| |
| |
| |
Verbeeldingstipes in ons Letterkunde.
ONS lewe in 'n eeu van toetse. Alles moet sover moontlik gestandaardiseer word, anders raak die lewe met sy geweldige komplekse ons baas. Toetse skyn ons egter nie te bevredig nie. Hulle doen koud aan - koud juis omdat hulle ons gevoelslewe, ons verbeelding nie eintlik raak nie. En tog voel ons diep-in dat juis hier die enigste hawe is waar ons anker kan uitgooi, as die deurdrywende meganisme en materialisme van die lewe die beste wat in ons is, dreig te verprooi.
Hoe sou ons iets so ontasbaars, so verbygaand as die verbeelding kan toets? Hier immers het ons te doen met 'n geestesfunksie wat nie met 'n duimstok of apparate gemeet kan word nie, net so min as ons die bekoring wat die kunsprodukte van dieselfde geestesfunksie op ons uitoefen, kan meet. Klaarblyklik sou ons hier 'n toets moet instel waar die verbeelding in aksie is, en waar die nugter-denkende verstand-reaksies so goed as nie fungeer nie.
Edwin E. Slosson het, gedurende 'n lang joernalistieke loopbaan in Amerika, die gelukkige inval gehad om in hierdie verband gebruik te maak van die interessante kolom Personals van die London Times. Hierdie koerant, met sy onpretensieuse uiterlik, so heeltemal in kontras met die skreeuende sensasie-vetdruk van die meeste koerante, het op hom 'n besondere indruk gemaak. Die ‘Times’ is uniek in sy soort - nie omdat dit die grootste sirkulasie het nie, maar omdat dit die duurste Engelse dagblad is en oor die hele Britse Ryk in alle klubs en biblioteke aangetref kan word. Die minimum onkoste van so'n persoonlike advertensie is 10/- vir twee reëls, en 5/- word gevra vir ieder ekstra reël. 'n Duur grappie dus. Maar dis nog nie al nie. Die ‘Times’ word gelees deur die meer ontwikkelde deel van die bevolking. Hierdie feite gee aan die advertensies in die kolom ‘Personals’ 'n sekere eksklusiviteit, wat 'n sekere waarborg is teen lae of gemene streke, en wat ons verbeelding tewens des te meer prikkel, omdat ons te doen het met mense wat die kuns verstaan om intrigant te dink. Slosson het toe op die gedagte gekom om hierdie persoonlike advertensies te gebruik as verbeeldingstoetse, en veral as oefening vir aspirant kortverhaalskrywers om hier die stof vir hulle stories te vind. Saam met June E. Downey, professor in Sielkunde aan die Universiteit van Wyoming, het hy proewe onder tal van studente gemaak, en prof. Downey het ontdek dat hierdie proewe uitstekend is om die verbeelding wakker te maak. Self het ons ook 'n aantal studente, doktore, professore,
| |
| |
predikante en kelners getoets met verrassende en dikwels vermaaklike resultate.
Neem enige uitgawe van die ‘Times’ op. Daar staar 'n paar woorde die leser betekeningloos aan, geadresseer aan en geskrywe deur niksseggende name, nie eens persone nie. En tog, wat 'n wêreld van intrige, watter moontlikhede van klug tot tragedie kan hierdie paar woorde nie insluit nie! Die verbeeldingstoets bestaan dan hierin, dat die leser die verborgene wat deur die advertensie gesuggereer word, deur die verbeelding moet ontrafel volgens die indrukke wat so'n advertensie op hom maak. Dit is uiters interessant om te sien hoe verskillend persone op so'n toets reageer, en sodoende hulleself, wat verbeelding betref, in sekere kategorieë rangskik. Jy maak kennis met die lui, die stereotiepe, die melodramatiese, die generaliserende en die partikulariserende verbeeldingstipes.
Laat ons 'n konkrete voorbeeld neem. Ons oë volg die kolom ‘Personals’ af. Uit amper iedere advertensie waai die geheimsinnige ons teen. Ons kies een advertensie na willekeur.
Jasper. - Tick-tock, tick-tock. - Sweetie.
