| |
| |
| |
Nicolaas Mansvelt: 'n Stryder en Bouer.
I.
VROEG op die môre van die 8ste September 1874 staan 'n jong man van 22 jaar voor die oop raam van 'n kamer op die bo-verdieping van 'n netjiese woning in 'n Bolandse dorp. Hy kyk met nuuskierige en verraste oë uit na die nuwe omgewing waarin hy hom nou bevind.
Dit is 'n verruklike lente-môre wat op die jong man die indruk maak van 'n aardse paradys, vol vrede en jong lewe. Van buite-af waai 'n lieflike, skone môre-luggie hom in die aangesig teë, wat hom verfris laat rondkyk en die slaap uit die oë dryf en wat hy om die pure reinheid daarvan met lang en diep asemhalinge die longe intrek. Wat 'n krag, lewenslus en lewensmoed gee dit hom!
Voor sy rustige maar weetgierig rondkykende oë sprei sig 'n pragtige natuurskoon uit: aan sy voete lê 'n bottende, bloeiende wingerd in sy nuwe lenteskoonheid en -krag, verderop lê veelkleurige, geskakeerde bome en hegge, met die daartussen-in verspreid liggende wit huise netjies afgewerk, daar ver lê 'n skoon agtergrond van gloeiende heuwels met hul telkens afwisselende omtrekke en kleurmengelinge in die opkomende môre-son.
In die vroeë môre-stond word die bewonderende jong man begroet deur 'n soet maar vir hom eienaardige gesang van vreemde en tog blymoedige voëltjies.
Wat 'n welkom vir 'n gevoelige, dankbare vreemdeling - want die jong man is 'n vreemdeling in hierdie omgewing, en dit is sy eerste gesig van hierdie heerlike, lokkende lente-lewe. Hy is 'n volle drie maande gelede vertrek per langsaam bewegende tussenboot uit 'n barre, vlakke noordeland na hierdie sonnige, heerlike, oneffe suideland. Hy het sy vaderland, waar hy reeds as ‘secondant’ werksaam was aan 'n onderwysinstituut, op uitnodiging van 'n uit die vreemde land vir 'n vakansie-reis teruggekeerde medeburger en op aanmoediging van die chef van die onderwysinstituut verlaat: sy eie rustige, veilige en bekende omgewing verruil vir hierdie vreemde, onbekende maar tans lokkende wêreld. Die reis per boot na die nuwe land het lank geduur en was nie vry van ongerief, teëspoed en gevaar nie. Wat was dit nie 'n vreugde vir hom gewees om na die lang en vermoeiende reis die vorige dag die nuwe land, met sy eerste natuurtoneel, 'n groot indrukwekkende tafelberg, te begroet as die toekomstige arbeidsveld nie!
Die jong man staan op die vroeë môre van die 8ste September 1874 by die aanskouing van die aanloklike toneel in gedagtes versonke, en voor sy
| |
| |
geestesoog doem 'n skoon toekoms op van werk en van seën op die werk.
Hy is nog 'n jong man met 'n vriendelike oog, 'n breë vorhoof, 'n ferme mond, 'n aantreklike en vername voorkome. Hy is in die nuwe land gekom met 'n sending: hy het gekom om aan 'n onderwysinrigting in hierdie mooi dorp onderrig te gee aan die jeug van hierdie vreemde land maar tog nie-vreemde volk.
Wat sal hy vind as hy die skoollokaal binnetree? Wat sal hy vind om te doen in die omgewing buite die skool? Wat sal hy in die onderwys en opvoeding van die onbekende en tog bloedverwante jeug tot stand kan bring?
Die jong man is Nicolaas Mansvelt, in Nederland gebore op 30 Julie 1852. Hy is nou in Suid-Afrika en wel in die woning van die vriendelike, vaderlike en gasvrye ds. Neethling van Stellenbosch, waar hy op uitnodiging van ds. Frans Lion Cachet die betrekking van onderwyser in die moderne tale aan die plaaslike Gymnasium sal beklee.
| |
II.
Die jonge Mansvelt staan voor 'n skaar van opgewekte en nuuskierige kinders in 'n origens heel gewone skoollokaal. Die kinders is gretig om kennis te maak met die vreemdeling uit die verre noordeland. Hulle het gehoor van sy koms en... daar staan hy voor hulle. Dit is 'n lewendige klompie kinders - en tog is die atmosfeer in die lokaal vir die ywerige, voortvarende maar so anders groot geworde en gewende vreemdeling bedrukkend.
