| |
| |
| |
Volk, Taal en Letterkunde van Suid-Afrika.
deur F. Bosman M.A.
II.
Dit sou dan by Bosman hoofsaaklik as verklaring van die deflektering van Afr. moet dien. Boshoff toon dan aan dat adaptasie van vreemde tale, soas b.v. in S.A. Nederlands deur Hottentotte, nie noodwendig defleksie beteken nie en op sy hoogs alleen die omvang van bepaalde analogiewerkinge in Afr. kan help verklaar, en miskien verder kan gelei het tot die vorming van nuwe samenstellinge en tot betekenis- en funksiewysiginge. As daar dus invloed van Hottentotte uitgegaan het, sou dit hoogstens alleen gewees het om bepaalde werkinge alreeds in die taal aanwesig verder aan te help, om ook sekere name vir nuwe voorwerpe by te dra. Dis inteëndeel juis 'n feit dat die hoëre-beskaafde Afrikaner die bepaalde gebruik van sekere woorde en uitdrukkinge deur die minder-beskaafde inboorling, precies daardeur as plat gaan beskou en dus vermy. Vandag nog b.v. praat die kleurlinge en ook die Kaffers nie Afrikaans soos die blankes nie. Maar geen Afrikaner sou die spraakgebruik in sy mond neem nie - buite as hy wil spot, of bespot word. In vele toneelstukke b.v. tree die Hotnot as persoon op, juis om die laglus wat sy ‘plat’ manier van praat altyd opwek op die ‘beskaafde’ toneelplatform. Tis eenvoudig dwaas om in hierdie geval aan te neem, dat hoërebeskaafde Afrikaner die taal van sy mindere en veragte diensknegte sou aangeneem het.
'n Veelmeer uitgebreide en ook in Nederland meer angenome teorie is die van Drs. Hesseling en du Toit dat Afr. sy besondere vorm sou gekry het onder Maleis-Portugese invloed. Die invloed zou dan gewerk het op die Afrikaners eerstens daardeur, dat die seemanstaal van die 17de eeu 'n soort Maleis-Portugees, 'n soort Kreools-Nederlands, in die Ooste afgelei, sou gewees het, en dus deels door gewese matroze en soldate self wat hulle in S-A. gevestig het, deels deur die invloed van
| |
| |
die soort ‘lingua franca’ op die mense wat op die Kie. se sloepe naar S.-A. gegaan het en in Kaapstad gebly het, invloed sou uitgeoefen het. Verder en hier sou die invloed nog groter gewees het, was Maleis-Portugees die taal van die slawe wat byna orals in die nuwe neersetting tereg gekom het.
Dr. Bosman het beslis daarteen opgekom, dat daar 'n soort Mal.-Port. seemanstaal sou gewees het op grond van gebrek aan bewys, dat daar so'n soort taaleenheid sou bestaan het. Verder ook op grond van die onnodigheid van die gebruik van so'n taalvorm buitekant die Ooste, apart nog van die feit, dat die verblyf in die Ooste self maar heel kort was om so'n taal aan te leer.
Boshoff se mening is dat Hesseling in die saak oorskat en Bosman onderskat.
‘Die omgangstaal van die 17de eeuse seelui aan boord van die N.O.I.K. se sloepe’, sê Boshoff, ‘sal seker in hoofsaak Nederlands gewees het, maar met 'n sterk bymengsel van vreemde, veral van Portugese en Indiese woorde.’ Wat ook egter die seemanstaal kon gewees het, te groot sou die invloed op Afr. nie gewees het nie. Die tydelike aanraking aan boord en te Kaapstad met toekomstige koloniste kon iets, maar uit die aard van die saak niet te veel invloed uitgeoefen het nie, temeer waar daar maar min begrippe op land sou wees, waar die seemanstaal of oosterse woorde sou kon aangevul het.