Vir die lui verbeeldingstipe sê so'n advertensie doodgewoon niks nie. Sy verbeelding is so verstomp, so kleurloos en selfgenoegsaam, dat alleen gekruide prikkels dit uit sy letargie kan ruk. Die advertensie word met 'n onverskillig-hooghartige gebaar opsy geskuiwe. Hoogtens kan iets skynheiligs as die volgende gereproduseer word: ‘Persoonlike advertensies in koerante interesseer my nie. Daar is immers die gebruiklike kanale waardeur respektabele mense met mekaar korrespondeer. Dit smaak vir my of daar altyd 'n verkeerde reukie aan so'n advertensie hang: daarom interesseer hulle my nie.’ Jammerlike sieltjies wat in hulle self-ingenomenheid nooit die trillende snikke van smart, die afgronde van sielemarteling, die hopeloosheid van verlange, die veelkleurige lewenskosmos kan deurvoel nie. So lank as die dae verbygaan soos altyd, sonder stamp of stoot, is hulle selfgenoegsaam tevrede. Arme, arme mensies, met wie 'n mens geen kontak het nie.
Die stereotiepe verbeelding werk ook in groewe. Hierdie tipe ly ook nog aan geestelike bloedarmoede. Hy is dikwels 'n roetineslaaf in wie Gods gawes vasgeklink is aan 'n masjinale sleurarbeid. Hy kan net die letter sien en die gees wat agter die letter skuil geensins aanvoel nie. Hy is aards, en ken nie die blou van die hemel nie. Die sterrehemel het vir hom geen spraak nie, nog die wind 'n boodskap. Die see is water waarin baie visse hou, en hy voel nie hoe die deinings asemhaal nie. Hoe baie van ons welgestelde, welgevoede, welgebuidelde besigheidslui, hoe baie van hulle wat die lot van
| |
| |
ander in kantore bestier, sou ons nie met 'n medelydende glimlaggie as ‘geestelik bloedarmoedig’ kan etiketteer nie! Hulle motiewe is gewoonlik maklik te verstaan en te volg. Sweetie is amper altyd 'n liewe suikerbekkie van 'n dingetjie, met sybokhaartjies en kupidowangetjies. Haar oë is blou en kan naïef groot-rond ons manlike beskerming afbedel. Haar kleredrag is à la mode en laat jou dink aan die poppies wat in barbierwinkels naels sny en blink poets. Jasper daarenteen is een van die ‘strong silent men’. Hy is donker, sy houding rustig-beskermend, en vir hom is Sweetie 'n bekoorlike wesentjie, wat hy ver van die draaikolk van die lewe moet hou. Sentimentele moeders sien in hom graag die eggenoot van hulle wispelturige vlinderdogtertjie. Dan is ‘Tick-tock, tick-tock’ natuurlik een of ander beriggie in die twee se liefdeskode, b.v. ‘ek tel die sekondes tot jy terugkom’! of ‘kom gou, kom gou’, ens.
Van hierdie twee verbeeldingstipes kan geen werk van letterkundige gehalte verwag word nie. Hierdie mense is geestelik slawe - die lui tipe van homself en die stereotiepe van 'n maatskappy wie se konvensies en modekodetjies hy blindelings volg. Altwee tipes is gewoonlik in diens van god Mammon, wat verbeelding as 'n weerbarstige rebel lankal uit sy voorhowe verban het.