Sy taak is om aan hierdie kinders moderne tale te onderwys, meer in die besonder om Nederlands, of, soos die taal in Suid-Afrika bekend was, Hoog-Hollands, te onderwys. Maar wat vind hy en wat hoor hy?
Hy vind in die klas een eksemplaar van die ‘Beknopte Spraakkunst’ van Hagoort, en dit moet dien as leerboek vir die hele groep. Hy vind dat die kinders 'n voorgeskrewe les uit die spraakkuns tuis van buite geleer het, en dat dit nou sy taak is om te kontrolleer of die kinders die gememoriseerde sonder die hulp van die boek kan opsê. Hy vind verder dat daar heelwat vertaalwerk gedoen word, van Hollands in Engels en van Engels in Hollands. Hy vind dat die lees-onderrig geskied deur middel van 'n Hollandse leesboek met die titel ‘Europa’ - 'n boek uit Engels in baie slordige Hollands vertaal.
Hy hoor die kinders onder mekaar praat, en hy luister skerp: wat praat hulle? Dit is vir hom enigsins moeilik om vas te stel: dit is nie Nederlandse klanke wat hy daar opvang nie - en tog is die woorde nie heeltemal vreemd en onverstaanbaar nie. Hy hoor, oplettend, die klanke van 'n nuwe taal, wat hom as geleerde onmiddellik boei, waarin hy onmiddellik belangstel en wat sy wetenskaplike sin onmiddellik prikkel. Van hierdie taal gaan hy 'n siste- | |
| |
matiese studie maak. (In 1884 publiseer hy die vrug van sy ondersoek en sistematiese versameling, nl. ‘Proeve van een Kaapsch-Hollandsch Idioticon, met toelichtingen en opmerkingen betreffende Land, Volk en Taal.’)
In en buite die skool luister die jong geleerde, liefhebber van en stryder vir sy moedertaal, skerp na die gesproke taal van sy vreemde medemense: Orals ontdek hy tot sy bittere teleurstelling en diep verontwaardiging 'n verdrukking en agteruitsetting van Nederlands. Hy ontmoet die ouer deftige burgers van hierdie land in hul huise en op straat: hy hoor dat hulle 'n taamlik deftige maar tog gebroke Hollands praat, hy vind dat hulle as hulle lees, stywe Hollands lees en as hulle skryf, 'n deftige maar onsuiwer Hollands skryf. Hy besoek die openbare erediens en hoor niks anders, en met 'n dankbare hart, as deftige, selfs sewentiende-eeuse Nederlands in die voorlesing, die gebed, die sang en die prediking nie. Minder deftige en suiwere Hollands hoor die jong geleerde ook op die openbare vergaderinge, waar die ouer geslag die leiding het. Maar tot sy innige droefheid hoor hy iets anders by die jonger, meer ontwikkelde geslag. Hy hoor òf meer Engels en minder Hollands òf meer Kaaps-Hollands en minder Hoog-Hollands. 'n Groot deel van die ontwikkelde jonger geslag lees, skryf en praat net Engels, praat dit nie alleen op straat, in die besigheid of in wetenskaplike kringe nie, maar ook in huis en in die gesellige verkeer. En as hy hulle uit pure verontwaardiging vra waarom afstammelinge van eg-Hollandse voorouers so doen, dan kry hy as antwoord: ‘Engels is 'n wêreldtaal, Engels is 'n kultuurtaal, Engels is 'n letterkundige taal. Die Engelse letterkunde is so skoon en so ryk - en die Hollandse so lelik en so arm; en die Kaaps-Hollandse is net geskik vir die kombuis en het absoluut geen literatuur nie.’
Wat 'n eienaardige en teleurstellende indruk maak hierdie ontdekkinge op die jong geleerde, liefhebber van sy eie skone en ryke Nederlands! Hierdie vreemde bloedverwante van hom sukkel voort op drie klankweë: Op die breë, gladde Engelse, op die smalle, steile Nederlandse en op die dowwe, hobbelagtige Afrikaanse! Wat moet tog van so'n volk word! Verdeeld in sy taal - 'n afspiegeling van die verdeeldheid in sy hart en lewe!
