ballet
Raka-ballet verfilm.
Nadat die première van Raka Augustus verlede jaar in Pretoria met soveel welslae bekroon is, is daar besluit om die opvoering daarvan vanjaar in TRUK se eerste speelvlak te herhaal. Hierdie aanbieding is 'n verrassende deurbraak in ons balletkuns. Die regisseur Travers, wat reeds sy merk gemaak het in die verfilming van oorsese balletrolprente (o.a. van die Koninklik Ballet, London), het Raka bestempel as een van die opwindendste balletwerke wat hy nog gesien het, en onder sy bekwame regie is 'n rolprent voltooi wat seker eersdaags vrygestel sal word. Dit is die eerste Suid-Afrikaanse vollengte rolprent oor ballet, wat reeds in die buiteland wye belangstelling gaande gemaak het. Die opname, met 5 kameras gelyktydig is in een dag voltooi.
Die balletaanbieding van Raka is die uitvloeisel van 'n besondere gelukkige samewerking tussen die digter N.P. van Wyk Louw, die komponis Graham Newcater, die choreograaf Frank Staff en die ontwerper Raimond Schoop.
In Van Wyk Louw se groot epiese gedig stel hy Raka, die aapmens, vernielsugtige wellusteling en indringer teenoor Koki as enkele kampvegter vir die goeie. In sy hoë enkelingskap stry Ig. 'n verlore stryd vir die behoud van die geestelike besit van sy stam. Tussen hierdie teëpole staan die kinders wat intuïtief die vreemdsoortige aangryp en die vroue wie se oorgawe aan die halfmens reeds in hul erotiese versugtinge besweer is. Om hierdie rede kan Koki hulle tot geen kragtige weerstand inspireer nie. Die halfhartige teenstand waarmee Raka binne die stamgemeenskap toegelaat word, kenteken die vervlakking van geestelike waardes.
Frank Staff openbaar in sy aanbieding die insig dat die Raka-tema universeel is. Hy gee dit niet as Bantoedans of legende weer nie. Basiese balletbeginsels word in die opvoering toegepas, dog die lewenskragtigheid van die primitiewe pols in die musiek, beweging en simbole. Die dans op die platvoet bring groter dramatiese gedraenheid. Staff se hantering stuur op atmosferiese vergestalting. Besonder uitdrukkingsvol is die dans van Veronica Paeper waarin die Vrou se wellustige verlange na die halfmens uitgebeeld word. Teenoor haar bied Ken Yeatman 'n besonder sensitiewe uitbeelding van Koki. Juan Sanchez dans die Rakarol - tegnies veeleisend - met verbasende virtuositeit. Die rouklag oor Koki word roerend uitgebeeld.
Die skedekostumering volg die Mapoggerstam as uitgangspunt, dog die halfabstakte motiewe pas aan by die atmosferiese vergestalting en onthef die sentrale motief aan plek- en tydgebondenheid. 'n Treffende voorgordyn, wat van fyn kunssin getuig, het inboorlingvrugbaarheidsimbole as ontwerp. Die dekor handhaaf nie deurgaans dieselfde hoë gehalte nie, dog die harmonie in kostumering en dekor word deurlopend behou. Graham Newcater se musiek verleen kragtige uitdrukking van die bose magte: wildheid en ongebondenheid in die skrille dissonante in die koperblasers, terwyl die gelykvormige ritmiek van die pouke die Koki-element van geestelike gelykmatigheid kontrasteer. Die kragtige dramatiese kwaliteit van die musiek intensifeer die atmosferiese aanbieding en verdiep die geestelike inhoud van die sigbare gebeure: die stryd tussen Raka en Koki, die oorgawe van die vroue, die rouklag oor Koki ens.
L. Haarhoff