| |
| |
| |
[Nummer 4]
minder europa, meer afrika
jan sebastian rabie
Geboren in 1920 in Kaapland. Studeerde af in Stellenbosch in 1945, verwierf een Franse studiebeurs voor de Sorbonne (1952) en een Carnegie-reisbeurs door de V.S.A. (1966). Was 3 jaar onderwijzer, 3 jaar radio-omroeper, verbleef daarna 7 jaar in Parijs en 3 jaar op Kreta. Is gehuwd met de kunstschilderes Marjorie Wallace. Ze leven samen van hun kunst.
Publiceerde tot nog toe een zestiental boeken. Met de verhalenbundel 21 (1956) luidde hij de vernieuwing van Sestig in. Beschouwt zelf als zijn belangrijkste publikaties: de vierdelige reeks Bolandia (historische romans) en Polemika (1966 - een bundel polemische essays rond Afrikaans en kleurproblemen).
Adres:
Vermont, Onrusrivier 7201, Zuid-Afrika.
In de derde aflevering van de voorgaande jaargang (1973) publiceerde Jan Deloof een bijdrage over de inbreng van de niet-blanke auteurs in de Zuidafrikaanse literatuur, of precieser uitgedrukt: de literatuur in het Zuid-Afrikaans (in Zuid-Afrika kortweg ‘Afrikaans’ genoemd). Het bleek dat de grondtoon van hun oeuvre verbittering of sarkasme is.
De redaktie meende er goed aan te doen ook aandacht te besteden aan de houding van de blanke schrijver tegenover de apartheidspolitiek. Het onderhavig artikel is echter geen analyse geworden, maar een persoonlijke getuigenis. De lezer hoeft het niet op alle punten met Jan Rabie eens te zijn om te zien dat de blanke schrijver heen en weer geslingerd wordt tussen zijn loyaliteit tegenover eigen taal, kultuur en volksgroep aan de ene kant, en anderzijds zijn onvrede met de behandeling van de niet-blanken.
In de werken van Jan Rabie, die het hier vooral heeft over de ‘bruinmense’ (Kleurlingen) en niet over de ‘swartmense’ (Bantoes), klinkt vooral een ondertoon van eerlijke verontwaardiging door.
Redaktie.
'n Skrywer is sy taal, en as hy dit goedkeur dat sy medetaliges deur wetgewing op kleurgrondslag uitmekaar verstoot word, is hy 'n dwase vyand van homself. In die Suid-Afrikaanse verband: witter en bruiner Afrikaners word amptelik nog verder van mekaar vervreem, sodat blankverklaardes soos ek steeds meer gestel word voor 'n konfrontasie tussen witman en Afrikaner, tussen Europa en Afrika.
Eers twee verduidelikings vooraf: my uiteensetting geld slegs Afrikaanstaliges, en nie swart Afrikane of Britse afstammelinge nie, daar hulle andertaliges is. Tweedens: my standpunt is nie dié van pigmentasie nie; my trots is om Afrikaner te wees, nie witman nie.
Die eerste mense in Afrika wat hulself kinders van Afrika, Afrikaners, en hul taal, Afrikaans, genoem het, was Dietse afstammelinge uit Nederland, Vlaandere, Noordwes-Duitsland, met 'n bymenging
| |
| |
van bloed uit Frankryk, Asië (Maleiers) en Afrika (geel Hottentotte en swart slawe uit Angola en Mosambiek). Dit is hierdie taal waarin ek nou skrywe, benoud oor die toekoms daarvan.
Soos u kan sien, is dit nog basies Nederlands, hoewel vereenvoudig in die smeltkroes van vele tonge waarin my voorouers in Suidelike Afrika reeds meer as drie eeue lank saamgegooi is. Die resultaat was nie net bloedvermenging nie, maar ook Afrikaans, my land se grootste veelrassige prestasie tot op hede. Anders gestel: die ontmoeting van Hollander en Hottentot in die 17e en 18e eeue het albei verander, hoewel die godsdiens, taal en kultuur oorheersend Diets gebly het.