Die jonge Nederlander is deur die toestande tot in die diepste van sy siel geskok, ontroer en verontwaardig. Dit gryp hom aan tot in sy hart: die onderwys van die jong Hollandse Afrikaners in en deur Engels, die anglisering van die jong Hollands-Afrikaanse volkie, die miskenning en vertrapping van die siel van die Hollands-Afrikaanse kind - en die verguising en agteruitsetting van sy skone, lieflike en ryke Nederlands!
En toe voel die jong man in hom bewus word sy sending, sy lewensroeping in die nuwe land: nie onderwyser in moderne tale wees nie, maar onderwyser van sy moedertaal, die moedertaal van die moedertaal van die Hollands-Afrikaanse kind! Sy stryd is 'n stryd om die Hollands-Afrikaanse
| |
| |
kindersiel, en 'n stryd om die handhawing van Nederlands in hierdie land van Nederlandse grondlegging en aanvang.
In die vervulling van die sending kom Mansvelt in stryd, gelukkig, met die verengelste Afrikaner, maar ook in stryd, ongelukkig, met die verafrikaanste Afrikaner. Hy is nie alleen yweraar vir die handhawing van Nederlands as spreek- en skryftaal nie, maar ook pleitbesorger vir die invoering van Nederlands as onderwysmedium - en van sy standpunt gesien reg, want in 1880 verdedig hy die onderwys van en deur Hollands as die taal wat aan die moedertaal van verreweg die meeste van sy leerlinge die nouste verwant is, as die taal waarvan die Hollandse Afrikaner hom bedien in sy kerk, sy huis, sy openbare samekoms. Daarom is Mansvelt van mening dat hy reg het om te eis dat sy leerlinge in die taal en deur die taal onderwys sal word. Maar noodwendig kom hy in botsing met, in 'n ander laer as, die stryders vir die invoering van Afrikaans as moedertaal van die Hollands-Afrikaanse kind.
Mansvelt is uitnemend onderlê en aangelê vir die sendingswerk wat hy op hom geneem het. Hy is 'n uitstekende onderwyser; vriendelik en sagaardig, gestreng en regverdig, bekwaam en ywerig wen hy die liefde van die kinders en die vertroue van die ouers. Hy is wetenskaplik goed onderlê: dit word bewys deur sy studie vir die ‘Kaapsch-Hollandsch Idioticon’. Deur sy sukses as onderwyser en sy ywer as wetenskaplike kom hy sterk onder die aandag, ook van die outoriteite in 1885 toe die Stellenbosche College, onder die naam Victoria College, toegetree het tot die korporasie ‘De Universiteit van de Kaap de Goede Hoop’. Hy word tans bevorder tot hoogleraar in die moderne tale aan die nuwe Universiteitskollege. Dit bring hom in 'n baie gunstige posisie vir die vervulling van sy roeping: hy word nou die erkende leier van die groep van ontwikkelde manne wat met die ou moederland, Nederland, verband wou bewaar en wat vir die ou moedertaal, Nederlands of Hoog-Hollands, wou ywer en stry. So arbei hy saam met ds. (later prof.) de Vos, ds. (later prof.) Moorrees vir die behoud en die herstel van Hoog-Hollands. In die tydskrif ‘De Zuid-Afrikaan’ skryf Mansvelt (en ook ds. Moorrees) in April en Mei 1890 artikels waarin gewys word op die gebiedende noodsaaklikheid van 'n algemene ‘Taalcongres’. Die gevolg van hul skrywe is 'n voorlopige vergadering wat in De Paarl byeenkom en waarop besluit word om in Oktober 1890 'n kongres te hou gelyktydig met die sitting van die Sinode van die Ned. Geref. Kerk in Kaapstad. Die groot ‘Taalcongres’ sit op 31 Oktober en 1 November 1890 in Kaapstad, en daar word besluit tot die stigting van 'n ‘Zuidafrikaansche Taalbond’ onder die voorsitterskap van ds. de Vos, met Mansvelt as sekretaris. Mansvelt is en bly die siel van die Bond tot hy in 1891 na 'n nuwe werkkring vertrek.
| |
| |
| |
III.
Die toneel van sy nuwe arbeid word verplaas van die rustige Stellenbosch en Kaap wat vir hom so lief geword het, na die woelige en woelende Pretoria en Transvaal.
