Celliers skrywe hier nie vir die geleerdes of kunstenaars nie. Hy skrywe vir diegene wat wel die gawe van kunsgenieting besit maar dit nie ontwikkel het nie: ‘My doel is om die gedagtes 'n bietjie meer op te wek oor dinge wat te veel vergeet word. Ek wil elkeen tot die besef bring dat hy 'n gebore kunstenaar is, dat hy dit slegs moet raaksien om op die, van natuur reeds gelegde fondament, voort te bou, al is dit nie juis om 'n kunsskepper te word nie: elkeen kan darem kuns genieter wees.’ Hiermee is die gees van die werkie gekarakteriseer, net soos die metode in die volgende woorde: ‘Alte nougesette vakof beroepsmense sal miskien vind dat ek dikwels nogal ver buite die perke van my tema rondgedwaal het. My antwoord is dat my tema geen perke ken of erken nie, die hele lewe is sy gebied. Daarom het ek my die vryheid veroorloof om, gemoedelik geselsend, af te dwaal (skynbaar) waar ek wil.’
Ons kan hierdie gemoedelike causerieë oor kuns in lewe en kultuur sterk aanbeveel. Dit bring 'n besef van die hoë waarde en belang van die kuns en prikkel tot nadenke.