Hierdie nuwe kultuurgolf het laat in die 17e eeu vanaf die Kaap die Goede Hoop begin uitkring in Afrika in, gedra deur basters en ‘Kaapsche Colonisten’ waarop destydse besoekers uit Europa neergekyk het - omdat hulle ánders was.
Vir 'n eeu en 'n half was hierdie pionierswêreld eintlik sonder 'n definitiewe rassistiese inslag - ook omdat daar so 'n tekort aan blanke vroue was. Miskien sou die Afrikaners 'n homogeen vermengde volk geword het, as twee rampe hulle nie omstreeks 1800 getref het nie.
Eerstens het hulle, op hul Noordooswaartse trek, met die suidwaarts-trekkende swart Afrikane (toe ‘Kaffers’ genoem, die Arabiese woord vir ‘ongelowiges’), oftewel Xhosa Bantoes in die Ooste begin bots. Gebots, juis omdat hierdie Xhosas te talryk en kultuursterk was om voor die Nederlandse skering en inslag te swig. (Vandag nog is die Bantoevolke trots eiesoortig taalgerigte Xhosas, Zoeloes Tswanas, ens.) Hierdie ontmoeting het afkeer en vrees gebring, vrees vir die ‘bloeddorstige barbare met 'n donker huid’, 'n vrees wat sou terugvreet en ook die eie halfbloede of ‘Kleurlinge’ sou aankleef.
Byna tegelykertyd het die Koloniale Ryk van Brittanje ook hebsugtig op die toneel verskyn, die Nederlandse owerhede verdryf, en heel gou begin om Engelssprekende immigrante in te voer, die handel in Britse hande te plaas, slegs die belange van die Engelse taal te bevorder, en Nederlands dan ook so gou doenlik met wetgewing op skool en op amptelike terreine te verbied. Terloops, apartheidswetgewing dateer in embrio uit daardie 19e eeu, want die bruinmense was toe 100% Afrikaanssprekend, en potensiële bondgenote van hul witter broers, die ‘Boere’. Die witter Afrikaners het hul bruiner broers egter as minder as die blanke Britte gereken, en die nageloop.
Afrikaans was toe slegs 'n spreektaal wat deur die vername mense as ‘Kombuistaal’ en ‘Hotnotstaal’ uitgekryt is. Nederlands, wat niemand meer behoorlik kon praat nie, is nog in die kerke gepredik, was nog die beskaafde mondstuk vir die meerderheid van die inwoners. Maar 'n kwynende mondstuk. 'n Taal wat nie meer in die volksmond gelewe het nie, kon nie die mas opkom teen magtige, imperialiserende Engels nie. In die laaste helfte van die 19e eeu het die land vinnig begin verengels.
Terwyl Nederlands dus allengs versmoor raak, het jong heethoofde begin worstel om die lewende volkstaal, voorheen ‘Kaaps-Hollands’ genoem, tot lewende skryftaal, Afrikaans, verhef te kry. Die venynigste teenstand teen Afrikaans het veral van N.G. Kerkleiers en van status quo politici gekom. Hierdie stryd het 'n eeuw gelede sy beslag gekry met die
| |
| |
stigting van die Genootschap van Regte Afrikaners (1875).
Dit was 'n vurige veldtog waarin die skrywers die voortou geneem het. Ook hulle het nie daaraan gedink om die arme ongeletterde ‘Kleurlinge’ as bondgenote by te bring nie. (Destyds het die opgeblase Weste gekleurdes nêrens gereken nie.) Dit sou 'n halfeeu duur eer Afrikaans naas Engels as landstaal erken sou word.
Vandag, onder 'n hoofsaaklik Afrikaanse regering, beklee Afrikaans 'n positie van minstens gelyke rang, behalwe in die sakewêreld waar internasionale Angelsaksiese geldbelange nog steeds oorheers.
