Raster. Nieuwe reeks. Jaargang 2008 (nrs. 123-125)
(2009)– [tijdschrift] Raster– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 136]
| |
Breyten BreytenbachGa naar eind●
| |
1toe jy sterf, Magmoed
toe jou slagaar kronkelend en sloom
soos 'n pers slang bars
want die reëls kon die volmaakte metafoor
nie meer dra
en jou hart as gedig
die laaste bloed moes spuit
in die siekehuis in die vreemde
land van barbare,
toe jou hart oplaas
'n verskeurde klinker is
groei 'n maan oor die eiland
tussen die skuiwende wolke
van hierdie ‘klein winterseisoen’
wat aans 'n donker ink in lang verslyne
oor die golwe gaan stort
sodat kraaie en bokke en arm kinders
al singende in die modder kan plas
asof dit die viering van bevoëling is
drie, vier, vyf dae en nagte
onsigbaar oordag, onsigbaar soos doodgaan
of die groei wat steek vir steek uitbloei in 'n huisie woorde
se ontbinding in die nag
wanneer die tyd tydsaam 'n maaier is
oor die landerye van die liggaam
| |
[pagina 137]
| |
totdat die los vlies vervaag
en skaduwees oor die naakte landskap
wegval soos vodde verrottende vlees
en die maan mandolien en maagdelik vol is
'n skip van been
jou skedel, Magmoed
| |
2gooi my vinnig toe, het jy gesê
geen gesanik of groot vertoon
skryf op sy meeste 'n verblindende kwatryn
sodat die maat en die pyn waaroor jy skrywe
mag verdwyn
daar is geen identiteit
alleen 'n ruisende ruimte van bewing
alles is beweging totdat dit ophou beweeg
om te sing van die tyd
toe tyd nog tydsaam die minnaar in 'n minaret was
oor beeldpatrone van die lyf
drapeer geen vlag oor my kis of my kus nie,
'n vlag is om 'n hemp van te knip
vir die hawelose
'n vlag is die lap waarmee die nar
in die sirkus kinders mag leer lag oor kleur
en die klanke van verraad
ons vlag waai vry om die Nakba te onthou
toe die olyfboom toegevou is in dooie vuur
net dit, net dit
laat daar musiek wees, het jy gesê
'n maaltyd met helder gelag vir my vriende
en 'n glas wyn hoog gelig teen die dag en die wind
so rooi soos die klepelende klop en spoel van 'n hart
| |
[pagina 138]
| |
3ses, sewe, agt dae en nagte:
om deur die land van intussen te beweeg
is die gang van saligmaking
op die vliegtuig terug na waar Katalonië
se diep en soel en donker aarde
reeds begin damp met die vrugbare
aftakeling van herfs
begelei deur 'n beier
paddas in 'n poel,
deur die nag van ewigheid in 'n hemeltuig
vol mense bewegingloos as poppe
met lappe oor die gesigte
bo 'n woestyn waar die enkele braambos tonghoog vlam
en heilige krokodille tot vyftien voet diep
onder sand ingetonnel
soek na die grys koelte en die vog
wat die droom van lewe sal help oorlewe,
in die oogagtige tydlyn van skemer
terwyl sterre buite patryspoorte verskiet
en verdonker in tonnels niet
want versoening met die einde van dae is onhaalbaar,
het jy langs my in 'n koma kom sit
verbyster oor hoe vinnig alles vervliet
ek glo ek het op 'n Saterdag gesterf
het jy gesê,
en ek: jy moes tog iets nagelaat het in 'n testament
maar ek het niks gekry nie,
en jy het gesê ek moet 'n vriend opbel
om hom van my dood te verwittig
maar niemand het die telefoon opgetel,
| |
[pagina 139]
| |
en ek: ek moet gaan na my graf
om dit vir jou voor te berei
met lourierblare en heuning en jasmyn
maar ek het die pad byster geraak,
en jy het gesê: ek moet 'n laaste ligte reël skryf
oor skaduwees se kom en gaan
oor die blinde gesig van die maan
soos om deur 'n landskap te beweeg
met die klinkende vlerke van voëls
maar syferwater het die letters tot ink vervaag,
en ek: ek moet hier en nou
'n daad pleeg
maar kon geen handeling bedink
wat 'n dooie man
waardig sou wees nie
toe roep jy: hierdie dood het geen betekenis!
dis 'n grap! die sintuie 'n riool!
