| |
| |
| |
MARTIN LUTHER.
Deur Lucas Cranach die ouere, 1526.
| |
| |
| |
Die Nuwe Brandwag
Tydskrif vir Kuns en Lettere
DEEL V. No. 4. PRETORIA. NOVEMBER 1933.
| |
Martin Luther en die Duitse Bybelvertaling.
VIERHONDERD-EN-VYFTIG jare het verbygegaan sedert die geboorte van die groot Hervormer (10 November 1483), en weldra sal die vierde eeufees van die verskyning van sy monumentale Bybelvertaling (1534) gevier word. Waar die hele Protestantse Christenheid dankbaar hierdie groot gebeurtenis en hierdie magtige daad herdenk, waar die ganse beskaafde wêreld hom weer ernstig die betekenis van Luther en van sy werk vir die mensheid afvra, daar pas dit wel by uitstek ons as Afrikanervolk om ons ook rekenskap daarvan te gee, om te soek na 'n heldere Lutherbeeld - die Afrikanervolk wat gebore is uit die Hervormingstryd en wat slegs enkele maande gelede die voorreg mog smaak om, as sy erfenis van die Hervorming, die Boek in sy eie taal te ontvang.
Besit ons wel 'n duidelike beeld van Luther?
Hierdie afstammeling van eenvoudige, ongeletterde boere beheers sy tyd, die sestiende eeu; sy magtige gestalte werp sy skadu oor die hele Europa. Hy is een van die allergrootste, maar tewens mees omstrede figure in die geskiedenis van die nuwe tyd en bly daarom tot vandag toe in menige opsig 'n probleem vir die wetenskaplike vorser. Want elke geestesrigting, elke tyd bepaal tenslotte die betekenis van 'n historiese persoonlikheid volgens sy eie besondere maatstaf, en dit is slegs menslik dat die waardebepaling van die eeue juis dáár tot die mees teenstrydige gevolgtrekkinge moes lei waar dit die persoon en die werk van die godsdienstige hervormer geld; immers die heiligste maar ook mees persoonlike beginsels en oortuigings van die mens moes hier die maatstaf aangee.
Daarom soek ons tevergeefs na 'n vaste, absolute historiese Lutherbeeld. Hartstogtelike liefde en fanatieke haat, dwepende verering en kleinlike vooroordeel vertroebel en verwring die beeld gedurig. 'n Deur God gesonde profeet, 'n heilige byna, was Luther in die oog van dié tydgenote wat heiligeverering as afgodery verfoei het. Vir die ander was hy die in ontug
| |
| |
verwekte gevleesde kind van Satan, die verderflike vyand van God en mens. Die sewentiende eeu staan nog in die teken van die felle godsdiensoorloë en werp dus geen nuwe lig op die Luthergestalte nie. Aan die een kant leef die oorgelewerde beeld van die profeet en strydende dienaar Gods voort, slegs, teen die einde van die eeu onder die invloed van die Piëtisme, ontdaan van sy hoekigheid en strakheid van lyn, en teerder, weekliker van koloriet. Aan die ander kant is die Katolieke Lutherbeeld so moontlik nog brutaler, met die verfynde detailkuns van spitsvondige jesuïtiese boosaardigheid.
Eers met die agtiende eeu kom die stormagtig bewoë gemoedere tot rus. Hierdie eeu van die ‘Verligting’, met sy nugter verstandelike wêreld- en godsdiensbeskouing (Voltaire) waarvan die mens self die verheerlikte middelpunt en einddoel is, stel heldeverering in die plek van Godsaanbidding. Een van sy grootste helde is Luther, die bevryder van die menslike gewete uit die bande van geestelike slawerny. Eindelik dus 'n beeld van die mens Luther. Maar dit toon ons nie die sestiende-eeuse hervormer nie, dog 'n skepping van die agtiende eeu; nie die geloofstryder, die met die moed van die wanhoop worstelende Godsoeker nie, maar die ideale mens, die gebore oorwinnaar, onfeilbaar deur sy trotse selfbewustheid; die genie van die vernuf, die soewereine Übermensch, die godmens van die agtiende-eeuse verbeelding. In die siel van die ware Luther, met sy donker afgronde van wilde vertwyfeling, die siel met sy tere mistiek van kinderlik beleefde geloof kon die beperkte blik van die selftevrede verstandsmens van die agtiende eeu nie indring nie.