Onder die melodramatiese tipe val hy wat, in teenstelling met die stereotiepe verbeelding, graag wil ontvlug aan sy daelikse doening en sy toevlug soek in die onreële van sy eie verbeeldingsfabrikasie. Hier vind hy sy geestelike ontspanningsoord, sy eie lewensbioskoop, dikwels sy gewetensklankprent - kostelike aasplekke vir die psigo-analitikus! Die bakvissie droom hier haar drome vol sugte, ewighede, trane en ander nat geluide; die seksueel-perverse roep, asof in 'n opiumswymel, op wat sy sieke gees begeer; die romantiese adolesent-student pypkan deur die verdediging, om onder oorverdowende toejuiging sy drie agter die pale te druk, terwyl die twee oë van sy nôi die groot tribune klein maak. Tussen die jare vanaf sewentien tot sewentig tref ons hierdie tipe aan. Gevoelsmense, wat nog nie geleer het om, waar nodig, hulle gevoelens met 'n stang te ry nie. Hulle hou van sensasie in enige vorm. Bonte afwisseling is voedsel vir hulle gees. By bruilofte en begrafnisse voel hulle hul tuis. 'n Gelukkige, kinderlik-voelende en -dinkende tipe, wat in hierdie wêreld van meetbaarheid, masjines en meedoënlose feite 'n trilling van romantiek in die polsslag van die lewensritme laat klop. Die melodramatiese tipe mis egter lewensrealiteit. Sy gees kanker juis daarteen, en sy verbeelding is vir hom 'n veiligheidsklep om daaraan te ontvlug.
Hierdie tipe sou min of meer die volgende gebeurtenisse voor die gees oproep: Sweetie is die enigste dogter van konserwatiewe ouers wat nie wil
| |
| |
hê dat sy deelneem aan die genietinge van die lewe nie. Sy het Jasper een keer by 'n verjaardagspartytjie ontmoet, en onmiddellik was dit 'n geval van ‘love at first sight’. Sy het hom bekoor met haar groot blou smeekoë, waarin haar heimlike verlangens, soos skugter kinders, uitkyk, en hy haar deur sy resolute ken en kalme houding. Sy dink aan hom as ‘my eie donker Jasper’. In die maanlig het hulle mekaar se lippe gevind, terwyl hulle harte gesmelt het tot één. Daar was rooi rose wat in die tuin gegeur het, en die maan het vol die wêreld oorvloei. Briefwisseling was na hierdie salige oomblik onmoontlik. Haar ouers het as sensor van haar korrespondensie opgetree. ‘Tick-tock, tick-tock’ is die kode waardeur sy aan haar liefste te kenne gee dat haar hart gedurig klop in gelyke ritme met syne, net soos in die salige stonde in die maanlig, toe die aandgeure hulle bedwelm het.
By die melodramatiese tipe roep so'n advertensie as 'n klein romannetjie op, 'n romannetjie waarin die persoon self al te graag die hoofrol waarna hy hunker, sou speel. Daar is nog so goed as geen werklikheid nie - nog net sentimentele lewensverlange. Die puberteit veral is die periode waarin die melodrama sy handeling afspeel. Die teenoorgestelde geslagte begin in die wye wêreld hulle geestelike maats soek. Min van daardie wêreld het die groeiende gees nog tot sy eiegoed gemaak, en daarom word die newelige, onbekende omkrans met mistiese keerkringe, wat dit vir die soekende siel moontlik maak dat 'n gebit wat lyk soos 'n kerkhof, 'n mond nie ontsier nie, dat 'n vrat 'n skoonheidsvlekkie word, en 'n stem wat krys soos katermusiek, kan koer soos 'n duif. By baie, baie mense bly die puberteit hulle troos tot die dood toe, en daar is dikwels 'n wonderlike naïwiteit in oujongnôiens van veertig, wat laat dink aan die kwinkslae van bakvissies van veertien.