Van weinig invloed was dus die seemanstaal. Maar wat egter sou die invloed van die Mal.-Port. van die slawe gewees het? Veral die funksieverandering van Afr. wou Hesseling en du Toit aan Mal.-Port. toeskrijwe. Verwarring van rededele sou immers die kenmerk van kreolisering wees. Dr. Kruisinga het alreeds bewys hoe funksieverandering voorkom in alle tale vgl. Engels. Nog meer het Dr. Bosman aangetoon hoe min die aangevoerde bewyse steek hou en Boshoff bewys nog verder hoe dikwels funksieverandering die gevolg van begripswyziging, analogievorming, defleksie en die bestaan van wisselvorme, almal verschynsels in die taal self is. Hy sou dit dus a priori wil veronderstel apart van enige kreoolse invloed. Mal.-Port. kan en het waarschynlik dit bevorder, maar genoegsame oorsaaklike bewyse is daar absoluut nie. Ook Prof. Smith van Stellenbosch het die
| |
| |
eintlik bewysbare invloede van Mal.-Port. alleen tot 'n paar woorde in die taal oorgeneem, beperk. En dit het dus feitlik alleen invloed op die woordeskat gehad. Wat sou ons dan wil aandui as die hooffaktore waaronder Afr. geword is, wat hij is? Ons noem:
(a) | Verwydering uit die stamland, met sy besondere invloede, gewoontes en klimaat naar 'n nuwe land, byna totaal verskillend in hierdie opsigte, en geneig om alles wat heterogeen, veral in die mense wat naar hom kom, homogeen te maak, deur eenheid en gelykheid van bedryf, bestuur, taal, sosiale posisie ens., sodat sprekers van verskillende dialekte tot 'n eenheid sou geleid word. Hieruit vloei byna vanself |
(b) | Die veranderde lands- en levensomstandighede in die nuwe land, nog ru en onbeskaaf, met sy opdringing van nuwe behoeftes en verdwyning van oues; sy vereistes van nuwe begrippe hier en prysgewing van anderes daar, ens. Om die kwessie alleen te laat, hoever die klimaat die spraakorgane en dus die spraakklanke self, ook beinvloed het. Wyd, in elk geval, staan die weg oop vir klankwyziging en funksieverandering. |
(c) | Die afwezigheid van remmende invloeden soos lektuur, skole, 'n skriftelike tradiesie, gereelde godsdiensoefening ens. By die boere ver en alleen op hul plaas moes die anders konserwatief bewaarde spreek- en skryftaal, baie afbreuk gedoen het en ‘die ontstaan van wisselvorme, en die omvang van begripswysiging en analogievorming kragtig in die hand gewerk het’, en was ook ‘waarskynlik gedeeltelik verantwoordelik vir die omvang van die defleksieverskynsels in Afr.’ (Boshoff). Onder sulke omstandighede is dit niks anders as natuurlik om alles wat onnodig en hinderlik was vir die klare uitdrukking van 'n gedagte, weg te gooi nie, temeer waar blankes van soveel rasse en dialekte hulleself adopteer tot en geabsorbeer word in die Nederlandse grondstam. So sal daar verbasend veel analogiewerking, begripswysiging ontstaan; sal wel wat as onnodig gevoel word in verband met fleksies ens. waarskynlik nagelaat word; sal al wat skools en kunsmatig is eenvoudig vergeet en weggegooi word. Dit beskou ons dan ook as die hoofoorsaak in die vorming van Afr. |
(d) | Invloed van vreemde volke in S.-A. die Inboorlinge (Hottentotte
|
| |
| |
| en later Kaffers), en slawe. Hierdie invloede het ons al bespreek, en gesien dat dit hoofsaaklik beperk is tot vermeerdering van die woordeskat. |
So dan is die Afr. Taal ontstaan, so het hy in die eerste plek rijk geërf uit die malse weelde van die 17de eeuse Ned. volkstaal, soos die hom openbaar het in sy litteratuurtaal, Statebybel, klugte en Volksliedere; dialekte, handelstaal, seemanstaal, en selfs - sy basterdwoorde. En sy erfenis het hy rykelik vermeerder deur te woeker met sy talente van betekenisverandering, vormverandering, funksieverandering, kontaminasie, analogie, afleiding, samenstelling, volksetimologie en volksvernuf. Geleen het hy natuurlik ook ietwat van die inboorlinge en slawe en ook so 'n paar van die Franse, Duitsers en Engelse wat in die volkstam geabsorbeer is. Laat ons net hier duidelik maak, dat dit weleens gedruk word dat Engels ook 'n handjie gehelp het in die wording van Afr. Daar is absoluut niks van waar nie. Toe die Engelse in 1807 gekom het aan die Kaap was die proses al feitelik afgeloop Vandag, ja, oefen Engels 'n groot invloed uit op Afr., maar enkel en alleen op die woordeskat en die verengelste uitdrukkinge (anglisismes). Op die sintaksis self is geen spoor van Engels te bewys nie.
Interessant is dit ook om op te merke dat van eintlike dialekte in Afr., alhoewel oor so'n groot gebied versprei, is daar geen sprake nie. Wel kan 'n mens hier en daar bietjie lokale verskille merke in uitspraak en woordgebruik, maar daar is geen Afrikaner wat nie 'n ander volkome sal kan verstaan nie. Die gedurige wisselomgang tussen die mense in S.-A., die invloed van kerk, skool en lektuur, vandag natuurlik nog veel meer as vroër, hou die ontwikkeling van dialekte nie alleen teen nie, maar veeg ook uit waar daar alreeds sulke verskynsels hulle begin vertoon.
