| |
| |
| |
Oor Boeke.
H.G. Stoker:
1. Die nuwere wysbegeerte aan die Vrye Universiteit (Amsterdam). Blss. 69; prys 2/2 posvry.
2. Die wysbegeerte van die skeppingsidee. Blss. 64; prys 2/3.
3. Iets oor redelikheid en rasionalisme. Blss. 76; prys 2/6.
4. Die slakkehuisteorie van die bewussyn. Blss. 47; prys 2/-. Almal uitgegee deur J.H. de Bussy, Pretoria.
Hierdie brosjures van prof. Stoker vorm 'n interessante bydrae tot 'n Afrikaanse wysbegeerte op Calvinistiese grondslag. Hoewel hulle veel oorspronkliks bevat, is hulle grotendeels gebaseer op die nuwe Calvinistiese wysbegeerte aan die Vrye Universiteit (Amsterdam), soos voorgestaan deur proff. Dooyeweerd en Vollenhoven. In die eerste van die genoemde brosjures word dan ook 'n beknopte oorsig gegee van die huidige stand van hierdie wysbegeerte. 'n Afrikaanse kleur word ook in die brosjures gevind in sover daar uit hulle straal die godsdienstige, anti-rasionalistiese, nugtere Afrikaanse gees wat nog met 'n ope blik die wêreld besien, 'n oog het vir die bonte veelkleurigheid van die skepping en nog nie homself verloor het in die solipsistiese, monistiese en wêreld-ontvlugtende dogmas van ouer lande nie.
Die inhoud van die brosjures is kortliks as volg:
1. In die eerste brosjure word 'n heldere uiteensetting gegee van die nuwere Calvinistiese wysbegeerte aan die vrye Universiteit. Die vernaamste kenmerke van hierdie stelsel is: eerstens, die poging om weg te breek van die ou heidense denkbeelde en begrippe en dié met nuwes te vervang; tweedens, die fundering van die stelsel op die Heilige Skrif en die aanvaarding, as Archimediese uitgangspunte, van die Openbarings-, die Skeppings- en die Wetsbeginsel. Sonder om verder op besonderhede in te gaan en sonder om hierdie uitgangspunte nader te ondersoek, mag ek net meld dat hierdie stelsel m.i. gevaar loop om in 'n wetsformalisme te verval wat nie voldoende rekenskap gee van die substansiële, inhoudelike sy van die werklikheid nie.
2. Terwyl prof. Stoker in die eersgenoemde brosjure 'n min of meer objektiewe uiteensetting gee van die nuwere Calvinistiese wysbegeerte, kom hy nou in die tweede brosjure daartoe om homself grotendeels op die standpunt van hierdie wysbegeerte te stel en probeer hy om van daaruit verder te bou. Na enkele inleidende paragrawe oor die taak en terrein van die wysbegeerte en oor die Bybel as bron van kennis, word nou die vraag gestel oor die eenheid van die kosmos en die verhouding van die kosmos tot God. Die antwoord is dié van die skriftuurlike dualis wat 'n skerp grenslyn trek tussen God en kosmos en die kosmos as 'n skepping Gods beskou, waardeur ook die formele eenheid van die kosmos gehandhaaf word. Alle bestaan word hier religieus gedui as ‘ter ere Gods’. Die veelheid en verskeidenheid in die heelal word aanvaar, en die kosmos word beskou as openbaring van die gedagtes van God. God is die Soewereine Wetgewer aan wie alle kreature onderworpe is, maar alles besit ook die kenmerke van soewereiniteit in eie kring en vryheid in eie bevoegdheid. Die intrinsieke eenheid van die kosmos word gewaarborg deur die feit dat al die veel- | |
| |
vuldige wetskringe, sfere of modaliteite die een die ander veronderstel of fundeer en deur antisipasies en retrosipasies ten nouste met mekaar verbonde is.
3. In die derde brosjure word 'n kritiek gelewer op die rasionalisme, die leer wat die rede beskou as die enigste en hoogste maatstaf van kennis. Besonder interessant is die feit dat prof. Stoker rasionalisme nie net as 'n teorie sien nie, maar ook en veral as 'n lewenshouding wat hom in die praktyk laat voel. In sy kritiek op die rede as betroubaarste kenmiddel voer prof. Stoker aan:
a) Die rede is gebind aan die objek of saak wat geken moet word. Die beslissing van waar en vals, van redelike en onredelike oortuiginge lê dus uiteindelik nie in die rede self nie, maar by die rede-objek, die te kenne of gekende objektiewe saak.
b) Die rede is nie die enigste funksie van die menslike gees nie. Dis maar een deel van die hele persoonlikheid wat 'n menigte funksies, soos wils-, gevoels-, lewens-, sedelikheids-, godsdiens-, fisiese e.a. funksies, omvat. Die rasionalis isoleer die rede en ruk dit dus uit verband met die ander funksies van die menslike persoonlikheid;
c) Die rede is self beperk in sy moontlikhede weens sy skeppingsnatuur, die dinamiek van die werklikheid en die menslike beperktheid.
In verdere paragrawe word nog ander vraagstukke behandel aangaande rasionalisasies, geloof en suggestie, botsinge en rasionalisme, ens.