ek weier om te glo ek is hoegenaamd uitoorlê
miskien is ek iewers intussen
en miskien is ek 'n afgetrede ontslapene
tydelik met verlof in die lewe
| |
4en in wat oorbly van die dagbreek
loop ek na my buitenste
en in wat oorbly van die nag
hoor ek die klank van voetstappe in my
gegroet, hy wat met my 'n bewussyn deel
van die dronkenskap van lig
van die vlinder
in hierdie tonnel se duisternis
| |
[pagina 140]
| |
gegroet, hy wat my glas met my deel
in die sloot van 'n nag
wat twee ruimtes oorvleuel, gegroet
gegroet, die na-klank van my verskyning
my vriende maak 'n vaarwelfees vir my klaar
'n rustige weglê in die koelte van eike
'n marmer epitaaf om tyd vas te beitel
en altyd spring ek hulle voor
by die oomblik van toegooi van die aarde:
want wie het dan gesterwe... wie?
| |
5halfoggend in die hemel bo Wesheuwel
is die maan 'n stukkende skepbekertjie
van die lig opgediep uit die tye
beenbleek gespoel deur getye se tyding
van verbygaan
om tot klip te stoel so groot soos 'n droom
wat net bewys
dat daar al sedert die begin van sterrebeelde
'n dors na lewe in die heelal was
o wagters, julle wat blind op loer lê
vir die lig in ons sout
en die skittering van die roos in ons wonde:
as julle die dooies se gesigte wou aanskou
sou julle die moeders in die gaskamers onthou
en kon weet: so is nie die manier
om julle identiteit terug te vind
| |
[pagina 141]
| |
en julle wat in die deure van ons huise staan:
kom binne uit die verblindende binding van die môre
en maak ons drumpels donker
sodat ons gerus gestel mag word
dat ons mense net soos julle kan wees
kom, kom drink Arabierse koffie saam met ons
en julle sal sien dat julle mense is
net soos ons net soos ons ook ween
ook in doodskiste pas
| |
6ons sal 'n volk wees, as ons wil, wanneer ons weet
dat ons geen engele is en dat die kwaad
nie die uitsluitlike bereik van die ander is nie
ons sal 'n volk wees wanneer ons nie elke keer
wanneer die arme iets te ete kry die hemel verdonker
met 'n dankgebed vir vaderland en volkswil nie
ons sal 'n volk wees wanneer ons die sultan en sy kamerlinge
en die hofnarre in die raadsale beledig en bespot
sonder om verhoor te word
ons sal 'n volk wees wanneer die digter 'n erotiese beskrywing
mag maak van die danseres se buik
so bleek soos 'n skulp en so soeterig sout soos 'n oester
ons sal 'n volk wees wanneer ons die voorskrifte
van die stam vergeet sodat die knielende enkeling op kan gaan
in klein koninkryke van 'n alledaagse liefdemaak bestaan
ons sal 'n volk wees wanneer die skrywer na die sterre kyk
sonder om te kraai dat ons moedergeweste meer verhewe
en skoner is as die haan wat pik na 'n maan in die water
| |
[pagina 142]
| |
ons sal 'n volk wees wanneer die sedepolisie
die hoer en die owerspelige vrou gaan beskerm
teen die klip en die klap van die knuppel op straat
ons sal 'n volk wees wanneer dit die sanger toegestaan word
om 'n vers van die soerat van Rahman by 'n gemengde troue
te sing soos 'n kanarie
ons sal 'n volk wees wanneer die patriot sy vierkleur nog net hys
in sportstadions en by skoonheidskompetisies
en tydens die herinnering aan die Nakba - net dit, net dit
want ons sal 'n volk wees, o my mense, wanneer ons die presiese maat
van lewenspassie en sterfdrang herken
en die vergissing respekteer
| |
7identiteit is 'n gesprek, Magmoed
wanneer jy soos in 'n droom hoor
wat die ander vertel
en jou verbeel jy het verstaan
om te wees is om te beweeg
deur 'n spektrum van vulkane
en oorloë
en die poësie in rampspoedige tye
bloed
en bloed
en bloed
in jou tuisland
| |
[pagina 143]
| |
in my land en joune
in die amandelbloeisel
die piesangskil
die kind se melk
die lig en die skadu
die koringkorrel
die knypie sout
vernuftige skerpskutters skiet nooit mis nie
bloed
en bloed
en bloed
hierdie aarde is kleiner
as die bloed van sy kinders
| |
8hier in die verre noorde
waar die aarde groen gelap is
tot aan 'n vreemde kus van verlange
hoor ek jou nog:
om te wees is om te beweeg
deur die spektrum van sterwe
op soek na magiese skrifte in die as
na die strofe wat 'n perfekte metafoor uit kan spoeg
verby die wrang smaak van die tong
verrotting in die mond
en kyk, die hart is vuurspuwende stilte:
want om op verskroeide stelte deur 'n landskap te beweeg
is die heiligmaking van die niet
| |
[pagina 144]
| |
9en jy sê: as ek voor jou te sterwe kom
vertrou ek jou die onmoontlike toe
ek vra: is die nag nog ver?