Die melodramatiese tipe skrywe graag. Geestelike stroop word getap, terwyl honger harte smagtend hap-hap na eterstrome. Swaar en swoel waggel sinne retories na 'n punt toe. Maar dis gesond dat die tipe sy ewigheidsversugtinge sublimeer - solank as dit persoonlike besit bly. Die sublimasie werk geestelik-bevrydend, is inderdaad 'n psigiese purgeermiddel. Daarom, laat die jong adolesent op skool sy skeppende werk doen. Moenie sy gees kortwiek nie deur dit te belas met daardie pynlike opstelletjies, wat al tradisie skyn te geword het. Waarom sou 'n matrikulant op 'n gegewe tyd en plek belang stel in ‘Die Toekoms van ons Industrieë’ of in Joos-weet-wat-'n-eksaminator-nie-dalkies-mag-vra-nie. Laat hom liewer, onder simpatieke leiding, vry om sy eie gevoelens en gewaarwordinge 'n eiendommelike verbeeldingskleur te gee. Laat hom sy dagboek hou, sy gediggies skrywe, sy drome op papier vorm gee. Daar is talle en talle van skole wat afdoende bewyse gelewer het dat die resultate wat as gevolg van skeppende werk ver- | |
| |
kry word, veel hoër staan as dié wat met die ou opstel-gewoonte behaal is. Daar is trouens teenswoordig baie opvoedkundiges wat besef hoe reinigend hierdie skeppende werk in ons skole vir 'n wordende gees is. Eie verbeelding kry gestalte, eie gevoelens kry vorm, en die waarde van geestelike besit of vermoë kan nooit oorskat word nie. Dit beteken natuurlik glad nie dat die laaste matrikulant wat daarin slaag om aan sy gevoelens vorm te gee, in die wieg gelê is vir 'n kunstenaar nie. Gelukkig vir ons sif die liewe lewe hulle self. Party egter hou aan ‘dig’, onbewus van die feit dat hulle stemme skor klink soos die geskree van die korhaan. In ons letterkunde, veral toe ons nog bloedarmoede gely het aan poësie, is dingetjies gebundel waaroor die skrywers seker nou hulle hare uit hulle hoof kan trek van spyt. Die geestelike barensweë van Harper Martens is ons nog welbekend, en
dit was niemand anders as die sagte, wyle Lydia van Niekerk, wat 'n einde aan sy eposwoede gemaak het nie.
‘Voel, leser voel! Wat ek hierso bedoel!’ klink dit êrens amegtig van hom, en ons besef inderdaad dat die ‘digter’ regtig swaar gekry het, en dat dit goed was dat Lydia van Niekerk vir Harper Martens 'n blaaskansie gegee het.
Ook in ons prosa vier die melodrama dikwels hoogty. De Waal se heldinnetjies herinner sterk aan ‘Sweetie’, terwyl sy helde orals 'n rapsie van die populêre Jasper weg het. Blaai bietjie deur Gordon Tomlinson se ‘In die Smeltkroes’, of Sadie Bosman se ‘Langs kronkelende Weë’, of Theunissen se ‘Marianne’ - om nie te praat van ‘Genoveva’ en Fanny Eden se sugskrifte nie. Waai die neweldampe van die melodrama U nie onfris teë nie? Is die rose nie verlep nie? Hang die maan nie soos 'n siek geel vrug in die lug nie? Kan U tussen al die sugte nog asemhaal, deur al die trane nog heenswem? Die melodramatiese tipe kan! Dit is juis daardie atmosfeer van newel en onrealiteit wat balsem vir sy siel is. Die wêreld word 'n waas van verlatenheid, waarin eensaamheid op haar troon die eeue deursug. Die gees speel sy melodrama in die wêreldbioskoop af!
Daar is min jong digters wat veel van hulle jeugwerk nie deur die sirenestem van die melodrama op harde rotse te pletter laat loop het nie. Ons noem U net die eerste bundeltjies van H.H. Joubert, Keet, Wassenaar, Kamp, Kleinjan, C.M.v.d. Heever, Dirk Mostert en Eitemal, Ben J. Dreyer ens. Die sirenestem van die melodrama is gewoonlik in hierdie ontvlambare jonge gemoedere die lokstem van Eros gewees. Hulle harte is mos dan so groot soos die oseaan; dit was kaserneharte, waar plek was vir baie skones en dan vir nog meer. Joubert het sy ‘taal’ so lief, dat hy ‘kussies op stingel en kruin’ daarop wil druk. Hoe hy dit kan regkry weet joos - maar dit sê nie, wat dig is hy. Daarom lyk die donker seker ook so ‘duister as die swart
| |
| |
vereen van tienmaal duisend maanverlate nagte’. Arme vuurvliegies! Keet se nôi se oë was seker blou - en blou is sy gebundel. Ook vir Wassenaar was blou kykers dikwels te magtig. Wêreldsmart tref ons orals by Kamp in sy ‘Oorwinning’ aan; eensaamheid en verlange na 'n onbereikbare ideaal by Kleinjan - twee tipiese puberteitsiektes. In Dirk Mostert vlam gedurig verlangens op om òf sy volk òf sy nôi ‘tot sterwens toe te dien’. Die hoogtepunt van liefde in die melodrama is dan ook altyd selfvernietiging. Selfs in romantiese liefde verteer die vuur van liefde die harte wat daarna hunker, soos ons orals in die volgelinge van Rousseau sien. By ons vind ons 'n tipiese voorbeeld in Eitemal, wat in sy gedig Delilah uitroep: -
‘En soos brandhout wat 'n bloesem
Van vuur en vlam ontbloot,
Die liefde - en die dood.’
