Ons Erfdeel. Jaargang 18
(1975)– [tijdschrift] Ons Erfdeel– Auteursrechtelijk beschermd
[pagina 702]
| |
S.V. Petersen (Foto Anne Fischer, Kaapstad).
| |
[pagina 703]
| |
s.v. petersenf.r. gilfillan Opperman en Elisabeth Eybers, twee belangrike digtersfigure uit Suid-Afrika, het onlangs sestig jaar oud geword. In 1973 het ook W.E.G. Louw hierdie mylpaal bereik, en hulle is almal in mindere of meerdere mate gehuldig vir hul bydrae tot die Afrikaanse letterkunde. Met hierdie artikel wil ek waardering uitspreek teenoor 'n ànder Suid-Afrikaanse digter, S.V. Petersen, wat ook onlangs sestig geword het. Al het hy hom die laaste jare geleidelik onttrek aan die literêre toneel is hy geensins vergete nie, sy stem leef immers voort in die gedigte waaraan hy gestalte gegee het. En ook vir sy bydrae verdien hy hulde.
Sydney Vernon Petersen is in 1914 gebore op die Suid-Kaapse dorpie Riversdal. Nadat hy aan die universiteit van Kaapstad as wiskunde-onderwyser kwalifiseer, keer hy eers terug na die Berlynse sendingskool op sy geboortedorp, maar vestig hom later in Kaapstad. In die veertiger jare verskyn daar van hom twee bundels: Die Enkeling (1944) en Die stil kind (1948). Daarmee vestig hy hom as die eerste bruinmensstem in die Afrikaanse poësie. In daardie jare skryf hy ook As die son ondergaan (1945), 'n roman wat tematies aansluit by sy poësie in so verre dit die ontreddering van die bruinman in die stad as onderwerp het. Eers in 1960 verskyn daar weer 'n digbundel van hom: Die kinders van Kain, en in 1965 sy jongste bundel, Suiderkruis. Sedertdien het tien jaar verbygegaan sonder enige aanduiding dat die digter weer van hom gaan laat hoor. Dit gaan dus nie om 'n produktiewe digterskap nie, maar om 'n bydrae wat belangrik en opmerklik is uit 'n bevolkingsgroep wat selfs sy taal met die wit Afrikaner deel, maar uit baie van sy voorreg- | |
[pagina 704]
| |
te uitgesluit is, en wat vandag reeds meer as twee miljoen tel.
Dit verbaas nie heeltemal dat Petersen swyg nie. Die aspirasies en behoeftes van die gemeenskap wat hy verteenwoordig, eis hom volkome op. In 1947 het 'n groot leemte aan voldoende hoër skole vir Kleulinge hom aangespoor tot die stigting van Athlone Hoër, op daardie stadium die derde hoër skool van sy soort in die Kaapse skiereiland en vandag een van die grootstes en bekendstes in Kaapland. Aan hierdie inrigting het Petersen hom die afgelope 28 jaar met oorgawe gewy; 'n skool met 'n eie stempel en tradisie: liberaal. vrysinnig en individualisties. Verder 'n inrigting met 'n sterk kulturele gerigtheid - soos wel te verwagte is met 'n woordkunstenaar aan die hoof. Die vermenging van wiskunde-onderwyser met digter sorg dan ook vir 'n fyn balans tussen suiwer wetenskap en geestesgoed in die skool. Selfs al sou Petersen nooit sy pen op papier gesit het nie staan Athlone Hoër as lewende monument vir hom.
Hy sit, verlore tussen droom en daad
- sy dag het reeds begin -
So ewe stil en afgestroop,
'n Siende blinde enkeling.
(Uit: ‘Paradys verlore’, Die stil kind, 1948.)
In die sterk belydende aard sluit sy vroeë werk tematies direk aan by sy tydgenote, veral W.E.G. Louw en Elisabeth Eybers. Die jong Petersen slinger hier voortdurend tussen eensaamheid en gemeensaamheid, hy voel hom 'n enkeling, weerloos teen die vreemde wêreld daarbuite. Vergelyk daarmee wat die 21-jarige W.E.G. Louw skryf in Die ryke dwaas (1934):
Hier in die donker, waarteen die sterre kom en gaan,
bly ek, vereensaam, met wonderoë staan.