In 1891 tree die byna veertigjarige Mansvelt sy nuwe werkkring in, en wel as onderwyshoof.
Vir die taak is hy uitnemend aangelê en toegerus.
Hy is in die volle krag van sy lewe, 'n man met 'n forse, ietwat hooghartige houding, die oop en hoë voorhof van die denker, die wakker, deurdringende oë, die ferme mond en die entoesiasme en ywer van die man van die daad; 'n begaafde en bekwame leier, 'n onvermoeide, harde en besielende werker, 'n sterk persoonlikheid met groot deursettingsvermoë, 'n eerlike en troue vriend - maar voortvarend, fyngevoelig, oorsnel verontwaardig, eersugtig en baiekeer onhandig in wisselgesprek; 'n man met reeds 'n sestienjarige onderwyservaring in Suid-Afrika, 'n liefhebber en stryder vir sy taal en volk.
Dit is hierdie man wat nou aan die hoof kom te staan van die onderwys in die Transvaalse Boere-republiek.
En wat vind hy hier?
'n Huis sonder stuurman en sonder wet en reël, deurmekaar en wanordelik: 'n desorganisasie van die onderwys oor die hele gebied.
Orals was verslapping ingetree.
Vir meer as twee jaar is die Republiek nou alreeds sonder 'n vaste stuurman vir sy onderwyssake. Reeds voor die vertrek van die vorige leidsman het die verslapping al ingetree, wat eerder erger as beter geword het sinds sy vertrek uit Transvaal in 1889. In die praktyk het maar min geblyk van die goeie beginsels van die vorige onderwys-voorman, wat in die wetgewing van 1882 gesorg het veral vir die ouerlike reg en gesag, vir die christelik-nasionale gees van die onderwys, en in die besonder vir die handhawing van die plek en die reg van Nederlands as onderwysvak en voertaal. Baie onderwysers is uiters onontwikkeld, skaars een kwart van hulle is gesertifiseerd, 'n aansienlike deel is nie alleen onbekwaam nie maar ook nog boonop pligsontrou. Hy ontdek gevalle waar 'n onderwyser aangehou word alleen omdat hy 'n bloedverwant is en 'n bietjie Bybelkennis besit. Nog erger, hy ontdek in sy rondgaan dat hier, eweas in die Kaap, die onderwys op skool deur en deur verengels word: Engels word nie net as vak nie maar selfs as voertaal op die Transvaalse skole in ere gehou.
En dit is die huis waarin Mansvelt, nou as voorman van die Republikeinse owerheid, orde moet bring.
| |
| |
Hy begin met 'n nuwe wetgewing in te dien, wat hy reeds vroeg in 1892 tot wet verklaar kry. Hierdie wet, geskoei op die beginsels en voorbeeld van die van 1882, is 'n baie vollediger dokument. Al bly die hooflyne onverander, is daar tog 'n hele paar afwykings van ingrypende belang. Naas die oorspronklike grondgedagtes van ouerlike plig en reg, van christelik-nasionale gees en van Hollandse voertaal kom nou 'n sterker benadrukking van die plek en reg van die Staat: Mansvelt stuur aan op groter sentralisasie van die onderwys en op 'n strenger beheer daarvan deur die Staat. Hiermee voer hy die oorspronklike beginsels weer in die praktyk van die onderwys in - en wil sorg dat hulle gehandhaaf word. Naas die opstelling van die nuwe skoolwet pak die nuwe onderwyshoof ook die ander sake aan, soos verandering van die standaard van onderwys, die opstelling van 'n nuwe lys van aanbevole handboeke, die instelling van 'n gereëlde administrasie, die samestelling van 'n skoolgids met volledige wenke vir die voorligting van onderwysers en skoolkommissie-lede. Hy brei onmiddellik die aantal skool-inspekteurs uit en pak die probleem van die opleiding van onderwysers aan. Hy wil 'n opleidingskool oprig vir die voorbereiding van onderwysers en amptenare, maar slaag nie gou genoeg na sy sin daarin nie - hy is nou besonder voortvarend en haastig en kan amper geen teëstand duld nie. In die raadsaal vind hy dit uiters moeilik - weens sy swakheid as openbare spreker - om sy rapporte en aanbevelings aangeneem te kry. Maar hy volhard. Om egter in die dringende behoefte aan gesertifiseerde onderwysers, en meer in die besonder van Hollands-gesinde onderwysers, te voorsien, slaag hy daarin om 'n groot aantal (ruim 200 altesaam) van sy ou moederland in te voer. Dit bring hom weer in botsing met 'n sterk deel van die Afrikaanssprekende burgers, wat algaande meer en meer gekant raak teen die oorwegende Hollander-element. Mansvelt word ongelukkig in sy haas al meer en meer
nougeset: en dit hoofsaaklik uit reaksie teen die drang van Engelse kant.
