| |
Romans en Verhale.
Die swerwer-jagter. Deur P.J. Schoeman. Nasionale Pers, Bep., Kaapstad. (Prys 5/6.)
Die meeste van ons ken hierdie simpatieke skrywer, swerwer in Afrika se binnelande, reeds uit ‘Die Huisgenoot’, waaruit die sketse van hierdie werk gebundel is. Op boeiende wyse vertel hy ons sy ondervindinge as jagter, waarby dan ook sy groot liefde en bewondering vir die dier uitkom. En Schoeman slaag daarin om die geheimsinnige van die grootse natuur te vertolk - en dan word hy kunstenaar. Een van die mooiste bladsye van hierdie boek is seker wel die uitbeelding van die dagbreekuur op bl. 20:
‘Daar is iets so misterievol in die dagbreekuur. 'n Gevoel van bangheid wil jou so elke keer oormeester, veral as 'n sekere soort aasvoël sy nare diep basnote - doodsgeluide - laat hoor: Rhoemm ... roemoe... roemoe... roemm. En, om dit te vererg, vlieg daar skielik bo uit die donker takke 'n swerm horingbekke of harida's op met oorverdowende geskreeu. Op die lawaai volg dan weer 'n skielike stilte. En as die stilte net weer ondraaglik wil word, gee 'n bosbok 'n paar kort skor blawwe hier vlak by jou en spring met groot geraas die ruigtes in. Ver, van die oop vlaktes se kant af, hoor jy af en toe hoe die kwaggas vir mekaar runnik.’
In so'n beskrywing sit belofte! Pakkend is ook die skets ‘Strepies - die Sebratjies.’ En hoewel Sangiro en die Hobsons die skrywer se oë miskien geopen het vir die grootse en geheimsinnige en die ontroerende teerheid in hierdie natuur- en dierelewe, die uitbeelding berus op eie belewing en siening en is sy eie.
| |
| |
Daarnaas kry ons sy sketse uit die kafferlewe, waarin hy die kaffer vir ons teken as 'n mens wat ook sy drome van liefde en geluk koester, ook gevoelig is vir smart en pyn. Hy skilder ons tipes wat hy self ontmoet het, hy vertel ons sprokies waaruit die kaffermentaliteit duidelik spreek; hy skilder ons ook gebeurtenisse ‘uit die magtige Zoeloe-epos wat wag op 'n vertolker’. Die gevoel vir die bo-natuurlike het hy mooi vertolk. Schoeman wil nie in die eerste plek kunstenaar wees nie. Anders sou ons daarop gewys het dat hy hier en daar te didakties word, self nog 'n keer by wyse van nabetragting wys op iets wat uit sy skets al spreek.
Die heuglike is dat die stof hier in die hande is van 'n Boerseun wat nie sentimenteel of dweperig word nie. By al sy simpatie vir die Kaffer, by al sy besef van ons roeping om hom te leer erken en verstaan as mens, bly Schoeman die nugtere, gebalanseerde Boer wat nie sy volkstradisies verloor nie.
Ons wil hierdie boek warm aanbeveel, en ons hoop dat die skrywer wat so aangegrepe is deur die romantiek van sy onderwerp, dat hy dit bestudeer het met lewensgevaar en groot opofferinge, ons opgewekte dors spoedig weer sal les - want dit smaak na meer!
| |
Die huis van die vier winde en ander verhale. Deur Eugène N. Marais. Afrikaanse Pers Beperk, Pretoria. (Prys 5/6.)
Marais se roem as kunstenaar berus veral op sy poësie, wat hom 'n eervolle plek in ons digkuns verseker (vgl. die bespreking van sy poësie in ‘Die Nuwe Brandwag’, 1933, II, bls. 118-120). Hy is egter ook produktief op die gebied van die prosa. Daar gee hy veral blyk van sy groot liefde vir en kennis van die dierewêreld. Dit skyn of niemand minder as die groot Belgiese kunstenaar Maeterlinck nie geskroom het nie om plagiaat te pleeg en sonder erkenning gebruik te maak van sy interessante studies oor die miere, wat in ‘Die Huisgenoot’ verskyn het. Ook stel Marais groot belang in okkulte verskynsels, wat hy wetenskaplik-psigologies benader. Veral die laaste jare het hy heelwat prosaverhale gelewer, wat hoofsaaklik in ‘Die Vaderland’ verskyn het. 'n Sestal hiervan het hy in die voor ons liggende bundel versamel. In drie van hierdie verhale is dit die geheimsinnige, die skynbaar bonatuurlike wat hom boei. Marais slaag daar goed in om die spookatmosfeer uit te beeld. Hy is 'n baasverteller wat deur sy rustige, skynbaar so nugtere maar in werklikheid sterk suggestiewe verhaaltrant ons voorberei op die geheimsinnige. Dit is veral die geval in die titelverhaal.
