Die Beessmous.
DIE hele dorpie het daarvan gepraat. Vuishoue is dan ook maar 'n ongewone iets op Sandfontein, en selfs op baie groter plekke is dit nie aldag dat 'n man soos Dik Jan die hoteltrappe afgeskop word nie.
Dit was die middag na die vetvee-vendusie. Die dorpie se enigste straat het gewemel van mense. Die kantien, die voorportaal van die hotel, tot die lang stoep het vol gesit van boere wat opgewonde gesels en die een heildronk na die ander op mekaar instel. Ja, die slagosse was die dag moddervet gewees, eintlik sulke broekdraers, blokke soos daar lanklaas op die jaarlikse vendusie te sien was.
Na hulle verweerde gesigte te oordele, verweerder as selfs dié van die boere om hul heen, was die twee mans wat in die hoekie op die stoep gesit het, klaarblyklik nie dorpenaars nie. Tog het Daniel du Plooy, klein en verskrompel, en sy groot gespierde maat gesit asof hul daar tuishoort en die teenwoordigheid van hul medemense en die geriewe van die beskawing weer 'n slag geniet soos alleen diegene weet om dit te geniet wie se hele lewe aan rondswerwe oorgegee is.
Albei het maar die dag vantevore teruggekom, Pat, die prospekteerder, wes uit die woestyn, Danie uit die Noorde, waar hy nege maande lank op die jag uit was, velle gebrei het, biltong gemaak het, en gedoen het wat sy hande gevind het om te doen, maar veral beeste geruil het, want Danie is 'n beessmous en het juis dorp-toe gekom om die vee wat hy bymekaargemaak het, van die hand te probeer sit.
Aan 'n tafeltjie regoor hul was Dik Jan, die groot beesboer, besig om drie setlaars wat vee wou koop, te trakteer, en ongelukkig het die een snapsie op die ander Dik Jan se anders versigtige tong die middag losgemaak.
Die distrik was vir opreggeteelde beeste nog te woes. Friese was daarvoor te tingerig, korthorings te swaar. Dit was kafferbeeste wat 'n man moes koop as hy vorentoe wou boer. Dié kon ver loop water-toe, het fluks aangeteel, was teen droogte bestand - - -.
Maar hoe glad van tong ook, Dik Jan het dit daardie middag maar opdraand gehad. Die drie met wie hy te doen gehad het, was van beter stoffasie gemaak as die intrekkers aan wie hy reeds beeste afgesmeer het. Vir die drie was die pryse wat hy vra, nou eenmaal te hoog.
Onder gewone omstandighede sou Dik Jan hom nie van stryk laat bring het nie. Maar die snapsies het begin trek; die groot beesboer was al net