Dramas.
Hantie kom huis-toe. Deur P.W.S. Schumann. J.L. van Schaik, Bep., Pretoria. (Prys 3/6.)
Die titelblad bring die mededeling:
‘Hierdie stuk is deur die Krugersdorpse Munisipale Vereniging vir Drama en Opera met 'n eerste prys bekroon in die Suid-Afrikaanse Toneelskryf-kompetisie deur hulle in 1932 gehou.’
Met Jochem van Bruggen se dramatiese bewerking van ‘Ampie’ het die armblanke ook sy verskyning in ons drama en op die toneel gemaak - iets wat ons met gemengde gevoelens begroet.
Die skrywer van ‘Hantie kom huis-toe’ is besield met 'n mooi ideaal - die besef van ons roeping teenoor die armblanke wat hy eerlik in sy diepe gesonkenheid uitbeeld. Die plig van ‘persoonlike belangstelling in hierdie ongelukkiges’ predik Schumann deur ons die nobele pligsgevoel te teken van 'n meisie wat gebore is van 'n armblanke-familie, deur 'n welgestelde tante opgevoed word en later die wrede ontdekking van haar afkoms doen - sy sien af van alles wat die lewe en die liefde haar bied en voel dat haar roeping is by haar eie mense.
Hierdie drama bevat goeie eienskappe: die dialoog is vlot en lewendig, die tekening van die diep gesonke armblankes goed - veral die senuweeagtige, doellose gejaagdheid van Tant Grieta by die koeliewinkel.
Tog het die outeur in sy hoofmotief nie geslaag nie. Wel verkeer Hantie in tweestryd en kan nog nie afsien van haar geliefde nie. Maar hierdie amper sieklik geeksalteerde meisie, wat mistieke gemeenskap het met God en Hom dan aanspreek as ‘Jong’, kom op alte mistieke wyse tot haar besluit om haar lot in te werp met haar familie - daardeur is die konflik aan die drama ontneem. Die figuur van Hantie is nie oortuigend nie. Dis dan ook opmerklik dat alleen síj opgeskroefde taal gebruik: ‘Dan is die nag my deel, en ek omhels die duisternis soos 'n bruidegom’. Dat sy, voor sy nog van haar afkoms weet, so aangetrek word deur die tonele van lyding en armoede in Kaapstad se agterbuurte, is goed gesien. Maar hoe is dit moontlik dat haar tante haar onvoorbereid huis-toe laat gaan! En hoe stapel die outeur wreedheid op wreedheid deur eers haar geliefde sy vernederende woorde te laat uitspreek oor haar familie sonder dat hy weet dat die haar familie is, haar dan na die krot in Lappiesdorp te bring, die toneel van onwettige drankhandel en verliederliking, en tenslotte haar te laat ontdek dat die liederlikste tipe van almal, die man van wie sy 'n afsku het, haar vader is. Teenoor die realisme waarmee hierdie armblankes geteken is, openbaar die skrywer onmag om Hantie sielkundig oortuigend te teken. Sy word geen lewende mens nie, bly slegs 'n skim, die begrip van selfopoffering. Die greep om haar tydens 'n floute God te laat sien, kan tog nie as die oplossing dien nie.
Ons het hierbo gesê dat ons die verskyning van die armblanke op die toneel met gemengde gevoelens begroet. Die vertolking van Van Bruggen se ‘Ampie’ deur 'n begaafde kunstenaar wat egter óf die diepere betekenis, die uit innige deernis gebore humor, nie begryp het nie, óf doelbewus na 'n lagsukses gestreef het en van die gesonke deel van ons volk 'n spotbeeld gegee het waaroor duisende Afrikaners geskater het, het ons oë geopen vir die gevaar. Wat moet ons verwag van die opvoering van 'n drama waarin die armblanke in nog veel skriller kleure en sonder die alles begrypende en vergewende glimlag van Van Bruggen se humor geteken is, terwyl die poging om die bange sielestryd uit te beeld van die van hierdie verwording geredde heldin, misluk is?