So'n verhaal is nie somar 'n haastig neergepende storietjie nie. Daar sit studie agter, Marais maak ernstig werk van sy historiese agtergrond en lokale kleur. Daardeur versterk hy ook die indruk van waarheid. Die duidelikste sien ons dit in ‘Die Vliegende Hollander’, wat die beroemde sage tot agtergrond het.
Maar die skrywer bly nie by die geheimsinnige verskynsel staan nie - hy wil dit verklaar. Hierdeur doen hy dikwels afbreuk aan sy verhaal. Vergelyk slegs die lang betoog oor 'n sekere siektebeeld in ‘Die Vliegende Hollander’ - soiets hoort tuis in 'n populêrwetenskaplike verhandeling, nie in 'n verhaal nie.
Ook ‘Salas Y Gomez’, die verhaal van 'n hoogs interessante Afrikaanse Robinson Crusoe, is verrassend oorspronklik van vinding en, nieteenstaande die gewaagde van die gegewe, oortuigend en boeiend vertel.
'n Paar taalkundige opmerkinge: die gedurig gebruikte woord ‘aanstrenging’ is tog seker nie Afrikaans nie, net so min as die lelike Anglisisme ‘in enige geval’. Die gedurige gebruik van ‘dan’ i.p.v. ‘as’ as vergelykende partikel is onafrikaans.
‘Die huis van die vier winde’ is gesonde en boeiende ontspanningslektuur, en dit gee ook iets vir die verstand.
| |
| |
| |
In die woeste weste. die lydensgeskiedenis van die Dorslandtrekker. Deur J.G. Prinsloo en J.G. Gauché. De Bussy se Historiese Leesboeke IX. J.H. de Bussy, Pretoria. (Prys 3/9.)
Die skrywers sê in die Voorwoord: ‘Hier is gestreef na suiwerheid wat die geskiedenis en aardrykskunde betref; dis 'n vertelling nie net van die trek deur die “dors” nie, maar ook van die stigting van Humpata en Grootfontein deur die pioniers van Angola en Suidwes-Afrika.’ Hulle voeg daaraan toe: ‘Dis 'n verhaal uit die mond van 'n Dorslandtrekker self, wat alles gesien en deurleef het, van die omswerwing van die klompie Afrikaners “in die Woeste Weste” van Afrika.’
Dr. S.P. Engelbrecht het voorin 'n warm aanbeveling geskryf. En ons kan ons daarmee verenig. Al is die styl nie beeldend of persoonlik nie, is die stof só interessant, dat die verhaal ons aandag gevange hou. Dergelike boeke wat ons op aangename wyse die geskiedenis van ons land en volk meedeel, is die lektuur wat ons nodig het. Die boekie bevat 'n aantal interessante illustrasies.
| |
Kinders van Ismael. Deur Regina Neser. Nasionale Pers Bep., Bloemfontein. (Prys 5/6.)
‘Sonder om opsetlik sedelesse te wil preek - dit is natuurlik baie sterk af te keure in 'n roman van hierdie aard - slaag die skryfster tog daar goed in om 'n gevoel van innige medelyde by die leser gaande te maak vir daardie klas van kleurling by wie die kleur teenwoordig maar nie maklik bespeurbaar is nie.’ Dit sê Thos. B. Neser, aan wie die werk opgedra is, van Regina Neser se jongste werk.