Vir ons skrywers is dit van belang dat 80% van alle nuwe boeke wat in Suid-Afrika gedruk word, in Afrikaans is. En verder die volgende tabelle (bij benadering) van die huistale van ons land se twee-en-twintigmiljoen inwoners:
Afrikaans |
4.250.000 sprekers |
Xhosa |
4.000.000 sprekers |
Zoeloe |
4.000.000 sprekers |
Engels, byna |
2.000.000 sprekers |
Tswana |
1.750.000 sprekers |
Sepedi |
1.750.000 sprekers |
Suid-Sotho |
1.500.000 sprekers |
Sjangaan |
750.000 sprekers |
Swazi |
500.000 sprekers |
Ndebele |
500.000 sprekers |
Venda |
500.000 sprekers |
Indiese tale |
500.000 sprekers |
Afrikaans is dus wel getalryk, maar dit is slegs een uit 'n dosyn tale in Suid-Afrika. Daarby moet ons let op die rasse-same-stelling van Afrikaanstaliges. Ongeveer 2.250.000 word as blank geklassifiseer, 1.900.000 as Kleurling, 60.000 as Bantoe, en 10.000 as Asiër. Dit is hierdie bruiner Afrikaners, die sogenaamde ‘Kleurlinge’ - hulle self gebruik ‘bruinmense’ of net ‘mense’ -, die snelgroeiendste komponent, wat Afrikaans se toekoms gaan bepaal.
Ons moet onthou dat apartheid - tans word dit ‘afsonderlike ontwikkeling’ genoem om die selfbevoorregting daarvan te verbloem - wat as skermmuur tussen die Europese en die veelal vreemde, teenstrydige kulture van swart Afrika opgerig is, ook toegepas word op die ‘Kleurlinge’ wat dieselfde taal, godsdiens en geskiedenis met hun witter broers deel (asook bloed: by benadering 25% ‘Europese bloed’ in die ‘Kleurlinge’ se geval, en 7-10% ‘Kleurling-bloed’ in die blankes se geval). Dit wil sê hulle word stemloos - magteloser as die swart Afrikane wat besig is om hul tuislande tot state uit te bou - verstoot as tweederangse burgers wat nie die naam Afrikaner verdien nie. Dit is die verdoemendste aspek van die apartheidsideologie.
Dit wil ook sê die Afrikaanse taal is nie regtig viermiljoen sprekers sterk nie. Afrikaners voel hulleself bedreig. Maar hoe ons onsself in Afrika kan handhaaf deur slegs 'n sekere eienskap van Europa te beklemtoon, gaan my verstand te bowe. Die verstoting van ons beste bondgenoot, ons eie halfbroer, is raserny.
Hier dien allereers 'n kort geografische verduidelijking.
In Suider-Afrika moet u nie vaskyk op die bestaande politieke grense nie. In Europa val staatsgrense na vele eeue se ‘apartheids’-oorloë min of meer met taalgrense saam; in Afrika nog nie. Die toekoms van Suider-Afrika is onvoorspelbaar; een aspek is egter reeds duidelik: dit sal nie so daar uit sien soos tans onder blanke oorheersing en bevoorregting nie. Dit kan wees dat die Bantoetuislande groter aparte state word; dat blanke self- | |
| |
sugtige alles-wil-behou kan lei tot uiteindelike algehele oorheersing deur Bantoes oftewel swart Afrikane oor die hele area; óf dat die land tydens 'n burgeroorlog (ietwat soos Palestina) in twee helftes verdeel: 'n Bantoe- en 'n nie-Bantoe helfte.
Dit is hier waar 'n geografies-historiese feit ter sake kom. Een helfte van Suider-Afrika, die suidweshoek, van die Visrivier in die ooste, tot by Walvisbaai in die noordweste, was nooit Bantoegebied nie, en is dit vandag ook nie. Hierdie byna eenmiljoen vierkante km. droë subkontinent was drie eeue gelede bewoon deur geel Hottentotte en Boesmans (‘Khoisan’ in etnologiese terme); vandag is hulle nasate Afrikaanssprekende ‘Kleurlinge’; vandag nog vorm hulle die meerderheid van die inwoners in hierdie gebied.