Met die negentiende eeu verander die Lutherbeeld weer. Dit word deurtintel van gevoelslewe. Die intensiewer geskiedvorsing probeer om die Luthergestalte in 'n suiwerder perspektief tot sy tyd en sy omgewing te sien, dog neig onder die invloed van die Katolisisme tot onderskatting van die Hervormer.
Dank sy die nuwe lig wat veral in die laaste tiental jare deur die onvermoeide geskiedvorsing op die sestiende eeu en die gestalte van Luther gewerp is, is ons blik vandag veel onbevangener en skerper, al is die historiese Lutherprobleem nog nie volkome opgeklaar nie.
Hoe sien ons Luther? Is dit nie so dat hy vir die breë volksmassa 'n byna legendariese gestalte geword het nie, bekend en tog onbekend? Ons wil hom probeer begryp uit sy briewe en geskrifte, waarin hy sy hele wese so helder openbaar. In sy voorberig tot sy versamelde werke noem hy hom treffend 'n tweede Saulus. Met dieselfde blinde ywer waarmee Saulus van Tarse die Christengemeente vervolg het, wil die jong monnik almal vervolg wat ongehoorsaam is aan die pous - ‘so vol en dronk was ek van die leer van die pous, ja so seer daarin verdrink, dat ek gereed sou wees om moord te pleeg as ek die geleentheid daartoe gehad het’. Ook Luther het sy Damaskus-gang, maar dit is 'n ander Damaskus-gang, dié van 'n Saulus van
| |
| |
die nuutste bedeling. Jarelank moet hy soek na die heilsweg, jare waarin die vrome Augustynse monnik gemartel word deur die vreeslikste visioene van die Oordeelsdag. Dag en nag klink in sy smeekgebed tot God die bange vraag: Wat moet ek doen om salig te word? Eers na jare van bange worsteling verskyn God hom in die verblindende lig uit die Hemel. Dan word ook hierdie Saulus tot 'n Paulus, dan trek ook hy die wapenrusting Gods aan en stry om in te gaan in die ewige heerlikheid.
Luther-Paulus: daar bestaan inderdaad 'n enge geestelike verwantskap tussen hierdie twee persoonlikhede en karakters, en dié feit verklaar meteens die uitgesproke voorliefde van die hervormer vir hierdie Apostel, wie se woorde hy nie genoeg kan siteer in sy briewe, strydskrifte en predikasies nie. Ook Luther word 'n dulder wie se enigste wapen in die bittere stryd die woord is - hy verbied sy volgelinge selfs uitdruklik om ooit van 'n ander wapen gebruik te maak, want die swaard is alleen aan die wêreldlike owerheid gegee, en wee diegene wat, selfs terwille van die geloof, waag om dit te trek: sulke opstandiges behoort ‘heimlik doodgesteek en verwurg en in die openbaar verbrand te word’, so lees ons in Luther se ope brief teen die opstandige Protestantse boere! Luther wil hervorming, geen revolusie nie. Ook Luther is, net soos Paulus, 'n geleerde, ja hy beroep hom met naïewe trots daarop: ‘Ek is ook 'n doktor, ja 'n buitengewone doktor!’ maar ook hy word 'n volksman in die diens van 'n hoër saak as dié van 'n Erasmus van Rotterdam. Paulus (2 Kor. 12 vs. 7) verklaar dat hom ‘'n doring in die vlees gegee is, 'n engel van die Satan, om (hom) met vuiste te slaan’; ook Luther verseker ons, met verwysing na hierdie teks, dat hy gedurig die hewigste aanvegtinge van die Bose moet verduur. Hy word jarelank gefolter deur 'n vreeslike ingewandsiekte wat hom meer as eens op die rand van die graf bring en hom fisiek totaal uitput. Maar wanneer Luther van aanvegtinge gewag maak, bedoel hy veral geestelike aanvegtinge. Hy is vanaf sy vroegste jeug die slagoffer van melancholia, en in sy veelvuldige aanvalle van versombering moet sy gedeprimeerde siel worstel met die Bose. Hierdie stryd verlam hom nie, dryf hom veel meer tot steeds dieper studie van die Bybel en versterk hom slegs in sy oortuiging, maar tog maak dit hom vroeg oud. Aandoenlik klink sy woorde wanneer hy as sewen-en-veertigjarige in 'n
skrywe aan sy vrou meedeel hoe hy lewensmoeg 'n graf vir homself uitgesoek het. Hoe dikwels bid hy nie om die dood, vra hy sy vriende om vir sy spoedige verlossing te bid nie. En tog bly hy tot sy dood toe 'n onvermoeide stryder wat sy byna bomenslike krag put uit sy onwrikbare oortuiging en sy lewendige geloof. Hartlik en opofferend in sy vriendskap, teer in sy liefde, is hy met sy driftige temperament 'n gevaarlike vyand, steeds eerlik in sy wapens maar ook sonder vrees, selfs wanneer hy hom voor keiser en kardinale in die Ryksdag van Worms moet verdedig teen die aanklagte van kettery. Hoe uitdagend klink
| |
| |
dit in sy ope brief aan die koning van Engeland wat sy leer aangeval het: ‘Die koning of vors wat meen dat Luther sig vir hom verootmoedig...., die bedrieg hom baie en maak hom bly met 'n gulde droom.’ Hy skroom nie om Hertog Georg van Saksen 'n seepbel te noem ‘wat die hemel met sy opgeblase buik trotseer’ nie, maar, so verseker hy die hertog: ‘Ek sal darem nie vir 'n seepbel bang wees nie!’
Luther is 'n dominerende karakter, 'n man van die wil, 'n hartstogtelike strydnatuur, wat die gistende gees van sy tyd in sy persoonlikheid beliggaam, 'n storm-en-drang-natuur ‘wie se gees na dade, wie se asem na vryheid dors’.
Luther is groot in sy veelsydigheid, sy volle menslikheid. Met meer reg nog as die ou Romeinse wysgeer kan hy van homself getuig: Ek is 'n mens, ek beskou niks mensliks vreemd aan my nie. In hierdie volle menslikheid lê die verklaring van die dikwels paradoksale in sy karakter en sy uitinge. Sy menslikheid, sy hartstogtelike natuur probeer hy steeds beheers, nooit verloën hy dit nie. Hy is groot in sy forse manlikheid. Maar sy ware grootheid lê in sy nederigheid en deemoed, sy ware sieleadel openbaar sig in sy selfverlogenende dienende liefde. Wel mog hy van homself getuig: ‘Waar dit my leer geld, is ek vir keiser, koning, vorste en die hele wêreld veel te trots, onbuigsaam en hooghartig; maar as mens is ek deemoedig en onderdanig teenoor elke kind.’ In hierdie nederigheid en dienende liefde is Luther groter as al sy tydgenote: groter as die geestelike aristokraat Erasmus van Rotterdam, wat te selfsugtig is om te dien; groter as die onstuimige Ulrich von Hutten; groter ook as die edele, deemoedige Melanchthon, want wat Melanchthon van nature was, dit kon Luther alleen deur felle stryd teen sy eie natuur word.