Prof. Richard Maynard en sy student, Valario Sanico, is altwee sulke slagoffers van die sonde van die voorouers. Hoewel almal hulle aansien vir blankes, het hulle gekleurde bloed in die are. Teen alle waarskuwinge van Val se moeder in en hoewel hulle ywerige bestudeerders is van die erflikheidswette van Mendel, trou hulle, in die hoop dat ‘die aaklige noodlot ons kinders nie sal vang nie... Geluk dit ons nie - nou ja; dan sal ons grootmoedig genoeg wees om ons las te dra.’ Wat hulle in reine en diepe liefde aanvaar het, dra hulle ook moedig. Want hulle ervaar die bitterheid van die lewe van dergelike blanke kleurlinge. ‘Die kinders van Ismaël, ronddolende in 'n Sahara van gemoedslewe, kom partykeer by 'n oase uit, maar dan vind hulle die water daarvan vergiftig.’ As hulle vierde kind 'n kleurling is, begin hulle lewe as swerwelinge. En dit kom tot broedermoord, tot kindermoord en selfmoord van die kinders. Maar as aan die einde van die boek die ouers na al hierdie bittere smart alleen oorbly, haal hulle die woorde van die digter aan:
't Is better to have loved and lost,
Than never to have loved at all.
Dit is ongetwyfeld goed dat ons wakker geskud word om die dreigende volksgevaar te besef wat die kleurmenging in ons land word, en die onuitspreeklike lyding wat die onskuldige slagoffers daarvan moet deurmaak. Hoe die skryfster, wat gedurig die regering en die politici verwyt dat hulle niks doen om die verder gaan van hierdie euwel te keer nie, haar egter voorstel dat die ‘wetgewer’ moet ingryp?
Vanuit 'n kunsoogpunt beskou - nieteenstaande die opvatting in die ‘Inleidende Voorwoord’ uitgespreek, is die boek 'n tendensroman van die ergste soort, sonder psigologiese diepte, dikwels sielkundig onwaar en geskrywe in 'n onsuiwere taal en styl.
| |
De pestilentie te Katwyk. Door Aernout Drost. Wereldbibliotheek, Amsterdam-Sloterdyk, 1933. (Prys 6/9.)
O, klaagt om 't jonge leven, met één slag
| |
| |
Gesloopt, en zóoveel hope en al zijn droomen!
Klaagt om het Land, dat niet beleven mag,
Wat roem van zulk een Zoon Haar toe
Een van die mooiste figure uit die Nederlandse Romantiek is die jonggestorwe Aernout Drost, die stukrag van die ‘Gids’-groep. Hoe vrugbaar was hierdie kort lewe, vrugbaar aan stimulerende invloed op sy geesdriftige vriende Potgieter en Bakhuizen, vrugbaar aan letterkundige werk, waaruit so'n mooi idealisme, so'n innige vroomheid, so'n breë ontwikkeling en belangstelling, so'n grondige kennis blyk. Van sy werk is ‘De Pestilentie te Katwyk’ wel die mooiste. Dis eers na sy dood gepubliseer en lewer een van die interessantste voorbeelde van literêre samewerking op - Potgieter en Bakhuizen het die ver van voltooide verhaal op grond van Drost se aantekeninge en van gesprekke met hom só voltooi, dat dit 'n mooi suiwer geheel geword het en die nie sterk opvallende stylverskille eers veel later deur die kunssinnige Verwey opgemerk is. Die gees van Drost het só in sy vriende na gewerk, dat ons die roman as sy werk kan beskou.
Dit het ons altyd verwonder dat ‘De Pestilentie’ nadat die mooi uitgawe van Verwey en De Vooys (1906) uitverkoop was, nie herdruk is nie, en ons kan die Wereldbibliotheek dankbaar wees dat hulle in 'n werklike behoefte voorsien met hierdie mooi uitgawe in artistieke stempelband. In hierdie werk sien ons 'n besonder karakteristieke produk van die Romantiek. Drost gee ons hier 'n kleurige beeld van die sewentiende eeu, wat hy so goed geken en so lief gehad het. Hier leef sy vrome siel hom uit. Die verhaal is vol romantiese gebeure en momente, maar Drost het veral die geestelike eenheid agter dit alles aangevoel, en... hy het met die oortuiging van sy jong siel geglo aan hierdie romantiek. Daarom is hierdie werk, by al die jeugdige onbeholpenhede, so suiwer, so eg. Bo alles munt dit uit deur die suiwerheid en deurvoeldheid van die skilderagtige styl. Ook in ons land, waar die historiese roman so in die sentrum van die belangstelling staan, sal hierdie herdruk 'n aanwins wees - dit sal ons behulpsaam wees om te leer onderskei tussen egte en vose romantiek.
| |
De klank van het leven. Door Wilma. U.M. Holland, Amsterdam.
