Uit dieselfde tyd dateer die opkoms van die momentfotografie. Dit het verrassinge gebring. Op die foto's het die pote van die reisiesperde heeltemal anders gelyk as wat hulle gewoonlik voorgestel was op die prente van die tyd. Die prente gee hulle met die pote lank vorentoe en agteruitgestrek. Die skilders het vroeër meer geskilder wat hulle weet van die dinge, as wat hulle daarvan sien. Die nuwe uitvinding van die fotografie het die oog geleer om anders te sien. Nie meer dink nie, maar net kyk, was die les. En dit was die les vir die impressioniste.
Daar was nog meer invloede aan die werk. Die gekleurde Japanse houtsneë het in dié dae bekend geword. Die versamel daarvan het 'n mode geword. Daar is toe voortreflike boeke daaroor geskrywe (de Goncourt), en wat eers 'n kuriositeit was, het later 'n voorwerp van skoonheid geword. Die lewendige kleure wat van 'n verrassende frisheid en klaarheid en altyd harmonies was, was nuut vir Europa. Dit was 'n ander harmonie as die harmonie van die bruin vernis. Die skilders het geprofiteer van die les wat hier te leer was.
Die onderwerpe was hier ook so anders van opvatting - frisse toneeltjies uit die daaglikse lewe, uit toneelspele, uit die natuur. Só ongekunsteld was die Europese kuns nie. Natuurlik, dis moeilik om te sê wat oorsaak en wat gevolg was. Was die Japanse houtsneë so geliefd omdat hulle in die gees van die tyd gepas het, of het hulle die gees van die skilderkuns laat verander? Dit is van minder belang. Ons konstateer net die feite.
So het dus die nuwe rigting ontstaan. Die groep jong skilders het eers swaar gekry. Die publiek het, soos altyd, grappe gemaak oor wat hulle nie verstaan het nie. Hulle het ook nie daarvan gehou nie, want dit was vir hulle vreemd. In 1874 het die vernaamste van die groep van opelugskilders, Claude Monet, 'n doek tentoongestel wat hy genoem het ‘Impression’ - ‘'n Indruk’ -. Toe was die skilders algou gedoop - hulle skilder nie bome, berge of mense nie, hulle skilder ‘impressions’, hulle is dus impressioniste! Maar die grap het waarheid bevat, en die naam het slegs kort 'n spotnaam gebly. Want dit het juis uitgedruk wat die skilders nagestreef het. Die Impressioniste wou die vlugtige, veranderlike aspekte van die natuur weergee en nie die permanente verskyning nie. Hulle wou nie die kleur weergee van die boomstam nie, maar die tinteling van die lig daarop. Hulle skilder in suiwer tone, liefs nie gemeng nie, hulle sit die kleur in punte of haaltjies of strepies naas mekaar, die oog sien dit op 'n afstand as 'n tintelende eenheid van kleur.
Die impressionisme het oor die hele wêreld gegaan. Maar dit is in Frankryk gebore, en sy beste verteenwoordigers is Franse. Die grootste name is Monet, Sisley en Pissarro. Daar is nog Manet, Degas, en Renoir, as kunstenaars miskien groter as die eersgenoemde drietal - hulle word soms impressioniste genoem, maar hulle betekenis val tog buite die skool.