As ons verder daarop let hoedat hierdie verstote bruinmense, die meerderheid is juis in die hartland van wat ‘Blanke Suid-Afrika’ genoem word, en dat blanke Afrikaners dus geen eksklusief eie grondgebied besit nie, dan sidder 'n mens oor die waansin van 'n beleid wat velkleur bo taal en kultuur verhef.
Voeg hierby dat jaarliks om en by 35.000 witter en 45.000 bruiner Afrikaners bykom. Dat laasgenoemdes boonop verswart: amptelik ontstaan ontug slegs wanneer 'n blanke daarby betrokke is. Dit laat my dink aan die kort brief wat 'n dekade gelede in die Kaapse oggendblad, Die Burger gepubliseer is. Dit het gelui:
‘As ons blankes nou met die Kleurlinge verenig, sal ons hulle wit maak; maar as ons te lank wag, sal hulle ons bruin maak.’
Ons wag nog altyd.
Die bruinman kan altyd sy lot by die swartman ingooi. Dit is een moontlikheid (nagestreef deur politieke aktiviste), hoewel onhistories, en onwaarskynlik in die lig daarvan dat swart Afrika sy eie eksklusiewe nasionalisme nastreef, afkerig van verbastering.
Die bruiner Afrikaners kan ook àl meer hul rug op die witter Afrikaners draai deur steeds meer 'n aparte Kaapse volk te wil word - soos apartheid vir hulle voorhou -, of deur steeds meer te verengels. Laasgenoemde is reeds 'n faktor van groot belang. Die internasionale taal, Engels, met sy blinke produkte, handelsware, blèrmusiek, strokiesprente, films, jeugrebellies en jeugdwelms, die hele valse opgeblasenheid van 'n reklamewêreld, is natuurlik 'n groot trekpleister in die stede. Veral vir ‘have-nots’. Maar omdat die blanke Afrikaners al 'n kwarteeu lank regeer, en omdat hulle wette gemaak het wat na soveel jare lyk asof hulle die tradisionele diskriminerende toestande self geskep het, daarom gaan die bruiner, verstote Afrikaner sy witter broer straf. Broedertwiste kan die venynigste wees. Die Engelse stok lê mos voor die hand. Praat Engels, straf hom met Engels.
Nog 'n rede is natuurlik ook dat die meer opgevoede bruinmense van hul armoedig verdierlikte medebruines se liederlike, vloekende Afrikaans probeer vlug, deur self 'n vorm van apartheid, 'n sosiale skermmuur toe te pas, deur Engelssprekend te word.
Hoe dit ook al sy, 11% van alle ‘Kleurlinge’ gee vandag hul huistaal as Engels aan.
Afrikaans, wat tesame deur mense van baie kleure en tale geskep is, kan nie die verlies van sy bruiner komponent bekostig nie. Daar was eens 'n wit proletariaat,
| |
| |
maar met die huidige Westerse voorspoed, en die fantastiese industriële bloei in Suid-Afrika, het omtrent iedere blanke wat sy naam kan teken, 'n voorman, 'n vermoënde bourgeois, 'n behoudende muil geword, Al proletariaat wat vir ons oorbly, is ons bruiner broers. En laat ons nooit vergeet nie, 'n taal word van onder af geskep en lewend gehou - deur arbeiders wat in direkte wisselwerkende kontak met hul arbeid leef, en nie van bo af deur die konserwatiewe kantoorsitters van die Etablissement nie. Wee die volk sonder 'n egte proletariaat, sonder aardse wortels. En dit is wat die witmense in die Suid-Afrikaanse verband vinnig besig is om te word.
Dit is 'n neerlaag vir Afrika, 'n terughunker na Europa. Dit is apartheid se wese, 'n onvermoë om ‘donker’ Afrika te absorbeer.
