De Revisor. Jaargang 12(1985)– [tijdschrift] Revisor, De– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 15] [p. 15] Elisabeth Eybers Variant Liefde kan ook registerloos bestaan, slytasievry, vryblyvend, dwingender dan plegtighede wat 'n tweetal paar. En hoeveel tyd en arbeid kan bespaar word as jy maar aan iemand hoef te dink om 'n groot warmtegolf te ondergaan. Werk suinig daarmee soos met alles wat onmeetbaar is. Ek draai 'n knop, daar klink 'n uitspraak oor computers waaruit blyk die oneindige is buite hul bereik. Dit was gevaarlik maar nie treurig nie, skermutseling met die eindigheid, die wakkerword in 'n wit bed voortsetting van voorlopigheid... 'n Helder onverskilligheid wat die hersteltyd vergesel verskerp my sintuie en bring vroeër gebruike weer in tel soos my bemoeienis met 'n man wat ek noukeuriger omdroom terwyl ek hom tog minder sien: die onbeskaamdheid en die skroom. Ek hoop nie sonder 'n titseltjie vrees (só eenvoudig sal dit nie wees) om die hele kasarm te ontsluip, ingekrimp in myself, weggekruip met my kop in my elmboogbog, waaghalsig soos elke nag op 'n grillige drometog maar nog verder, verdoolder nog: onvindbaar die volgende dag. Vorige Volgende