Die bekende Christelike skryfster gee hierin 'n aantal sketse en verhale. Hoewel die moderne Christelike kuns in Nederland nog nie die groot kunstenaar voortgebring het wat 'n grootse skepping van diepste menslikheid, gedra deur sy lewensbeginsel, gelewer het nie, is die tyd dat ‘Christelike’ kuns vereenselwig is met prekerige bekeringsgeskiedenissies, verhale ‘naar 'n ware gebeurtenis’ maar in wese onwaar, gelukkig verby. Dat ook die Christelike skrywers die hoogheid van die kuns leer besef het, 'n dieper lewensaanvoeling en daarmee die uitbeeldingsvermoë van die kunstenaar verwerf het, blyk uit hierdie werk van Wilma. Hierdie sketse is lewenswaar, gee blyk van 'n fyn psigologiese indringingsvermoë. Ons vestig veral die aandag op die verhaal ‘Wat de Schilder zag’, waarin 'n skrynende lewenservaring in die siel van die kunstenaar langsamerhand groei tot skone versoening - hierdie skets het ontroerende simboliek geword.
| |
Willem van Oranje. Beelden uit het leven van Prins Willem van Oranje, Vader des Vaderlands. Door A. den Hertog. A.W. Sijthoff's U.M., Leiden. (Prys 7/9.)
Dat die vierde eeufees van die geboorte van Willem die Swyger die bestaande lite- | |
| |
ratuur oor hierdie belangrike figuur in die staatkundige geskiedenis en geesteslewe van Wes-Europa, met 'n groot aantal werke vermeerder het, is begryplik. Sowel die wetenskaplike as die kunstenaar en die skrywer van gesonde lektuur het weer sy aandag aan hierdie heroïese en innigmenslike figuur gewy. In die boek van Den Hertog ‘weeft (de schrijver) fantastische droomen rondom wat hij vond’ in die onmeetlike grot van die verlede. Dis 'n vlot geskrewe reeks beelde uit die lewe van die prins - die held word geteken in sy sorgelose jeug, as die stralende edelman met sy Boergondiese opvoeding, maar ook in sy stryd en verdieping. Willem van Oranje word nie 'n vlekkelose held nie, maar 'n mens met deugde en gebreke en wat slegs deur stryd en lyding kom tot sy grootheid en sieleadel. Hierdie boek moet in elke skoolbiblioteek aanwesig wees - dis 'n uitstekende boek om ons jonger geslag liefde in te boesem vir die man wat so'n belangrike rol gespeel het in ons voorgeskiedenis en wat Suid-Afrika met reg mag beskou as ook een van sy geestelike voortrekkers.
| |
Het liedje van den soldaat. Door Henri Barbusse. Uit het Fransch door L. Roelandt. Uitg. De Korenaer, Aalst. (Franco per post 10 frank (Belg.).)
Hierdie oorlogsketse van die bekende skrywer van ‘Le Feu’ (‘Die Vuur’) en ‘L'Enfer’ (‘Die Hel’) word ingelei met ‘Een Woord Vooraf’ waarin Barbusse sê dat hy hier slegs weergee ‘werkelijke gebeurtenissen die ik trillend van leven in het groote oorlogstafereel heb waargenomen, en waarvan het relaas volkomen overeenstemt met wat ik zelf gezien en gehoord heb.’ Die ontroering wat van hierdie verhale mag uitgaan, moet ons toeskrywe aan sy ‘deemoedige berusting in het feit, wellicht noch dichter noch redenaar in dezen te zijn geweest, maar enkel een getuige en een mensch’.
Die sestal verhale is een vlammende aanklag teen die oorlog, die brute selfsug en geweld wat dit ontketen en waarvan die soldaat, wat slegs as kanonvleis moet dien, die slagoffer is. Die beskuldiginge wat teen die Franse leërowerheid ingebring word in ‘De lewende Doode’, ‘Moordenaars’ en ‘Wraak van Hoogerhand’, vervul ons met ontsetting. ‘Het Liedje van den Soldaat’ en ‘Vreemden’ is twee sketse wat ons deur die brandende soberheid en wrange humor, die ontsettende lewenstragiek, bly agtervolg.
|
|