kunstenaars. By Maggie Laubser is dit veral die plattelandse kleurling wat in 'n byna primitiewe droomwêreld geïdealiseer is. Irma Stern weer het die eksotiese van die Bantoe uitgebeeld as 'n produk van tropiese hitte en oosterse weelde, terwyl tientalle andere en dikwels ook minder begaafdes die Bantoe op allerlei wyses geïdealiseer en geromantiseer het. Claerhout egter, sien die Bantoe van die Vrystaat in sy pastorale omgewing met sy esels, skape, koeie, honde en hoenders tussen armoedige pondokkies wat eienaardig Vlaams aandoen en tog tipies Bantoe is. Sy voorstellingswêreld is ryk belaai met plaasarbeiders in verflenterde klere; leeglêers en bedelaars; fortuinsoekers op soek na diamante; 'n donkiekar met 'n skamele vrag; rye wagtendes by 'n busstop of met sopbekers in die hand; deurmekaar straattonele en trotse eienaars van nuwe sleg passende klere of te groot skoene. Alles altyd gesien met 'n glimlag en 'n bly hart.
Maar ook die meer tragiese ontbreek nie: 'n ouerpaar wat 'n bossie blomme op 'n kindergraffie plaas; siekebesoek in 'n armoedig gemeubileerde siekekamer; 'n eensame Christus onverskillig aangestaar deur verbygangers of 'n hongerige wat gretig 'n bord pap vashou.
'n Gewilde onderwerp by Claerhout is sy kinderportrette - onpersoonlike kinderkoppies waaruit die groot liefde van hierdie kunstenaar vir die kind spreek. Wanneer hy die moeder-kind tema behandel kom daar groot teerheid in sy werk en is daar 'n neiging om soet te word, egter sonder om veel afbreuk aan die ekspressiewe waarde te doen.
Wanneer Claerhout godsdienstige tonele skilder is dit ook sy Bantoe medemens wat as model dien. Die patetiese gesigsuitdrukking van 'n Bantoe gekruisigde is aandoenlik. Die Christus van Claerhout is die begrypende vader wat met sy kinders in hulle alledaagse bedrywighede meng - hulle lief en leed vol medelye gadeslaan en met droefheid hulle tekortkominge aanskou. 'n Groepie swanger vroue, half verskrik en onseker en half bly, toon hulself aan Hom; 'n groepie mense in 'n besige straat ignoreer Hom geheel en al en dikwels word hy met 'n offerande in die vorm van 'n hoender, 'n bossie blomme of iets anders vereer.
Claerhout skilder soms die Suid-Afrikaanse landskap. Dan is dit veral die verlate Vrystaatse vlaktes met sy goud en bruin wat hom boei, af en toe opgefleur met 'n lentelandskap en bloeiende vrugtebome of blomme in groen weivelde. Enkele koppies op die horison, 'n ondergaande son, enkele bome en soms 'n verlate figuur maak van hierdie landskappe regte stemmingstonele. Claerhout skilder nooit berge nie.
Verdwaalde Christus, deur Frans Claerhout.
Wat skilderstegniek betref maak Claerhout gebruik van 'n dik impasto waarmee breë buitelyne in swart ingevul word. Hy maak dikwels vir sy voorstudies gebruik van s.g. oliesketse. Dit is vlot getekende buitelyne wat met olieverf ingevul word deur dit met 'n lappie op die papier in te vryf.
By sy vlot tekenwerk is dit duidelik dat Claerhout alleen probeer om indrukke vas te lê sonder dat hy hom baie oor die noukeurigheid van sy tekenkuns bekommer. Gevolglik vind 'n mens dikwels in sy werk verkeerd geplaasde vingers en tone of eienaardige wanproporsies van hande, voete en ander liggaamsdele. Hierdie ekspressionistiese tegniek van hom maak nooit die indruk van geforseerdheid of opsetlikheid nie, maar weerspieël die opregte uiting van die kunstenaar. Tekenkuns op sigself is by hom nooit hoofsaak nie.
Die groot voorliefde wat Claerhout vir pastelagtige kleure het, veral bruin en grys, pas goed by sy aardse tonele aan. Sy belangrikste kenmerk as koloris is in sy suiwer aanvoeling vir toonwaardes geleë. Wat ook al die tekortkominge op tekenkunstige gebied mag wees, sy palet toon altyd 'n suiwer harmoniese kleurskema wat die beste in sy getemperde kleure tot uiting kom. Hy gebruik egter ook dikwels helderder kleure wat hy ook suiwer weet te hanteer veral om feeste, nuwe klere of vrolike tonele mee uit te beeld.
Claerhout het verskillende sendingskerke in Suid-Afrika met muurskilderinge en glasvensters versier. Sy eie kerkie te Thaba'-Nchu is seker een van die merkwaardigste van sy soort in die land. Daar is waarskynlik ook geen ander kerk in die land nie wat soveel besoekers lok wat die