| |
| |
| |
Die Genadelose
CLOTILDE staan voor die raam na die blink glansing van die reën en kyk soos dit saggies en gelykweg neerstort oor die herfslandskap, oor die slapende tuin, waar die vergeelde blare die groot druppels met klappende getik vang en hulle weer laat val op die deurweekte grond. Dit reën nou al twee dae so aaneen, en die jong meisie van twee-en-twintig luister met stille weemoed na die suising van die druppels op die dak, sy kyk na die blare wat blink kristalrye aan hulle kante dra en ootmoedig neerweeg grondtoe. En agter die bome, agter die kaal takke, waar nog enkele blare los fladder of hulle ook maar begerig is om los te kom en na die donker, vogtige aarde te daal, lê die grys, eentonige miswolke, ry aan ry, en stadig drywe hulle hoër, woel deurmekaar en dra sluieragtige tone aan die kante, vervorm tot 'n gelyk vlak waaruit die reën aanhoudend drup soos 'n toonlose lied van die sterwende lewe in die najaar. Twee dae nou al dat sy nie kon gaan skilder nie.... Sy skuiwe die dik gordyn voor die raam nog 'n entjie verder weg om die bleek reënlug dieper in die kamer te laat binneskemer. Drie maande werk sy al aan hierdie skildery. Met liefdevolle oorgawe het sy geskilder om die wye vergesig in lyn en kleur op die doek te suggereer: die slingerende rivier waar hy in die kloof, tussen doringbome deur, wegvloei na die weste, opgeneem word in die vloed van kwynende sonlig... Sy haal die kleed weg van die skildery, maar plaas dit weer moedeloos terug. In 'n weer soos hierdie, sonder die verdiepende ligeffek van die glansende son, is die kleure dood, sonder lewe of skoonheid glim hulle haar teen, olie-agtig en mat. Maar as die son weer deur die wolke kom, saggies sy strale laat vloei deur die kwasharde takke van die doringbome, daar 'n tere glans droom oor die walle en kronkels van die rustige rivier, dan lig die lewensvreugde in haar siel op soos kersies wat iewers in die skemering aangesteek word, dan neem sy die penseel, en lank
staan sy nog eers en kyk na die seeblou kleur langs die kloof wat wegvloei in die goudwarm van die laaste sonstrale wat gloei deur 'n strepie geel gras.... Maar nou.... Sy kyk weer deur die raam. Die reën val nou sterker. Met vaal vlae ruis dit neer oor die modderdeurtrapte pad, waar 'n maer perd langs plas, sy maanhare blouig glimmend deur die nattigheid heen. Teen die ruit loop die druppeltjies met slingerende spore af. Die vogtigheid damp op uit die nat grond en bewasem die vensters, sodat die bome in die tuin, die verre rande nou dof lê soos oortrek van 'n dun rookvlaag....
| |
| |
Wanneer sal dit tog ophou? Sy gaan sit op haar rusbank, leunend op haar hande langs haar. As haar vader maar tog nie so gou dood was nie... Daardie vreeslike Julie-maand verlede jaar met die griep. Hy was nog so gesond in die môre en het by haar kom sit waar sy geskilder het. En die aand reeds was hy baie siek. Drie dae daarna dood.... Nou lê hy in die triestige kerkhof, waar die reën neerkletter teen die wit stene, waar vogtigheid en dood is.... Sy ril en staan op. Daar kom 'n somberheid in haar siel oor haar vader wat so stil-stil uit haar lewe weg is. Hy was so fyn en kunssinnig en het haar altyd aangemoedig, gesê dat sy langsaam en geduldig moet werk en nie tevrede moet wees voor sy die innerlike wonder van die dinge getref het nie. En vandat hy uit haar lewe weg is, skilder sy gedurig. Maar dit word al moeliker. Haar stiefmoeder en Bettie! Hulle laat nooit 'n geleentheid verbygaan om hulle sarkasties uit te laat oor haar werk nie. Haar arme vader het naderhand maar leer swyg in hierdie omgewing van mense vir wie eer en geselsery oor 'n voortreflike huwelik die hoogste is... en Bettie se grootste ideaal is om soveel kêrels as moontlik te lok, en tog skyn dit of hulle haar wil ontwyk. Haar stiefmoeder... As sy tog maar verlos kan raak uit hierdie omgewing, as hierdie skildery, waaraan sy met soveel oorgawe, soveel liefde gewerk het, maar die oog van die kritici sal vang wat die prys moet toeken vir studie oorsee. Maar hoe sal hulle? Daar is soveel knap werk. Sy weet dat Hennie Hugo die steun het van kunssinnige mense, dat hy skilder in 'n atmosfeer waar mens moed kan hou. Maar in hierdie huis is net triestigheid en haatlikheid.... Die eetklokkie lui, en dit roep vir Clotilde met 'n skok na die werklike lewe terug. As sy maar hier op haar kamer kon eet. Nou moet hulle weer soos houtpoppe aan die tafel gaan sit, en dan sal Bettie begin oor die kêrels wat gisteraand so graag met haar wou dans, en sy sal met 'n nare
