemaak het dat die allerdaagse mense gaan staan en hulle agternakyk. Hulle stap reguit na ou Oergrootjie toe, en hulle begin Mamra losmaak. Die snaakste is, Oergrootjie was nie eers 'n oor se trek bang vir hulle nie, en Mamra ook nie, alhoewel sy nog 'n skrikkerige ou dingetjie was. Die een streel Mamra oor haar rug, terwyl die ander die riem losmaak, en sy hand was lekker sag, soos die lek van jou mama toe jy nog klein was. Toe hulle nog besig is, kom die Jood Lewinog uit die winkel uitgestap. Hy was 'n vername Jood onder die Jode, en kwaai, en almal was bang vir hom. Maar snaaks, hy wat anders so haantjie was met sy karwats, hy vrá díe keer voor hy slaan: ‘Hoekom maak julle my eseltjie los?’ En een van die twee manne sê vir hom: ‘Die Meester het hom nodig.’ Lewinog laat sy hand en sy karwats sak, sodat die mense op die stoep van die winkel verstom staan, want hy was 'n verkeerde man onder die Jode.
| |
| |
Toe hulle vir oorlie Eerste Mamra weglei, het sy nie eers teëgespartel, soos 'n jong eseltjie sal doen as hulle haar wegneem van haar mama nie. En ou Oergrootjie het net met groot oë van dankbaarheid haar kind agternagekyk. Dis snaakse geskiedenisse wat ek nou vir jou vertel, maar dis alles die reinste waarheid, want dit kom uit ou Oergrootjie en oorlie Eerste Mamra se eie monde, en die kruis op jou en my rug is die bewys. Maar ek kom nog daarby... Gee bietjie net zo'n paar kort vinnige happies op my rug, bietjie hoër, harder, àà, sò ja, sò ja, onthou dat ons netnou bietjie in die as gaan rol, die ou vreetplek van klein Martiens Coertse se karwats gee my vandag weer opdraande...
Waar was ek nou weer? Toe hulle vir Mamra weglei het, nog reg. Nouja, hulle het vir Mamra na die groot poort van die stad gelei, want om Jerusalem was 'n hoë soort kraalmuur, soos om ou Rooimartiens se fyntuin, net baie groter en hoër, en die hek van so'n baie groot kraalmuur noem hulle 'n poort.
Daar by die poort het een man, en nog 'n paar manne, en nog baie ander gewone mense gestaan. Maar die een man - dis die Meester wat hulle van gepraat het - daar was iets aan hom, ek weet nie wat nie. Hy het eenvoudige klere aangehad, maar sy gesig was bleek, soos die lig van die maan op 'n hawerland in die winter. En sy oë was groot, en hulle het groter geword, asof hulle die hele wêreld wou inneem. Mamra het dit goed onthou, sy het nog diep in díe oë gekyk, want sy wou weet wat die vreemdeling met haar voorhet. In sy oë het sy die klein kringetjie manne, en haarself, en die groot menigte mense by die poort sien staan, en die lig was warm om hulle lywe. Dis snaakse dinge wat ek vertel, maar as oorlie Eerste Mamra nie dood was nie, kon jy haar self gevra het, en die kruis, nou, jy weet dit al...
Daar voor die poort het dit toe gebeur. Die klein klompie manne het hulle klere uitgetrek, en dit op Mamra gelê, en van die ander mense ook, en dit het 'n mooi bont saalkleed geword, soos die wat klein Martiens vir sy ryperd gebruik as hy gaan kuier. - Ons esels word mos sommer bloots gery; maar dis niks, óns dag kom. - Daar voor die poort het oorlie Eerste Mamra gestaan, sommer 'n jong ou vulletjie, wat nog geen ruiter geken het nie, maar kalm, bedaard, soos
| |
| |
een wat groot dinge voel kom. En toe het die groot ding gekom. Die Meester het op haar geklim, en hy het omtrent nie gewig gehad nie, omtrent, mens kan sê, so lig soos 'n hawerkorreltjie, of 'n strooihalmpie op ou Rooi Martiens se dorsvloer. Al was hy, soos ek gesê het, skraal en tingerig gebou, met net die groot oë, die Meester was tog darem 'n grootman, en oorlie Eerste Mamra was nog maar 'n vulletjie wat nog digby haar mama se uier geleef het. Maar so is dit, net soos ek dit vir jou hier staan en vertel. Oorlie Mamra was so bedaard soos 'n ou ry-esel. - Dink bietjie hoe wild het jy stert-in-die-lug gesit die eerste dag, en ek moet my nou nog vererg as ek dink oor vanmore. - Maar Oorlie Mamra was kalm, en sy het die swaarste en die ligste las in die wêreld ontvang op haar rug. Jy sal nog hoor, waarom ek sê die ligste en die swaarste.