Dit word tyd dat 'n verslag oor Moeder Europa se kinders opgestel word. Oor wat na drie, vier eeue met haar koloniste in die vreemde gebeur het. Het hulle daar volledig wortel geskiet, en iets nuuts geword, of het hulle maar verplaaste Europeërs, het hulle koloniste gebly?
Wat is die ingebore kenmerke wat onvermydelik vanuit die oue teelaarde van Europa geërf is? Onder meer hardwerkendheid, suinigheid, Protestantse of Germaanse halstarrigheid, 'n min of meer blanke vel... Laasgenoemde het in Afrika die simbool vir die ander deugde geword. (Ons moet onthou hoe barbaars, dit wil sê hoe gans anders was die destydse Afrikavolke wat vandag as ‘ontwikkelend’ beskryf word.)
Ook het hulle hul klere, werktuie, sade, en dies meer saamgebring. Die plaaslike plante - op weinige uitsonderinge na - is geïgnoreer. Hollandse kropslaai en kool en rape is liefderik geplant. 'n Wonderlike plaaslike groente van die Hottentotte is Hottentotskool genoem, hoewel dit 'n lelieplant is. Daarna is dit vergeet. Afrika wemel van pragtige wildsbokke wat drie tot vier keer meer vleis op arm veld kan lewer. Maar daar is nie gepoog om die diere van Afrika te tem en te gebruik en so te bewaar nie. Hulle is bloot gejag en uitgeroei. Soos oupa, so ook ek. Heel aan die begin, in die bittere vestigingsjare toe Jan van Riebeeck en sy mense gesukkel het om aan die lewe te bly terwyl hulle na 'n vastrapplek onder Tafelberg soek, toe hulle móés, toe het hulle van naby gesien wat anders in Afrika is, wat laat lewe en wat laat sterwe. Hulle het plaaslike wilde plante soos misbredie, molslaai en wilde amandels rou of gekook geëet, hulle het wortels en bolle gegrawe wat hulle by die Hottentotte, afgekyk het, hulle het, soos die Hottentotte, wildsbokke se bille se dik tonge vleis, biltonge, uitgeslag en in die warm suiderson gedroë - nie nordies gerook nie -, hulle het karee oftewel heuningbier van heuning en plaaslike kruie gebrou, hulle was vinnig besig om kinders van Afrika te word. Daarby het hulle ook vanaf Java heelwat, onder meer ook 'n nuwe kookkuns ryk aan kruie, van die Maleiers geleer. Sodanig so, dat die Kaapse kookkuns bekend geword het as 'n keurige huwelik tussen Wes en Oos.
Ook nog later, tydens die pioniersjare dieper in Afrika in, het my voorouers die naam Afrikaners verdien. Hulle het na aan die nuwe aarde en sy probleme gelewe. Hulle het hulle aangepas met die wyse waarop hulle jukskei en volkspele op die trekpad beoefen het, of hul ossewaens eiehandig gebou of herstel het. Hulle het na aan hul inboorlinghelpers
| |
| |
gelewe, in 'n patriargale maar tog egte simbiose. Hottentotte het die ex-Hollanders geleer jag en verken; wyse ou Boesmanveewagters het die Reinaert de Vosdierverhaal in 'n nuwe Khoisan-gedaante as Jakkals-en-Wolf stories vir hul kinders oorvertel. Ook tydens hul latere worsteling teen die Britse reus, het die Afrikaners hul krag geput uit hul wesein-Afrika, hul kennis van die land, en miskien nog meer uit die feit dat hulle taal ook van hier was, hier alleen gewortel, skeppend gedwing om meer Afrika as Engels of Hollands te wees. Maar toe hulle eers self bo gekom en self die mag begin uitoefen het, toe het hulle witmense met stambome uit Europa geword. Hulle het arbeid adel vergeet, en begin neerkyk op die bruines en die swartes wat die werk vir hulle doen. Waarom tog. Is dit dan sleg vir die mens dat dit goed met hom gaan?