Die geskiedenis van die Afr. letterkunde is natuurlik baie nou met die geskiedenis van sy taal verbonde. Hoe nou ook die verband is tussen volkswording en die afkoms van die Afr. taal daarop het ons al rede gehad hier en daar te wijs. In elk geval tot dusverre is die geskiedenis van die Afr. taal ook feitelik die geskiedenis van sy letterkunde. Uit die benaming ‘Taalbeweging’ blyk dit trouens al. Daar is al vantevore melding gemaak van die 1ste Taalbeweging en die 2de
| |
| |
Taalbeweging. Laat ons die twee periodes in ons letterkundige en taalgeskiedenis bietjie nader bekyk.
Ons herhaal: die stryd vir volksbestaan is nie altyd te identifiseer gewees met die stryd vir taal nie; verreweg nie altyd met die stryd vir die Afr., taal nie. Omgekeerd wel die stryd vir die taal met die van volksbestaan. Eersgenoemde is maar eers heel gedeeltelik die geval gewees in die 1ste Taalb., en in die 2de Taalb. is dit ook maar eers heel kort gelede wat die twee feitelik 'n voldonge feit geword is. Lank was dit 'n strijd vir die volkstaal maar die is as Ned. beskou gewees. Nou egter is die taalstryd gewen, is ons van onsself as volk bewus geword, is ons reg om as volk te bestaan ook deur ons vyande erken.
En so is ons al haas besig om 'n derde fase in te tree, 'n kulturele epog, waarin ons kultuur sal gestel word teenoor die eeueoude kultuur van die Engelse volk, m.a.w. daar is vandag 'n magtige kultuurstryd al in aanvang in S.-A. Die stryd van 'n jong volk, met 'n jong taal, en 'n haas in sy windsele nog liggende kultuur teen 'n indringer, sterk en geweldig, met 'n groot land en 'n groot volk en 'n groot kultuur - gelukkig 6000 myl ver oor die see - agter hom. In getalsterkte byna kop en kop - in aard en karakter ook byna ewe koppig en vashoudend. Wie gaan wen? Of moet ons liewer sê: Wie gaan die meeste assimileer aan die ander? 'n Afrikaner, in sy uiterlike manier van doen word dikwels geneem vir 'n Engelsman; 'n Engelsman in S.-A. gebore, voel hom nie meer tuis in Engeland nie. Inboorling Angelsakser het destyds in Engeland met indringer Noorman tot Engelsman geassimileer - veel van sy taal en maniere oorgeneem, maar in grondslag tog Angelsaksies gebly. Numeriek staan die twee groepe te sterk oormekaar in S.-A. dan dat die Afr. die Engelsman zal kan absorbeer, soos hy destyds met die Nederlander, Fransman en Duitser gedoen het. Vraag - onmoontlik om te beantwoord - anders as met 'n wedervraag. Die Afr. volk en taal is gegroei saam met en uit die Afr. bodem - is die inheemse plant nie gewoonlik sterker en taaier in sy uithoudingsvermoë as die ingevoerde plant nie?
Maar - ons haas ons om by ons letterkundige bewegings te kom. Die eerste doelbewuste poging om Afrikaans tot skryftaal te verhef en as kultuurmedium te laat dien het uitgegaan van ‘Die Genoot- | |
| |
skap van Regte Afrikaners’; op 14 Aug. 1875 in die Pêrel opgerig. Siel en lewe van die vereniging was Ds. S.J. du Toit, trou gesteun deur sy broer D.F. du Toit e.a. Afrikaners en die naar S.-A. geëmigreerde Hollanders C.P. Hoogenhout, J. Lion Cachet, A. Pannevis e.a. Sporadies het Afrikaans al van tevore in koerante, tijdskrifte en dg. verskyn, en dit was deur briewe van hulleself in ‘De Suid-Afrikaan,’ oor die reg van Afr. as taal en as middel teen verengelsing dat du Toit en Hoogenhout, die twee grootste werkers miskien, met mekaar in aanraking gekom het. Dis merkwaardig wat 'n rol Hollanders in hierdie geskiedenis gespeel het. Toe daarop ook A. Pannevis deur briewe in ‘De Suid-Afrikaan’ en andersins 'n vertaling van die Bybel in Afr. wou bewerk kry (vroër 'n leraar van du Toit, van wie du Toit gesê het, dat hy sy oë in die Afr. saak oopgemaak het), is die yweraars as direkte gevolg, deur die loop van sake bymekaar gekom, en is die ‘Genootskap’ opgerig, met die doel: ‘om te staan ver ons Taal, ons Nasie, en ons Land.’