Hoe treffend die kritiek van prof. Stoker op die rasionalisme ook mag wees, nogtans voel ek nie oortuig dat die rasionaliste hulle sonder meer by hierdie kritiek kan neerlê nie. Hulle kan b.v. maklik die standpunt inneem dat die besware van prof. Stoker alles goed en waar is, maar tog nie die kern van die saak tref nie. Want, mag die rasionalis beweer, hierdie argumente tref alleen die rede soos hy geopenbaar of gemanifesteer is in die omstandighede van die tyd-ruimtelike wêreld. Dit wil egter nog nie sê dat die rede as sodanig, die rede in sy wese, afgesien van sy beliggaming in die menslike persoon, aldus beperk is nie. Dit kan b.v. aangevoer word dat die geometrie 'n sirkel definieer as 'n lyn ewewydig getrek van 'n bepaalde punt. Dis die definisie van 'n sirkel in sy wese, maar 'n volmaakte dergelike sirkel word nêrens in die werklikheid gevind nie. So ook mag van die rede beweer word dat dit as sodanig, sekere hoedanighede besit, wat net nie in die werklikheid tot volle verwesenliking kan kom nie.
4. Hierdie brosjure is gewy aan 'n kritiese bespreking van die ‘slakkehuis’-teorie van die bewussyn, d.w.s. van die opvatting dat alle primêre bewussynsinhoude alleen in die bewussyn en nie realiter bestaan nie of, m.a.w., dat die mens soos 'n slak binne die wande van sy eie bewussyn gevange is en slegs 'n verskyningswêreld, nooit die werklikheid self ken nie. Teenoor hierdie leer stel prof. Stoker die Calvinistiese opvatting wat die naïewe ervaring as onmiddellike openbaringsgrond volmondig erken en op grond van sy vertroue in wat God ons in ons bewussyn openbaar, alles wat sig as oorspronklik gee, net so aanvaar as wat dit sig gee. Hier speel die Openbaringsbeginsel 'n groot rol; aanvaar ons die hele kosmos as 'n openbaring Gods, dan is dit hierdie Openbaringsbeginsel wat die brug skep tussen die kennende subjek en die gekende objek, m.a.w., die slakkehuiswande verbreek en kennis laat sien as 'n geskenk van God. Prof. Stoker sluit hierdie brosjure af met die stelling dat die menslike bewussyn prinsipieel nie 'n slakkehuis-struktuur besit nie, maar prakties tot op sekere hoogte wel, as gevolg van die sonde, wat slakkehuisvormend en verduisterend op die menslike bewussyn werk.
Behalwe die invloed van manne soos Dooyeweerd en Vollenhoven word in hierdie werkies ook die invloed gevoel van die fenomenologiese skool, en dit veral in die laaste werk. Die nugter-realistiese
| |
| |
kyk op die wêreld, wat die verskynsels van die werklikheid wil aanvaar soos hulle hul gee, is ook tipies van die fenomenologie. Vergelyk b.v. die stelling van prof. Stoker dat die ‘Calvinistiese wysgeer alles, let wel: alles wat sig as oorspronklik gee, net so aanvaar, as wat dit sig gee,’ met die ‘Prinzip aller Prinzipien’ van Husserl, ‘daß jede originär gebende Anschauung eine Rechtsquelle der Erkenntnis sei, daß alles, was sich uns in der Intuition darbietet, einfach hinzunehmen sei, als was es sich gibt, aber nur in den Schranken, in denen es sich gibt’ (Ideen..., bl. 43-44).
Besonder belangwekkend is ook die aanvaarding van die substansiële veelheid van die heelal en die verwerping van enige vorm van monisme. As ons in aanmerking neem dat 'n monistiese wêreldbeskouing meestal saamgaan met passifistiese, geresigneerde temperamente, terwyl pluralisties gekleurde wêreldbeskouinge weer saamgaan met aktivisme en strydlus, dan spreek dit vanself dat 'n Calvinistiese en veral 'n Afrikaans-Calvinistiese wysbegeerte nie anders kan as om monisme te verwerp nie.
Ook die anti-intellektualisme en anti-rasionalisme van prof. Stoker se leer is tipies van 'n jong volk, veral as so'n volk 'n sterk religieuse agtergrond het. 'n Verwerping van die alleenheerskappy van die rede om sodoende aan die kragte van wil en gemoed ook hul regmatige plek toe te wys, is ongewyfeld 'n bewys van jong lewe wat nog daadkrag en strydkrag in hom voel.
'n Noukeurige kritiek van die beskouinge van prof. Stoker is hier natuurlik buite die kwessie. Ons wil hier egter die brosjures van harte verwelkom en hulle aanbeveel, in die hoop dat hulle veel mag bydra tot bestryding van die gees van intellektualisme en rasionalisme in ons land deur 'n nuwe nadruk te lê op die wesenlike en noodsaaklike veelvuldigheid van die kosmos en op die rol van die non-rasionale funksies van die menslike gees in hierdie kosmos.
N. DIEDERICHS.
| |
Tijdens de O.-I. Compagie. Door Dr. E.C. Godée-Molsbergen, Oudhoogleeraar, Landsarchivaris te Batavia. N.V. Zwets en Zeitlinger, Amsterdam.