Maar waarom nou juis kleur? Waarom hierdie onvermoë om gekleurde Afrikaanstaliges ook maar as medeburgers en volksgenote aan te neem? Is kleur dan die essensiële verskil tussen Afrika en Europa? As dit nog bykom by kultuurverskille wat volkere gewoonlik tot vyande maak?
Die Latyne het beter gevaar. In Meksiko, Brasilië, noem maar op. Was daardie Indiane van Suid-Amerika dan soveel meer beskaafde, aanneemlike gelykes as byvoorbeeld Hottentotte in Suider-Afrika? Was hulle net doodgewoon bleker van huid?
En die Protestante of Germane? In die VSA, in Australië het die Angelsaksers vastelande leeggemoor om alleenheersers te kan wees. In Suid-Afrika nie. Hier was die Dietse koloniste nooit getalsterk nie, sodat hulle steeds verdrae met die inboorlinge probeer sluit het, en alleen verdedigende oorloë gevoer het. Daarby was hulle stoere Kalviniste, verknog aan die Woord.
Vandag is hulle 'n minderheid in 'n vasteland waar donkerder velkleure oorheers. In 'n poging om ‘suiwer’ te bly - en geen Afrikaner wat enkele geslagte reeds in die land is, is meer suiwer blank nie - verbied hulle enige vermenging, rig hulle die formidabele selfbeskermende skanse van apartheid op. Vandag is die Afrikaners geen helde meer in die oë van die wêreld soos hulle in die eerste antikolonialistiese oorloë in Afrika teen 'n Britse oormag (in 1880-81 en 1899-1902) was nie, maar rassiste sonder roem.
Moet tog nie meen dat daar volkere sonder rassisme (nasionalisme), sy dit dan bloot latent, is nie. As die sneeublanke Swede die verste weg van die toets van donkere volkere woon, en die braafste nie-rassige klanke laat hoor, beteken dit nog nie dat ons hulle sal glo nie. Ons in Afrika het al genoeg nuwe Europese immigrante in aksie gesien. Ons weet ook dat swart Afrikane die Latynse woord Afrika vir hulle alleen opeis, en nie eens aan 'n tagtigmiljoen Arabiessprekende bure in Noord-Afrika gun nie. Ons is almal mense wat aanstoot neem aan alles wat anders en nie elders is nie. (Turke en Grieke is romanties, in Turkye en Griekeland.)
Maar. Dit is 'n menslike swakheid wat jy probeer verdoesel of tem. Nie verkondig nie. Juis daarom dra Suid-Afrikaners die blaam omdat hulle openlik, met wetgewing, diskriminasie voor die hele wêreld verkondig. 'n Aanstootlike, opsetlike sondebok.
So ongeveer soos Israel wat ter wille van haar eie veiligheid, Arabiese landsdele
| |
| |
beset, die Arabiere stemloos hou, Joodsheid bo alles stel. Haar verlede besorg Israel egter simpatie en sterke vriende.
Maar Suid-Afrika sondig nie net met 'n oordrewe nasionale selfsug nie, maar met kleur, tans die mees eksplosiewe faktor in menseverhoudinge op ons krimpende planeet.
Daar is net een plek op aarde waar die ligvellige Indo-Europeërs massaal in kontak met swart Afrikane is: aan die suidpunt van Afrika. In die verre verlede was ‘Negers’ of ‘More’ nie vlees-en-bloed mense nie, maar eintlik verre legendariese spooksels, 'n negatiewe psigiese ingesteldheid wat Westerse tale en legendeskatte deurdrenk het.
Dink maar aan die donkere duiwel of die dood, Swarte Piet, die swartkuns, of aan woordgebruik soos swartgallig, swartskaap, ‘à noirir quelqu'un’, ‘in a black mood’, ens.