As eerste vrug het verskyn 'n manifes waarin hul nuwe volkslied, die beroemde ‘'n Ieder nasie het sy Land’, en strewe verklaar was; daarna van 15 Jan. 1876 'n maandblad. ‘Die Afrikaansche Patriot.’ Groot was die waag egter, en maar al te dikwels moes die ondersteuners ook in hul eie sak tas. Maar die hoop het nie beskaam nie. Verrassend snel het die ‘Patriot’ uitgebrei, in 1877 was dit al weekblad. Immers die politiek, eg nasionaal en anti-Engels, was so in die smaak van die volk, die taal ver die wat min Nederlands en nog minder Engels geken het, so verstaanbaar. Met 'n paar uitzonderinge was du Toit al die tijd van die Patriotbestaan (tot 1904) Redakteur. En kragtig het die beweging dan ook opgang gemaak in die Kaap Kolonie en selfs hier en daar daarbuite. Teenstand was daar natuurlik ook oorvloedig van Engelse en Hollandse kant in nuwsblaaie ens. en veral die predikante, wat sterke voorstanders van die Ned. taal was, was sterk teen du Toit c.s. gekant. In grond egter was die strewe van albei dieselfde nl. teen verengelsing en vir kultuuropbou. Die een stroming wat probeer het die volkstaal weer tot Nederlands te ‘verhef’ en die taal as teentaal teen Engels te gebruik het sy uiting gevind in die oprigting van die ‘S.-A. Taalbond’ in 1890. Met die voorste mannen
| |
| |
op kerk- en onderwijsgebied aan die hoof daarvan, met die gevestigde taal en letterkunde van Nederland agter hom, het die beweging tydelik die Afr. Taalb. oorskadu, wat haas nog niks buite sy goeie wil en harde strewe aan te bied gehad het nie. En dit moes ook, en was miskien goed ook vereers. Dit was die veg met die een swaard, terwijl die geskiktere nog aan smeed was. Want nogmaals, eintlik was altwee maar strijd vir dieselfde doel: handhaaf van self teenoor die Engelse indringer. Onlangs dan ook is die Taalbond verafrikaans, Afr. het sy regte plek kom inneem. Die 2de eie swaard is gereed.
Intusse - die ‘Patriot’ het beoog om die skryf- en leeslus van die eintlike volk op te wek. ‘Skryf soos jy praat,’ het hul gesê - en dit het ingeslaan. Om aan te help het ook 'n grammatikaatjie ‘Eerste Beginsels van die Afr. Taal’ in 1876 verskyn, heeltemal op practiese spelling gebaseer. Om die volk hul geskiedenis te leer het verskyn ‘Die Geskiedenis van ons Land in die Taal van ons Volk’ 1877. Ook allerlei almanakke, kinderboeke, verhale ens., is in die ‘Patriot’ self of afsonderlik uitgegee. 'n Suiver belletristiese en wetenskaplike vertakkinkie van ‘Die Patriot’ was ‘Ons Klyntjie’, 'n maandblad (1896-1906). Du Toit het selfs proewe van Bybelvertaling gelewer. Die rede van die kwyn en wegsterwe van die 1ste Taalb. is hoofsaaklik te vind in die onnasionale politiek in die latere jare van sy bestaan, waardeur die meeste lesers van die bladjie ontvreemd geraak het; en in minder mate deur ontevredenheid oor die oordrewenheid van die fonetiese spelling wat in sy afwyking van die aangeleerde Nederlands, ook weleens moeilikheid veroorsaakt het.
Grote kuns moet ons in die 1e Beweging nie soek nie. Dit was uit die volk en vir die volk. Mees was die stukke tendensieus en moraliserend, - hoe kan volkskuns wat poog om op te voed eintlik anders wees? - anders, soms aardige beryminge (gedigte kan dit nie genoem word nie) oor dingen uit die volkslewe b.v. vertellinge, nasionale en taalliedere, geskiedkundige, godsdienstige, minne-, huislike versies ens. As blywende monumente uit hierdie tyd sal ons miskien kan noem:
(a) | Van Ds. S.J. du Toit. 'n Roman ‘Die Konigin van Skeba’, wat handel oor die ruïnes van Simbaboe in Rhodesië, en deur hom voorgestel word as die Land van Ophir vanwaar Salomo sy goud sou
|
| |
| |
| gekry het. Prof. Smith het dit genoem: ‘die mees ambisieuse prosawerk van die 1ste Afr. Taalb.; die verhaal is goed in mekaar geset en nooit vervelend nie, die manier waarop historiese kennis verwerk word, getuig van groot talent; die Afr. is voorbeeldig suiwer en natuurlik.’ - Veral laasgenoemde inderdaad: 'n Historiese Toneelstuk: ‘Margrita Prinsloo’, is meer 'n reeks van taferele, as 'n eenheid van kompositie. Goeie geleentheidsstuk met aardige uitbeelding van die geskiedenis en goeie dialoog. |
(b) | Jan Lion Cachet. - 'n Oorspronklike Hollander. Een Ds. later Professer. Sy ‘Sewe Duiwels’ bv. Afguns; Lieg-Duiwel ens., tendensieuse verhale, wat egter nooit in die preektoon verval nie; en deur fijne waarneming en rake tekening van die Afr. karakter en taal uitmunt. Dis m.i. die beste produk van hierdie tijdperk. |
(c) | G.R.v. Wielligh. - Jakob Platjie of Sketse fan Hotnots en Boesmans Lewe in S.-A.’. Soms heel goed geobserveer en aardig vertel |
(d) | Ook Ou-Pres. F.W. Reitz was lank gereëlde bydraer van hierdie tydskrifte en daar is later van hom verskyn ‘52 (later) 60 Uitgesogte Afrikaanse Gedigte’, deels van homself en deels versamel. Aardige beryminge, met hier en daar 'n egte stukkie kuns. Hoofsaaklik van sterk patriottiese inhoud.