Dr. E.C. Godée-Molsbergen, is in Suid-Afrika as geskiedskrywer geen onbekende nie, en daarom sal hierdie nuwe werk van hom in wye kring belangstelling wek. Dit bestaan uit 'n gebundelde serie briewe oor mense en dinge tydens die Oos-Indiese Kompanjie wat ontstaan het uit materiaal versamel in Holland, Suid-Afrika, Ceylon en Java ‘als verpoozing in tropische avonden’, en wat oorspronklik verskyn het in ‘Het Soerabaiaasch Handelsblad’.
Uitgaande van die gedagte van prof. J. Huizinga dat ‘In onze beschaving haar gehalte van historische kennis dan het hoogste mag worden genoemd, wanneer de wetenschap erin slaagt een kritisch gezuiverd product te leveren van zoo duidelijke levenswaarde dat het algemeen ontwikkeld publiek het aanvaardt, begeert en verwerkt’, is die doel van die skrywer om aan belangstellendes op geskikte wyse by te bring wat kultuurhistories werd is om van die werk van die Kompanjie in die Ooste te weet. Mens soek derhalwe in hierdie werk te vergeefs na 'n stelselmatige uiteensetting van die krygsgeskiedenis van die Kompanjie, na die fyngesponne drade van politieke aksie, na die organisasie van die regswese of na die handels- of internasionale politiek van die magtige liggaam wat eenmaal as ‘staat in 'n staat’ sy invloed op die wêreldgebeure laat voel het. Dit wil die skrywer ook nie gee nie. Inteendeel, hy neem ons met hom saam op reis in die ou kompanjieskepe van Nederland na die Kaap, na Indië; hy laat ons sien mense aan die werk, mense van gelyke beweging as ons, wat eenmaal geleef en gestreef het, wat met menslike foute en gebreke, maar ook met bewonderenswaardige sielskrag, met moed en volharding vir die Nederlandse stam 'n groot werk verrig het. As die oogmerk van die skrywer as norm van beoordeling geneem word,
| |
| |
dan moet sy werk ongetwyfeld as goedgeslaag beskrywe word. Niemand sal hierdie boek neersit sonder die besef dat hy geniet het nie, maar ook dat hy aan kennis en insig gewin het.
Die briewe dek 'n ruim veld: Die Kaap, die hele gebied waaraan Multatuli die mooi naam Insulinde gegee het, Japan, China. Wat die Kaap meer insonderheid betref, is daar verskillende briewe wat, hoewel hulle nie veel nuuts bring nie, tog belangwekkend is: oor van Riebeeck se afkoms, sy familie en sy wapen; oor die Hottentotteoloog Kramat; oor die sonderlinge geskiedenis van die Hottentotmeid Eva, e.d.m.
Die waarde van die boek word vir die vakman verhoog deur 'n reeks aantekeninge oor die bronne en deur 'n goedversorgde naamregister.
A.J.H. VAN DER WALT.
| |
Gedenkboek aan August Vermeylen, ter gelegenheid van zijn zestigsten verjaardag, 12 Mei 1932.
August Vermeylen - die wakker leier van die Vlaamse Beweging sedert die negentiger jare van die vorige eeu - reeds sestig jaar! Dit klink byna ongelooflik as ons nou sy jeugdig-frisse opstelle lees, tintelend van geesdrif en tog reeds gedra deur 'n begeerte om redelik, menslik, ewewigtig te wees. Vermeylen was vir die herlewing van die Vlaamse letterkunde wat Willem Kloos in die Noorde was, en ongetwyfeld het hy veel geleer van Kloos en Verwey, sy kritiese prosa behoort inderdaad tot die suiwerste, die indringendste wat in Hollands geskrywe is. Dat Vermeylen nie die weg van verdorrende indiwidualisme opgegaan het nie, dat hy bly staan het in die herlewingsbeweging van sy volk self, het hom gered vir die kuns, die kritiek, die lewe. Hy het as gevolg van rustige studie ontwikkel tot 'n kultuurdraer by uitnemendheid, en sy persoon, sy geskrifte het die bewondering afgedwing van die hele jong Vlaandere. Vermeylen het van die begin af getoon dat hy nie die oorhaastige is nie. Elke woord wat hy geskrywe het, is deurdag, hy is die meester van die formulering, soos Maurice Roelants hom tereg genoem het. Sy ‘De Wandelende Jood’ het hy jarelank as idee in hom omgedra en uiteindelik 'n voldrae werk gegee, vol diepe sin, gegroei uit bespiegeling en ervaring. Sy opstelle, soos b.v. sy meesterlike kritiek op die Vlaamse beweging, op die holle en leë kultuurgepraat, was in sy tyd 'n manifes van groot betekenis.
As ons die huldebetuigings in hierdie gedenkboek lees ,loftuitinge van letterkundiges uit Noord- en Suid-Holland, dan verstaan ons eers duidelik wat hierdie denker en kunstenaar vir die geesteslewe van Vlaandere beteken het.