gevoel in haar hart besef dat dit alles leuens is, die gepraat van Bettie oor verliefde kêrels. En die moeder sal goedkeurend lag, maar met 'n skerpe flonkering in haar oog na haar stiefdogter kyk asof dié op die een of ander manier in Bettie se pad staan - - -
Clotilde loop na die eetkamer, gaan stil-beskeie soos ander dae aan die tafel sit, met 'n gevoel asof sy die ete wat sy kry, nie verdien nie, want net die manier waarop haar stiefmoeder na haar kyk, die wyse waarop sy vir haar tee aangee, suggereer op onfeilbare wyse vir haar hoe ongewens sy in hierdie huis met sy hoë wit mure is, in hierdie huis waar die vensters gedurig die lig uitsluit, in hierdie huis, omruis deur triestige reënvlae.....
‘Kyk, Bettie,’ sê die moeder, wat al diep in die sestig is, ‘ek gaan met mnr. Van der Merwe praat en uitvind of hy nie nou 'n plek vir jou in die kantoor het nie. Ek hou niks van hierdie leeglêery in die huis nie.’ Clotilde se wange word bloedrooi, sy kyk nie van haar bord af op nie, maar voel dat die steek vir haar bedoel is, want dat Bettie ooit op 'n kantoor sal gaan
| |
| |
werk - sy weet hoeveel daarvan sal kom.... Sy moet weg uit hierdie akelige huis, waar die laagheid op haar aanwalm soos 'n nare reuk, waar stowwerigheid, doodsheid heers. Sy wil weg waar son en warmte is, son wat die kleure van die dinge deurtower met sy diepe en geheimsinnige krag. Maar waarheen? Sy het geen familie nie. Die noodlot het haar hier vasgedruk, hier waar die afskuwelike vergrotings vloek teen die eentonige mure, waar 'n neerdrukkende atmosfeer styg uit die ou, smaaklose meubels, waar mens nie diep kan asemhaal nie.
‘Hennie Hugo het vanmôre gesê hy kom vanmiddag hierheen,’ kras die grys ou vrou se stem, ‘sorg nou dat jy nie weer uit is nie, Bettie.’ Na 'n rukkie sê sy, ‘miskien kan jy ook maar 'n bietjie afkom uit jou kamer,’ sonder om Clotilde se naam te noem, ‘die mense sal naderhand dink jy is dood.’ Clotilde sug saggies 'n antwoord. Die ou moeder is tevrede met die wyse waarop sy 'n netelige saak bewerk het, want Hennie Hugo het duidelik gesê dat hy bietjie vir Clotilde wil sien. Maar Hennie Hugo is skatryk, en wat wil hy nou gesels met so'n arme mens wat nie boe of ba kan sê nie. Mens is eintlik aardig om haar in geselskap te bring. Sy kan darem ook nie verstaan waarom Bettie so vreeslik onhandig is met die kêrels nie... Die laaste een verneem altyd net na dié arme mens wat nie kan pruim sê nie. Wat sien hulle aan die ou prentjies wat sy maak? Al verneem mense ook na haar, dit is nie eens nodig om vir haar daarvan te sê nie, want sy is te aan-die-slaap om ooit iets uit te vind, sy sit gedurig met haar groot oë en staar of sy wie-weet-wat sien aankom... Na ete gaan Clotilde maar weer uit die eetvertrek. Langsaam loop sy met die hoë trap op. In haar kamer probeer sy lees. Hennie Hugo - hy vra altyd net om vir Bettie te sien. En geen wonder nie, want Bettie is aangenaam in die omgang. Sy kan opgewek gesels en lag .... maar sy.... Altyd is sy swygsaam, en in geselskap voel sy vaag-bang, 'n vrees vir mensstemme en mensgesigte jaag die onrus in haar op. Dan wil sy altyd weg, weg na haar penseel en doek toe, waar die streling van kleur en lyn, van die rus wat lê in skeppingswerk, haar vrede gee, wat diep in haar gemoed aangroei tot brose stemminge. Maar vandag is sy vasgekeer. Weer gaan sy voor die raam staan. Die reën het nou effens bedaar, maar aan die kim lê die dik miswolke, en oor die hemel is 'n dun vlieserige wolklaag
gespan, wat 'n eentonigheid aan hemel en aarde gee.