Ons het dus 'n kleurbewussyn van Europa geërf. Al was dit latent. Drie eeue gelede, toe wit en donker rasse mekaar in Afrika ontmoet, was donker en onbeskaafd sinoniem in Europese oë. Sodanig so, dat hulle eie basters, hoe amper wit ook al, met dieselfde godsdiens, taal en sedes, en hoe ‘Westers’ ook al, vir die Europese afstammelinge primitiewe skaduwees gebly het, onwaardig om mede-burgers te word. Veral toe vrees vir die aggressiewe swartman bygekom het. Miskien is onbuigsame dogmatiek die groot sonde van die Noord-Europeër.
Hoe dit ook al sy, watter erfenis ons ook al uit die noordelike halfrond saamgebring het, watter vooroordeelskeppende geskiedenis ons ook al in Afrika gehad het, ons blanke Suid-Afrikaners is skuldig daaraan dat ons pigmentasie bo die mens se hoogste kultuurgoedere gestel het. Ons blanke Afrikaners veral, omdat ons, meer as ons later-gekome Engelssprekende bure sonder 'n substratum Engelstalige ‘non-whites’, ons eie Afrikaanssprekende medemense in 'n afskuwelike onderdanige apart-wees verneder het, net omdat hul hare kroeser en hul velle heuningkleuriger as ons s'n was.
Geen Afrikaner, van watter kleur ook al, sal in volle selfrespek kan lewe, eer dit nie reggestel is nie.
En verder: apartheid is 'n verwerping van Afrika, en hoe kan ons op die lange duur gesonde wortels hê in 'n vasteland wat ons verwerp? (Saam met Jung moet ons twyfel of die Amerikaners of Australiërs reeds 100% aangepas is in hul nuwe vastelande waar hulle die oorspronklike inwoners summier opsy geveeg het, sonder om veel van hulle te erf.)
Maar nou: die skrywers dan? Hier wil ek herhaal dat die waarlik verowerde vastrapplek, die waarlik veelrassige gesamentlike prestasie in Afrika, is juis die Afrikaanse taal. Met sy honderde woorde uit Hottentots, Maleis en Bantoetale, nie net neutrale leenwoorde nie, maar basiese, emosionele bydraes, is Afrikaans iets meer as stoer Germaans, is dit 'n hernuwing, 'n aanpassing by 'n nuwe land.
By geleentheid het ek dit al so gestel: Afrikaans is gereed vir die toekoms, die Afrikaners nog nie.
(In Australië of Noord- en Suid-Amerika het Engels en Spaans Spaans en Engels, d.w.s. min of meer Europees gebly.)
Hier is ons sleutel, ons hefboom om vatplek op die toekoms te hê. Veral vir ons wat skrywe, en vir alle denkendes wat weet dat om Afrikaans te praat dieper en
| |
| |
ryker en groter is as om met 'n wit vel gebore te wees.
Mense raak miskien verenig deur dieselfde produkte te koop, dieselfde huise te bewoon, dieselfde paaiboelies te hê, maar taal is primêr, taal bevat alles en kan alles uitdra en rig, bowenal gevoel. Om te besef hoe belangrik taal is, moet u maar net kyk na dele van Europa waar taalbevolkings nog deurmekaar woon en daar dus ‘rasse’-moeilikheid is: Baskeland, Suid-Tirool, dele van België, Ciprus.
Dit is bitter moeilik om integrasie van - Let Wel! - disparate kleure en tale en kulture binne een land te bewerkstellig. Dit is dalk nie eens nodig nie, aangesien die mens, by sy strewe na eenheid, ook 'n behoefte aan verskeidenheid het, en sal hê; aangesien Suider-Afrika heel moontlik in wit en swart helftes uiteen gaan val, gewelddadig of te nie.
Maar om die bruiner, verwesterde ‘Kleurlinge’ in 'n ewige vagevuur tussen-in te laat verdor tot haat? Ons taalgenote? Bowendien, vir diegene wat in uiteindelike vermenging as enigste oplossing glo, is dit die beginpunt, by mense wat reeds vermeng is, reeds burgers van die toekoms is.