Die ooreenkomste gaan ook verder. Petersen sluit met sy vroeë natuurpoësie aan by die skoonheidsverheerliking in die eerste Afrikaanse poësie. Die natuur is hier nog simbool van 'n hunkering na 'n ongerepte paradyslike wêreld. Waar Toon van den Heever in die twintigerjare dig oor die HoëveldGa naar eindnoot(1) ‘waar dit oop is en die hemel wyd daarbo’ hoor ons byvoorbeeld by Petersen van die ‘koel blou van die Outeniquas...Ga naar eindnoot(2) en 'n hemel skoon daaragter’. Of, as die jong Van Wyk Louw in 1935 verwys na dennebosse as 'n ‘blou see van denne teen die hang’ (Alleenspraak) hoor ons by Petersen van ‘Denne-resjiment / teen die hang van die lug, / Met bloekomsGa naar eindnoot(3) / Wat brandwag staan’.
Daar is ook verdere tematiese ooreenkomstes. Opperman (‘Ballade van die Grysland’, Negester oor Ninevé, (1947), en S.J. Pretorius in sy eerste bundels van 1943, en 1945, trek hulle die lot van die (wit) arbeider in die stad aan. Hierdie tema kom terselfdertyd sterk na vore by S.V. Petersen. En soos Die kinders van Kain laat sien kon hy hom nooit weer daarvan losmaak nie. Hy sê dan ook: ‘Ek skryf nie, ek word geskryf’. Vergelyk:
'n Lot het hul hierheen laat dryf
laat blikpondokGa naar eindnoot(4) kom opslaan
links en regs en mankoliek en krom.
Hulle boer met troppe kleingoed,
hulle smousGa naar eindnoot(5) met daggaGa naar eindnoot(6), sjerrie,
en gesteelde mansmateriaal.
(Uit: Windermere.)
Maar Opperman het metafisiese digter geword, wiggelaar en profeet. Elisabeth Eybers het die digterlike woord omskep | |
[pagina 705]
| |
tot volmaakte instrument, en W.E.G. Louw het die wêreldvreemdheid saam met sy jongelingskap afgelê. Slegs by S.V. Petersen vind ons nog, tot in sy jongste bundel, die sehnsucht na die geïdealiseerde jeugland:
En hier het ons tamaletjiesGa naar eindnoot(7) kom koop
waar die bo-deur, buiten Sondae, oop
was, en oor die onderdeur gekyk
na binne, waar tant Spasie aan stryk
was vir duusvolkGa naar eindnoot(8) van die dorp
(Uit: ‘Queens Hotel’, Suiderkruis.)
Tot in die jongste werk vind ons nog steeds die uitbeelding van die arbeider in die stad, weliswaar met meer deernis nou, 'n soort gelatenheid. Miskien is dit belangrik om te onhou dat die wit Afrikaner nie meer worstel met sy armblankevraagstuk nie, dat hy sy eie regering het, sy selfrespek as nasie herwin het. Miskien kon sy digters daarom groei. Petersen het bly steek in die digterlike tradisie van weleer, miskien omdat sy wit broer hom agtergelaat het. Is dit vreemd dat sy stem na soveel frustrasie en verydeling mat geword het? Opmerklik is dit dat 'n toenemende aantal wit digters in Afrikaans vandag die pad vir die bruinman probeer oopskryf. Juis oor die kleurvraagstuk skryf Petersen van sy sterkste verse. So is daar ‘Verwantskap’ en ‘Bede’ uit Die Enkeling, ‘Die Veles’ en ‘Bergies’ uit Kinders van Kain. Hier langsaan verskyn ‘Bede’, 'n gedig wat sinoniem geword het met Petersen en wat steeds bly ontroer oor die magtelose verdriet en onbegrip van 'n mens wat gebuk gaan onder ‘die vloekstraf van 'n donker huid’. Ek kies ook ‘Die toring Babel’ vir opname omdat die digter diskriminasie daarin as 'n universele probleem sien. Ek neem verder Riversdal oor die ongekompliseerde teruggryp na 'n jeugland, en ten slotte, die openingsgedig uit Suiderkruis.
Ons huldig Sydney Vernon Petersen as digter, as pedagoog, en veral as broer, omdat hy, ondanks alles, bly tuis voel onder die Suiderkruis. |
|