Hulle huis lê op die kant van die stad, en om by die trem te kom, moet sy 'n hele end deur die modder sukkel. Maar wat sal sy tog ook in die stad gaan doen? Niemand ken sy intiem nie. Sy wens dat sy kon gesels met Hennie Hugo oor skilderkuns. As sy met hom intiem kon gesels oor die landskap wat sy nou skilder, dan sal haar woorde stroom sonder einde. Maar sy sal vanmiddag maar nie na die triestige sitvertrek gaan nie. Sy weet so goed wat sal gebeur. Bettie sal die hele geselskap beheers met haar opge- | |
| |
ruimde lawwigheid. Sy sal langs hom gaan sit met 'n album en 'n uur lank kiekies wys. Dan sal die besoek netnou ten einde loop, en sy sal weer met die trappies opklim en na haar kamer gaan, met die leë gevoel in haar hart. As haar pa tog maar bly lewe het... Sy sien nou so duidelik hoe hy verlate daar agter in die tuin sit nà een van die rusies met haar stiefmoeder. Byna elke dag was daar 'n klein onaangenaamheid, en dit was meestal oor die twee dogters. Hoe sou haar moeder gewees het? Dié is dood toe sy twee jaar oud was. Haar vader het later toe weer getrou... haar stiefmoeder het al so baie gesuggereer dat dit net om haar geld was, want hy was 'n onpraktiese man wat van sy winkelbesigheid 'n mislukking gemaak het. Haar arme pa! Hy was net soos sy: hulle deug nie vir hierdie lewe, waar mense gryp en baasspeel, verdruk en verkleineer, beklad en seermaak nie. Hulle altwee was mense vir die stilte, maar daarvoor is daar nie meer plek oor in hierdie stad nie... Fyn tik die druppeltjies teen die raam, en die reën wolk al weer donsig neer oor die swart landskap. Haar plekkie by die rivier sal nou seker net die ene modder wees. Maar as die weer opklaar, dan gaan sy haar stuk werk klaar maak. In die linkerhoek kan sy die doringboom se skaduwees nog effens dieper kleur en op die agtergrond die rooi-geel deurskynender laat lig. Sy sien die skildery nou in haar gees, vermooi deur haar lewendige fantasie: die donker, treurende
doringbome met hulle wegvloeiende skaduwees in die geheimsinnige holtes en kronkels van die spruit, waar 'n kolletjie water vlammend uit ophelder; sy sien die goudwarm gloed oor die wit gras, die breë rivier wat ontsaglik uitgevloer lê na die weste, waar die songloed aan daal is, deurskynend en diep, soos die kleur van 'n grasbrand wat agter verre heuwels verkwyn.... As sy haar werk maar kon maak net so hewig en sterk soos sy dit sien in haar verbeelding. As sy dit net so kon oordra op die doek: al die innige kleure wat die weemoed van haar stemminge dra... Sy plaas haar hand onder haar ken. Sy hoor dat gebel word daaronder. Miskien Hennie Hugo? Sy sou so graag met hom wou gesels, baie, baie oor hulle skilderye, maar Bettie staan tergend voor haar, Bettie wat nie eens vir haar kans sal gee om tien woorde te sê nie... Sy sal maar bly, lewe met haar drome wat opstaan en weer sterwe in die geslotenheid van haar vereensaamde siel....
In die sitvertrek benede ontvang mevr. Nieuwoudt vir dr. Schröder, die bekende kunskritikus van die stad, werksaam op een van die dagblaaie. Die ou vrou is verbaas oor die besoek en meen dat dit te doen het met Bettie.
‘Verskoon my, mevrou,’ sê dr. Schröder, ‘maar u het tog 'n dogter wat skilder, nie waar nie?’
‘Wat skilder?’ sê mevr. Nieuwoudt onthuts, en 'n trek van verbasing en oorbluftheid kom op die ou gesig. Sy skuif haar dikglas-bril reg. ‘Wat skilder?’ mompel sy. ‘Nee, my stiefdogter maak so'n bietjie prentjies,
| |
| |
SIGNAC: DIE PYNBOOM.
| |
| |
maar my dogter Bettie doen netjiese handwerk. Sy het lesse geneem by mej. Gautier.’