Met die Wêreldoorlog, toe Vlaandere so ontsettend moes ly, het 'n tyd van beproewing vir Vermeylen aangebreek, en later is die hardste dinge hom na die hoof geslinger deur die Aktiviste. Tog het hy as Senator onder sy landgenote 'n geëerde plek bly hou en is hy in 1930 aangestel as die eerste rektor van die vervlaamste Universiteit van Gent. Ons verneem nou dat hy eersdaags hierdie verantwoordelikke betrekking - veral verantwoordelik in so'n strydende tweetalige land! - gaan neerlê. As geleerde sal hy seker nie rus nie, want sy bekende werk oor die Wes-Europese plastiek getuig van sy fyne smaak, sy omvattende kennis van die kunsgeskiedenis. Sy onverganklike betekenis vir die Vlaamse Beweging is seker dat hy gesien het dat Vlaandere nie by enge provinsialisme kan bly nie, dat leë geroem op eie verlede niks beteken in die mond van iemand wat self geen verfynde kultuurbesef het nie, dat die Vlaming moet uitgroei tot Europeër, sonder om neer te sien op sy waardige verlede.
Willem Kloos het hom in die Noorde op suiwer literêre terrein beweeg. Vermeylen moes ook op die hele volksbeweging let, dit geestelik peil en in deurdagte opstelle waarin helderheid van die gedagte en oorgawe van die gevoel tot ewewig saamge- | |
| |
vloei het, rigting gee en perspektiewe open.
Hierdie Gedenkboek bevat nie alleen lofuitinge, benaderinge van Vermeylen se betekenis vir Vlaandere nie, maar ook 'n hele aantal wetenskaplike studies, elkeen van betekenis.
Dit strek die Vlaminge tot eer dat hulle nie die groot werk wat Vermeylen vir hulle in die verlede gedaan het, vergeet het nie, want Vlaandere ly, net soos Suid-Afrika, aan die gevaar dat oppervlakkige politiekery in die weg staan van ware kultuurgroei en dat die meeste hulde dikwels gebring word aan diegene wat die hardste skreeu!
C.M. VAN DEN HEEVER.
| |
Gods goochelaartjies, door Augusta de Wit. N.V. Em. Querido's U.M., Amsterdam.
Augusta de Wit laat in meer as een opsig aan Van Looy dink: ook by haar vind ons die ernstige opvatting van die kunstenaarskap, waardeur sy niks slordig of haastig uitgee nie, ook by haar die siening van die oëskoon in al sy rykdom en flonkering en die uitbeelding daarvan deur die skone woord wat middel bly en nooit doel word nie - sy sien die dinge natuurlik minder met die oë van die skilder met palet en penseel as Van Looy. Ook Augusta de Wit sien nie slegs die uiterlike skoonheid nie, dit word vir haar openbaring van die ewigmenslike vreugde en smart! Sy is romantieser. Oor haar werk lê nie die allesverterende stralegloed van die son nie, dis meer gehul in die geheimsinnige sprokiesfeer van die Ooste. Ook van haar werk gee 'n groot gedeelte 'n fragmentariese indruk. Nes haar ouer kunsbroeder is sy altyd die harmoniese, selfbeheerste, bewuste skepper van skoonheid.
Die verskyning van ‘De Wijde Wereld’ was vir die bewonderaars van haar kuns dan ook 'n teleurstelling - dis nie veel meer as 'n versameling vlot-joernalistieke sketse nie, hoewel haar ware kunstenaarskap hier en daar deurstraal.
Veel hoër staan haar jongste werk, ‘Gods Goochelaartjies’. ‘Joculatores Domini noemde Franciscus zijn broeders toen hij hen met den bedelnap en zijn Lofzang van de Zon de sombere gevaarlike wereld in zond.’ En so teken die skryfster ons 'n aantal van die ‘Joculatores Domini’, ‘Gods Goochelaartjies’, van die gelukkige dromers vir wie die gewone begeertes en behoeftes van die materialistiese mens nie bestaan nie. Hulle lewensvreugde vind hulle in 'n swerwersbestaan waarin hulle die skoonheid van die skepping najaag. So teken sy ons Rumphius wat in die sewentiende eeu sy hele lewe en sy gesondheid gewy het aan die ingespanne studie van die plante- en dierewêreld van Ambon, ‘die (er heen) ging om te begrijpen en te beminnen, die er wonderen, openbaringen, verrukkingen beleefde, terwijl hij met al verhelderende oogen het gewas en gedierte van Ambon beschouwde.’ Sy teken ons die Fransman wat sy ouerlike huis ontvlug en op Ambon sy bestaan maak met die verkoop van die vlinders wat hy so hartstogtelik bewonder. Die belangrikste belewer van hierdie digterlike droom is die swerwende sanger van die laaste verhaal. Al hierdie dromers is verwant aan De Meesterglaswerker, die in sy skoonheidskepping versonkene, wat eensaam en onbegrepe lewe. Die kunstenares gee hier nie die rykdom wat sy in daardie heerlike skets gee nie, nie die gedragenheid van styl nie, maar haar prosa flonker tog telkens van seldsame skoonheid. As voorbeeld siteer ons die beskrywing van die Priamus-vlinder.
‘Schitterend groen met zwart fijn dooraderd als het edelste malachiet waren van wortel tot midden de vleugels en breed bezoomd met donzig en toch glanzend zwart, waar weder streekjes en toetsjes groen doorheen liepen; langs den uitersten bovenrand lag als een fladderende grashalm gebogen een lange streep groen langs het zwart. De onderzijde had een zweem van
| |
| |
blouw door het getemperde groen dat naar de randen in een weifelig blond verschoot. Aan weerszijden van den grootoogigen forschen kop, in het zwarte dons der borst, brandden twee vuurroode plekken, of de liefdedrift en de lewenslust van het dartele wezentje daar vlammend uitgeslagen waren.’