Carlyle het in sy ‘On Heroes and Hero-worship’ 'n treffende portret van Luther geteken: ‘Luther's face is to me expressive of him; in Kranach's best portraits I find the true Luther. A rude plebeian face, the emblem of rugged energy; at first, almost a repulsive face. Yet in the eyes especially there is a wild silent sorrow; an unnameable melancholy, the element of all gentle and fine affections; giving to the rest the true stamp of nobleness. Laughter was in this Luther, as we said; but tears also were there. Tears also were appointed him; tears and hard toil. The basis of his life was Sadness, Earnestness... Great, not as a hewn obelisk; but as an Alpine mountain, - so simple, honest, spontaneous, not setting up to be great at all; there for quite another purpose than being great! Oh yes, unsubduable granite, piercing far and wide into the Heavens; yet in the clefts of it fountains, green beautiful valleys with flowers!’
* * *
Met ander groot meesters van die sestiende eeu - dink slegs aan 'n Michel Angelo - het Luther gemeen 'n verbysterende veelsydigheid van genie.
| |
| |
Hy is die grootste taalskeppende genie wat Duitsland ooit gehad het. Geen man het die nood van sy tyd en van sy volk dieper deurvoel as hy nie, en geen digter het spontaner en onmiddelliker uiting daaraan gegee nie. Daarin lê die groot geheim van Luther se magtige invloed op sy volk - 'n taal wat hy van ‘die kinders in die straat, die man op die mark en die vrou in die huis’ afgeluister het. Daar is baie groter digters as Luther. Selfs sy onsterflike Hervormingslied ‘Ein' feste Burg ist unser Gott’ ly aan 'n sekere skoolse tradisie. Maar tog is die skepper van die Protestantse geestelike lied 'n digter by die grasie Gods, wat in sy weinige verse die angs en die hoop van sy tyd vertolk het soos geen ander nie. Weinige verse - want die stryder wat ‘gebore was om teen samesweerders en duiwels oorlog te voer’, kon hom nie oorgee aan digterlike drome nie.
Luther se lewenswerk is sy Bybelvertaling, wat na jare van worsteling in die stille Wartburg reeds in 1534 die lig gesien het, maar waaraan die Hervormer tot sy dood toe met nooit verflouende ywer bly werk het, soos die gedurige verbeterings by elke nuwe oplaag duidelik bewys. Hierdie Bybelvertaling (dit is nie die eerste Duitse vertaling soos dikwels gedink word nie) is verreweg die grootste letterkundige meesterwerk van die sestiende eeu.
Luther streef as Bybelvertaler in die eerste plaas na suiwere weergawe van die inhoud. Self gewapen met 'n deeglike kennis van die Hebreeuse en Griekse oertale, word hy trou tersy gestaan deur die beste humanistiese taalgeleerdes van sy tyd, waaronder veral die uitmuntende talekenner Melanchthon. Maar sy vertaling is nie die werk van 'n koud-verstandelike filoloog nie, dit is die skepping van die gelowige Christen wat eers die Bybel - met name geld dit vir die Evangelies - innerlik deurleef om daarna te vertaal. So is sy vertaling, by alle suiwerheid en presiesheid van weergawe, meer as blote vertaling: dit is tegelykertyd 'n nuwe skepping, geïnspireerde kuns. In sy vertaling is dit sy eie siel wat kla, snik, ween, bid of jubel, wat God loof en dank; dit is sy eie beangstigde en verslae hart wat vertroos word deur die woorde van Psalm 51 vs. 19, dit is sy eie lippe wat die trooswoorde vind. Sy rype geloofservaring stel hom in staat om hom in te leef in elke afsonderlike Bybelboek, in die sielelewe van elke Bybelouteur. Met Job is hy die kind van God wat in sy vreeslike aanvegtinge en versoekinge getrou bly en geregverdig word deur die Geloof; met Dawid sing hy psalms in die nag, met Paulus onderwys hy die gemeente, met Johannes spreek hy tere woorde van liefde en hoop. Luther se uitnemende inleidinge tot die verskillende Bybelboeke getuig daarvan hoe seer hy hom met elke Bybelouteur vereenselwig; sy vertaling is daarvan die sprekendste bewys. Om te kan vertaal, so sê Luther self, ‘daartoe is nodig 'n waarlik vrome, troue, vlytige, christelike, geleerde, ervare en geoefende hart’.