‘U hoef nie so beskeie te wees oor u stiefdogter se skilderye nie, mevrou,’ sê dr. Schröder, en 'n glimlag lewe om sy oë, ‘om die waarheid te sê: ek is een van die kommissie wat daardie prys moet toeken, daardie prys vir oorseese studie; ek het onlangs net so terloops gekyk na die landskap waaraan sy besig was daar by die rivier. Ek ken haar nie, en het so van 'n afstand gekyk. Dit was vir my pragtige, deurleefde stemmingskuns. Maar ek kon nog nooit persoonlik met haar gesels nie. Ek wil graag 'n onderhoud met haar hê en 'n artikel oor haar werk vir ons blad skrywe. Dit sal haar baie help om bekend te word. Om u die eerlike waarheid te sê: ek meen dat daardie skildery van haar uitstaan bokant die werk van amateurs wat ek gesien het. Sy sal 'n goeie kans hê om die prys te kry. Mog ek 'n oomblik met mej. Nieuwoudt gesels?’ Hy staan nog altyd met die hoed in die hand, sy blou oë vriendelik-vraend gerig op die ou vrou, op wie se gelaat ongemerk 'n norse ontevredenheid aangedonker het. Sy het nie alles verstaan wat die vent gesê het nie. Net een ding het in haar gees glashelder kom staan: daardie groot prent van Clotilde kan haar skatryk en beroemd maak, sodat sy op Bettie kan neerkyk - so 'n aan-die-slaap.... ‘Dit spyt my, meneer, maar my stiefdogter is uit vir die middag,’ sê sy koel en afwysend.
‘Mag ek 'n bestelling met haar maak, mevrou?’ vra dr. Schröder, 'n bietjie beledig deur die hooghartige houding.
‘Wel, ek sal haar sê, en dan kan sy u oplui.’
‘Hartlik dank. Tot siens, mevrou.’ Hy is by die deur uit sonder dat mevr. Nieuwoudt op sy ‘tot siens’ geantwoord het.
Ek vir haar sê om 'n bestelling te maak! Sy kon vir my part met haar prente en al op Loksenberg gaan sit! Die ou vrou gaan met kort, gelyke stappies na haar stoel en sak stadig daarin neer, die ou hande, blou bedek met are, krampagtig aan die leunings vas. Haar grysgrou hare lê laag oor die ore; die voorkop is rimpelrig en die lippe effens ingevalle met fyn kepies in die bloedlose vlees. Die dof-blou oë kyk vas en wesenloos deur die dik brilglas, wat nou en dan opglim in die halflig van die kamer. Die skilderye sal haar skatryk maak en beroemd, en sy sal neerkyk op Bettie... Sy sal vir Hennie Hugo in die hande kry! Haar kind sal die mindere wees, sy die skatryk vrou van Hennie Hugo.... Die ou hande bly knokkig vasgryp aan die leuning van die stoel, die beenderige skouers in die swart bloese hoog opgetrek.... Haar kind, aan wie sy soveel geld gespandeer het, sal moet wyk vir die aan-die-slaap leeglêer! Die gedagte werk traag om in die afgeleefde gees, maar elke slag trap dit sy voor dieper in, elke slag groei dit vaster en venyniger om 'n monsteragtige obsessie in die ou vrou se gees te word.
| |
| |
Die diensmeisie bring naderhand die berig dat mnr. Hennie Hugo opgebel het en gevra het om verskoning. Hy moet onverwags weg na 'n siek vriend... Die ou vrou bly maar so doodstil sit en knik net droomverlore. Bettie kom in met rooi-gehuilde oë en sê dat iemand haar naam swartgesmeer het by Hennie... hy word by die dag snaakser teen haar. Hy praat ook net gedurig van Clotilde. Die ekskuus van vanmiddag is somar... Maar die ou vrou sit maar roerloos en onwesenlik. Die een gedagte, van haar dogter se vernedering, skerp hom al dieper en dieper in haar gees in. Haar gedagtes gaan nou oor die hele veld van die verlede. Veral sien sy die tydperk toe sy met haar tweede man getroud was: hoe hy vir Clotilde bederwe het, gedurig haar kant gekies het, hoe hy haar, met haar ewige buierigheid, bederwe het tot in die grond, en hoe daar rusies was, waarin sy, die moeder, onbuigbaar soos altyd, gedurig gewin het. Die arme man het geen wil gehad nie!