Nieteenstaande teëkanting, stryd en moeilikhede slaag Mansvelt met sy ywer en deursettingsvermoë daarin om die chaotiese onderwystoestand binne 'n klein tiental jare om te skep in so'n bloeiende toestand, dat hy in 1900 op die groot wêreldtentoonstelling in Parys die toekenning van die Grand Prix sowel vir laer as vir middelbare onderwys verwerf.
En dit nie sonder groot verdienste en reg nie!
| |
VI.
Maar die einde is daar.
In 1899 breek die veroweringsoorlog uit - en dit vernietig die heerlike werk van Mansvelt.
Die onderwyshoof is een van die eerste amptenare van die Suid-Afrikaanse Republiek wat na die besetting van Pretoria in 1900 deur die
| |
| |
militêre owerhede die land uitgesit word, ‘because your department has always been known to be anti-British’, waarop Mansvelt snydend en raak antwoord: ‘You mean because it has always been known to be pro-Dutch.’
Op 'n skone lente-môre in 1874 het hierdie stoere werker en vegter vir die eerste maal die aangesig van die nuwe wêreld geniet... op 'n droewe winter-dag in 1900 staar dieselfde man vir die laaste maal die aangesig van daardie wêreld aan! 'n Kwart eeu van vreugde en droefheid, van werk en ontspanning, van oorwinning en ondergang lê agter. Mymerend neem die agtenveertigjarige Mansvelt op 'n vertrekkende boot afskeid van sy nuwe vaderland, met die stille hoop dat die verdrukking haas op 'n end sal wees, dat sy Transvaal oorwinnend uit die bloedige strydperk sal tree en dat hy self weer sal terugkeer na sy so geliefde werkkring.
Teruggekeer in sy ou vaderland, verdedig hy deur voordrag en geskrif die saak van die Transvalers. In die begin is hy nog hoopvol dat Transvaal as oorwinnaar sal uittree en dat sy onderwysstelsel, met soveel inspanning en vreugde opgebou, weer sal herstel word. Toe eindelik die droewe tyding kom, het hy nog nie die moed verloor nie. Hy het steeds trou gebly: geywer vir die handhawing van sy moedertaal in die verre suideland! Suid-Afrika het hy nooit weer gesien nie.
Op 6 Februarie 1933 het hierdie stoere vegter vir Nederlands in Suid-Afrika, vir 'n christelik-nasionale onderwysstelsel in Transvaal sy hoof ten doodslaap neergelê, en staan ons hier in die verre Suid-Afrika met weemoed, maar met dankbaarheid oor hierdie lewe, by die geopende graf.
Wat het hy vir ons gedoen?
Op Stellenbosch het hy die Hollandse onderwys op 'n hoër peil gebring, aan die ontwikkelde Afrikaner het hy deur die invoer van Nederlandse boeke die so nodige leesstof verskaf, deur sy studie oor die Kaapsch-Hollandsch die belangstelling gewek vir die nuwe taal, deur sy openbare voordragte en sy onderwys die Afrikaanse volk voorligting gegee oor taal- en letterkundige sake en eindelik in die Taalbond 'n kragtige organisasie in die lewe help roep waardeur sy ideale verwesenlik is en die Hollandse taal 'n ere- en liefdesplek in menige hart verwerf het.
In Transvaal was sy hoofwerk die vestiging van 'n onderwysstelsel wat in gees christelik-nasionaal was, wat aangesluit het aan die godsdiens, die geskiedenis, die taal en die tradisie van die jong volkie.
Sy nagedagtenis bly vir die Afrikaner staan as die van 'n vurige vegter om die behoud van die siel van die Afrikanerkind, as die van 'n bouer aan die grondslae van ons volksbestaan!
Potchefstroom, 30 Julie 1933.
J.CHR. COETZEE.
|
|