in Blommetjie se groot oë. Haar krullerige stertkwas flap op 'n graspol.... Kolberg steek vas, draai skuins en aarsel solank... Boel staan op drie pote, die ander een hangleun vooruit op die kweek, en sy kop sak effens.... Blommetjie pylspring, met kop benede liggaamshoogte, Boel skram 'n boog deur die gras weg en verlustig hom verder in die welkome wedren, wat hom eerder groot lag gee as om hom bang te maak.
Blommetjie bebulk en bekreun die hele kraal toe Kolberg, met voorbene rietstyf vooruit, op sy sit die kalwerhok ingaan....
Hierdie gekerm staan 'n ouma koei glad nie aan nie - haar koutjie lê vir 'n oomblik stil.... ‘Waaroor al hierdie verspottigheid?’... 'n borrelslukkie, 'n neusoptrek-asemstoot, malende kakebene - oë sluit, en haar droomgedagtes word nie verder gekwel deur familiekommer nie.
Kolberg is op sy knieë agter in die hok besig om so te gaan lê dat hy nie op sy bene te lande kom nie - nog altyd sentimenteel-vies
Blommetjie se afskeidsbulk word deur die holte van die nag ingesluk.
Outa Skalk sit voor die kombuisdeur, met sy kniekoppe net so hoog as sy kop voor hom, besig om af te reken met 'n homp brood; sy kop duik effens vooroor as 'n beker koffie op die holte van sy hand rus.
Kosie se gebedjie is vanaand baie opreg: ‘Baie dankie, liewe Heertjie, dat Blommetjie vandag gekalf het, net jammer dat dit nie 'n verskalf is nie.’
* * *
In die kraal is dit 'n gewoel van die ander wêreld. Op 'n plat klip op die muur staan die blink emmers soos wagte; party so vol dat wit kronkelstrepies muur-toe syfer. Die skuimblase bol eintlik bokant die groot emmer uit. 'n Klein dopemmertjie wat vol was, is nou nie meer vol nie... van die skuimoë het uitgeblaas en weggeval.
‘Kyk nou, so'n moedswillige derduiwel!’ ontsnap die gemoed van een van die melkers wat opsy spring, emmer in die hand.... 'n miswolk, 'n snoep kalf wals agter om 'n koei; die tong van die koei hang by 'n bek uit wat aan 'n jong blaasbalkie laat dink.
‘Hok!’ 'n Hokstok bring die snoeperd op sy knieë; melkstrale speel fluitjie op die boom en binnekant van 'n emmertjie. Die koei wil nie bra sak nie; sy trek die melk vir Kolberg weg. Al Kolberg se aanvalmetodes het tot so ver misluk, en met 'n trek van misnoeë redeneer hy dat dit tog sy moeder is en dat hy tog mos sy moeder se kalf is.
In 'n ander hoek van die kraal toe-oog 'n groter kalf... vogblink tot amper by sy oë, terwyl die moederkoei met raspertong besig is om sy hare te borsel.
* * *
Die son begin die skaduwees in die kalwerhok vinnig opvou,... die hek gaan oop; die kalwers baljaar oor die werf kalwerkamp-toe. Kolberg