Van kleins af was Bettie die appel van haar oog, en al het sy op die skool nie gedeug nie, sy weet dat sy dit in haar lewe nog baie verder sal bring as Clotilde. Sy was daar altyd rotsseker van, maar die vent nou vanmiddag! Wat hy daar gesê het, het met vreemde afsku haar hele wese deurskok. Sy het plotseling besef dat die arme sukkelaar uit haar onderdanige posisie opgehef kan word deur daardie prent, dat sy kan neerkyk op Bettie, dat sy vir Hennie in die hande kan kry en skatryk kan wees. Dit vreet soos 'n vuur in haar baasspelerige natuur. Sy voel siek. 'n Nare gevoel kom om haar hart... weer die nare hartpyn... Die ellendige Clotilde sal nog haar dood kos! Sy moes haar al uit die huis gedrywe het! Maar die gedagte dat Clotilde vir Hennie iewers in die buitewêreld sal ontmoet, hom sal afrokkel van Bettie, laat 'n aangebore sug om baas te speel en te verkleiner hewig oplaai in die afgeleefde siel.
Sy plaas haar verdorde hand op haar hart en voel die wilde bonsing. Haar hart is klaar! Die verduiwelde kind vertoorn haar lewe. As sy en Bettie maar alleen was. Maar 'n onbegryplike lus om te oorheers vier hom nou bot in haar. Dit is of sy bly voel dat Clotilde nog daar is, bly net omdat sy haar kan verneder, oorheers, laat kruip... Maar nou? Sê nou daardie prent maak haar beroemd... Dofblou staar die oë deur die dikblou glase na die reën wat ween teen die ruite, na die dag wat verkwyn agter die opgestawelde miswolke in die weste, maar die weemoedige troosteloosheid roep geen stemming van eensaamheid of verlatenheid in die afgeleefde siel op nie. Hard en genadeloos is die gloed in die oë, en roerloos sit die ou vrou na die raam en kyk, waar eers 'n vlugtige blos rooi op verskyn en dan die skemering kom, gou vervloeiend in duisternis, wat ontsaglik staan agter die ruite, onafwendbaar soos die geweld van die dood... 'n Koue huiwering kom deur die ou ledemate; die ou vrou bel, en toe die meisie verskyn, sê sy: ‘Maria, ek sal nie vanaand eet nie. My hart voel weer sleg. Ek gaan maar lê.’ Stadig
| |
| |
staan sy op, en langsaam, met gelyke, kort treetjies gaan die swart figuur deur die triestige sitkamer, na haar ewe triestige slaapkamer, waar 'n bedompige atmosfeer hang, waar baie dinge ordeloos opgestawel is, 'n benouende bedruktheid lê oor alles.
Nadat sy haar ontkleed het, gaan sy sit-lê teen die hoë kussings, en nog altyd werk haar gees aanhoudend met dieselfde vraag... Bettie kom vir haar ma naand sê. ‘Sal ek nie vannag by ma bly as ma dalk siek word nie?’ vra sy.
‘Dankie, kind, dit is nie nodig nie. Gaan maar slaap. Dit is maar weer my hart. Môre is ek weer beter... Nag, Bettie, moet jou nie bekommer oor Hennie Hugo nie. Dit sal regkom...’
Die ruising van die nagstilte gaan deur die somber huis. Die ligte is al dood, en daarbuite het die reën opgehou en skyn die jong maan sag oor die landskap, wat 'n fris geur uitwasem.
Diep het die een gedagte hom ingesny in die afgeleefde gees, en teen middernag besluit die ou vrou om tot die daad oor te gaan. Saggies sal sy opstaan, na Clotilde se kamer gaan, maak of sy iets daar wil gaan haal. Clotilde sal seker slaap. Sy sal die skildery neem, dit na haar kamer bring en in duisende stukkies versnipper... Bettie sal nie meer verneder word nie. Al die rykdom en roem van Clotilde sal na die maan wees, en soos 'n arm muis sal sy weer wees, net wat sy vroeër was: afhanklik van haar en Bettie...