Sedert Luther se vertaling het talryke nuwe Duitse Bybelvertalinge die lig gesien, daaronder moderne vertalinge soos van Bartholet, Menge,
| |
| |
Kautzsch, Weissäcker, vertalinge wat deur hul wetenskaplikheid ver bo dié van Luther uitmunt. En tog sal 'n mens telkens na Luther se Bybel teruggryp, want hoeveel inniger spreek dit nie tot die Christen se siel nie!
Van verskillende kante is die aantyging teen Luther se Bybelvertaling gemaak dat dit te subjektief is. Daar word aangevoer dat dit te seer Luther is wat die woord voer, dat daar nouliks verskil is tussen die gees van die Ou en van die Nuwe Testament, dat eenselfde styl die vertaling beheers. Dit is op sy minste sterk oordrewe: Luther was om te beginne 'n veel te fyn aanvoeler van die verskillende stylsoorte en stylskakeringe, hy het hom veel te seer ingeleef in die ware gees van elke Bybelboek as dat hy sonder meer die verskil in styl sou oor die hoof gesien het. Wel het hy die hele Bybel - Ou sowel as Nuwe Testament - in die lig van die Evangelie gesien en daardeur 'n grootse eenheid in sy vertaling geskep. Maar dit is sy triomf as Bybelse kunstenaar dat hy 'n eenheid in veelheid geskep het.
Luther streef as Bybelvertaler in die tweede plaas na duidelikheid. Daarom verwerp hy alle letterknegtery. Immers, hy skryf die Duitse Bybel vir die Duitse volk, vir die eenvoudige volk. Daarom, so skryf hy, ‘moet 'n mens nie die letters in die Latynse taal vra hoe 'n mens moet Duits praat nie; maar 'n mens moet die moeder in haar huis, die kinders in die straat, die gewone man op die mark daarna vra, en na hul mond kyk hoe hulle praat, en daarvolgens vertaal; dan verstaan hulle dit en voel dat 'n mens Duits met hulle praat’.
Daarom kies Luther steeds die eenvoudigste en natuurlikste taal, die alledaagse omgangstaal vir sy vertaling. Maar die gewone taal word deur hom veredel tot dit die waardige vorm is van die Goddelike Boodskap. Ruimte verbied om hierdie proses in besonderhede te belig, anders sou Luther se taalveredeling en taalverryking deur talryke treffende voorbeelde aangetoon kan word. Hier is die bewuste en onbewuste taalkunstenaar aan die woord, die magtige taalskeppende genie wat as skeppende kunstenaar put uit die lewendige bron van sy waaragtige belewing van die Woord van God. So skep Luther in sy Bybelvertaling die eerste groot kunswerk in Duitse prosa, 'n werk wat deur sy innige, tere en tog kragtige taal ons meesleep, 'n werk van betowerende musikale en ritmiese skoonheid. En omdat hierdie magtige kunswerk 'n volksboek geword het - binne vyftig jaar na die eerste oplaag is honderdduisend eksemplare versprei - 'n volksboek in die suiwere taal van die volk, het die taal van Luther se Bybelvertaling geword die grondslag van die Nieu-Hoogduitse taal. Mag ons in die lig van hierdie feit nie vertrou dat ons Afrikaanse Bybel, wat vertaal is met dieselfde liefde en geloof en wat geskrywe is in ons onvervalste volkstaal, ons Afrikaanse Bybel, waarvan honderdduisend eksemplare binne enkele maande versprei is, ons volk tot 'n ryke seën sal strek ook in die veredeling en ontwikkeling van ons taal nie?
J.J. DEKKER.
|
|