Verder talrijke versamelbundels, waaruit baie liedere geneem is en op musiek geset. |
(e) | Afr. Liederbundel van Mansvelt. Liedere wat vasgeplant is en voortleef nie alleen in die Afr. volksmond nie, maar ook in Nederland. |
As karakterisering dan teenoor die 2de Taalb. kan ons sê dat die roeping van 1ste Taalb., die roeping van Johannes in die woestijn was, wat die pad reggemaak en die mense voorberei het vir die kuns van die grotere na hom, die 2de Taalb., ook weleens, nie heeltemaal ten onregte nie, die ‘Afrikaansche Renaissance’ genoem.
En inderdaad wat 'n wedergeboorte, wat 'n herleving was dit, en is dit nou nog.
Waar die vroëre taalbeweging nie veel meer as 'n oase in 'n woestyn was nie, is die 2de feitlik net omgekeerd, het dit deurgebreek in alle laë van die maatskappy met die snelheid van vuur. Die herlewing wat in 1903 begin het met die stigting van die Maandblad ‘De Goede Hoop’, onder
| |
| |
Redaksxe van Adv. J.H.H. de Waal, waarin Afr. sowel as Ned. sou opgeneem word, was die begin van die taalstryd (en letterkundige opbloei) wat, as taalstryd beskou, kan bereken word sy end gekry te hê toe, nadat alreeds staat en skool en kerk deur die hele land, in die drie ander provinsies Afr. as offisiële taal naas Engels en Nederlands erken het, ook die Sinode van die Kaapse Ned. Ger. Kerk op 7 Nov. 1919 tot 'n dergelike besluit gekom het. Langste van almal het die konserwatiewe kerk hom aan die gebruiklike sg. Nederlands vasgehou; onlangs is egter ook 'n proewe van 'n eerste vertaling van dele van die Bybel in Afr. verskyn. Maar dit sal seker nog 'n hele tydjie duur voordat Afr. volkome in die praktyk ook sal gevestig wees, al is dit net omrede van die feit, dat die oueres, in hulle soort Nederlands op gebied van publieke lewe en godsdiens vasgeroes, daar nie altyd van kan wegbreek nie, selfs al wil hulle ook soms. Maar die jongere geslag, wat uit die aard van die saak net Afr. en Engels eintlik as skool- en spreektale sal leer, die sal ook nie anders kan as die taal gebruik wat hulle kan nie.
Die 2de Afr. Taalbeweging het dan ook begin as 'n suiwere taalbeweging, maar ons herhaal, as 'n strewe om die eie taal te beoefen, teneinde die volksbestaan te bevestig teenoor die verengelsing wat ingesluip het, deur die anglisering van die onderwys deur die engelse bewindhebbers na die Engelse Oorlog van 1899-1902, en die onmoontlikheid van Nederlands ooit weer tot spreek- of zelfs skryftaal te verhef. Daarvoor was die Afr. se eie spreektaal al reeds te afwijkend, die tyd vir onderwys in Ned. op skool hopeloos te min en onvoldoende. Vir die meeste Afrikaners was dit makliker Engels te lees, skrywe en praat as Nederlands.
Die stryd vir Afr. in die 2de Beweging is dan ook nie so seer gewees teen openlike teenwerking van die kant van die Engelse nie, immers ‘Hollands’ was erken as taal in die Vrede van Vereeniging, maar teen die voorstanders van Nederlands, wat onophoudelik die pro-Afrikaners die verwyte in die gesig geslinger het, nl. dat hulle geen gevormde taal en ook geen letterkunde het nie. Dit is direk onder hierdie invloede, dat dan ook 'n groot deel van die letterkunde geskrywe is: om die teenstanders te bewys, dat Afr. net so goed en uitdrukkings- | |
| |
kragtig is as ander tale en om 'n letterkunde op die been te bring. So is dit o.a. wat die eerste roman ('n historiese) in Afr. verskyn is b.v. ‘Johannes van Wyk’ deur Adv. J.H.H. de Waal; soo ook sy ‘Stompies’; so ook heel wat ander geskrifte b.v. van van Wielligh, die roman ‘Sy Pa se skuld’ van D.P. du Toit, e.a.
