selfs die inhoud of die oënskynlike leitmotiv van die gedig is bepaal en beperk. Dit spreek vanself dat hierdie gesamentlike manier van skrywe - ‘laat ons saam die woord breek’ - miskien meer dan ‘eiehandige’ gedigte 'n weerspieëling sal wees van 'n alom ervaarde kultuur met sy religieuse, filosofiese en sosiale oorwegings. Dit is ook duidelik dat die spanning, die vaart van renga juis spruit uit die verskille, die poses en leemtes tussen digters. Renga is in die stiltes tussen die veilighede van strofes. Vir nadere toeligting oor die ondergrond en die agtergrond van renga verwys ek u na meer bevoegde eksegete soos Octavio Paz.
Toe ‘Renga’ in 1969 oor 'n periode van een week in Parys geskryf is, is die wens uitgespreek dat ander digters die eksperiment - dit wat terselfdertyd 'n hergeboorte, 'n oorplanting en 'n byna openbare ontkleding is - voort sal sit.
Dit is wat ons op aandrang van Sanguineti een middag aan die begin van Junie hierdie jaar, tydens die Poetry International in Rotterdam, en in die inspirerende aanwesigheid van Adriaan van der Staay, in 'n eetsalon aan die Lijnbaan probeer doen het. ‘Ons’ was: Yehuda Amichai vanuit Israel met al die woestyne van die wêreld as verlede; Edoardo Sanguineti, 'n Italiaanssprekende engel met 'n silwer tong in die inferno; Vasko Popa, die magiër en metafisikus uit Joegoslawië; en ek.
Omdat ons net 'n halwe dag tot ons beskikking had was ons ‘raamwerk’ uiteraard eenvoudig. As basiese eenheid gebruik ons 'n strofe van twee versreëls. Elke digter voor 'n gedig aan, gee dit dan aan die man aan sy regterhand om daarmee voort te gaan, en so verder totdat dit die rondte gedoen het en afgesluit word deur die digter van die eerste strofe.
Amichai het die begin- en eindstrofes van Made in Holland 1. geskryf, die tweede strofe is myne, die derde Sanguineti s'n, die vierde Popa s'n; 2. is deur my begin en afgesluit, s het die tweede strofe geskryf, p die derde en a die vierde. 3. is deur p begin, gevolg deur a, b, s en weer p. 4. is s, p, a, b, s.
Hierby moet ek voeg dat die voertaal tussen Sanguineti en my Frans was, tussen Sanguineti en Popa ook Frans, Popa en Amichai kommunikeer op Duits, Popa en ek op Duits of Frans, Amichai en ek op Engels, Sanguineti en Amichai via Popa of my...!
Dit was 'n spel, ja, 'n pokerspel, maar soos 'n spel soms word: veel belangriker, geváárliker selfs as wat ons toe wou gee. Dit is 'n onthutsende ervaring om so aan 'n ander mens se naakte en hulpelose woorde te mag voel.
Breytenbach - Parys, 9 november 1971.