‘Weggesit, sê ek mos. Opgesave vir jou.’
‘Ma!’
Sy het my spraakloos gelê en aankyk. Hoeveel het sy per maand verdien? Miskien vyf pond, met kos en met die huisie, en partykeer ou klere vir haar en my. Uit vyf pond kon sy nie daardie som gespaar het nie. Ek het met nuwe, geskokte oë teruggekyk oor die jare, haar besoekers in die katel, haar weerlose ontsteltenis in die môre. Ek wou haar daaroor uitvra, ek moes weet, ek was verbyster en wou raad hê: maar voor haar swyende oë durf ek niks sê nie.
‘Sôre jy maar net dat jy in die vrese van die Here wandel en moenie hol hang by die witmense niet.’
In my radeloosheid het ek iets lafs gestamel, soos: ‘Ek wil g'n geld hé nie, ek wil vir Ma hê. Vir wat bly Ma nie liewer lewe as om vir my te wil goed wees nie?’
‘Ek is nie goed vir jou nie, Josef. Ek was 'n ou kak ma en ek weet dit.’
‘Ma, ek...’
‘Moenie nou neuk nie, man. Loop roep die sindeling lat ek kan ytgaan.’
Ek het vir Frans Viviers gaan hulp vra, want die sendeling het ver gewoon.
‘Julle mense is ook altyd so ontydig,’ het hy gesê. ‘Jy weet hoe besig ons nou is om die lande reg te kry en te snoei en alles. Kan jy nie tot die naweek wag nie?’
‘Ek dink my Ma is haastig om te gaan, Baas.’
‘Nou ja, ek sal nie in julle pad staan nie. Gaan haal dan maar vir Dirk op die land dat hy jou met sy perdekarretjie neem. As dit dan moet.’
Dit het gestuifreën toe ons in die kapkar daar weg is, onder die kaal boomtakke deur, oor die nat bruin modder wat sjoes en sjor onder die wankelende wiele met die fensie rooi speke. Die wolke het laag oor die wêreld gelê, witterig grys en klam, en al die boomstamme was swart en stil in die reënveegsels. Die wêreld was onherbergsaam en koud en stil. Die gestommel van die perdepote en die geluid van die wiele het die stilte van die bome en die wêreld nog stiller gemaak. Dirk April het langs my gesit, met die stywe nat leisels op sy skoot, sy hande soos skilpadkoppe ingetrek in sy rafelmoue, en eentonig bly sing:
‘My bonnie lies over the ocean,
My bonnie lies over the seaaaaa...’
Met elke woord het 'n bolletjie wit asem by sy mond uitgewasem, en tot vandag is dit vir my die triestigste liedjie in die hele wêreld.
Halfpad deur die soveelste herhaling van die strofe het hy skielik