Raster. Jaargang 6(1972-1973)– [tijdschrift] Raster– Auteursrechtelijk beschermd Vorige Volgende [pagina 150] [p. 150] Breyten Breytenbach Ses sentimentele gedigte beendig aan die begin was die Woord en die Woord het Vlees geword en nooit weer genees nie die Vlees het uitinge gevorm elke sillabe het omgewing bekom vlees is ruimte die Vlees het beeld geword sodat dit buite op die grasperke met eekhorings kon speel (en die ekhoring in die lies) die Vlees het op reis gegaan het die son aan die see probeer bind het teen die donkerder bome gaan klop met 'n stok in die oudste wolke gaan roer die Vlees het op die berg bly hurk totdat die hart 'n seer was die Vlees het rimpels gekry soos betekenisse, 'n buitegroei wat rakelings aan sin laat dink het maar tog nie tog nie: verlate is besinning soos 'n olifant sonder vensters die Vlees het Saad geskiet en toe innig met die Lyk wit soos 'n gedig [pagina 151] [p. 151] in 'n kamer donker tot lê gekom. o sies kom léés hoe rym die beendere nou! [pagina 152] [p. 152] dis goed so die wurms sukkel met kieries deur die grafte, tik-tik, so blind soos hulle is nou teen dié hopie derms hier, nou teen daai skedel of huid die een sê: ek weet sommer dis 'n gedig hierdie ek kan voel hoe lê die lewe daarin opgedam die gepopel van die hart in die ketel hóé die woorde steier en stort oor af gronde van die waar? meeue die-gedagte-God suisbome die ander sé: en dís nalatenisse stotterkrete melaatsighede of die geuite sug snikke, testamente, snikke, testamente o die nag gevou in 'n boek seevaarte besoeke besoedel nie jou drome nie die krieke het die paradys en poeding beset 'n derde sê: Meester, hoe treurig is dit oral: hoe verganklik, hoe vlugtig alles! en die mens is gras blootgestel aan ryp en brand, vertrap deur die bees, die rooi gloed vreet aan die kiem, die eiere weier, die wandelinge deur die tranedal, die bloeisels wat aan die takke wurg ek sê dis alles pure kak [pagina 153] [p. 153] areas of intensity and the skin of empty om 'n draai in die muwwe tuin van hierdie hotel het ek op julle neergedaal julle het my nie sienkom nie in 'n skuilte teen die wind gerig na waar die oorbly-see in poele oor holtes van die tuin bly spoel as die see haar onttrek is die water swart as die oë alleen óntdek word is hul ook aaklig blind met julle rûe na my ou moeder blinkleerhandsakkie onder die magnolias ou vader sakdoek in die hand dit was 'n middag laat en groen julle het sag soos mossies wat boomkruip in 'n vreemde dorp staan en snik na my gekyk met die oë rooi ontskulpdes so albei sonder bril in die tuin wat is dit dan, liefste mense? ‘nee wat, ons staan en kyk sommer hier na die uitgesuigde see en die wind waai mens se oë so vol bloed hier, so vroeg in die tuin ons het verbeel jou vars asems ook kom skep jou pa en jou ma het maar kroeserig opgestaan vemôre my kind, hoe laat vertrek die trein?’ ou vader ou moeder wat die bitter monde van hartseer oop en van bid so swart vir my onthalwe in laggies wil borduur [pagina 154] [p. 154] kom, laat ons vergeet dat ons helde moet wees wat nie mag weet dat dit te laat is nie in die donker tuin van 'n tussending hotel wat nie omdat die saamwees verby is mag breek nie kom rus julle twee ou koppe op my bors alkant een soos grys borste en daar onder loop die oseaan 'n verblindende streep aaneen aaneen (het ek dit alles tóé maar kon sê hierdie lewe is al wat ons het en dit kon net bestaan as gedeelde besit...) [pagina 155] [p. 155] maan, naam in die holte onder groei die denne en dra die nag in die takke die sneeu is gestolde maan waar jy ook spoelt in die sneeu spring die vlamme orent en nou sal die bokwagter nie meer vertroosting die skemer in roep nie jy vergeet van die anderwêreldse sterre wat koulik om die vuur kom hurk vergeet van die stof die bye van kleurlingkore kersoggende as hulle so lomp die banjo's hanteer omdat hulle stowwerige vlerke lam van die liefde is en teer van die bye se steke nou onthou ek jou slegs in die hart die maan lê plat so stink soos 'n skip oor sterre val niks te sê nie hier laat jy my sonder einde op jou wag totdat die vlamme van die speeksel wit en blou diamante is [pagina 156] [p. 156] ek is geen reisagent God ek spreek tot U bly nou bietjie stil U met U mond soos 'n bos vol takke en rook met U tande soos brame met die vlamme van U tong stuur nie vir my ek sal U saak toeterend befoeter U bevel aanvaarbaar maak soos 'n gedig want my bek is te glad want hulle sal my glo [pagina 157] [p. 157] ook een van laastes ek gaan gesond word ek gaan lang wandelinge onderneem vir papawers knik, my hoed lig vir die berg wat oorbly van my lyf gaan ek geniet ek moet wyn drink aan die kus wanneer dit nodig is sal ek gaan fliek want ek doen afstand van die skemerstreke ek volg voortaan die son toe ek dood was was dit anders maar nou gaan ek opstaan uit die hel om al die stof van my voetsole te skud die sluier tussen my en wat om my is lig ek gaan ontslae raak van aanswelsels en geestesgoedere: om te sterf, te ervaar, te wéét nou mag ek vergáán, maar so gelukkig aan wie daarby belang mag hê; ek skryf die poësie af Vorige Volgende