Meestal is dit romans of verhale, waar dit suiwer geskrywe is met die doel om leesstof vir die volk te verskaf, om ‘stene’ by te dra tot die ‘muur’ van Afr. letterkunde, nêrens eintlik - dis almal intriesje romans - 'n hoë ‘kunspeil bereik nie. Maar dat dit goeie werk gedoen het, en nou nog doen, wie kan dit ontken?
Egter daar was ook ander wat 'n letterkunde wou opbou, wat 'n letterkunde moes opbou om die kunstenaarsdrang in hulleself te bevredig. So'n uiting was b.v. ‘Winternag’ van Eug. Marais in 1905.
Winternag.
so wyd as die Heer se genade,
lê die velde in sterlig en skade.
is die grassaad aan 't roere
soos die lied van 'n meisie
blink 'n druppel van dou,
Veral ‘Die Vlakte’ van Jan F.E. Celliers het in 1906 gekom om as 'n kragtige hamer te dien in die hande van diegene wat aan strewe
| |
| |
was die mure van vooroordeel, konserwatisme en onkunde teen Afr neer te slaan. Luister maar ewe.
Die vlakte.
Ek slaap in die rus van die eeue gesus
En dof en loom in my sonne-droom,
Tot die ijl-blouwe bande van die ver-verre rande
wyd-kringend aan d' puur alomwelwend asuur
Soos 'n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
kom 'n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot 'n stapelbou
van marmer wat krul en leef,
kolossaal monument op sy swart fondament
waar die bliksem in brul en beef.
En o, met my is die windjies bly,
hul spring uit die stof orent
en wals en draai in dwarrelswaai
oor my vloer, van end tot end;
die gras skud hul wakker om same te jakker
tot hy opspring uit sy kooi,
en soos mane en sterde van jaende perde
sy stengels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof
kom die eerste druppels neer,
tot 't ruis alom so deur die gebrom
en gekraak van die donderweer,
Met kloue vooruit om te gryp en buit
jaag 'n haelwolk langs verby,
soos 'n perdekommando wat dreun oor die lande
- en sy lykekleed sien ek ver en breed
As voorstrewers op hierdie gebied staan die ‘Afrikaanse Taalgenootskap’ in Pretoria, wat deur die kragtige inisiatief, veral van
| |
| |
Gustav S. Preller b.v. sy brosjure ‘Laat 't ons toch ernst wezen’, - ‘Gedachten over de aanvaarding der Afrikaanse schrijftaal’; e.a. artiekels in ‘De Volksstem’, tot stand gekom het; en die Afr. Taal-Vereniging 1906 in Kaapstad gestig, 'n saak, waarin Adv. J. de Waal ook 'n gewigtige rol gespeel het. Die voorstes van die jonge geleerdes van S.-A. het almal by hierdie verenigings aangesluit, en van die staanspoor af het daar grote krag begin uitgaan. Orals is dan ook takke gestig en sterke propagande op allerlei wyze, b.v. deur toneelopvoeringe ens. ten gunste van Afr. gemaak. Soortgelijk was die stigting van die Vereniging ‘Onze Taal’ in Bloemfontein in 1908. As 'n direkte vrug van die stigting van die ‘Afr. Tg.’ in Pretoria was die oprigting van die tydskrif ‘Die Brandwag’, (1910-1922), met die bevordering van 'n eie letterkunde as hoofdoel. Hoofsaaklik belletristies is die blad dan ook altyd gebly en heelwat van ons hedendaagse skrywers het hulle début daarin gemaak. Altyd is ook sy gehalte hoog gebly. Verlede jaar is die uitgawe gestaak word - waarskynlik deels deur die onsimpatieke politieke kleur van die Redakteur, Preller, teenoor die nasionale beweging, en deels deur die opkoms van ‘Die Boerevrou’ in Transvaal, en ‘Die Huisgenoot’, onder redaksie van Prof. J.J. Smith in Kaapland. ‘Die Huisgenoot’ is feitelik 'n voortsetting van ‘Ons Moedertaal’, in 1916 opgerig, en is vandag die algemeenste Afr. tydskrif van S.-A. Onlangs is egter 'n nuwe tydskrif, met 'n hoër kuns en wetenskaplike strewe opgerig te Bloemfontein ‘Tydskrif vir wetenskap en kuns’ onder redaksie van Dr. R.A. Malherbe. Die tydskrif is nog te jong om al iets daaroor te kan sê.