Hierdie bundel is vol van sulke skoonheid.
G. DEKKER.
| |
Matteo en Leonardo. Deur Willem C.W. Kamp. (L.J. van Schaik, Beperk, Pretoria, 1933.)
'n Vyftiental van die kortverhale van Willem Kamp wat in ‘Die Huisgenoot’, ‘Die Landbouweekblad’ en ‘Die Vaderland’ verskyn het, het nou gebundeld uitgekom by van Schaik, met die naam van die eerste stuk as titel van die boek.
Dis 'n reeks romantiesgekleurde verhale met 'n groot voorliefde vir die tragiese gebeure, wat aangename ontspanning sal verskaf aan baie lesers - veral jong lesers - in hul ledige ure, want die verhale is in gemaklike, direkte trant geskrywe en die outeur verstaan die kuns om die nuuskierigheid te prikkel en die aandag geboei te hou tot die klimaks toe, wat telkens op die end kom. Buitendien bevat hierdie verhale nog baie ander goeie elemente. Die skrywer teken die uiterlike van sy figure telkens in 'n paar kort trekkies, voldoende om 'n beeld voor ons gees te laat oprys, maar nie so veel dat dit vervelig word nie. En sy oog dring deur die uiterlike heen na die innerlike toe, sodat elke verhaal 'n skets van 'n stukkie sielelewe word. Die verhaal word dikwels effektief afgewissel met stukkies milieutekening. Daar is stukkies goeie dialoog en ook buitekant die dialoog word die atmosfeer goed bewaar deur middel van gedagtepraat. Hy kan 'n lugtige toon sowel as 'n ernstige aanslaan. Daar is stukkies werklik goeie plastiek.
En tog laat die bundel my onvoldaan. Ons kry die indruk dat ons hier te doen het met 'n jeugdige skrywer wat nog rigting soek en gevaar loop om die verkeerde rigting in te slaan. Die stukkies sielelewe wat geskets word, is geen beelde wat 'n blywende indruk maak deur intense belewing nie. Die uiterlike gebeure bly tog maar vir die skrywer hoofsaak; die eensydige, karikatuuragtige karaktertekening kom sterker na vore as die psigiese ervaring; die melodramatiese of retoriese slot bederf alte dikwels 'n goeie tekening van innerlike lewe. En so is die totaalindruk dat hierdie verhale staan in die teken van die rolprent met sy jag op effek.
Ook in onderdele werk die onrype, die ondeurleefde telkens storend. Om 'n paar voorbeelde te noem:
Op bls. 13 steek Leonardo 'n paraffienlamp aan op die tafel, met die gevolg dat hy en sy maat die gesig van Sartos beter kan sien by die kerslig. 'n Rukkie daarna ontstaan daar rusie, Sartos gooi onverwags die tafel om, en ‘in die rumoer kry hy dit reg om by die deur te kom wat na die agterhuis lei. By die voordeur kan hy nie verby kom nie, want daar sit (!) Leonardo.’ Maar die wonderlike lamp brand nog altyd op die vloer, en ‘Matteo het dit gou opgetel’ (n.l. die lamp), en dan gryp hy ‘sy eie mes wat op die tafel lê (n.l. die omgevalle tafel). 'n Ander verhaal is weer die van mnr. O'Grady wat wel selde nugter was, maar dat hy op een aand so onder die praat deur somar twee volle bottels brandewyn leeggedrink het en nog verstandig kon praat, is darem 'n bietjie te veel om van ons goedgelowigheid te verg.
Dieselfde onversorgde, onafgewerkte hinder ook telkens in sy taal: hier en daar duik 'n hinderlike Anglisisme op; hier en daar is daar 'n sleg gekose woord, soms 'n absurditeit soos op bls. 59: ‘Al wat nou agter die wyd oopgevoude Mail te sien is, is die maer wit vingers’, of op bls. 69: ‘Waarom het sy hom gisteraand so onverskillig gesoen na die afskeid?’ Wanneer hy hom aan langer sinne waag, dan raak
| |
| |
hy daar dikwels verward in, soos in hierdie een: ‘Daar was geen enkele rede vir ons om ons in die minste aan hom te steur nie: ons was nie sy kinders nie, hy het geen sê gehad in die huis nie, en tog ..., al daardie vereistes wat nodig is om stilte en behoorlikheid en sedigheid te hê, skyn by hom in een onverklaarbare karakter-eienaardigheid so saamgeknoop te wees dat dit, sonder dat hy hom veel daartoe inspan, sy invloed op ons nie mis nie.’ (Bls. 53.)
Willem Kamp staan op die tweesprong. Hy sou kon aangaan met verhaaltjies te skrywe, en dan sal hy daar sukses mee hê op die gebied van ontspanningslektuur. Hierdie bundel bevat egter ook 'n belofte. Hy sou hom kon toelê op die produksie van ernstige kuns, en ook daarmee sou hy sukses kon behaal, maar daarvoor sal nodig wees dat hy hom losmaak van die bioskoopagtige, dat hy leer insien dat die innerlike gebeure belangryker is as die uiterlike, dat hy die waaragtig beleefde moet laat insink en elke onderdeel met die mees nougesette sorg moet afwerk.