Wankelrig staan die beenderige gestalte op, nadat sy die kers opgesteek het. Die vlammetjie tril bang-onseker en jaag sy lig huiwerend oor die verbleikte portrette heen. Die ou vrou beweeg na die deur, maar toe kyk sy, met skuwe hoofbeweging, na die portret van Clotilde se vader, en 'n angs donker in haar siel aan - 'n angs wat verhewig word deur die nagstilte wat geheimsinnig lewe deur die huis. Die ou vrou huiwer, maar langsaam gaan sy voort, met die wikkelende blaker en deinende kersvlam voor haar: 'n spookagtige wit wese, omgewe van lig, 'n wese wat voortskuiwe deur die nagstil huis om haar verraderlike daad te verrig... Saggies beweeg sy, met ligte geslof, by die trappe op, die voete gaan onseker langs die trappies heen, die een verdorde hande tas bewend na die leuning. En om haar wikkel die skaduwees rond; dit dans soos wilde kabouters teen die hoë wit mure, gaan sit en spring op, is soos spoke van die dood wat haar wil gryp en saamneem, rek hulle uit soos stukke lap wat uiteen geskeur word. Die wit wese gaan staan, 'n ligkol in die duisternis rondom, en sy luister na die slapende huis. Langsaam klim sy weer. Nog drie trappies, dan is sy bo, maar haar hart klop al hewiger... Voor haar groei die kersvlam groter en groter, dit dy uit tot 'n wild laaiende oond in 'n donker grot, die trappe en leuning draai en slinger - en daar is Clotilde se vader, wat in sy doodskleed na haar kom, sy oë aaklig oopgesper in die gloed van die vlamme... Toe dreun dit deur die
| |
| |
slapende huis, daar volg 'n sakkige gerol, die blaker klink springend deur die stilte... Clotilde en Bettie kom albei uit hulle kamers, die ligte spring aan... Hulle tel die slap liggaam op en dra die moeder na haar bed, en terwyl die twee dogters probeer om haar tot haar bewussyn te bring, gaan die diensmeisie die dokter roep. In albei kinders se angsverwarde gedagtes spook dieselfde vraag: Wat wou hulle moeder doen? Wat wou sy maak by Clotilde, in 'n kamer waar sy nooit gekom het nie? Waarom het sy geval? Dit is of die dinge se wese verander het, die lewe van gister en vandag aan vergaan is.
Hier by die stilte van die bed, met die eensaamheid van die nag wat om die somber woning lê, kom 'n huiwering in Clotilde se siel op, 'n vrees vir die ondeurgrondelike van die lewe. Sy dink na oor haar eie bestaan: hoe sy skugter en oorgevoelig saam met haar vader vir die eerste maal hierdie woning betree het, hoe haar stiefmoeder haar liefkosend aangekyk het, maar tog met 'n blik in haar oë waarvan sy nie gehou het nie.
En nou lê die dae van eensaamheid, die nagte toe sy verlore gelê en peins het oor die onbegryplike van die lewe, weer so duidelik voor haar, die vergane stemminge lewe weer in haar op en deurhuiwer haar wese met 'n afkeer vir die stryd van die lewe, die geswoeg om eer, die afguns en haat. Waarom sou haar stiefmoeder nie van haar kon hou nie? Sy was ook altyd so lomp en kon nooit soos ander meisies beweeglik en maklik mense se guns win nie. Wat sou haar stiefmoeder by haar wou kom doen? Miskien kom gesels oor iets belangriks. Miskien wou sy haar, op daardie snaakse tyd van die nag, sê sy moet die volgende dag pad gee, die wêreld ingaan.... Hoe onbegryplik dit alles. Dan sien sy vir Bettie, wat liefderyk oor haar moeder heen buig en haar lippe natmaak, Bettie: die liefling van die moeder... en dan dwaal haar gedagtes weg en sy sien die son wat met uitlaaiende vlamme vergaan agter die rivier wat sy geskilder het, sy sien die kleure wat sy aangebring het op die doek, maar in haar siel weeg lome vakerigheid neer. Sou dit ernstig wees - die ongesteldheid van haar stiefmoeder? Waarom help sy nie ook ywerig soos Bettie nie, waarom staan sy weer soos 'n wêreldvreemde as sy tussen mense is? - - -
Eindelik word die voetstappe van die dokter gehoor, en in die kamer, met sy benoude atmosfeer, ondersoek hy die ou vrou en sê toe sag en gedemp: ‘Dit kan nog net enkele minute duur. Haar hart is gedaan en die val...’
Luid huil Bettie in die nagstilte, maar met wydoop, vraende oë staan Clotilde na die hopie daar in die bed en kyk, na 'n afgeleefde mens wat altyd so onvriendelik, so genadeloos teenoor haar was en wat nou eensaam die laaste, groot stryd stry met die Genadelose self - - -
C.M. VAN DEN HEEVER.
|
|