Die noodsaaklikheid van 'n hoogstaande sentrale en gesaguitoefenende liggaam op taal- en letterkundig gebied het gelei tot die stigting van ‘Die S.-A. Akademie vir Taal, Lettere en Kuns’ in 1909. Tot hierdie vereniging behoort alle vooraanstaandes op Afr. gebied, hierdie liggaam word ook offisiëel deur die Staat ens. erken, en dit is die liggaam wat b.v. die Afr. spelreëls opgestel het, die ‘Afr. Woordelys’ uitgegee het en verder as outoriteit in sake van taal, keuring van skoolboeke ens. optree.
Één naam, wat ook 'n baie groot rol gespeel het, beide vir erkenning van Afr. op skool- en ander gebied is C.J. Langenhoven. Deur sy
| |
| |
vurige pleidooie in Akademie, Provinsiale Raad en elders, deur sy daadwerklike optree as lid van die Uitv. Raad van die K.P.; deur die werke bowenal wat hy self geskep het, staan Langenhoven vooraan as een van diegene wat Afr. gebring het waar dit vandag is. Meestal is sy werk ook tendensieus, b.v. ‘Ons Weg deur die Wereld’, sy toneelstukkies ens. en sy strewe bewus naar volkskuns (b.v. sy rubriek ‘Langs Stille Waters’ in die nasionale dagblad ‘Die Burger’); maar by hom is die tendens inderdaad 'n geval geword van onweerstaanbare uitingsdrang en sy skeppinge is suiwer kuns, van die beste wat ons het in S.-A.
As andere skrywers wat skrywe nie meer bewus as militante skrywers nie, maar om uit te sing of uit te sê wat binne in hul woel, kan ons noem as digters: Jan Celliers - die tere byna gekunstelde fyne volkssanger van die Afrikaner se lewe, lye en geloof, die man met 'n ‘religieuze dichterlikheid’ nie ‘dichterlike religieusheid’, soos Querido sê, die diepvoelende natuurdigter; Louis Leipoldt - die spontane klare suggestiewe, diep-zielkundige indringende en roerende, meester in sy fyne observasies en gebruik van die haas alledaagse taal b.v. ‘Oom Gert vertel e.a. gedigte’. Totius (Dr. J.D. du Toit, seun van S.J. du Toit) - die godsdienstige by uitstek, meestal uitbeeldende die leed van sy volk, veral van die vrou; Langenhoven met sy grootse epos ‘Die Pad van S.-A.’ en sy andere so skynbaar eenvoudige, maar dieproerende en gedagtevolle gedigte. Malherbe, Joubert, Keet (die naïef-tedere veral in sy minnediggies), Wassenaar e.a. jongere digters. As prozaiste - kunstenaars in die werklike sin van die woord, mense besiel met die idee ‘the proper study of mankind is man’ - kan ons noem: Jochem van Bruggen, met sy roman uit die Boereoorlog ‘Teleurgesteld’, sy verhalebundel ‘Op Veld en Rande’, sy sketse ‘Ampie’ en ‘Die Burgemeester van Slaplaagte’. Veral in sy skildering en analiese van die bywonerstiepe (verarmde Boerelandbouers) is hy skitterend en sy ‘Die Burgemeester van Slaplaagte’ is 'n diamant van die suiwerste water; Léon Maré wat waarskynlik die beste bundel Afr. verhale gelewer het in ‘Die Nuwejaarsfees op Palmietfontein’ en uitmunt deur sy fyne sielkunde, diep gevoel en meesterlike taalplastiek; Ds. J.H.
| |
| |
Kruger se roman ‘Twee Rampe en Twee Gelukke’ 'n heerlike greep in die volkslewe van vandag. Minder van betekenis is sulke romanskrywers as Jan van Bruggen (wat 'n eerlike en eerste poging gewaag het 'n suiwer sielkundige roman in sy ‘Japie’ te lewer) A. du Biel, D.F. Malherbe, J.H.H. de Waal e.a.
As 'n skilder van die dierelewe - die dieresiel meesterlik uitbeeld in kragtige, beeldryke taal - staan as grote figuur waarskynlik in die wereldlitteratuur A.A. Pienaar (Sangiso) in sy ‘Sketse uit die Oos-Afrikaanse Dierewereld’. Die boek is onlangs in Engels vertaal geword - die eerste Afr. werk, wat die onderskeiding geniet om op die weg tot internasionaal word, te wees. Op gebied van satiries-humoristiese prosa in die vorm van verhale, sketse, vertoë, korte ‘essays’ ens., staan vooraan C.J. Langenhoven in sy ‘Ons Weg deur die Wereld’, ‘Sonde met die Bure’, ‘Doppers en Filistyne’ ens., 'n man, soos Prof. Casimir sê, wat veilig langs die groot Franse humoriste b.v. Molière kan geplaas word. Dan volg Ds. W. Postma (Dr. O'Kulis) in ‘Die Eselskakebeen’ e.a. werke.