Maar toe breek dit los, wat oorlie Mamra seker nooit vergeet het nie, en wat ons vaallyfesels altyd moet onthou. Die mense, nie die klein klompie manne wat by die Meester gestaan het nie, maar sommer die ander spul wat gekom het om te lag en te spot - die ánder mense dan, pluk hulle pragtige klere af en lê dit in die pad, waar die voete van oorlie Mamra moet loop met die Meester. Ander weer breek takke van die bome af. - Nie die vaalbos wat ons hier het nie, en die kameeldoringbome wat nie vir 'n esel eers 'n behoorlike skuiltetjie gee nie. Ja, staan bietjie so dat ek my kop onder jou bors steek, want die son brand venynig en my ou kop duisel van al die groot dinge, en kernuffel so 'n bietjie met jou tande op my blad langs, díe branderige ou skaafplek. - Maar wat ek wou sê, hulle breek takke van 'n soort boom met breë groen blare - een blaar gee glo al genoeg koelte vir 'n hele paar koppe - en die takke lê hulle ook voor in die pad. Dit moes glo wonderbaarlik gewees het, die groen takke, en die pragtige klere, want die mense wat hulle klere in die pad neergelê het, was party rykes wat gekom het om te lag. Hulle het gekom om te lag en te spot, jy moet dit altijd onthou, as die skoolkinders weer kaskenades uithaal, en veral kalm bly en bedaard, want die een wat bespot word kry sy loon.
Toe oorlie Eerste Mamra voel die Meester sit reg, en die pad is klaar, stap sy met fiyn, vaste treedjies, en met hoefies wat blink in die son, té adret oor die klere en takke. Toe moes jy
| |
| |
die mense gehoor het. Die geskreeu daardie dag, toe ek met Tom Coertze op my rug al die Driefonteiners disnis geloop het in die groot reisies, was niks in vergelyking met wat daar in die poort gebeur het nie, sommer niks. Die mense stroom uit alle kante, en hulle sing soos een man: ‘Hosanna, hosanna, geloof is hy wat kom in die naam van Koning Dawid.’ Van Koning Dawid het ek jou al vertel, en van Saul, die seun van Kis, wat eenkeer sy pa se eseltjies gesoek het; dit was ook eseltjies van ons voorgeslagte, maar nog sonder die kruis.
Sover as die tog gaan, word meer klere en groen takke gelê, en nogal deur van die ryk Jode, en hulle sing net hosanna dat dit dreun. Mens sou sê dat oorlie Eerste Mamra verbouereerd sou geword het, soos jy vanmore, maar nie 'n haartjie van haar mooi regop ore het geroer nie. Dit was of sy en die Meester al jare saam ryding en ruiter is, of sy elke drukkie van sy wil verstaan, en of sy kan voel tot in sy hart. Die mense het gesing en die Meester geprys, maar oorlie Eerste Mamra het geweet die Meester se hart is seer. Daardie dag in Jerusalem, was die Meester se hart seer oor Jerusalem en sy esels en sy mense wat almal verkeerd loop. Daardie hartseer van die Meester oor die wêreld, iemand wat dit eenkeer gevoel het, vergeet dit nooit weer nie, en al sy kinders erf dit, tot daardie laaste dag waarvan ek nog moet praat. Jou oorlie mama het ook partykeer daardie regte soort treurigheid gehad, as sy so staan en dink in die tuig of onder die boom, want sy was nog 'n esel met 'n geaardheid, nie... nee, ek wil nie weer verwyt nie.