J.J. LE ROUX.
| |
Stijn Streuvels en zijn werk. Door F. de Pillecyn. - L.J. Veen's Uitgeversmaatschappij, Amsterdam.
Oor die groot Wes-Vlaamse prosaskrywer Stijn Streuvels, of Frank Lateur, soos hy in die daaglikse omgang heet, is reeds baie geskrywe. Ridder het 'n boek gewy aan die lewe en kuns van die outeur, en onlangs het bogemelde simpatieke werk verskyn. Wes-Vlaandere is die rustig-eenvoudige streek, waar die eensaamheid van die landelike lewe ingewerk het op die beskouingswyse van die bewoners, dit is die klein wêreld waar nog iets oorgebly het van die mistieke katolieke geloofsopvatting van die Middeleeue, die afgesonderde deel waar die groot priester-digter Guido Gezelle gelewe en gely het, Gezelle wat 'n oom is van Streuvels. En net soos die fyngevoelige godsdiensdigter gedurende 'n lang periode die grootmeester op die gebied was van die poësie, so sou Streuvels, wat eers 'n eenvoudige bakker in Avelgem was, deur noeste ywer en werklike aanleg hom omhoogwerk tot die grootste prosaskrywer van Vlaandere.
Dit is die besonder verdienste van De Pillecyn se werk dat hy probeer om die organiese ontwikkeling in Streuvels se kuns aan te toon. Die jong kunstenaar lees intens op sy eensame kamer in die banale, skinderlustige dorpie Avelgem in die werke van groot Russiese en Skandinaviese outeurs - sy geesverwante Gorki, Tolstoi ens. moet belangrike vormende invloed op sy soekende gees gehad het. Sy eerste werke het dan ook 'n swaarmoedige toon, dit word beheers deur die noodlotsgedagte. In 1893 word die tydskrif ‘Van Nu en Straks’ opgerig, en deur die redaksie se aanmoediging skrywe Streuvels, wat totnogtoe net in onbelangrike tydskriffies gepubliseer het, sy beste kortverhale - want inderdaad is dit die kunsvorm waarin sy gees uiting soek. Sy eerste boek ‘Lenteleven’ (1899), wek dan ook veel geesdrif, nie alleen onder sy landgenote nie, maar ook in Noord-Nederland, waar die toon teenoor die Suid-Nederlandse letterkunde (Gezelle was nog nie deur die Tagtigers ‘ontdek’ nie) tot 1891 onveranderd hooghartig gebly het. Maar Streuvels, Buysse, Van de Woestyne begin werk in Noord-Nederlandse tydskrifte te plaas, en letterkundiges, soos b.v. Verwey, doen mee aan die werk in die Suide. Die saamwerking sal voortaan hartlik wees.
Hoe verbasend gebalanseerd Streuvels se styl alreeds in sy eerste werk is, tog staan hy nog maar aan die begin van 'n belangrike ontwikkeling. Ná 1900 gaan hy in Ingoygen woon. Die noodlotsgedagte wat so neergeweeg het op sy gees, verdwyn gaandeweg. Sy beskouing van die dinge word kragtiger, sonniger, dieper.
Die werk van Pillecyn besit 'n groot aantal mooi foto's, en as ons na Streuvels se sterk, deurvoorde boeregelaat kyk, kan
| |
| |
ons verstaan dat hy die skepper is van kragtige werk, waarin daar hewig die mag van die natuurgeweld oor die mens gevoel word. Streuvels word beheers deur die kompleks mens - aarde, en Vermeylen het in sy werkie ‘Van Gezelle tot Timmermans’ vir ons 'n oortuigende beeld geskep van die verskil in stofbehandeling by Vlaandere se twee grootste beskrywers van die landelike lewe: Buysse en Streuvels. Buysse se aandag rus meer op die mens self, sy beweginge, los gesien van 'n agtergrond. By Streuvels word die mens 'n nietige stippeltjie teen die grootse agtergrond van die natuur, die natuur wat 'n dwingeland, 'n heerser is, aan wie se vreemde magsgreep die doodgeswoegde werker vergeefs probeer ontkom. Sy kuns groei uit tot monumentaliteit in sy werk ‘De Vlaschaard’ (1907), waarin sy prosa gedrae is, dit breed golf binne sierlike periodes, ons 'n magtige beeld kry van die jeugskoonheid en kwynende ouderdom, in botsing teen mekaar, met die natuur soos 'n swygende noodlotsheerser op die agtergrond. Vir die Afrikaanse skrywer is daar baie te leer uit Streuvels se werk - werk wat van rus en kalme beheersing getuig. Hoe sy prosa gaandeweg tot volheid en teerheid van ekspressie ryp, wys Pillecyn mooi aan. Streuvels se prosa ontwikkel hom buite die impressionisme om. Hy is die visuele kunstenaar. ‘Zijn proza is allerminst fragmentair. Het in zich opgenomene, in zich herschapene uitzicht en leven van natuur en mensch word weergegeven in een beeld waarvan het synthethische zich onweerstaanbaar opdringt door den gang van den zin, het rhythme van het proza, de stijl’ (bls. 182). Later beweeg Streuvels se werk weg van die landelike af. Sy mooi kinderwerk ‘Prutske’ (1922) wys op nuwe belangstelling, nl. in die eindelose domeine van die kinderfantasie. Opmerklik is dit dat sy prosa, sy dialoog, gaandeweg ook verander van karakter, en dat sy taal, wat eers so sterk Wes-Vlaams getint is, nader kom aan algemeen-beskaafde
Nederlands. Sy belangrikste werke van die laaste jare is ‘De Teleurgang van den Waterhoek’ (1927) en ‘Alma met de Vlassen Haren’ (1931). In laasgenoemde werk kry ons 'n poging om rustig-omslagtig in te dring in die godsdienstige denkwyse van 'n Katolieke meisie. Pillecyn waardeer hierdie werk, wat soveel kritiek uitgelok het en deur boekbeskouers bestempel is as 'n agteruitgang in Streuvels se kunsontwikkeling.
