Kaapse Musiekgeskiedenis.
Die beperkte Suid-Afrikaanse musiekliteratuur het 'n welkome aanvulling gekry met Prof. Jan Bouws se publikasie: Die musieklewe van Kaapstad 1800-1850, en sy verhouding tot die musiekkultuur van West-Europa. (Balkema)
Hierdie werk wat die raadpleging van 'n plaaslike en oorsese bronne geverg het, word gekenmerk deur 'n oordeelkundige sifting van die feitenmateriaal sodat bepaalde temas helder en oorsigtelik aangebied word. Besondere aandag word gegee aan die musiekonderwys in hierdie tydperk, met besondere verwysing na die werk van Frederick Logier. Wisselende fasette van die Kaapse musieklewe word uitgebeeld: van die wetenskaplike werk van 'n komponis soos Lemming tot die spontane musiekbeoefening van die slawe wat suiwer op natuurlike aanleg berus het, en die vermaaklikheidsdienste van die dansmeesters. 'n Hoofstuk word gewy aan die eerste liedereboeke, interessante feite meegedeel oor die vroeë verenigingslewe en die entoesiasme waarmee ‘Der Freischütz’ reeds in 1831 opgevoer is.
Afgesien van enkele onversorgdhede in die taalgebruik bied Bouws die feite onderhoudend aan, en dit ontbreek geenszins aan humoristiese insidente in hierdie vroeë geskiedenis van die Kaapse musiek nie.
L. Haarhoff