jy antwoord: die volgende geslag
sal met die hand daaraan raak
en ek sê: en as ek voor jou sterwe?
jy sê: dan vertroos ek die heuwels van Galilea
en skryf: ‘die skoonheid is
om die voldoende te bereik’
of: ‘moenie vergeet nie:
as ek eerder moet sterwe
vertrou ek die onmoontlike aan jou toe’
| |
10ek sê: ek sal ons drome soos spieëls bewaar
want ons het die gesigte gesien van hulle
wat ons kinders uit die vensters
van hierdie laaste ruimte gaan gooi
bo die bouvalle skater 'n leedvermakerige maan
soos 'n mal vrou met 'n stukkende skepbeker
wanneer sy haar gesig in die put sien verrimpel
jy sê: sien jy daardie stories in die onsienbaarheid?
dis nie liggame van klip en been en kwarts
maar die stemme van digters
die spieëls sal aan die stemme gehang word
want waarheen moet ons gaan na die laaste vergroening?
waarheen vlug die voëls na die laaste huis?
waar slaap die plante na die laaste asemteug?
| |
[pagina 145]
| |
ons sal ons name in skarlaken skryf
ons sal die hand van die lied afkap
sodat dit voltooi mag word in vlees
en ons bloed 'n olyf kan plant
o lewe, loop doekvoet sodat ook ek jou onvolmaking
mag sien: ek het jou so uit die oog verloor
dat ek jou ontrafelende kleed beklad het
met die rooi uit my versplinterde glas
hier sal ons sterf waar die toemaak aarde
ons deur die laaste keel-eng passasie evakueer
met afgeskeurde ledemate
en jy sê: om deur leë erwe van vergaan te dwaal
is om die heiligmaking van die niet te verkondig
skryf op: Arabier
skryf op: Palestyn
skryf op: Afrikaner
skryf op: ook mens
| |
11'n ander dag sal aanbreek, 'n vroulike dag
deursigtig in vergelyking, geheel in syn gebrand
diamant en optogtelik in verskyning, sonnig
soepel, met 'n ligvoet skaduwee. niemand
sal sin hê in die swaard van selfmoord of afskeid
nie. alles buite en behalwe die verlede, natuurlik en waar
sal soortgelyk wees aan hulle vroeëre trekke. asof die tyd
sluimerend met vakansie is... ‘verleng jou lieflike
mooityd, beminde. word bruin in die sonskyn van jou borste van satyn
en wag totdat die goeie teken kom klop. later
sal ons ouer word. daar is genoeg tyd
om ouer te word van pyn na hierdie dag en gedig...’
| |
[pagina 146]
| |
'n ander dag sal oopbreek, 'n vroulike dag
soos lied in gebaar, groen in groete
en skandering. alles sal ontsluier wees buite
en benevens wat verby is. water sal syfer uit die klip
se skoot. geen stof, geen droogte, geen nederlaag of verlange.
en met die middag sal 'n duif kop onder die vlerk kom nestel
in 'n verlate pantserwa as dit nie 'n nessie
kan oopskrop in die minnaars se bed nie...
New York, 3 Oktober 2008 | |
NotaMagmoed Darwiesj (Mahmoud Darwish, 1941-9 Augustus 2008) die Palestynse digter, was 'n vriend van my. Die tyding van sy dood - in 'n hospitaal in Houston, Amerika tydens 'n opehart-operasie - het my op Gorée-eiland bereik. Enkele weke tevore was ons nog saam in Arles in die suide van Frankryk. Hy het my daar vertel van sy kanse op oorlewing. Daardie aand het hy waarskynlik sy laaste openbare voorlesing gedoen teen sononder in 'n ou Romeinse arena. Die verse was deurtrek van 'n gesprek met die dood. Onmiddelik na sy sterfte het ek hierdie reeks verse begin skryf as fragmente van 'n voortgesette gesprek met hom. Dit was die begin van die jaarlikse reënseisoen, die ‘petit hivernage’, wanneer die lug vol potblou wolke is. Dit was ook die begin van die nuwe maan se bloei tot volheid. In die daaropvolgende weke sou ek noordwaarts reis - eers no Katalonië en daarna verder tot in Friesland. Die gedigte gee dit weer. Ek beskou hierdie fragmente as 'n werklike paging tot 'n verdere gesprek, en as lofbetuiging. Hulle is getransformeerde ‘vertalings’ van sy werk, met my eie stem dan daarin vervleg. Die beelde, tot 'n mate selfs die ritme en die vormgewing, is syne. |
|