Maar een wat die regte soort hartseer geken het, is soos een wat nou weer splinternuut gebore word, heeltemal 'n nuwe esel, mooier, en sterker en geduldiger. Die hartseer laat sy oë oopgaan, hy sien alles wat al was en wat nog moet wees, en een wat alles weet, voel nie meer pyn nie. Pyn is nie-weet-nie - so het die woord uit die mond van oorlie Eerste Mamra tot ons gekom. Dis 'n groot woord; al verstaan ons dit nie, ons moet dit vashou, ons vaallyfesels met die kruis.
Ja, dit moet ek jou nog vertel: Voor 'n groot huis het die Meester afgeklim. Hy was nóg treuriger, of hy wat hy liefhet moet gaan seermaak. Maar voor hy in die huis ingaan, het hy met sy hand oor oorlie Eerste Mamra se skouerblaaie
| |
| |
gestreel, van links na regs, en toe oor haar rug, van voor na agter. En waar sy hand gestreel het, het 'n swart kruis uit die vaal lyfie opgeslaan, té wonderbaarlik. Op daardie oomblik het oorlie Eerste Mamra geweet, dis 'n belofte aan haar en haar geslag. Sy het duidelik in haar hart die woorde gehoor, wat die Meester nie met sy mond gepraat het nie: ‘Hierdie kruis gee ek aan jou en jou nageslag, as 'n teken dat julle sal swaarkry, en as 'n vermaning dat julle die swaar geduldig moet dra, en as 'n belofte dat ek weer sal kom om op een van julle in die nuwe Jerusalem in te ry.’ Dit is die woorde wat die Meester nie gepraat het nie, want praatwoorde is liegwoorde; maar oorlie Eerste Mamra het dit gehoor in haar hart, en sy het dit onthou, en dit is van beslag tot beslag oorvertel net soos ek dit nou vir jou gedaan het. Jou oorlie mama sou dit self vir jou vertel het, as sy nie alte ontydig papies gekry het nie...’
Oom Vaaltyn se storie was uit.
Met hulle koppe bymekaar, en ore wat weerskante weglê van die warmte, het die twee eseltjies nog 'n ruk doodstil gestaan. Oom Vaaltyn het net eenkeer swaar gesug, en Jaffie kon hoor die ou oom van hom het al harde bene gekou - dis ook daarom dat hy soveel dinge weet. Daar was nog baie dinge wat hy wou vra, maar sy ou oom het so indagtig gelyk, dat hy hom nie wou pla nie.
Met weer 'n diep sug het Oom Vaaltyn sy kop opgetel: ‘Ek dink ons kan bietjie ashoop se kant toe staan, Jaffie, my ou lyf is alweer so aan die brand.’ Sonder 'n woord het hy aangestap na die skool se ashoop, en Jaffie het kort op sy stert gevolg.
Op die skool se ashoop het hulle 'n ruk rondgerol, en Oom Vaaltyn het gekreun van die lekker. Hy kon nie genoeg kry nie. Jaffie het toe maar onder 'n maer trassiedoringboom, wat op die ashoop groei, gaan skuil met sy kop.
Toe Oom Vaaltyn vir die soveelste keer omrol, dink Jaffie dis tyd om nou weer verder te vra, want as sy ou Oom eers op 'n ashoop is, kry hy nie end nie.
‘Wat is die nuwe Jerusalem, wat die Meester van gepraat het, Oom Vaaltyn?’
