Die Dierverhaal in Afrikaans.
DIE lees van Buks, die jongste dierverhaal van G.C. en S.B. Hobson (J.L. van Schaik, Beperk, 1933) het my laat terugdink aan my jeug. In my kinderdae op 'n Bolandse plaas was die ratel reeds uitgesterwe in die omgewing, en tot vandag toe het ek nog nie die eer gehad om een in lewende lywe te sien nie, maar vir die ou volkies was hy nog 'n vertroude persoonlikheid, en uit hulle gesprekke het my nog vier van sy eienskappe bygebly: hy hou van heuningsteel; sy taaiheid is spreekwoordelik; hy kan nie verder as drie tel nie, en hy kan geweldig stink. Wie het dit ooit kon dink dat 'n dier met hierdie eienskáppe, en veral die laaste, ooit 'n romanheld sou word, en dan nog so 'n intieme, dat 'n mens hom op die end van die boek nie anders kan noem nie as ‘Buksie’, waarby jy voel dat hy 'n goeie ou maat is, 'n getroue metgesel wat agter jou hakke aan sou kon draf en onder jou skryftafel in kruip, soos jou huishond.
Wie van ons word nie by die lees van sulke dierverhale teruggevoer na ons kinderjare nie, die salige dae toe ons nog nie geweet het van lees en skrywe nie, toe ons behalwe vader en moeder, ons outas en ou aias gehad het, wat ons stories kon vertel van Wolf en Jakkals, van Skilpad en Hasie, en so lekker raaiseltjies kon opgee? Ander beminde figure was daar ook uit die dierewêreld, maar Jakkals, die aartsskelm was daarom altyd bobaas. Eers op ryper leeftyd besef 'n mens watter rykdom van geskiedenis en tradisie daar agter hierdie eenvoudige ou storietjies sit. Jy gaan besef hoe elke volk sy eie skat van dergelike verhale besit. Jy gaan besef hoe Andersen en Grimm veel meer was as enkel gesellige vertellers. Jy gaan insien hoe hier 'n uitgebreide en ingewikkelde terrein van wetenskaplike navorsing om bearbeiding vra. As jy jou gaan verdiep in ons eie verhale, merk jy al gou dat ons hier 'n gemengde maar ryke voorraad het, afkomstig nie alleen van ons Europese voorouers nie, maar ook van inboorlinge van verskillende ras. En algou kom jy onder die indruk daarvan hoe die volksfantasie nog steeds besig is met nuwe skeppingsarbeid. Dan ontstaan die verlange om hierdie volksbesit sistematies deur te lees, te geniet, te klassifiseer en te bestudeer. Maar besit ons die middele daartoe? Hoe staan dit met die optekening daarvan?
Dit lyk of ons stoere ou baanbreker, wyle mnr. G.R. von Wielligh, hier ook weer 'n wegwyser gewees het, want volgens 'n voetnoot in