Oor ‘Stemmingsure’ van C.M.v.d. Heever hang ook 'n digte newel van romantiek, wat die digter destyds verhinder het om ‘verre kuste’ te sien; dis net die ‘aandster’ wat wink en die maan, wat soos 'n ‘geel spanspekskyf’ die miste wil deurboor. Dwarsdeur die bundeltjie huiwer die digter-adolesent se elegiese rouklag oor die lewe. En hoe mak sukkel Eitemal se ‘Burger en sy Perd’ b.v. nie langs die vurige ‘Voorslag’ van Visser nie - eintlik veels te mak om hom by sy Magdaleen te bring.
Die meeste van bogenoemde digters is egter ook opregte kunstenaars, en 'n kunstenaar laat hom nie loketteer nie. Bostaande aanhalings en bewerings geld dan ook slegs 'n klein, ondergeskikte gedeelte van hulle verskuns. Ons sal hulle ook onder die generaliserende en veral onder die partikulariserende verbeeldingstipes aantref.
Die generaliserende verbeelding veronderstel al 'n veel hoër ontwikkeling van die verbeelding. Hierdie persone maak algemene gevolgtrekkings van besondere gevalle. Dit is 'n interessante, maar dikwels gevaarlike kategorie, waaronder ontwikkelde vroue veral val. Ons sê dit sonder om afbreuk te doen aan die wonderlike gawe van intuïsie, wat die vrou se beste wapen in die lewensstryd is. Ons dink egter hier meer aan die ultra-moderne ge-ëmansipeerde modepoppies, wat met voetlank-sigarethouers, in sy-pijamas, al cocktail-drinkende, die lewe blasé deurslampamper. Luister maar na hulle briljante, dog siellose gesprekke. Vir hierdie tipe veronderstel 'n besondere slagter, kruidenier, agent, akteur, ens., ens., 'n gelyksoortige massa. Die orrel speel 'n diapason, maar hoè die afsonderlike pype saamsmelt in die harmonie, weet hulle dikwels nie. Die tekortkomings van hierdie tipe lê dan ook daarin,
| |
| |
dat dit geen rekenskap hou met die eindelose verskeidenheid van karakteropenbaring, selfs binne die grense van die besondere soort nie, en dat dit derhalwe geneig is om gevolgtrekkings te maak wat wel waar mag wees vir die soort as geheel, maar wat nie waar is in hulle besondere toepassing nie. Hierdie tipe is egter onontbeerlik vir die maatskappy. In wetenskap, filosofie, besigheid, die leër, kortom orals waar ons met die massa te doen het, weet hulle hoe om vinnig te reageer en die min-of-meer juiste etiket op gelyksoortighede te plak. In ons eeu van toetse en standaardisering is hulle onmisbaar, en die mees deurtastende van die generaliserende tipes is dan ook die matematikus.