Belangrik vir ons wat met Afrikaans ook al soveel hooghartige uitlatings van Nederlandse kant moes aanhoor oor ons ‘aardig taaltje, zonder eenige literaire pretenties’, is ook die dom-astrante gepraat oor Streuvels se ‘grappig Nederlandsch’, nl. sy Wes-Vlaams - die skrywe van Wes-Vlaamsch het hy nooit tot in fyne onderdele deurgevoer nie, maar altyd so dig aansluiting gesoek as moontlik by algemeen-beskaafde Nederlands. Die minsaam-toegewende toon teenoor sy werk van die kant van mense met 'n kleindorpie-gees, is minder aangenaam. Hoeveel oppervlakkigheid en naskrywery daar oor Streuvels se werk plaasgevind het, toon Pillecyn duidelik aan.
As ons van die werke lees van sommige skrywers wat die Nobelprys ontvang het, dan besef ons baie helder dat twee Vlaminge, nl. Streuvels en Timmermans, daar seer seker reg op het deur die innerlike skoonheidswaarde van hulle werke, en dit sal vir die Dietse letterkunde as geheel van groot betekenis wees as van die ‘grappig Nederlandsch’ notisie geneem en skrywers gehuldig word wat dit werklik verdien.
C.M. VAN DEN HEEVER.
| |
Die sprinkaanbeampte van Sluis. Deur Jochem van Bruggen. J.L. van Schaik Bepk., Pretoria. (Prys 7/6).
Lambertus Bredenhand, die hooffiguur van hierdie verhaal, is eie-familie van Liepie Stols, Sitman, die meeldiaken, Oom Lood, die Burgemeester van Slaplaagte,
| |
| |
Oom Tys, Annekie se vader, en Org Basson, die ouderling van Sukkelaar. Hierdie ses broers van die Lamsak-familie ly almal in meerder of minder mate aan die ongeneeslike kwaal van papbroekerigheid. Dit sou 'n interessante studie wees om die oorsprong, die wisselende simptome en verloop van die familiekwaal in elke geval te ondersoek en te vergelyk. By alle uiterlike verskil in omstandighede is daar tog ook onmiskenbare familietrekke tussen hierdie lamlendige broers van Slaplaagte, Sukkelaar, Sluis... ens. Hulle het byna almal eienskappe wat aan beter dae herinner, oorblyfsels van die beskawing wat hulle met patetiese koppigheid probeer handhaaf. Lambertus Bredenhout het deur ‘sprinkaan, skuld en boedel’ uit alles uitgeraak, en dis alleen deur die goedgunstigheid van swaer Lewies dat hy nog 'n hoekie van die plaas mag bewoon. Hy verdien af en toe iets deur los werkies en verbeel hom dat hy 'n volmaakte ambagsman is, wat net deur een goeie kontrak weer finansieel selfstandig sal kan word. In werklikheid egter, is hy 'n armsalige sukkelaar, wat gedurig spog oor sy bedrewenheid in alle ambagte en sy groot toekomsplanne, maar intussen sy drie kinders laat verhonger. As ‘ouboet’ van die familie maak hy aanspraak op die eerbiedige hulde van al sy broers en susters. Die blinde verering van sy bejaarde moeder, wat in hom die ewebeeld van haar oorlede eggenoot sien, versterk die besef van sy ‘ouboetskap’ en kom goed te pas as hy nou regtig honger is. En Ouboet is darem nie te trots om 'n shilling, wat die weduwee van haar alimentasiegeldjies afknyp, in sy sak te steek nie! Maar van sy broers en susters verdra hy geen kritiek nie. As hulle maar net verlangs skimp oor sy verwaarloosde kinders, dan voel hy bitter gekrenk. Hy beskou homself as 'n voorbeeldige vader, wat sy kinders goed versorg en 'n christelike opvoeding gee. Sy verlies aan prestige in die buitewêreld probeer hy inhaal deur 'n oordrewe
strengheidsbetoon teenoor sy oorblufte kinders, wat wegkrimp van vrees as hy hul net skeef aankyk. Hy het hul wel innig lief, maar in plaas van te sorg dat hul tenminste mieliepap in die huis het, streel dit sy eieliefde om hul verstandjies met vernuftige bybelverklarings te verbyster. So handhaaf hy sy roem as vaderlike priester van die huisgesin. Hy, wat nederig die Jood se belediginge moet verdra om weer 'n bietjie krediet te kry, sluit hom op in 'n trotse ongenaakbaarheid sodra dit familiesake geld. So lei Lambertus 'n dubbelbestaan. In sy verbeeldingswêreld is hy nog steeds die onafhanklike ‘ouboet’ wat met salwende praatjies sy meerderheid handhaaf. Maar telkens word hy uit die droom van eie vernaamheid wakker geskud deur die krenkende realiteit van sy sukkelbestaan. Hierdie gedurige botsing tussen droom en daad het Van Bruggen fyn-ironies veraanskouelik. Ons moet glimlag oor die wewenaar, wat so swaarwigtigvervelend kan redeneer oor geluk, maar as die oujongnooi effens swaar van begrip is, met lustige basstem Uit Diepten van Ellenden ‘uitsing tot die laaste vers toe’. Maar tewens voel ons 'n innige medelyde met die arme sukkelaar wat meen dat 'n tweede vrou sy ekonomiese rehabilitasie sal verseker - ‘'n hulp neffens hom sal die voorspoed weer verdubbel...’ En hoe wel die deernis nie in ons hart op nie as ons die patetiese figuurtjie van die kindmoeder, Ousus, betrag. Terwyl Lambertus in vrome oorpeinsings 'n late oggendrus geniet, moet sy maar bontstaan om die noodsaaklikste kossies te leen - hier 'n brood, daar 'n bietjie mieliemeel... Van jongmensplesier weet sy niks, want haar moederlike pligte hou haar tuis. ‘Sy moet soos 'n grootmens saam met tant Leen en Ouma ou klere sit en lap en verstel, dikwels na hulle stemmige redenasies luister en die vermanings aanhoore dat sy die wesies en Pa tog al te goed moet oppas en versorg....’
Byna daagliks moet sy haar fyngevoeligheid geweld aandoen om weer 'n aanneemlike ekskusie uit te dink as sy
| |
| |
Klein uitstuur om iets te gaan leen. Maar haar eerbied vir haar vader bly ongeskonde, al weet sy maar al te goed dat van sy wonderlike planne selde iets tereg kom.
Lambertus se aanstelling as sprinkaanbeampte bring 'n hele omkeer teweeg in die armoedige huishouding. Die spens is vol kos en pa kom heel deftig op 'n vosperd aangery! So lank as hy kan, bewaar hy 'n geheimsinnige stilswye om die eerbiedige bewondering van sy kroos ten volle te geniet. Hierdie aanstelling is salf vir sy gekwetste hoogmoed, want nou kan hy sy verlore prestige in die familie herwin en hul lastige bemoeiing met sy huislike sake hooghartig van die hand wys. Buitendien word die hele distrik sy koninkryk; kuier-kuier kan hy rondry om orals orders af te gee, selfs aan die korrelkop Louw Grebe, wat hom altyd uit die hoogte wil behandel. En nou voel hy ook astrant genoeg om die rooihaar-dogter, Dirkie Coetzee, te verower!
Maar iets knaag tog aan sy gemoedsrus, want Dirkie het sy eerste aansoek van die hand gewys, omdat sy al moeg was om ander mense se kinders groot te maak. In 'n oomblik van swakheid het hy sy seun Koos aan swaer Lewies afgegee, en hy voel nou dat die aandrang van die familie om hom daartoe te beweeg niks anders as 'n sluwe plan van die Satan was om die pad na Dirkie oop te stoot nie. Hy herinner hom sy doopbelofte en vorm die vaste besluit om sy spannetjie bymekaar te hou. Vol innige vadergevoelens gaan hy hulle tegemoet en met ongewone tederheid behandel hy Koos se diepsinnige vraag. Hierdie armsalige sukkelaar, so kleingeestig en kleinserig in sy hoogmoedswaan, so nalatig in die versorging van sy kroos, ken tog ook die ekstase van die opregte vaderliefde:
‘Bredenhand se vaderhart word groot. Watter span kan teen syne optrek in godsvrug en 'n goeie stil geaardheid? En nou moet hulle uitmekaar uit? 'n Buitestaander kan 'n vaderhart nie peil nie... Koos moet eendag, so die Here wil, predikant word.’
Pragtig het Van Bruggen die diepere menslikheid van hierdie eenvoudige siel aan ons geopenbaar ook in die sterftoneel waar die vader in die gebed worstel om die behoud van sy seun.
Die plotselinge omswaai van knaende armoede na betreklike rykdom wek ook by Ousus 'n hunkering na geluk. ‘Moenie huil nie, moenie treur nie, die jongetjies van Sluis kom weer,’ sing dit in haar hart. 'n Geurige koffiekan sal die lokmiddel wees, of ‘sy kan maar baie dikwels die werf gaan vee, so ewe ongeërg, en Adriaan de Bruin of Sarel Venter sal sonder moeite na haar toe kom....’ In suiwerheid van uitbeelding hoef Ousus nie agter te staan by Annekie nie. Dit mag waar wees dat Van Bruggen in hierdie verhaal geen nuwe rigting inslaan nie, dat hy eenvoudig voortborduur op bekende motiewe, maar wat innigheid van aanvoeling en forsheid van beelding betref, verdien sy jongste werk al die lof wat hy vroeër met ‘Ampie’ behaal het.
P. SCHOONEES.
|
|