Ook op gebied van die drama - voorheen geheel en al volkskuns en tendensieus hetsy as tooneelspel, hetsy as klug- of blyspel (b.v. Melt Brink, die oue veteraan van vóór 1900 al, Langenhoven e.a.) - is die kentering gekom in die pogings van J.F.W. Grosskopf in sy ‘Esau’, Jan Celliers in sy ‘Reg bo Reg’, en Malherbe in sy ‘Koringboere’ (hoe swak geslaag die laaste twee veral dan ook mag wees) om sielkundige studies of wel historiese en dergelike ‘verheffende’ of ‘opvoedende’ stukke te presteer. In sy ‘Rivier en Veld’ probeer Malherbe ook bewus 'n kunsvorm (in verse) te gebruik.
Verder op gebied van historiese en biografiese ondersoek het zulke mense as Gustav Preller b.v. met sy ‘Piet Retief’; Totius met ‘Ds. S.J. du Toit in Weg en Werk’; Di. N. Kestell en N.J.v.d. Merwe oor Genl. C. de Wet en Pres. M.J. Steyn respektiewelik; e.a. skrywers uitstekende werk gelewer, Hierdie belangstelling in volkshelde en voormanne is 'n verder bewys van die wakkere nasionale bewussyn van die Afrikaners teenswoordig.
So staan S.-A. dan vandag in die kenteken van sy ‘Renaissance’. Orals lewe, orals sterk kulturele opbloei - ook op gebied van beeld- | |
| |
skilder- en musiekkuns. Merkwaardig is dit, dat die kunstenaars in S.-A. van die oomblik haas almal Afrikaners is, en die Engelse, buiten Olive Schreiner ‘The Story of an African Farm’, nog so goed as geen skrywer van belang opgelewer het nie. Die stryd teen Nederlands is vandaag oor, die vyande is bondgenote geword. Alleen die stryd teen Engels, hoofsaaklik 'n kultuurstryd soos alreeds gesê, bly oor. Wat gaan die uitslag wees? Vraag ontmoontlik om te antwoord - buiten as al tevore met 'n wedervraag gedaan. Hoever kan Nederland help? Ook dit kan nie hier beantwoord word nie. Één ding weet ons egter wel seker. 'n Volk wat al so dugtig in die verlede gestry en gely en hom tog gehandhaaf het, kan nie ten ondergang gedoem wees nie. En wat ons Jong-Afrikaners in besonder betref, as die sukses van ons saak moet ofhang van die volgende woorde van Jan Celliers, dan moet ons wen:
Komaan!
Daar's nie na guns of eer te kyk,
daar's nie na links of regs te wyk,
daar's net te swyg en aan te stryk
Om God, om God alleen te vrees
aan aard en taal getrou te wees -
gesond en waar van hart en gees,
Hul lewensweg het ons gewys
om trou te wees aan waarheids eis -
wie laak, mag laak, wie prys, mag prys,
| |
| |
| |
Litteratuuropgawe:
Dr. S.P.E. Boshoff: Volk en Taal van S.-A. |
Dr. D.B. Bosman: Afrikaans en Maleis-Portugees. |
Dr. H.T. Colenbrander: De Opkomst der Boeren. |
Dr. D.C. Hesseling: Het Afrikaansch. |
Dr. E. Kruisinga: De Oorsprong van het Afrikaans. (Taal en Lett. XVI, 1906.) |
Dr. G.J. Boekenoogen: Afrikaansch en Noord-Hollandsch. (‘Album-Kern’, 1903, bldz. 245 vgg.). |
Dr. Lydia van Niekerk: ‘Die Eerste Afrikaanse Taalbeweging en Letterkundige Opbrengselen’. |
Dr. E.C. Pienaar: Taal en Poësie van die Twede Afrikaanse Taalbeweging. (Met Bloemlesing Afrikaanse Gedigte.) |
Dr. P.C. Schoonnees: ‘Die Prosa van die Twede Afrikaanse Taalbeweging’. (Met Bloemlesing ‘Afr. Prosa’.) |
Lub, Boer en v.d. Merwe: (Vir Skole.) Bloemlesing uit die Nuwere Afr. Letterkunde. (Pretoria: v. Schaik). |
M.S. Malherbe: Bloemlesing - Afr. Letterkunde. (Nasionale Pers. Bpk. - Bloemfontein). |
Hierdie mees aanbevelenswaardig. |
|
|