Vir hierdie tipe, wat letterkundige werk betref, is die raad van Flaubert aan De Maupassant van pas: ‘Nadat hy my oortuig het dat daar in die hele lewe g'n twee korrels sand, twee insekte, twee duime, of twee neuse absoluut eenders is nie, het hy my gedwing om 'n wese of objek sò te beskrywe dat die besondere op die voorgrond tree, waardeur dit van sy gelyksoortige groep onderskei kan word.’ - Hierdie tipe sou dus skrywe soos iemand wat uit die stereotiepe sleur van die lewe ontvlug het, maar wat nog die generaliserende eienskap van die stereotiepe verbeelding, al is dit in baie edeler en subtieler vorm, bewaar. Hierdie tiepe skyn dus, oor die algemeen, nie besonder geskik vir 'n letterkundige loopbaan te wees nie. Die bos word wel raak gesien, maar nie die bome nie. Ons kry van hulle wel opinies oor die mens, maar ons maak selde kennis met die mense self. Die generaliserende verbeeldingstipe kan egter dikwels briljante essayiste en letterkundige causeurs oplewer. Baie van ons kritisi vertoon ook die neiging om te generaliseer. Sekere kunsformules word meedoënloos op letterkundige produkte toegepas waar hulle heeltemal nie tuis hoort nie. Die werke word dan van buite-af en nie van binne-uit benader, en dié kritiek word dan gewoonlik onsimpatiek genoem. Die menslike inlewing is nie daar nie. 'n Welbekende fout het Schoonees ons in sy proefskrif ‘Die Prosa van die Twede Taalbeweging’ gelewer. Baie van die kunsformules van die ‘Tachtigers’ het hy b.v. toegepas op die werke van Von Wielligh met noodlottige gevolge, beide vir skrywer en kritikus. Hierdie gebrek aan kritiese perspektief het Schoonees in sy herdruk verwyder, en hy het ons Von Wielligh laat sien, soos hy behoort gesien te word, n.l. as 'n uitstekende volkskunstenaar, wat onder die vaandel van Langenhoven vir ons onbevoorregtes geskrywe het. Dit is alleen wanneer Von Wielligh probeer mooi skrywe dat hy sleg
skrywe en dat kunsvorms op sy geskrifte toegepas kan word.
Hoewel Langenhoven kop en skouers bo die ander volkskunstenaars in ons letterkunde uitsteek, het sy voorliefde vir die puntige, pittige volkswyshede waarop hy ons vergas het, in sy ‘Ons weg deur die wêreld’, hom soms
| |
| |
gevaarlik laat generaliseer. Baie van sy spreuke en lekeprekies moet dan ook glimlaggend, cum grano salis opgevat word. Dit is egter selde dat die generealiserende verbeeldingstipe groot letterkundige werk oplewer. Selfs vir Langenhoven leer ons deur sy werke beter ken as mens dan as groot kunstenaar. Sy afsonderlike werke het altyd fragmentaries gebly, hoewel die globale indruk wat sy hele letterkundige nalatenskap op ons maak, groots is.
Ons kom nou tot die partikulariserende verbeelding, en hier betree ons die heiligdom van die kunstenaar. Hierdie tipe dring deur die algemene tot die besondere, of liewer, gaan eers uit van die besondere, voel in die besondere die algemeen-menslike en keer dan weer, asof met geestelike elektrisiteit gelaai, terug tot die besondere. Dan word daardie doel van die skepping wat in sy geestesbattery opgegaar is, onder die soekligstrale van die kunstenaarsgees blootgelê. Ons kry 'n goeie voorbeeld hiervan in die Ampie-skepping. Van Bruggen het ongetwyfeld uitgegaan van 'n besondere persoonlikheid; maar hierdie persoonlikheid kon eers vlees en bloed word nadat dit deur die louteringsvuur van die skepper se eie sielelewe gegaan het. Toe het die toiings begin wapper in 'n Augustus-wind, in tipiese harmonie met die siel wat daaronder beweeg, in harmonie met die stof-vaal bulte en 'n grou getroue esel. Die besondere het algemeen-menslik geword eers nadat die skrywer die figuur in al sy naakte waarheid as mens aan ons geopenbaar het. Arnold Bennett het eenkeer gesê: ‘Firstclass fiction is, and must be, in the final resort autobiographical... when the real, intimate work of creation has to be done, the novelist can only look within for effective aid... Good fiction is autobiographical, dressed in the colours of mankind’. En daarom ook is Ampie, in groot mate altans, outobiografies. Dit is die skrywer se innerlike bevrydingskreet, wat smag om natuurkind te wees. En omdat dit menslik deurvoel en deurleef is, is dit ook algemeen-menslik waar.