Oom Vaaltyn bring net sy voorlyf half oorent, met sy voorpote uitgestoot, asof hy wil opstaan. Dis 'n oú houding van
| |
| |
sy Oom Vaaltyn daardie, en in daardie houding kan hy partykeer diep dinge vertel. ‘Ja, nou vra jy 'n ding, Jaffie. Die oú esels van ons geslag verskil nogal op daardie punt. Dis alles omdat ons nog nie swaar genoeg gekry het nie, en nog nie geduldig genoeg ly nie; anders sou ons dit met sekerte geweet het. Daar is party wat sê die Meester sal op een van ons oor die wêreld ry tot daar ver, sien jy daar oorkant, waar die bult en die lug bymekaar kom - dit lyk naby maar dis baie ver - en dan sal hy sommer teen die steilte van die blou lug opry na die botterblomvelde. Jy het tog al in die aande gesien hoe die botterblomme blink in die lug. Nou daarheen sal die Meester dan ry, waar dit dwarsdeur die jaar volop botterblomtyd is. En al wat vaallyf-esel is en 'n behoorlike kruis het, sal agternaloop. So sê party esels, maar ék dink hulle is verkeerd.’
‘Hoe sê Oom Vaaltyn dan?’
‘Nee, Jaffie, ek dink die nuwe Jerusalem sal sommer hier wees, maar hy sal net anders wees. Ek dink so gou soos die hosanna weer gehoor word, sal alles verander, net so, vinnig soos, kyk bietjie... net so vinnig soos ek nou van my linkersy op my regtersy gerol het, net so vinnig sal alles verander - a, hoe lekker byt die liewe assies tog in die ou skaafplekke. - En die mure van ou Rooi Martiens se graanskure sal sommer so omval, en die draadheining om sy lusernland sal skeur soos 'n spinnekopdraad tussen die doringbossies. Ons sal daar dwarsdeur loop en dit nie eers voel nie. En daardie boelhond uit wie se bek ek al twee tande geskop het, sal so mak word soos 'n lammetje, al loop ons ook waar. Daar sal nog blindevlieë wees, maar hulle sal nie meer steek nie. En ons sal nog karre trek, en mense op ons rug dra, maar hulle sal so lig word soos die Meester op daardie dag.’
‘En wanneer sal dit gebeur, Oom Vaaltyn?’
‘Wanneer ons deur swaarkry die groot geduld geleer het, wat hulle liefde noem. Dit kan enige tyd gebeur, miskien nog voor ek weer op my linkersy teruggerol het.’
Oom Vaaltyn het omgerol en weer terug, en weer so half op sy hurke gesit en kyk. Maar daar was niks en niemand te sien nie. Toe het hy opgespring en langs sy neef kom staan, met sy kakebeen oor Jaffie se nek. Die ou maer skaduweetjie van die trassiedoringboom het onder hulle voete uitgeskuif, en die
| |
| |
son het warm geword, en die koppe het laer gesak. Jaffie het gedroom van die groot dag wat moet kom... Hy sal versigtig oor die groen takke en klere loop, mooi ekstra egalig sodat die Meester nie skud nie. En hy hoor al in sy ore die gesing en geskreeu van die swetterjoel mense... Dit was of sy Oom Vaaltyn se stem dáár uit die verte kom: ‘Jaffie, Jaffie, die skool is uit, hulle kom ons nou haal.’
Toe klein Martiens uit die bondel kinders na hulle kant toe kom, stap hulle, soos twee geduldige esels, vanself na die karretjie. Hondmak laat Jaffie die tuig oor sy rug gly. Onder die inspan, hoor hy Ous Coertze sê: ‘Martiens, jy onthou pa het gesê ons moet by Driefontein langs ry om daardie speenvark te gaan haal.’ ‘Ja, Ous, ek weet,’ brom Martiens, ‘dit lyk my hulle wil ook Krismis uitvreet en Nuwejaar invreet. Verlede week was dit die kalkoen op Blinkklip, en nou is dit weer die speenvark, en ek wou vanmiddag met Piet hulle gaan kleilatveg het in die vlei.’
Jaffie kyk skuins na sy Oom Vaaltyn, en sy bolip trek eintlik weg van sy tande soos hy lag oor die mense se vreet-praatjes, hulle wat niks weet van die groot ding wat kom nie. Klein Martiens gee hom 'n haal met die karwats oor sy heupe, omdat hy altyd wil byt; maar Jaffie staan doodstil asof daar niks op sy boude gebeur nie.
Van daardie dag af het hy rus gekry vir sy siel, want hy het geweet, eendag is eendag, dan moét dit kom.
|
|