Herbert Evans kunsgallery heropen.
Talle Suid-Afrikaanse kunstenaars wat vandag beroemdheid geniet, dank 'n mate van hul sukses aan 'n man met die naam van Herbert Evans wat gehelp het om hul werk, toe hulle nog onbekend was, aan die publiek bekend te stel deur sy kunsgallery. Vir meer as 50 jaar en vanaf die vroegste jare van Johannesburg, was die Herbert Evans kunsgalery een van die stad se bekende bakens.
Ter herdenking van sy 80ste bestaansjaar vanjaar het die Herbert Evans-maatskappy besluit om hierdie ou tradisie te laat herleef en die kunsgallery te heropen - op 'n nie-winsgewende basis wat jong en onbekende kunstenaars sal help om hul werk voor die aandag van die publiek te bring.
Mnr. Cecil Skotnes, Voorsitter van die S.A. Raad van Kunstenaars, het ingestem om 'n keurkomitee saam te stel wat verantwoordelik sal wees vir die aanwysing van die kunstenaars wie se werk in die nuwe Herbert Evans Kunsgallery uitgestal sal word.
Die nuwe kunsgallery kom op die eerste verdieping, bokant die Herbert Evans-winkel. Die opening het in Augustus vanjaar plaasgevind met 'n uitstalling van kunstenaars wie se werk in die ou Herbert Evans-Kunsgallery (1889-1959) uitgestal is, onder andere Amschewitz, Gwelo Goodman, H.S. Caldecott, E. Roworth, Allerley Glossop, J.S. Smithard, H.L. Gordon Pilkington, George W. Pilkington, Hugo Naude, Frans Oeder, Pieter Wenning, Volschenk, Sydney Carter, W.H. Coetzer, Tinus de Jongh, Nils Anderson, Erich Mayer, Pierneef, Timlin, Maud Summer, Nita Spilhaus, Irma Stern, Walter Battiss en Francois Krige.
Presies 80 jaar gelede, in 1889, het Herbert Evans as jong immigrant 'n verfwinkel in Johannesburg geopen. In 1895 het hy verskuif van sy oorspronklike perseel in Eloffstraat (waar die Cuchbertgebou vandag staa) na 'n groter dubbelverdieping sinkgebou bekend as Die Wit Huis, op die huidige perseel.
Dit was Herbert Evans se liefde en waardering vir die skilderkuns wat hom daartoe gelei het om 'n deel van sy winkel af te staan aan 'n Kunsafdeling, ‘'n plek’, soos hy dit gestel het, ‘waar kunstenaars gereelde uitstallings van hul werk kon hou en waar kunsversamelaars en hun vriende mekaar kan ontmoet.’
Vir jare het Herbert Evans 'n private versameling van skilderye opgebou en terselfdertyd ‘sy bes gedoen om die moeilike omstandighede van kunstenaar in Suid-Afrika makliker te maak’. Skilders soos Amschewitz, Pierneef, Timlin en baie ander wie se werk hy gehelp het om bekend te stel, het later sy goeie vriende geword.
Toe die firma te groot geword het vir die ou Wit Huis, is dit gesloop en in 1913-14 is 'n indrukwekkende nuwe Verf Huis (The Paint House) op die perseel gebou. Op die tweede vloer is 'n volwaardige kunsgallery ingerig ‘met moderne beligting en toebehore van 'n weelde ongekend aan die sogenaamde kommersiële Rand.’
Byna oornag het die nuwe Herbert Evans Kunsgallery die middelpunt geword van Johannesburg se kunslewe. Onder die kunstenaars wie se werk daar uitgestal is, was Anton van Wouw, Pierneef, Frans Oerder, Pieter Wenning, Eric Mayer, Gwelo Goodman, Allerley Glossop, George Smithard en baie ander.
Rekords toon dat die Kunsgallery uiters gewild was by die Johannesburgse publiek. 'n Persberig, byvoorbeeld, uit 'n Johannesburgse koerant van 28 Julie 1934, meld:
‘Mnr. Francois Krige, die jong kunstenaar, hou tans sy eerste uitstalling van tekeninge, waterverf- en olieverfskilderye in die Herbert Evans Kunsgallery en 'n ongewone groot skare, onder wie verskeie afgevaardigdes na die Onderwys-Konferensie, was reeds daar om te gaan kyk. Die uitstalling bly nog tot die einde van aanstaande week oop.’
Herbert Evans het hom steeds beywer om kunstenaars, en veral jong kunstenaars, aan te moedig. Reeds in 1905 was hy een van die stigters van 'n organisasie bekend as die Suid-Afrikaanse Kunsunie, wat in Johannesburg in die lewe geroep is. Die doel was om deur subskripsie en teen 'n redelike prys, portfolios van skilderye van Suid-Afrikaanse kunstenaars te publiseer. Die oorspronklike komitee het bestaan uit Herbert Evans, Anton van Wouw, Earl Robert en Harry McCormick, die laaste drie almal kunstenaars. Hoewel en of twee portfolios wel uitgegee is - vandag waardevolle stukke vir Africana-versamelaars - is die Kuns-Unie voor sy tyd gebore en het dit toe niet geloop.
Herbert Evans is in 1930 oorlede. Die Kunsgallery het nog voortbestaan tot in 1959, toe die Verf Huis moes plek maak vir 'n moderne kantoorgebou waarvan Herbert Evans se Hoofkantoor en winkel vandag nog die eerste vier verdiepings behou.
Die Keurkomitee is reeds besig om die eerste uitstalling van jong kunstenaars se werk te reël, om teen die 24ste September vanjaar te open. Tussen ses en agt sulke uitstallings sal elke jaar gehou word.
Die bedoeling is dat hierdie nuwe kunsgallery in 'n mate sal voldoen in die behoefte aan meer lokale waar Suid-Afrikaners die werk van ons moderne kunstenaars kan leer ken, en bo alles, dat dit in jong en onbekende kunstenaars erkenning mag help verkry - ook deur die publisiteit wat hulle op die manier mag ontvang.
John Willemse