Dit spreek vanself dat hierdie verbeeldingstipe kuns kan skep, omdat die skrywer voel, sien, hoor, en selfs ruik wat hy skrywe. Wat ons plastiek noem, is dan ook niks anders nie as die skone weergawe van sintuiglike waarneming. Emile Zola was b.v. besonder sterk olfaktief aangelê; derhalwe kan ons dikwels die tonele wat hy beskrywe, ruik. Jac. van Looy het sy beskrywende tonele, en selfs gevoelstoestande, in kleure weergegee, terwyl Virgilius met sy ‘Quadrupedante putrem sonitu quatit ungula campum’ die dreunende geklop van 'n perdekommando laat hoor. Die innerlike prikkel van die sintuiglike waarneming word beeldend veruiterlik in skoonheidsgestalte. En oor hierdie besondere waarneming speel die verbeelding en maak dit tot algemene waarheid.
Voorbeelde van hierdie tipe van verbeelding vind ons by elke waaragtige kunstenaar. Ons volstaan met slegs een voorbeeld - 'n skitterende
| |
| |
stukkie dierelewe van Sangiro. In die ongerepte oerwoud het 'n vallende blaartjie, 'n reëndruppel wat in die kampvuurtjie afplof en tot stoom versis, 'n fier ou maanhaar-leeu se gemoedsontroeringe, kosmiese betekenis. Sonder die heel fyndeurvoelde besonderhede sou die skrywer die oerwoud-atmosfeer nie gevang het nie, sou die dierelewe dus nie in 'n oortuigende milieu geteken kon word nie. Wie van ons sal ooit die volgende beeld van 'n renosterwesie, nadat hy sy maatjie, die seekoeitjie, vaarwel moes sê, kan vergeet? ‘Nog 'n rukkie staan die donker figuurtjie daar op die witbrak, af en toe sag kwiekende, onderwyl hy oor die water staar, die knoestige koppie vooruitgestrek in 'n poging om verder te sien met die klein ogies. Eensaam en verlate genoeg lyk hy, met sy kneukelige dik lyfie, gerimpelde moddervelletjie en swaarmoedige renostergesiggie’. Dit smaak vir ons of 'n moeder hierdie beeld sò kon deurvoel het. Hoe intens en vol van groot medelye doen hierdie beeld nie aan nie. Hoor ons nie die sagkwiekende gekla van die renosterwesie nie? Sien ons nie sy knoestige koppie en swaarmoedige renostergesiggie vooruitgestrek nie, en voel ons nie die eindelose verlatenheid van hierdie klein verlore oerwoudbewonertjie nie? Hier vind ons die partikulariserende verbeelding in aksie. En hierdie besondere beskrywing van 'n renosterfiguurtjie word tewens vir ons 'n algemeen-ware uitbeelding. Sò sou van die oertyd af tot vandag toe 'n verlate renostertjie onder dergelike omstandighede voor die mens se gees opdoem. En sò verstaan elke waaragtige kunstenaar hoe om lewe te skep, om mense te laat asemhaal, beweeg, ween, juig; die hele toonladder van menslike gevoelens word verklank in blywende vorm.
Resumerende, kan ons sê dat, vir letterkundige doeleindes, ons die lui en stereotiepe verbeelding nooit hoef aan te moedig nie; dat die melodramatiese tipe letterkundige potensies besit; dat die generaliserende tipe dikwels briljante letterkundige causeurs word, maar dat dit die partikulariserende tipe alleen is wat waaragtig grote kuns kan lewer. Hierdie verbeelding is egter nie dadelik nommerpas klaargebore nie, maar ontwikkel gewoonlik deur die newels van melodrama tot die lig van generalisasie; en in hierdie lig kan die kunstenaar die hoë bergtoppe beklim, om die lewensdrama daaronder fyn geëts voor hom uitgebyt te sien.
J.R.L. VAN BRUGGEN.
|
|