Dit is 'n byna onafwendbare gevolgtrekking dat Afrikaners alleen as 'n gemengde volk in Afrika sal kan oorleef, as hulle nie in 'n swart en onAfrikaanse chaos wil verdwyn nie. Simpatie, s'il vous plaît. Om willens en wetens so'n sosiale omwenteling na te streef en te bewerkstellig, sal nie maklik wees nie. So ongeveer soos om die uitvaging van alle verskille in 'n Verenigde Europa drasties af te dwing. En Europeërs is omtrent een volk met dieselfde ras en kultuur - en kultuurpeil - en ongeveer dieselfde taal.
Ons verdien minder hovaardigheid van Europa. Om van 'n Ethiopië nie eens te praat nie.
Dit strek die Afrikaanse skrywers tot oneer dat hulle meestal stilgebly het oor hulle taalgenote agter die ideologiese skandmuur. Dat hulle aangename en veilige of kunstige boekies geskryf het wat vir staatskole deur staatsamptenare voorgeskryf kon word. Lonend. Dat hulle geswyg het wanneer politici àl meer die vryheid van spraak en optrede beperk het sodat dié magsmenere se holle gebral alle ander stemme kon oordawer. Lonend. Dat hulle verkrampte witmense was eerder as soekende Afrikaners-in-wording. Is die ware aangesig van die heelal nie eerder oneindiglik verandering en wording nie? Hoe belaglik word dan nie die dwase mens se vasklou aan 'n kleurtjie minder of meer onder sy opperhuid nie?
Maar basta. Ek wil nie oor die taak van die skrywers begin preek nie. Ons is ook maar kleine en meestal magtelose burgers, hoewel ons, soos die Kerk, 'n groot en heilige verantwoordelikheid dra, nie net teenoor ons groepie of volkie nie, maar teenoor die geheel, die volheid van wat goddelik of eerbaar of waar in alle mense is. Dit is die tweede skande vir die Afrikaners, dat hul kerke ook voor die afgod van kleur geswig, en dit bo die godheid in alle mense gestel het.
Dus, nie preek nie. Bowendien glo ek dat die mens slegs leer wanneer hy moet, wanneer hy hard seerkry; dat 'n gemeenskap sy lesse slegs geleidelik leer of absorbeer; en dat die Afrikaanse gemeenskap nou eers begin besef wat hy is en wat hom te doen staan as hy wil voortbestaan.
In hierdie nuwe kentering staan die nu- | |
| |
we geslag skrywers soos André P. Brink (wie se roman Kennis van die aand so pas weens sy revolusionêre kombinasie van seks en politiek verbied is). Sy medeskrywers is juis nou besig om geld in te samel om die verbod voor die appèlhof te kan betwis. Ek het nog hoop.
Ons mees uitgesproke digter, Breyten Breytenbach, woon weliswaar in Parys, omrede sy Vietnamese vrou, maar hy word nog in Suid-Afrika gepubliseer. Hoewel... Tien jaar gelede het 155 skrywers die protes teen die eerste Sensuurwet onderteken, en die wet deels verander gekry. Vanjaar staan ons voor 'n nog meer outoritêre wetsontwerp op sensuur, wat die reg van appèl na die howe elimineer. Tereg is die skrywers veel meer verontrus. Maar skep 'n klimaat van groter muilbandende vrees die genade van meer moed? Ek het nog hoop.
Dit gaan harde werk verg van die witter Afrikaanse skrywers wat as kommuniste, volksverraaiers en dies meer uitgeskel - en erger - gaan word, en eweneens van die bruiner skrywers soos Adam Small wat weer die hoof sal moet bied aan 'n bitterheid en 'n ongeduld waar die woord sy vleuels selde hoog en ver sal kan wiek.
Een feit staan egter soos 'n paal bo water ('n nat Dietse uitdrukking in ons dorre suiderland): Ons moet nog minder Europa en nog meer Afrika word, om beter mense hier onder die Suiderkruis te kan wees. |
|